Towerfontein

Towerfontein

Twané Snyman
In Aradia se tuisdorp, Towerfontein, gebeur daar nog altyd vreemde dinge.

Sjloep-sjloep! Aradia skrik wakker toe sy die draak se nat tong teen haar gesig voel. Die pers draak wikkel sy stert en sy tong hang uit. Duidelik het hy beter geslaap as sy. Aradia skrik weer toe sy besef sy moet regmaak vir skool en haar drankie is nog nie aangemaak nie!

Grrrrrrrr! Haar maag begin nou erg raas.

Miskien eers ’n bietjie ontbyt, dink sy. Sy stap af by die trappe en ruik haar ma se bekende akkedispoeier-pap. Sy skep haar bakkie propvol en verorber haar kos. Voor haar ma eers klaar geskep het, gaan sy al terug vir nog ’n bakkie.

“Sjoe, maar jy is baie honger vanoggend.”

“Ja, Mamma,” sê sy so tussendeur die happe. “Ek het ’n lang aand gehad.”

“Ek sien jy lyk pootuit, het jy tot laat gesukkel met daai drankie?”

“Ek sukkel nou nog,” sug sy “hy’s nog steeds nie reg nie.”

“Aai my kind, weet jy wat, ek het een wat klaar aangemaak is in die kas, jy kan dit vat. Belowe my net jy sal volgende keer jou moeilike huiswerk betyds begin, nie die aand voor die tyd nie.”

Aradia is baie verlig. “Dankie, Mamma!” Sy hardloop kas toe en gryp die aangemaakte drankie.

“Jou toebroodjies is op die tafel!” roep haar ma.

Sy gryp die broodjies ook en hardloop op by die trappe.

In haar kamer toor sy haar tas oop en sit alles in.

“Kom drakie,” roep sy, maar die draak is nie op sy bed nie.

Ag nee. Sy kyk rond, sy het tog haar deur toegemaak en al die vensters is… die venster!

Sy kyk bekommerd na die halfoop venster, sy het vergeet hoe slim drake is, hy moes hom oopgestamp het met sy neus. Onder op die gras sien sy hom rond ruik vir ʼn plek om sy besigheid te doen. Aradia gryp haar tas en hardloop by die trappe af.

Ek moet hom daar wegkry voor mamma-hulle hom sien, dink sy. Gelukkig is haar ma-hulle nog in die kombuis.

“Ek gaan skool toe! Bye!” roep sy en klap die deur agter haar toe. Haar ouers kyk net vraend na mekaar, sy is besig baie vreemd op te tree.

“Waar is hy nou?” dink sy hardop. Sy sien die groot pers miskoekie op die gras.

“Ag nee, ag nee, ag nee.” Nou moet sy vinnig dink, haar ma hulle gaan dit nie maklik miskyk nie. Ah ha! Sy toor haar tas oop en haal haar ma se deursigtigheidsdrankie uit. Sy hoor die garage deur oopgaan. Vinnig gooi sy die hele bottel uit oor die miskoekie en hy verdwyn.

Lyk my ek gaan maar detensie moet sit.

“Ahhhhhhh!” hoor sy van die bure se huis af.

“Weg! Weg met jou!” roep hulle kwaai buurvrou, Tannie Skerpneus. Sy stamp die klein draak met haar besem en hy sis vir haar. Sy pers skubbe lig effens op. Om hom lê honderde rooi roosblare, half gekou.

Ag nee, Tannie Skerpneus is baie erg oor haar roostuin. Skerpneus gee die draak ’n harde stamp met haar besem en hy skiet sy vlerke oop, hy styg op in die lig en vlieg vêrder by die straat af. Aradia is net bly haar ma-hulle se werk is ander kant toe. Sy hardloop agter die vlieende draak aan.

“Kom af!” roep sy “ek het vir jou toebroodjies!” Die draak steur hom nie aan haar nie en land in ’n naby boom.

Miaaaau! ’n Verskrikte kat spring uit die boom uit, net-net vinnig genoeg om die vlamme agter hom te ontsnap. Die swart katjie hardloop direk na Tannie Bessie se huis.

“Jy kan nie net katte jag nie!” roep Aradia. “Hulle het ook eienaars wat hulle baie gaan mis!”

Die pers draak kyk af na haar en draai sy kop net links en regs, hy het geen idee wat sy sê nie. Hy spring af van die tak af en kom land by haar voete, hy vryf met sy kop teen haar been.

“Jy is ’n klein moeilikheidmaker, jy,” grom sy “maar jy’s my moeilikheidmaker en ek’s lief vir jou. Miskien moet dit jou naam wees. Moeilikheid.”

“Skibbie! Waar is jy Skibbie!” roep ’n jong heks by die straat af.

“Skibbie!” skree sy opgewonde toe sy vir Moeilikheid sien. “Ons soek al heelnag na jou! Ek’s so bly ons het jou gekry!”

Aradia se hart voel asof dit af sak na haar maag toe. Die jong heks tel vir Moeilikheid op en dra hom huis toe. Aradia weet nie wat om te dink nie, sy het geweet hy het ’n huis, maar tog, tog het sy gehoop hulle sou nooit sy eienaars kry nie. Sy het gehoop hy kan haar draak wees…

Moedeloos tel sy haar swart skooltas op en sleep haar voete skool toe. Dit is die aakligste dag ooit.

Al haar vriende gesels oor en wys foto’s van hulle nuwe drake. Meneer Plofstof het haar uitgetrap voor die hele klas omdat sy nie haar huiswerk gedoen het nie, en op pad huis toe het sy in Moeilikheid se deursigtige miskoekie getrap. Sy voel asof sy wil huil, sy wil net reguit opgaan na haar kamer toe en gaan huil.

“Waarheen dink jy gaan jy, jonge dame?” vra haar ma. “Dis Woensdag, jy weet Woensdae is dit jou beurt om die kombuis skoon te maak. Laat jy stap.”

Aradia wil skree, dit is die laaste ding wat sy nou wil doen, potte skrop en die vloer uitvee. Kan haar ma nie net verstaan partykeer het mens ’n dag af nodig nie. Sy sit haar skooltas neer by die trappe en sleep haarself kombuis toe. Wat sy sien, kan sy nie glo nie.

Die kombuis is reeds skoon, al die potte is geskrop, die vloer is uitgevee en selfs die asblik is uitgevat. Al wat uit plek uit is in die kombuis, is ’n groot kartonboks vol klein gaatjies op die tafel. Sy lig die deksel op en sien twee swart ogies omring met pers skubbe.

Sy het haar eie draak gekry!

Twané Snyman
Twané is ‘n student in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Sy het die storie geskryf in die module SKRK221 (2019)
Illustrasies deur Merie en Duané Langer
Merie en Duané Langer is ‘n tweeling. Hulle is 12 jaar oud en woon in Pretoria. (2021)
Kopiereg: Twané Snyman
April 2020.
0
Would love your thoughts, please comment.x