Donker Web

Donker Web

Fanie Viljoen
Tafelberg

Hy stap in die donker gang af. Dis soos daardie aand toe hy sy pa in die studeerkamer gekry het. Voor sy oë sien hy steeds sy pa se groot lyf half oor die lessenaar gebuig toe die deur oopgaan. Hy sien die geel koevert. Sien die 9 mm-pistool.

Sy pa vou dit toe in ’n lap en sit dit weg in die laai.

“Jy moet nie jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim,” sê sy pa. Sy gesig is natgehuil. “Gaan slaap nou.”

Binne hom weerklink sy pa se stem toe hy nog daar staan om sin te probeer maak van wat hy gesien het. Hy het nie eens geweet daar is ’n pistool in die huis nie. Wat maak sy pa met een?

Uiteindelik draai hy hom, stap kamer toe met sy pa se woorde wat hom volg. “Nag. Lekker slaap…”

Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Dit is asof die donker dit opraap en in die voue van sy kleed verberg. Nou weet die donker van hom en sal dit hom roep. Hom op sy naam noem asof hy aan die donker behoort.

Sy regte naam, nie net ’n eggo daarvan nie.

lusmakers