Z-A-K: die blou planeet

ZAK Die Blou Planeet (resensie)

Theresa van Baalen
LAPA
Resensie deur Jonathan Mark Birch
Met die eerste oogopslag was ek redelik skepties oor die jeugroman, aangesien die konsep van ruimtereise en ruimtewesens nog nie behoorlik voorgestel is in Afrikaanse jeugliteratuur nie.

Met die eerste oogopslag was ek redelik skepties oor die jeugroman, aangesien die konsep van ruimtereise en ruimtewesens nog nie behoorlik voorgestel is in Afrikaanse jeugliteratuur nie. Tot my verbasing het Theresa van Baalen ‘n uitstekende jeugroman geskryf oor die spesifieke onderwerp en deur die verloop van die verhaal hedendaagse kwessies soos besoedeling, soeke na identiteit, bevordering van tegnologie ensovoorts, aangeraak.

Die boek het ‘n treffende voorblad wat beslis jong lesers se aandag sal trek. Ek is egter onseker of die voorblad die inhoud van die boek ondersteun, aangesien die verhaal in ’n woonbuurt afspeel met normale woonhuise en nie noodwendig groot woonstelblokke nie. Die boek lees redelik maklik en sal geskik wees vir lesers tussen graad 7 en 9. Die plasing en ruimte is fiktief, maar konsepte soos ‘Kosmiese deurgange’ ensovoorts is goed nagevors en word goed oorgedra aan die leser.

Die verhaal begin by Mitch op planeet aarde, ‘n inwoner van Deltaville, wie se familie ontvoer word deur Helikon se magte. Hy vind sy beste vriend Lionel wat ook ontsnap het van hierdie ontvoerders. Hulle sweer saam dat hulle alles in hul mag gaan doen om hul familie te vind en te red van die ruimtewesens of soos hulle dit noem, ‘Aliens’. Hulle enigste manier om tot by Helikon se astrotuig uit te kom is deur Imke.

Imke is ‘n half-Blou Planeter, half-Zenkioniet. Sy is opsoek na ‘n identiteit en ‘n plek waar sy kan inpas aangesien sy nie dieselfde lyk of  dink as die ander Zenkioniete nie. Sy is ‘n inwoner van die planeet Zenkion wat amper soortgelyk was aan die planeet aarde, maar die toestand in Zenkion het egter versleg aangesien daar ‘n tekort is aan water, plante en lewende diere. Dit is ook ‘n moontlike vooruitsig vir die planeet aarde indien die natuurlike hulpbronne opgeoffer word vir die bevordering van tegnologie.

Mitch en Imke se wêrelde ontmoet in hierdie verhaal oor ruimtereise, ruimtewesens, ’n soeke na identiteit en moontlike liefdesbande. ‘n Laaste gedagte oor die boek; die boek het ‘n oop einde en gee die gevoel dat ZAK: die Blou Planeet die eerste boek is in ‘n reeks boeke wat nog moet volg oor Mitch en Imke se ruimte-avonture.

Jonathan Mark Birch
Johnathan is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit
2020-02-20
0
Would love your thoughts, please comment.x