Annerle Barnard

Annerle Barnard

Annerle droom al sedert ouderdom vyftien van skryf, maar op die platteland klink só ’n droom redelik vergesog en dus het sy dit nooit eens gewaag om ‘skryf’ aan iemand te noem nie.

Annerle se passie is geletterdheid en gevolglik probeer sy almal met wie sy te doen kry, motiveer om te lees. Haar gunsteling aanhaling is “Geletterdheid is die brug van wanhoop na hoop.” (Kofi Annan)

Annerle Barnard is op 30 April 1971 in Musina gebore. Aan die einde van haar graad vier jaar verhuis hulle, verruil die Bosveld se massiewe onderstebo-bome vir die rooi vlaktes van die Noordwes. Sy matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Wolmaransstad. In 1993 voltooi sy ’n BA (Honneurs) (Engels) aan die Noordwes-Universiteit.  Daarna volg ‘n Hoër Onderwys Diploma. Aanvanklik hou sy skool, maar begewe haar later in die korporatiewe sektor.

Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe stiefdogter en skoonseun. Gevolglik kyk sy redelik baie sport.

Van nature is sy is ’n fanatiese leser en behalwe vir swaarder literêre werke, lees sy graag jeug- en misdaadfiksie.

Annerle droom al sedert ouderdom vyftien van skryf, maar op die platteland klink só ’n droom redelik vergesog en dus het sy dit nooit eens gewaag om ‘skryf’ aan iemand te noem nie. Die korporatiewe wêreld het haar ingesluk, maar in 2013 stof sy haar droom af en woon ’n slypskool by.

Haar debuutroman, Sweepslag, word in 2017 genomineer vir die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (dit word egter eers in 2019 gepubliseer) en die opvolg, Sindikaat, is in 2019 die naaswenner (silwer) in die Afrikaans-kategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur.

Die volgende boeke vir tieners het reeds uit haar pen verskyn:

  • Sweepslag (2019) Tafelberg Uitgewers
  • Sindikaat (2019) Tafelberg Uitgewers
Inligting verskaf deur Annerle Barnard
2020-02-25