Rouxnette Meiring

Kuier by Rouxnette Meiring

Cari Cloete het die geleentheid gehad om met Rouxnette Meiring ’n onderhoud te voer oor haar debuutroman, Kraak.

Rouxnette Meiring, ’n opkomende jeugverhaal-skrywer, het met haar debuutverhaal Kraak ’n vernuwe belangstelling in toekoms- en wetenskapsfiksie (vir die jeug) verseker. Sy beeld ’n geloofwaardige wêreld in die jaar 2315 uit, aan die suidpunt van Chinafrika waar ’n virtuele koepel opgerig is in die stad ||Hui !Gaeb om die inwoners deur invloede van die buitewêreld te beskerm. Ongelukkig is daar groter gevare buiten die skadelike lug, toksiese see wat die stad omring en die vreemde wêreld buite die koepel – die koepel self is besig om te kraak. Kara en haar vriende word deur Sophia aangewys om die koepel, en hulle ouers wat in die droomhospitaal lê, te verlaat om na die noorde te reis tot in Egipte waar hulle hul antwoorde sal vind.

Kraak beeld ’n diverse land uit waar mense van verskillende rasse, kulture en tradisies ná 300 jaar in vrede en harmonie met mekaar saamlewe. Rouxnette het dit juis so bedoel om die ander kulture van ons land te betrek, en sekere probleme wat steeds in die hede aan die gemeenskap knou heeltemal iets van die verlede te maak. Haar liefde vir skryf het vroeg vertoon en, vandat sy kan onthou, skryf sy al stories. Haar Afrikaans-onderwyser het haar liefde vir gedigte en prosa aangewakker. Aan mense wat wil begin skryf, maar dalk al te oud voel, moedig sy aan dat mens op enige ouderdom kan begin. Sy het ook die boek juis in Afrikaans geskryf, omdat sy glo jy “skryf nooit so eg en uit jou hart soos wat jy in jou moedertaal doen nie.” Rouxnette beskou Afrikaans as een van Afrika se inheemse tale en ’n taal wat oor kulture heen kan strek: “Solank ons besef hierdie is ’n taal waar verskillende mense van verskillende kulture bymekaar kan kom en saam lief kan wees vir hierdie taal, dan het dit verseker bestaansreg en sien ek ’n rooskleurige toekoms vir Afrikaans…”

Kara, ’n identifiseerbare protagonis en fokaliseerder

Kara, erken Rouxnette, se persoonlikheid reflekteer gedeeltelik dié van haar eie dogter. “Ek het probeer iets uitbeeld van ’n tiener se tipiese onsekerheid oor dinge en hoe mense oor hulle voel,” vertel sy. Hulle is dikwels oormatig krities oor hulleself… daardie onsekere dele in Kara se persoonlikheid is dalk argetipes van dinge wat ek in tieners sien.” Al die karakters in haar verhaal besit karaktertrekke wat sy in haar kinders se vriende van daardie ouderdom raakgesien het.

Inspirasie en motivering

Rouxnette het twaalf jaar gelede reeds aan die verhaal begin skryf – maar sy het dit nooit voltooi nie. Dit was haar sussie wat die voorstel gemaak het dat sy haar vir elke hoofstuk sal betaal, omdat sy gedink het dit was ’n verhaal wat gepubliseer moet word. Omtrent die inspirasie vir hierdie storie, vertel sy dat dit vir haar ’n gevoel van verwondering, misterie en afwagting was wat sy aan haar dogter wou oordra waaruit die storie van ||Hui !Gaeb ontwikkel het. Haar dogter het in graad drie ophou Afrikaanse boeke lees en Rouxnette wou graag iets skryf wat haar sou interesseer.

Invloede

Rouxnette vertel dat alle ervarings, alle verhoudings met mense, boeke, kuns en met die lewe die skryfproses affekteer. ’n Faktor wat ’n invloed op haar skryfproses beoefen het, was haar PhD in Omgewingsopvoeding wat haar drie jaar geneem het om klaar te maak. In hierdie tydperk was skryf ’n kreatiewe uitlate vir haar akademiese studies en navorsing, en waarby die einde van haar boek aansluit.

