Die Limerick is een van die eenvoudigste vorms van ‘n vers tog word dit deur baie Suid-Afrikaners misverstaan. Ek sal die heeltyd na my eie verse verwys, want ek skryf ligte verse sowel as limericke.
Die spelling van die woord? Ek verkies limerick en nie limeriek nie.
Niemand weet presies hoe dié woord ontstaan het nie. Daar is wel ‘n plek in Ierland met die naam Limerick, maar eintlik het dié twee woorde g’n verband nie.
‘n Ligte vers (lawwe vers) is nie noodwendig ‘n limerick nie. ‘n limerick het altyd 5 reëls, en het altyd ‘n bepaalde vorm. ‘n Limerick is ook gewoonlik oor ‘n plek of oor ‘n persoon en sal dikwels begin met die volgende woorde:
‘n Dame wat woon in Parys…
‘n Oupa wat woon in die Kaap…
‘n Man van die dorp Aggeneys…
‘n Sekere Bennie le Roux…
‘n Vrolike vrou, Mona Lisa…
‘n Kêrel genaamd Nico Nel…
‘n Sekere Sakkie van Zyl …
Die limerick het ook ‘n bepaalde vorm.
Kyk na die volgende voorbeeld:
‘n Tannie woonagtig in Bloem
Was bang toe ‘n by om haar zoem.
Toe slaan sy hom plat
Dat heuning so spat
En spuit hom glo poegaai met Doom.
Kyk
weer mooi na die vorm. Dit het 5 reëls. Dit lyk byna soos ‘n konsertina
of iemand met ‘n dun middellyf, want die 3de en 4de reëls is korter as die res.
Kyk ook hoe rym die limerick:
‘n Tannie woonagtig in BLOEM
Was bang toe ‘n by om haar ZOEM.
Toe slaan sy hom plat
Dat heuning so spat
En spuit hom glo poegaai met DOOM
Reël 1,
3 en 5 rym met mekaar: BLOEM, ZOEM, DOOM.
Reël 3 en 4 rym met mekaar plat
en spat.
Reël 3 en 4 is ook korter as die ander reëls.
En elke
reël begin met ‘n hoofletter.
Wat ook baie,
baie belangrik is, is die ritme:
Sê
die volgende hardop en maak die tweede TAM harder as die eerste:
taTAM tataTAM tataTAM
taTAM tataTAM tataTAM
taTAM tataTAM
taTAM tataTAM
taTAM tataTAM tataTAM
Lees nou die vetgedrukte dele harder as die ander en hier het jy dan die ritme van ‘n limerick. As mens dit later lees, gaan jy natuurlik nie die klem op daardie dele laat val nie, maar jou ritme sal perfek wees.
‘n TANnie woonAGtig in BLOEM
Was BANG toe ‘n BY om haar ZOEM.
Toe SLAAN sy hom PLAT
Dat HEUning so SPAT
En SPUIT hom glo POEgaai met DOOM.
Lees altyd ‘n limerick hardop op om die regte ritme te kry.
‘n Limerick is ook partykeer ietwat stout, maar moenie vulgêr probeer raak nie!
Hier is nog twee voorbeelde van limericke:
Die mense wat woon in Bombaai
Het gister ‘n walvis gebraai.
Die ding was erg groot
En nog nie eens dood.
Sy laaste woord was glo: “Koebaai!”
‘n Meisie wat woon in die Kaap
Praat elke nag glo in haar slaap.
Haar taal is gemieks:
Dis Spaans, Frans en Grieks
En soms blêr sy net soos ‘n skaap.
Probeer nou jou eie limericke skryf wat begin met die volgende woorde:
‘n Dame wat woon in Parys ….
‘n Meisie wat woon in De Aar…
‘n Sekere Mybel van Tonder…
Philip
de Vos
Life is short
for man
and beast
so
while you can –
Enjoy the feast!