“Die verhaal van ’n Vrystaatse dorpskind wat volksbesit geword het: Verna Vels (13 Junie 1933 – 21 Augustus 2014),” vertel Leana Lategan*
Byna-byna was haar naam “Vermin”, want dis wat ’n samevoeging van Pa Vernon en Ma Minnie sou beteken. Gelukkig het dit Verna Barbara Robertson geword, dié dogter van die Vels-egpaar van Reitz in die Vrystaat. Op hierdie dorpie is ‘n legende op 13 Junie1933 gebore.Vir die meeste mense is Verna Vels en haar storieboekkarakter “Liewe Heksie” sinonieme, maar voor die bestaan van dié vriendelike, onbeholpe, en “dommerige” heksie, was daar al ’n joernalistieke lewe wat vir vele hoogtepunte in Verna Vels se dekadeslange loopbaan gesorg het.
Ná haar B. A. – studie aan die UP lê sy sommer terloops ’n omroeperstoets by die SAUK af. Agt jaar lank werk sy as omroeper en plateprogramopsteller in hulle ateljees in Durban, en behartig kinder-, vroue- en allerlei musiekprogramme. Sy begin ook in hierdie tyd met skryfwerk vir die radio, vir kinders sowel as vir volwassenes. Sy is uiteindelik vir 18 jaar lank by radiowerk betrokke, voordat sy in 1974 oorgeplaas word om die SAUK se nuwe TV-diens te help voorberei.
Die geboortedatum van Levinia Heks, soos Karel Kat haar streng noem, is 2 Mei 1962, toe die eerste verhaal van “Blommie Kabouter en die Heks wat vergeet het” in ‘n Siembamba-program uitgesaai is. Meerdere verhale volg, en in 1965 verskyn die eerste versameling “Liewe Heksie” – stories in twee bundels : “Liewe Heksie” en “Liewe Heksie kom weer”.
Die suksesverhaal van hierdie geliefde karaktertjie loop paralel met dié van haar skepper. Verna Vels het by geleentheid na haarself verwys as die “eerste werklike career girl gebore” Reitzmeisie. Haar werk was haar passie, oorsese reise (veral na die wêreldstad Parys) en tintelende musiekkonserte in o.m. Berlyn was bederwe wat haar lank kreatiewe energie gegee het vir verdere werk. Sy was die eerste vroulike uitruilomroeper in Nederland, die eerste vroulike streekorganiseerder vir radio, en kanaaldirekteur van TV 1. Ná haar amptelike aftrede het sy vir etlike jare nog twee dae per week as hoofregisseur op die stel van die “7de Laan” – reeks gewerk.
Vels het verskeie eerbewyse ontvang, onder meer van die FAK, en ook ’n SAUK Artestoekenning, die Tienie Holloway-medalje, en die C. P. Hoogenhouttoekenning.
Ook Liewe Heksie het van krag tot krag gegaan. Sy het vis gevang, was maan toe, en na ‘n rugbywedstryd. Sy het ‘n kat gekry, was betrokke by die gesogte Silwer Roos, het kaskenades beleef óf veroorsaak!, en was dikwels in die pekel. Sy was op televisie, op teaterverhoë, in Omnibusformaat en op DVD. Natuurlik is sy ook in boeke, storieboeke, en leerboekies, want dis ’n báie goeie plek vir ‘n heksie om te wees.
En natuurlik het sy die rekenaar bygedam, want dis nóg iets wat ‘n liewe heksie moet doen. Sou dit nie wonderlik wees as sy die heersende virus kon bykom nie?! Sy hét immers vir Wicus Virus suksesvol verwyder van van die Blommelandrekenaar…Lank lewe die legende van Verna Vels en haar liewe heksie!
*TEKS deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige,
**Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN).
Kontak NALN**: naln@sacr.fs.gov.za of vriendevannaln@gmail.com
**Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel. asook die radio- en rolprentgeskiedenis.