Die Boendoesbaai-ding

Die Boendoesbaai-ding (resensie)

Rudi Venter
Human & Rousseau
Resensie deur Jonathan Mark Birch
Die jeugroman, Die Boendoesbaai-ding, word beskryf as ‘n speurverhaal of spannende whodunnit-storie.

Die jeugroman, Die Boendoesbaai-ding, word beskryf as ‘n speurverhaal of spannende whodunnit-storie. Die verhaal is gemik op seuns en handel oor die alledaagse goed waaroor hoërskoolseuns dink en praat, soos die verskillende verwysings na Maryna Cloete se geseënde liggaamsbou. Die boek se inhoud sal veral tienerseuns se belangstelling prikkel met die verhaal se spannende storielyn oor ‘n bankrooftog, versteekte skatte en die verdwyning van ‘n posbode.

Alles begin by Eddie Jacobs wat ‘n gesprek tussen twee mans afluister en daarna besluit om ondersoek in te stel, aangesien hy nog nooit gehoor het van die insident waarna verwys word in die twee mans se gesprek nie. Hy kom nie vêr nie, maar met die hulp vanaf Maryna en haar ouma se sogenaamde “contacts” is Eddie weer sterk op die spoor.

Hein en Roelof, die Von Dempter-neefs, kamp in die woonwapark vir die vakansie. Die neefs se paaie kruis al vroeg in die verhaal met Maryna, Eddie en die Eloff-broers. Roelof ontmoet  vir Maryna eerste by die rivier wat verskriklik stink en geen vis het nie. Die stank word later in die verhaal gekoppel aan die Eloff-broers en hul verdagte aktiwiteite in die dorp van Boendoesbaai.

Die voorblad skep die indruk van avontuur en gee aan die persoon wat die boek optel ‘n begeerte om uit te vind waaroor die verhaal handel. Die karakters en plasing is fiktief, maar word deur die verloop van die verhaal aan die leser voorgestel op so manier dat dit voel asof jy self as leser daar is. Alhoewel die verhaal se klimaks en afloop interessant en onverwags is, voel dit haastig en afgerammel. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is wat gebeur het met die versteekte geld in die laaste hoofstuk asook die gesprek tussen Eddie Jacobs en Dieter Schoonwinkel wat flou en ongeloofwaardig is aan die einde van die verhaal.

Die jeugroman is geskik vir lesers 14 tot 16 jaar oud. Die boek begin ‘n bietjie deurmekaar en kan sommige jong lesers verwar. Ek stel daarom voor dat die verhaal vanaf hoofstuk 1 tot hooftuk 3 sonder onderbreking regdeur gelees moet word, aangesien die leser al 3 hoofstukke in geheel moet verstaan om die verwysingspunte later in die boek bymekaar te kan bring.

Jonathan Mark Birch
Jonathan is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit.
2020-01-20