Sanri Steyn: Die geraamte se geheim

Skryfstyl, taalgebruik en humor in kinderboeke

Kinderverhale is volgens Jaco Jacobs “by uitstek ʼn genre waar pret en kreatiwiteit kan seёvier”. Hoe kan skryfstyl en taalgebruik gebruik word om kinderverhale meer vermaaklik te maak?

Kinderverhale is volgens Jaco Jacobs “by uitstek ʼn genre waar pret en kreatiwiteit kan seёvier” (Jacobs, 2012:131). Hoe kan skryfstyl en taalgebruik gebruik word om kinderverhale meer vermaaklik te maak? Die skep van humor deur taalgebruik en skryfstyl word hier bespreek aan die hand van die boeke Spy Dog deur Andrew Cope en Sanri Steyn: Die geraamte se geheim deur Theresa van Baalen.

Die vertelinstansie in Spy Dog is alomteenwoordige derdepersoonsvertelling. Sommige hoofstukke beskryf Lara, die “Spy Dog”, se ervaringe by haar aangenome familie; terwyl ander hoofstukke die antagonis en die Britse Intelligensiediens se gelyktydige soektog na Lara beskryf. Die hoofkarakter se innerlike monoloog word dikwels in skuinsdruk deurgegee, aangesien sy nie kan praat nie. Ander karakters se gedagtes word ook soms vlugtig in die vertelling beskryf, maar die fokalisator van die boek is hoofsaaklik Lara.

Aangesien die hoofkarakter ʼn hond is en nie kan praat nie, is daar meer aksie as dialoog in die boek. Die feit dat die hoofkarakter nie kan terugpraat nie, laat egter nie die dialoog eensydig voel nie, aangesien die hoofkarakter se gedagtes in skuinsdruk deurgegee word. Dié kommunikasiegaping dra dikwels by tot die humor in die storie: “Sophie called, ‘Here, Lara. Here, girl. Come and fetch this stick,’ and she threw a piece of wood down the garden. Lara looked first at Sophie, then at Ben. She’s expecting me to fetch the stick – but why, what’s the point in that? She threw it, so she should fetch it herself.” (Cope, 2005:53). In ander gevalle word die hoofkarakter se geblaf as dialoog geskryf, weereens op ’n humoristiese wyse: “‘Are we nearly home, Dad?’ croaked Sophie in a half-awake, half-asleep state. ‘Woof,’ came the rather surprising answer from the driver’s seat” (Cope, 2005:144).

Die verhaal is in die informele register geskryf. Een karakter word byvoorbeeld beskryf as “the sort of person who would do anything for his mates” (Cope, 2005:58), dus word informele woorde gebruik. Die taalgebruik in die boek is meestal eenvoudig en konkreet, soos uit die openingsin gesien kan word: “The man with the gun was prowling nearby.” (Cope, 2005:1). In tonele met aksie word sterk werkwoorde gebruik, byvoorbeeld “She raced out” (Coper, 2005:71) eerder as “she ran out”.

Die beeldspraak en figuurlike taal wat wel in die boek voorkom, is meestal vergelykings en metafore, byvoorbeeld “And keep that heart quiet, it’s thumping like a drum!” (Cope, 2005:136). Die beeldspraak is dikwels kreatief en humoristies. Wanneer Lara een van die ander karakters “tackle”, word sy beskryf as “a furry rugby player” (Cope, 2005:141), wat help om ’n interessante prentjie in die leser se verbeelding te skep. Daar word ook soms van vergroting of oordrywing gebruik gemaak om humor te skep, byvoorbeeld: “‘He did what?’ bellowed the normally mild-mannered scientist, showering the special agent in spit” (Cope, 2005:103).

In die boek word woordspel soms vir humoristiese doeleindes aangewend. Wanneer Lara haarself byvoorbeeld in ’n diereskuiling bevind, vra iemand of sy “house trained” is. Lara sien dit as ʼn belediging: “What does he mean ‘house trained’? I’m trained to break into houses and rescue people. I’m trained to cook and I can do basic DIY and am useful to have around the house. I bet that’s what he means by ‘house trained’” (Cope, 2005:18). Daar word dikwels van woordspel gebruik gemaak in die naamgewing van die karakters. Die hoofkarakter, Lara, se naam is inderwaarheid ’n akroniem vir “Licensed Assault an Rescue Animal” (Cope, 2005:16). Nog ʼn humoristiese naamgewing en woordspel in die boek is “Professor Cortex” (22). Die skryfstyl en taalgebruik versterk dus die humor in die boek, veral deur middel van beeldspraak, woordspel, dialoog en die hoofkarakter se innerlike monoloog.

