Linki Brand

Kuier by Linki Brand

Linki Brand is die illustreerder van kinderboeke soos "Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo" en die "Magriet-reeks". Henrico Greyling het vir Linki oor die kuns van kinderboekillustrasies uitgevra.

Vertel asseblief kortliks iets oor jouself.

Ek is in die 80’s in Potchefstroom, Suid-Afrika, gebore en bring my kinderdae in Pretoria deur en later Venterstad in die Bo-Karoo. Ek het BA Grafiese Ontwerp aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, studeer. Tydens my studies raak ek in die geheim effens obsessief oor illustrasiewerk. Grafiese ontwerp hou egter die pot aan die kook en ek werk daarna vir agentskappe in Bloemfontein en Kaapstad. Daarna verruil ek sentraal Suid-Afrika vir die Kaap en doen vryskutwerk vanuit Hermanus en daarna Bettysbaai en Greyton. Ek leef en werk nou in Penicuik, Skotland saam met my man, Werner, en kinders Fia en Ben.

Waarom het jy besluit om ʼn illustreerder te word?

Ek dink dit is een van daai dinge – nie regtig jou eie besluit nie, jy is net so gebore. Ek het ander dinge probeer maar altyd terug gehunker na stories en die visuele beeld. Ek was baie stil as kind (in so mate dat die juffrouens by die skool bekommerd was!) maar het ‘n stem deur my tekeninge gekry en agtergekom dat dit ‘n manier is om te kommunikeer.

Hoe het jy begin om kinderboeke te illustreer? Wat was die eerste kinderboek wat jy geïllustreer het?

My eerste amptelike kinderboek was Gokul’s Game wat hier in die Verenigde Koninkryk gepubliseer is in 2018 – glad nie so lank terug nie! Die pad wat ek gestap het om tot op die punt te kom om kinderboeke te illustreer was lank. Ek het Grafiese Ontwerp by Noordwes-Universiteit gestudeer en toe dadelik in die korporatiewe wêreld begin werk as grafiese ontwerper. Alhoewel illustrasiekuns nog altyd ‘n groot voorliefde van my was, het ek geglo dit sal nie noodwendig ‘n voltydse beroep kan wees nie en ek het ook in my eie vermoëns as illustreerder getwyfel. Ek het altyd illustrasies in die korporatiewe werk probeer invleg waar ek kon – en op dié manier uiting gegee aan die behoefte om te illustreer en agtergekom mense sal selfs daarvoor betaal! Voorbeelde van my korporatiewe ontwerp: https://linkibrand.com/other

Jy gebruik ʼn groot verskeidenheid illustrasiestyle (bv. in die verskillende stories in Halala Job Maseko). Hoe besluit jy op die tipe styl wat gebruik word vir ʼn storie of boek?

Die storie se trant en gevoel (asook die skrywer se skryfstyl) gee vir my ‘n aanduiding van die styl. Ek dink ook, omdat ek jare met korporatiewe handelsmerkidentiteite gewerk het, is daar hierdie bewustheid in my dat my styl moet aanpas by die identiteit van die storie en ook moet spreek tot die teikenmark van die spesifieke boek. Ek is vreeslik bewus van wie die storie gaan lees terwyl ek op ‘n styl besluit.

Hier is voorbeelde van verskillende style uit Halala Job Maseko.

Watter illustrasiestyl is jou gunsteling? En watter styl verg die meeste moeite?

Ek het agtergekom daar is ‘n verskil in ‘n styl wat ek rerig van hou en ‘n styl wat net natuurlik na my toe kom. Ek sien myself as ‘n redelike ernstige mens en tog is dit asof ‘n meer humoristiese styl natuurlik uit my vloei. Dit kom maklik en vanself. Die illustrasies in Wetenskaap van Leon de Villiers is só ‘n voorbeeld.

