Sy hoor ’n harde breekgeluid. Die geluid kom van haar ma en pa se kamer af.
“Wat was dit?” roep haar ma.
“Umm, niks ernstig nie, ek het net ’n beker laat val, ek sal nou ’n herstelspreuk toor!!”
“Dis reg so, wees net versigtig vir die glas!” antwoord haar ma.
Aradia sit die sop neer en hardloop na haar ma-hulle se kamer toe. Die draak het haar ma se blompot omgestamp en is besig om die blare te kou. Ag nee, ek ken nie ’n towerspreuk vir plante teruggroei nie.
Sy tel die pers draak op en dra hom terug na haar kamer toe. “Jy is ongelooflik stout,” brom sy.
Miskien is hy maar net honger, dink sy. “Laat ek die padda-oë uithaal dan kan jy my sop kry.” Sy skep die drie oë versigtig uit en gooi hulle in haar mengpot.
“Hierso,” sê sy en sit die bakkie op grond neer vir die draak. Hy waai sy stert woelig en hop in ’n sirkel rond, sodra die bakkie die grond raak duik hy met sy hele kop in. Nie eers ’n minuut later nie, is die sop op en hy lek die bakkie se rand skoon.
Heel tevrede met homself pronk hy terug na sy bedjie toe en krul op. Aradia se maag grom.
Laat ek eers hierdie brandbestandspuit klaarmaak. Sy volg die resep presies en sproei alles in haar kamer. Die deur en die draak se bed, spuit sy twee maal. Haar maag grom weer. Sy stap af na die kombuis toe, haar ma en pa het reeds gaan slaap. Sy klim op ’n stoel en kyk in die groot swart pot. Dis dolleeg.
Ag nee, dink sy. Haar maag grom al hoe harder, maar sy is doodmoeg, dit is al amper ’n uur na haar slapenstyd. Sy maak die yskas se deur oop en vind twee uitgedroogte akkedissterte.
Dit is nie veel nie, maar dis beter as niks, dink sy. Sy vat al twee en kou hulle op pad terug kamer toe.
Haar maag is nie meer seer nie, maar sy voel nog honger.
Ek sal maar net môre ’n groot ontbyt eet, dink sy. Sy sleep haar moeg self op by die trappe en plons neer op haar bed. Sy kan skaars haar oë oophou. Skielik onthou sy, die deursigtigheidsdrankie!
Ek gaan in groot moeilikheid wees as ek dit nie aanmaak nie. Meneer Plofstof het gesê hy gaan detensie gee vir enige iemand wat dit nie doen nie.
Sy trek haarself moeg uit haar bed uit en soek deur haar ma se bruin boek vir die resep. Haar oë voel asof dit swaarder is as die boek, alles om haar word dof en net daar raak sy aan die slaap.
(Volgende bladsy)