Sanri Steyn: Die geraamte se geheim

In Sanri Steyn: Die geraamte se geheim is die vertelinstansie beperkte derdepersoonsvertelling, met Sanri as die fokalisator. Die vertelling sluit ook soms aspekte wat nie dialoog of beskrywing is nie in, soos die lysie wat Sanri skryf oor alles wat sy van Jamahl, die nuwe seun in haar klas wat buikspraak beoefen, weet (Van Baalen, 2020: hfst. 4, par. 6.) Die boek is in ʼn informele register geskryf en daar word van ʼn paar Engelse woorde gebruik gemaak. Die karakters gebruik soms die woord “cool” en een oomblik word beskryf as “een groot blur” (Van Baalen, 2020: hfst. 7, par. 14.). Nog ʼn aspek wat bydra tot die informele register is dat sommige woorde vir beklemtoning in hoofletters geskryf is: “Het sy haar verbeel of het ʼn man met ʼn trollie sopas DWARSDEUR haar geloop?” (Van Baalen, 2020: hfst. 11, par. 12.).

Daar is heelwat beeldspraak in die boek, veral in die vorm van vergelykings soos “spartel soos ʼn glibberige vis wat probeer ontsnap” (Van Baalen, 2020: hfst. 13, par. 12.). Die beeldspraak is dikwels voorbeelde van prettige taalgebruik, soos Sanri wat vir Jamahl ʼn “ertjiebrein” noem (Van Baalen, 2020: hft. 8, par. 16).  Nog voorbeelde van taalgebruik wat die boek meer lewendig maak, is die klanknabootsing wat soms voorkom. ʼn Voorbeeld hiervan is Sanri wat wakker word van ʼn “TIK-TIK-TIK” teen haar kamervenster (Van Baalen, 2020: hfst. 8, par. 5.).

Die naamgewing in die boek is in sommige gevalle woordspel wat iets oor die karakter oordra. “Bennie Bene” is byvoorbeeld ’n buikspraakpop en ʼn geraamte. Sommige name allitereer ook, soos Sanri Steyn, Jamahl Julies en Bennie Bene. Daar is ander voorbeelde van woordspel wat bydra tot die humor, soos wanneer Bennie Jamahl se woorde “Sê dankie vir die juffrou, Bennie” doelbewus misinterpreteer deur dit net so te herhaal: “‘Dankie vir die juffrou, Bennie,’ sê hy” (Van Baalen, 2020: hfst. 1, par. 25-26.).

Party van die kinderkarakters se dialoog is oordrywend, wat bydra tot die humor in die verhaal. Sanri sê byvoorbeeld vir Jamahl dat hy moet sagter praat, want “As my ma uitvind ek is buite wanneer ek moet slaap, hok sy my tot ek dertig is” (Van Baalen, 2020: hfst. 9, par. 13.). Nog ’n voorbeeld van humoristiese oordrywing is tydens die verskeidenheidskonsert, waar ’n tannie so trekkerig sing dat van die mense in die gehoor aan die slaap raak en selfs snork (Van Baalen, 2020: hfst. 14, par. 1.). So dra oordrywing by tot die humor in die boek.

Die skryfstyl en taalgebruik in Spy Dog en Sanri Steyn: Die geraamte se geheim deur maak hierdie kinderboeke dus meer vermaaklik. Die kreatiewe gebruik van beeldspraak, naamgewing, dialoog, woordspel en oordrywing help veral om die humor in die boeke te versterk.

Verwysings

Cope, A. 2005. Spy Dog. London: Penguin.

Jacobs, J. 2012. Kinderboeke: Jy mag selfs op die bed spring as jy wil. In: Kleyn, L. & Scheepers, R., eds. Die Afrikaanse Skryfgids. Johannesburg: Penguin. bl. 127-132.

Van Baalen, T. 2020. Sanri Steyn: Die geraamte se geheim [Kindle-uitgawe]. Lapa. Beskikbaar vanaf Amazon.com.

Lisa Kruger
Lisa Kruger is ‘n skryfkunsstudent aan die NWU – 2020
Januarie 2021