Sommige mense wat ek ken kan met ’n vyfhonderdbladsy-fantasieroman wegspring, en as ek hulle ’n paar dae later in Mug & Bean raaksien, het hulle hul neuse reeds in ’n volgende Robert Jordan Wheel of Time-boek. Maar die meerderheid van ons, ek inkluis, sien nie altyd kans vir Jordan of een van Sophia Kapp se liefdesverhale wat oor bladsye en bladsye heen strek nie. Partykeer vang ek myself waar ek halfmas in die gleufies van die letters vaskyk; dis dan dat ek daardie Romanza-slapbandboekie tussen die lywige romans in my boekrak gaan uitsoek.
“Kinders moet lees!” vermaan die vorige geslag. Hoeveel tieners kry deesdae kans om op die bank op te krul, leesboek oop, as daar elke middag netbaloefening, dansklasse, redenaars en laataand-dramalesse is wat hulle tyd opeis? Soms wil ’n mens net gou iets lees wat nie te veel optiese inspanning vereis nie, veral ná ’n lang skool- of werksdag.
Laaste lewe (2020), Fanie Viljoen se eerste grafiese roman (uitstekend geïllustreer deur Daniël Hugo), handel oor ’n jong seun met die naam Sam wat sy pa se dood wil wreek. Die illustrasies op die voorblad beeld Sam en sy grafgrawer-vriendin, Claire, uit – dié gewapen met ’n graaf. Vanaf die nagblou hemelruim gluur die booswig en man waarop Sam wil wraak neem hulle aan, die formidabele Swart Kraai.
Laaste lewe is gebaseer op Fanie Viljoen se novelle The last time I died wat in 2016 deur Ransom Publishing uitgegee is. Die verhaal speel af in ’n tipiese Middeleeuse fantasieruimte waar enorme kastele, rowers wat in die woud wegkruip, magiese ingrypings en heldhaftige swaardgevegte volop voorkom. Daniël Hugo maak ook gebruik van Gotiese elemente – begraafplase, grafskending, geraamtes, vloeke, donker kelders, verlate gange, en mense wat lewendig begrawe word – wat bydra tot die verhaal se somber atmosfeer. Hugo se gedetailleerde achromatiese illustrasies gekombineer met Viljoen se spaarsamige, maar effektiewe woordgebruik, skep volgehoue spanning in die roman wat waarborg dat die leser die boek nie sommer gaan neersit nie.
Lees kan ’n uitstekende tydverdryf wees. Ongelukkig het die meeste mense bedrywige lewens en stywe skedules wat geen tyd aan ’n vyfhonderdbladsy roman kan afstaan nie. Grafiese romans en strokiesprente is wonderlike leesstof vir diegene wat nie kans sien om elke aand deur ’n hele hoofstuk te sloof nie. In Laaste lewe gebruik Viljoen natuurlike dialoog en kort, vloeiende sinne wat maklik lees. Ek beveel hierdie epiese werk aan vir tieners en volwassenes wat ’n voorliefde vir fantasie en grafiese romans deel.