Ek hou dan ook baie, aan die anderkant, van meer ernstige illustrasies soos van die wat ek in Wendy Maartens se Halala Job Maseko gedoen het. Die illustrasie van Saartjie Baartman is so voorbeeld. Dit is so ‘n moeilike, komplekse storie wat Wendy op ‘n baie goeie manier vir kinders verwerk het en ek voel hierdie geweldige sin van verantwoordelikheid om die storie reg te verteenwoordig in ‘n illustrasie en nie net sommer ‘n mooi prentjie te maak nie. Dieselfde geld ook vir Hector Peterson en Klara Majola se stories in dieselfde boek. Vir dié tipe van stories gaan lees ek in diepte na enige iets rondom die gebeurtenisse en persone en probeer dit so respekvol as moontlik hanteer maar tog op so ‘n manier dat dit kinders wat vir ‘n eerste keer met hierdie mense se stories te doen kry aangeraak sal wees – en deernis vir die mens agter die storie sal kry. Mens is tog hier besig om met kinders se psige ontwikkeling te werk, hulle morele kompas te vorm vir die toekoms.

In die video’s wat jy maak oor die illustrasieproses en op FB en Instagram plaas (bv. vir Magriet hou konsert en die voorblad vir Wetenskaap) is dit duidelik dat die proses vir jouself interessant is en dat dit verweef is met jou dinkproses. Vertel asseblief iets oor jou skeppingsproses. Watter deel van die skeppingsproses geniet jy die meeste?

Daar is ‘n paar prosesse in die skeppingsproses wat ek nou al kon uitpluis. As ek vir die eerste keer ‘n nuwe manuskrip kry dan is ek baie opgewonde en raak verlore in die storie en maak moodboards en sweef rond tussen idees. Dit is ‘n baie lekker deel want die wêreld is oop en vol moontlikhede. En dan kom die tweede, vreesaanjaende deel, as ek voor ‘n leë wit papier sit met iets oorspronkliks moet vorendag kom. ‘n Mens is baie rou en kwesbaar dan. Maar ek het geleer om eenvoudig deur dit te werk. Ek moet net BEGIN. Sit potlood op papier en begin skribbel aan idees. Al jou idees – selfs al is dit simpel, voor die hand liggend en reeds deur ander mense gedoen – moet uit jou sisteem gewerk word. En dan daarna kom die nuutskeppinge. En dan begin die storie en die styl stadig in plek val. Ek raak dan weer van voor af opgewonde oor die boek en laat waai van daar af. Ek sal karakters en kleure van die spesifieke storie waaraan ek werk dan altyd byderhand hou deur dit uit te druk en op te plak by my werkstasie sodat ek dit altyd as verwysing kan gebruik deur die res van die skeppingsproses.

Besoek my webtuiste om na die ontwerpproses van die Magriet-reeks en Wetenskaap te kyk: https://linkibrand.com/

Ek neem aan die meeste van die werk is digitale produksies, maar ek sien dat jy ook ʼn kombinasie van papiertekeninge en digitale metodes gebruik. Daar is natuurlik baie voordele om digitaal te werk, maar sou jy ook sê dat daar enige ‘nadele’ is?

As ek dinge oor kon kies, sou ek beslis ‘n beter basis van tradisionele mediums wou aanleer – en ek beplan nogsteeds om in die toekoms dit te doen. Ek het so bietjie tydens my studies op universiteit daaraan geraak. Maar ek het nooit byvoorbeeld kuns op skool gehad of rerig gemaklik met enige mediums geraak nie. Ek was maar van kleins af agter die rekenaar en het altyd gemaklik daar gevoel. Maar ek dink ander prosesse in die brein word aangewakker as jy weg van die rekenaar of iPad (wat ek deesdae meestal gebruik) skuif en meer van jou sintuie betrek in die skeppingsproses. Daar kan ook meer “happy little accidents” gebeur (as ek vir Bob Ross kan aanhaal) omdat jy nie net kan “undo” soos met die digitale medium nie. (Hier is foto’s waar ek met die hand teken maar ook dan digitaal op ‘n skerm:

Wat is volgens jou die belangrikste kunselement om in ag te neem in boekillustrasies? (bv. komposisie, balans, kleur, ens.)

