Skielik trek sy haar een voortand met die toffie uit!
"Hoera! Hoera!" roep Frieda. "Nou gaan ek geld by die tandemuis kry!"
Dié aand los die tandemuis vir Frieda R20. Frieda wil fluit om te wys hoe bly sy is, maar... haar fluit is weg!
Sy sis... en gfff ... en sllll ... maar sy kan nie fluit nie.
“Mamma!” roep Frieda.
“Wat is fout, Frieda?” vra Mamma.
“Ek het my fluit verloor!” huil Frieda.
“Toemaar, Frieda. Jy moet dan net jou fluit gaan soek.”
“Dis ʾn slim plan!”
Frieda vat dadelik die pad om haar fluit te soek. Sy stap verby die rugbyveld.
Die skeidsregter se fluitjie hang om sy nek.
“Is daardie my fluit?” vra Frieda die skeidsregter.
"Ek weet nie. Hoor gou of dit jou fluit is." Die skeidsregter blaas op sy fluitjie, maar nee, dit is nie Frieda se fluit nie.
Terug by die huis, hoor Frieda hoe die ketel fluit. Sy hardloop kombuis en en luister, maar nee, dit is nie haar fluit nie.
Daardie aand, terwyl Frieda in haar bed lê, fluit die wind om die hoeke van die huis. Frieda lê doodstil en luister. Dit klink baie mooi, maar nee, dit is steeds nie haar fluit nie!
Die volgende oggend gaan Frieda en haar ma kwekery toe. Daar is baie mooi blommetjie by die kwekery.
Frieda haal diep asem in. Sy ruik die blommetjies. Skielik kan sy weer fluit.
"Mamma! Ek het my fluit teruggekry!" roep Frieda.
Frieda fluit en fluit en fluit.
Fluit, fluit, die storie is uit.
Previous
Next
Petroné van der Merwe
Petroné is ‘n skryfkunsstudent aan die NWU. (2019)