Towerfontein

Towerfontein

Twané Snyman
In Aradia se tuisdorp, Towerfontein, gebeur daar nog altyd vreemde dinge.

Sy gaan haal die groot bruin leerboek uit haar ma se boekrak uit en sit dit op haar lessenaar neer.

BOEF.

“Shoe, daai boek is rêrig swaar, dis seker oor hy so baie resepte in het,” sê sy. Sy blaai deur die groot bruin boek op soek na ’n onsigbaarheidsdrankieresep.

“Slaapdrankie… nee. Vliegdrankie… nee. Liefdesdrankie… nee sies. Oe kyk! Daar is ’n brandbestand sproei! Dit sal slim wees om alles in die kamer daarmee te spuit as jy hierso gaan bly,” sê sy vir die drakie. “Kom ons sien.”

1x Akkedisstert
3x padda-oë
‘n Halwe koppie feetjiestof
3x eenhoringperdhare
Gooi al die bestanddele saam in ’n groot swart pot en voeg drie koppies water by. Roer dan vir 3 minute kloksgewys en 3 minute antikloksgewys. Haal jou towerstaf uit en sê die woorde “ignem probationem” , draai jou towerstaf drie maal en die toorspreuk sal voltooid wees. Gooi oor in ’n gewone sproeibottel en spuit op alles wat brandbestand moet wees. Hierdie toorspreuk moet weekliks herhaal word aangesien dit na sewe dae verval.

“Ek dink ek het al hierdie in my bestanddele-kissie. Miskien net nie die padda-oë nie, kom ek kyk gou.” Sy trek haar groot kis vol poeiers en uitgedroogde akkedisse onder haar bed uit.

Niks nie, maar miskien is daar in die sop! dink sy en begin kombuis toe hardloop.

“Mamma, kan ek asseblief gou in die pot kyk?”

“Ons wou jou nou net roep, kom skep vir jou,” sê haar pa.

Aradia kyk in die groot swart pot en sowaar! Daar dryf ses padda-oë. Sy gaan haal vir haar ’n diep bakkie en skep hom VOL, sy’s versigtig om presies drie oë te skep.

“En nou, jy het nog nooit van oë gehou nie?” vra haar pa.

“Ummm… ek is baie honger, ek wil iets nuuts probeer.”

 Haar pa se een wenkbrou lig hoog. “Is dit so… los darem net ʼn bietjie vir ons ook.”

Sy knik haar kop en stap versigtig terug kamer toe met haar vol sopbakkie.

“En waar dink jy gaan jy? In hierdie familie eet ons saam,” raas haar ma.

DOEF!

Dit kom van bo af. Die deur is oop! besef sy.

“Umm daai deursigtigheidsdrankie resep was toe bietjie moeilik, ek wil asseblief aanhou daaraan werk terwyl ek eet.”

“Ek kan jou help daarmee, ek maak hom al jare vir as ek krokkedil-eiers moet gaan soek in die moeras.”

“NEE!” keer Aradia “Umm… ek wil dit graag self doen, sodat ek weet dis my eie werk.”

“Ek is trots op jou vasbeslotenheid,” sê haar pa. “Roep ons as jy regtig sukkel.”

“Ek sal, baie dankie,” glimlag sy en klim die trappe so vinnig as wat sy kan sonder om te mors. Sy bly fokus op haar vol sopbakkie tot net voor haar kamerdeur, dan staan sy stil en lig haar kop op. Die kamerdeur staan oop.

HY’S WEG!

(Volgende bladsy)

Twané Snyman
Twané is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die storie geskryf in die module SKRK221 (2019)
Illustrasies deur Merie en Duané Langer
Merie en Duané Langer is ‘n tweeling. Hulle is 12 jaar oud en woon in Pretoria. (2021)
Kopiereg: Twané Snyman
April 2020.
0
Would love your thoughts, please comment.x