Dit is redelik moeilik om te beantwoord. Want al die elemente vorm saam ‘n harmonie natuurlik. Maar ek dink – vir my persoonlik – komende van ‘n grafiese agtergrond waar ek baie met uitleg gewerk het, is komposisie nogal belangrik. Dit voel vir my dat dit die basis vorm waarvandaan ek werk – soos die bloudruk. Ek moet, voor enige iets anders, eers die komposisie uitpluis en daarna volg die res. Ek hou dus ook daarvan om nie net ‘n boek te illustreer nie, maar ook, as ek die geleentheid gegun word, die uitleg te doen. Dit laat die storie beter vloei en sin maak. Daar is niks so erg vir my as die teks en illustrasies nie ‘n lekker ritme het nie. Of as dit illustrasie iets weggee nog voordat dit in die teks genoem word. Dit is asof jy die leser pootjie. Komposisie was byvoorbeeld belangrik by Rooimiere in die broek idioominkleurboek.

Jy gebruik sterk en interessante kleure in jou werk. Kleur is ook belangrik wanneer dit kom by stemming. Hoe besluit jy op die kleur wat gebruik word?

Vandat ek hier in Skotland bly, het ek besef wat ‘n geweldige rol kleur in my visuele taal speel. Die kinderboeke wat hier (dit sluit dan ook Europa in) gepubliseer word, spreek baie van die gedempte, grys ondertone wat mens om jou sien (ook natuurlik mooi en gepas soos dit moet wees). Dit is dus bloot ‘n verteenwoordiging van wat die illustreerders hier rondom hulle sien en die omgewing waarin hulle grootgeword het. Die kleure wat ek in my boeke gebruik, het half vanself gekom – as dit vir my lekker werk langs mekaar dan gebruik ek dit so. Nou, as ek terugkyk na my gepubliseerde boeke, besef ek eers hoe geweldig kleurvol my werk is – omdat ek van ‘n sonskynland af kom met ‘n ryk diversiteit van kultuur en style – van kleredrag tot kos. Ons is nie bang om te anders te wees of te lyk van mekaar nie. Ek vermoed ook my bemarkingsagtergrond speel hier ‘n rol.

Wat is die geheim vir ʼn suksesvolle voorblad? Wys asseblief twee van jou voorbladontwerpe en vertel kortliks iets hieroor.

Almal praat altyd daaroor dat ‘n boek op ‘n rak moet uitstaan. En dit is nie verniet so nie. Dit is hoe jy daai eerste interaksie kry met die potensiële leser. So ek probeer dit gewoonlik eenvoudig hou maar terselfdertyd “bold” maak. Ek is nie bang vir kleur nie! En ek dink dit is waar my grafiese agtergrond weereens handig te pas kom. In die korporatiewe bedryf moes ons altyd dink wat sou die meeste uitstaan. Die gebruik van fonts is dan ook vir my vreeslik belangrik vir die voorblad. ‘n Pragtige illustrasie kan net so platval as daar verkeerde font saam met dit gebruik word. Ek is ook nie aanhanger van die idee dat die hoogtepunt van die boek op die voorblad van die boek met verskyn nie, jy gee dan die hele storie weg! Dit voel my jy kul dan die leser net om die boek te koop en respekteer nie die feit dat hul self wil uitvind wat gebeur in die storie nie. Ek hou daarvan om die nuuskierigheid eerder te prikkel deur ‘n element of twee op die voorblad te plaas sodat die leser sou wonder hoe die elemente met mekaar verbind sou kon hou.

