Towerfontein

Towerfontein

Twané Snyman
In Aradia se tuisdorp, Towerfontein, gebeur daar nog altyd vreemde dinge.

Toe hulle by haar huis aankom, sien Aradia dat haar ma en pa se besems in die garage staan. “Hulle is klaar hier,” fluister sy.

“Miskien moet jy in my skooltas wegkruip, net totdat ek kans gekry het om hulle te vra of jy mag oorslaap.” Sy haal haar tas van haar rug af en trek haar towerstaf uit haar skoen uit. PANTENTIBUS!” Sy teken ’n sirkel in die lig met haar staf en die tas gaan oop.

Die draak kruip nuuskierig nader. Hy druk sy kop in haar tas en trek ’n halwe toebroodjie uit. Met een groot hap sluk hy dit heel in.

“O, ek het vergeet daarvan, dis reg, jy kan dit eet,” sê Aradia. Hy druk sy kop weer ywerig in haar tas en haal die ander helfte uit. Weereens sluk hy alles af met een hap, hy steek sy lang tong uit en lek sy hele gesig skoon. Hy ruik weer aan haar tas en kyk haar vraend aan.

“Daar is nie nog nie,” lag sy. Ywerig druk hy sy kop weer in haar tas. Stadig klim hy dieper en dieper in soos wat hy ruik totdat hy heeltemal in is.

 “PROPE!” toor sy en die tas gaan weer toe.

Sy tel die tas op haar rug en stap in die huis in. Haar ma is in die kombuis. ʼn Betowerde mes kap paddabene op en sy roer die groot swart kookpot.

“Mmmm paddasop, my gunsteling!” roep Aradia.

 “Ja,” sê haar ma “en jou pa was gelukkig genoeg om ’n paar krieke ook by die mark te kry, dit sal hom ’n lekker soet smakie gee.”

Aradia is so opgewonde dat sy skoon vergeet van die draak in haar skooltas. “Kan ek help?” bied sy aan.

“Het jy nie huiswerk nie?” vra haar ma.

“Net een onsigbaarheidsdrankie wat ek moet aanmaak en môre ingee,” antwoord sy.

“Onsigbaarheidsdrankies is nie maklik om aan te maak nie, as jy net een te veel toonhaar insit, word die drinker sommer groen! Ek dink jy beter eers jou huiswerk doen.”

Aradia sug en loop op by die trappe na haar kamer toe. Sy gooi haar skooltas neer op haar bed en haal haar groot swart mengpot onder haar lessenaar uit. In die hoek van haar oog sien sy hoe ʼn rook deur haar tas uitkom. Oo ja! onthou sy skielik.

PANTENTIBUS!” Die klein drakie verskyn en steek sy neus in die lug. Hy kyk vies na die tas en blaas hom met vuur.

“Nee!” roep Aradia en tel hom op. “Jy sal die hele huis afbrand, jou stoute draak,” raas sy en sit hom neer in die hoek. Die draak se kop sak af en hy tjank saggies. “Okay ek vergewe jou,” sê Aradia, “maar as jy dit weer doen is daar moeilikheid.”

Die draak waai sy stert en lig sy kop op, hy ruik die paddasop. Opgewonde hardloop hy na haar deur toe. Gelukkig het sy die deur toegemaak toe sy ingekom het. Hy draai sy kop links en regs en stamp dan aan die deur met sy snoet.

“Nee, ek gaan vir jou oopmaak nie, ek het nog nie vir my ma-hulle gesê dat jy hier is nie, ek sal na aandete vir jou bietjie paddasop bring,” sê Aradia. Sy gaan krap in haar kas vir ekstra kussings en komberse en bou vir die drakie ’n lekker bed langs haar eie. Hy gaan krul homself op tussen die kussings.

“Jy’s eintlik nes ’n huiskat,” lag sy “dit kan nie so moeilik wees om na jou te kyk nie.”

Sy stap terug na haar mengpot toe en begin die warmword  toorspreuk. “IGNISIE!” Vlamme styg van die pot se bodem af. Die draak bekyk die pot en blaas sy eie vlamme by. “Nee!” keer Aradia en sit hom terug in sy bed. “Jou vlamme kan die huis afbrand,” raas sy “hierdie is spesiale vlamme wat net die pot brand.” Sy sug vies vir die drakie en gaan sit op haar bed. “Ek beter maar ʼn brandbestandsproei maak terwyl ek besig is.” Sy soek in haar tas vir haar huiswerk. Sy haal ’n halfgebrande papier uit haar tas uit, die helfte van die resep is weg! Ag nee. Die klein drakie het haar huiswerk verbrand! Nou wat?

 “Meneer Plofstof gaan woedend wees as ek nie my huiswerk doen nie. Hy sal my nooit glo nie, “my draak het my huiswerk verbrand”, is die oudste verskoning in die boek!” Aradia sug en val neer op haar bed.

Miskien is daar ʼn resep in Mamma se Grimoire met al haar towerresepte, dink sy. “Mamma hou nie baie daarvan as ek hom leen nie, maar onder die omstandighede is ek seker dat sy sal verstaan.” Sy dink daaraan. “Miskien moet ek haar net nie dadelik sê nie…”

(Volgende bladsy)

Twané Snyman
Twané is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die storie geskryf in die module SKRK221 (2019)
Illustrasies deur Merie en Duané Langer
Merie en Duané Langer is ‘n tweeling. Hulle is 12 jaar oud en woon in Pretoria. (2021)
Kopiereg: Twané Snyman
April 2020.
0
Would love your thoughts, please comment.x