Globale aardverwarming en omgewingskwessies

In Kraak is die nadele van aardverwarming en die onleefbare toestand van die aarde ’n globale kwessie. Die omgewing en die versorging van die aarde speel ’n prominente rol in die jeugverhaal. Rouxnette wou bloot nie net ’n lessie voorgee oor aardverwarming nie, maar in die eerste plek “’n storie vertel” en “geloofbare karakters” skep. Die karakters in haar verhaal beleef die natuur op ’n baie intiemer en geestelike vlak. Die rede juis “waarom ons besig is om die aarde te verwoes is omdat ons vergeet het om te kommunikeer met die aarde en vergeet het om te luister na wat plante en diere vir ons wil sê… terwyl ons digitaal kommunikeer, vergeet ons van die natuur se behoeftes,” verduidelik sy.

Wetenskap- en toekomsfiksie

Binne die Afrikaanse letterkunde is wetenskap- en toekomsfiksie genres wat taamlik min aan geraak word. Rouxnette het juis Kraak as ’n toekomsroman geskryf omdat sy oor aardverwarming kommentaar wil lewer “sonder om te preek”. In ’n werklikheid waar die newe-effekte van aardverwarming duidelik sigbaar is, het sy nie nodig gehad om daaroor te preek nie, en het eerder geskryf oor hoe dit hanteer kan word. Die advies wat sy aan skrywers gee wat ook graag in hierdie genres (wetenskap- en toekomsfiksie) of enige ander genre wil skryf is: “Lees lees lees. ’n Mens moet regtig baie lees om te kan skryf. Wanneer jy in ’n sekere genre belangstel moet jy baie oor daardie spesifieke genre lees. Dit is ook belangrik om verskillende skrywers van hierdie genre se boeke te lees. So kan jy van die tegnieke leer wat hulle gebruik en steeds jou eie stempel daarop sit. Moenie soos hulle skryf nie, maar leer uit die tegnieke wat hulle toepas op hulle werke.” Sy vertel verder mens moet nie wag tot die gees van inspirasie oor jou kom nie, maar tyd en energie daarin sit om elke dag te skryf. “Jy moet gedissiplineerd wees in skryf. Dis soos enige ander werk.”

Ervaring van uitgewers en publikasieproses

Oor haar ervaring met die publikasieproses vertel sy dat sy ’n baie positiewe en aangename ervaring met NB-uitgewers het. “My redakteur en die mense wat my publikasie behartig is regtig almal wonderlike mense, en hulle gee vir my die vryheid om nog steeds te sê hoe ek dit wil hê.” Sy het nooit gevoel asof sy in iets geboelie is nie. “Dit het gevoel of ek aan die een kant die vryheid het van mense wat hulle eie boeke publiseer, maar tog het ek die ondersteuning-sisteem gehad van ’n groot uitgewery met baie ervaring en mense met baie kennis.” Sy het haar boekbekendstelling baie geniet, omdat dit soos ’n “partytjie gevoel het waar iemand anders alles reël en jy hoef maar net op te daag”.

Vir aspirant-skrywers wat graag hul eie boeke wil uitgee, maar geïntimideerd voel oor die omvang van die publikasieproses, verskaf sy die volgende raad: Dit is juis dan beter om die publikasie-proses saam met ’n bekende en gevestigde uitgewer deur te maak, eerder as om ’n boek self te probeer uitgee. Hulle het net soveel meer ervaring. Met die redigeringsproses kyk hulle in diepte na jou manuskrip. Soveel mense lees deur jou boek en hulle stuur dit ook na buite-lesers wat verskillende opinies daaroor gaan gee. Daar is baie meer gevare gekoppel aan selfpublikasie, omdat daar nie soveel mense is wat saam met die skrywer deur die proses werk en foute uitwys nie.

Cari Cloete
Cari Cloete is tans besig met haar MA-studie in Afrikaanse Skryfkuns aan die NWU.
Augustus 2018
0
Would love your thoughts, please comment.x