Kyk na die alternatiewe kleuropsies wat tydens die ontwerpproses van Iemand wat verdrink na vore gekom het: https://linkibrand.com/iemand-wat-verdrink

Kan jy asseblief kortliks iets vertel oor die verhouding tussen ʼn uitgewer en ʼn illustreerder van kinderboeke. Skryf die uitgewer aan die illustreerder voor of mag jy jou eie idees gebruik?

Komende uit die grafiese ontwerp wêreld waar kliënte vreeslik voorskriftelik is en die ontwerper, in baie gevalle, bloot as ‘n instrument gebruik word om die kliënt se visie te laat vergestalt (al is daardie visie nie noodwendig altyd suksesvol, uniek of relevant nie) was dit vir my ‘n absolute openbaring dat uitgewers soveel vertroue in my eie visie / stem as illustreerder gehad het. Ek kon nie al die vryheid glo nie! Vir die eerste keer kon ek doen wat ek wou! Dit help natuurlik as jy net eers daai eerste boek of twee geïllustreer het en dit gepubliseer is sodat hulle jou kan vertrou.

Aan die begin van ‘n boek – soos ‘n prenteboek soos die Magriet-reeks byvoorbeeld sal ek eers die hele boek met teks uitlê en klein duimnael sketsies van die hele boek maak en laat goedkeur deur die publiseerder.

Daar sal dalk hier en daar ‘n klein aanpassing wees, maar nooit te dramaties nie. Sodra ek dan goedkeuring daarvan het kan ek met ‘n geruste hart aangaan met die res omdat ek weet ek en die uitgewer is op dieselfde bladsy. Met ander boeke vir ouers kinders wat meer teksgedrewe is en dieper delf in die karakter, soos Draakasem van Jaco Jacobs, sal ek voorbeelde van die hoofkarakters vir die uitgewer stuur en miskien een of twee tonele vanuit die storie en dit eers goedkeur voordat ek aangaan. Dit is vir my ‘n ongelooflike ervaring dat my stem as illustreerder net soos die skrywer s’n gerespekteer word, dat my insette gewaardeer word en eintlik gevier word. (https://linkibrand.com/draakasem)

Illustrasies uit Draakasem

Watter raad sal jy gee vir iemand wat belangstel in die beroep van illustreerder? Wat is die twee belangrikste vereistes om as ʼn suksesvolle illustreerder te kan werk?

Teken. Soveel as moontlik. Werk deur die vrees. Begin met pro bono werk. Teken gigposters vir bands, teken vir die dierebeskermingsverenging, teken vir die ouetehuis, teken vir die kerkbasaar. Teken net! En bou jou portefeulje. Maar wees krities wat jy in jou portefeulje sit. Eerder minder werk, maar alles op ‘n hoë standaard, as meer werk en daar is een of twee minder goeies tussen in.

Deel jou werk en dele van die proses agter jou werk waarmee jy gemaklik is op sosiale media (nooi mense agter die skerms, vertel jou persoonlike storie), kry ‘n ordentlike webwerf wat jou professioneel laat voorkom. Ek dink mense is geneig om te dink illustreerders is verstrooid en gaan nie altyd professioneel kan optree as dit by kommunikasie of die bestuur van tyd kom nie. So, lyk so professioneel as moontlik aanlyn en in jou kommunikasie aan potensiële kliënte.

En dan, laastens, omhels en koester die hart wat op jou mou is tydens die illustrasieproses. Dit is ‘n baie teer gedeelte van jouself wat jy aan die wêreld ontbloot as jy jou illustrasies openbaar. En alhoewel jy dit dalk self as ‘n swakheid sien, om so sensitief te wees, weet ook dat dit juis dít is wat jou toelaat om te skep en deur te dring na ander mense toe.

Besoek gerus my webtuiste: https://linkibrand.com/
Ek is ook op Facebook, Instagram en Behance.

Onderhoud gevoer deur Henrico Greyling.
Henrico is ‘n eerstejaarkunsstudent aan die Universiteit van Pretoria.
7 Augustus 2020
0
Would love your thoughts, please comment.x