
Die son bloei stadig agter die bome weg. Alles is stil … te stil. Die pretpark se geroeste hekke gaap oop soos die bek van ʼn monster.
“Ek kan nie glo jy het ons in hierdie nonsens ingepraat nie!” sis Lana vies vir James.
Ek kan dit ook omtrent nie glo nie. Die lang, spookagtige torings, die vervalle tente en die donker silhoeëtte van al die stokou ritte is genoeg om enige nuuskierige avonturier weg te hou. En tog, hier staan ons: voor die pretpark, op pad na die doolhof toe. Die doolhof – die rede hoekom die pretpark gesluit het. Die rede hoekom Jan Verster vyftig jaar gelede spoorloos verdwyn het.
Volgens gerugte was dit een van die ingewikkeldste doolhowe wat nog ooit in ʼn pretpark gebou was. Net die eienaar het die roete geken: geen ander persoon kon ooit naby die fontein in die middel uitkom nie. Hy was blykbaar gek oor speletjies, en het verklaar dat hy aan enige besoeker wie die fontein kon kry, ‘n wens sou skenk. Ritte, spookasem, vertonings… solank dit net deel van die pretpark was.
Die doolhof was baie gewild totdat Jan eendag ingegaan het en nooit weer uitgekom het nie. Die polisie het regdeur die nag na hom gesoek. En die hele dag daarna. En die dag daarna. Vir dae lank.
Hy is nooit gekry nie.
Toe die polisie uitkom… Hulle het stories vertel van ʼn stem wat roep om hulp en van ʼn skadu in die hoek van hul oog wat verdwyn sodra hulle omkyk. Hulle het gesê dat die doolhof Jan se siel gesteel het.
Die dorpenaars het die eienaar vir Jan se verdwyning geblameer. Hy het kort daarna by die doolhof ingestap en is nooit weer gesien nie. Die pretpark het mettertyd in duie gestort …
En nou, nou gaan ons in die doolhof in. Net as gevolg van Hendrik se vreeslike stupid dare. Ek skud my kop. “Jy weet ons is jou beste vriende, en dat ons enigiets vir jou sal doen, maar…” Ek kyk weer na die pretpark en ʼn rilling wriemel by my ruggraat af. “Hoekom moet jy in elk geval daai grootkop se dare aanvaar net om ʼn girl te beïndruk wat al meer kêrels gehad het as wat sy wiskundetoetse deurkom?”
Lana knyp haar neus tussen haar vingers vas. “Ek moet met Adriaan saamstem, James. Al waarin sy belangstel is seuns se aandag. En Hendrik … wel, hy probeer maar net grootkokkedoor wees.”
James trek sy skouers op. “Julle kon maar altwee by die huis gebly het as julle so teen hierdie idee is.”
Lana sug. “Asof ons jou ooit sonder toesig sou los. Wel, as jy regtig so vasberade is, vat hier.” Sy druk iets in ons albei se hande in.
“ ʼn Muntstuk?” vra James in ongeloof.
“Ja, vir wanneer ons die fontein kry, sodat ons darem ons wense kan uitspreek.”
“Wense? Jy is nie ernstig nie! Hierso, Adriaan, twee wense vir jou.”
Ek vang sy muntstuk met ʼn skud van my kop voordat ek opkyk na die ingang voor ons.
“Adriaan… Ek dink jy moet dit ook vat.” Lana hou ʼn kompas na my toe uit. “Dis my ouma s’n. Dis veronderstel om baie waardevol te wees, maar ek het nie gedink sy sal omgee as ons hom net vir ʼn aand leen nie… Dit wys blykbaar die rigting van jou gewenste bestemming aan.” Sy trek haar skouers op. “Ons kan dit maar net sowel saamvat.”

James lig sy foon op. “Google Earth, mense. Los die kompas. Ek het ʼn arial view van die doolhof; ons sal binne minute daar wees. Al wat ons nodig het, is ʼn selfie, dan is ons uit en dan praat ons nooit weer daaroor nie.” Met een kyk in Lana se sagte, bruin oë, druk ek maar die muntstukke en kompas in my broeksak. Haar skitterende glimlag is amper genoeg om my gerus te stel.
Amper …

Ons gaan die park versigtig binne. Ons voetstappe weergalm in die stilte. Die flitsligte gooi lang, onaardse skadu’s wat ons volg soos grypende vingers. Voor ek my oë kan uitvee, is ons by die doolhof. Die struike wat eens as heinings gedien het, het in die halwe eeu waartydens hulle wild gegroei het, in massiewe, hemelhoë bosse verander.
James se kneukels is wit soos hy sy foon vasklou. Met ʼn knik van sy kop begin ons stap. Na ʼn paar meter moet ons kies: links of vorentoe.
“Vorentoe,” prewel James, sy foon amper teen sy neus gedruk. “Links is ʼn doodlooppad.” Na nog ʼn paar meter moet ons weer kies. “Regs. Vorentoe vat ons terug na waar ons begin het.”
ʼn Geritsel in die bosse laat ʼn skreeu uit my keel losbars. James en Lana swaai om.
“Wat? Wat is dit?” vra Lana bekommerd.
“Het julle dit nie gehoor nie? Daar is iets in die bosse!”
James sluk. “Seker net ʼn kat of iets. Kom, ons moet hier voor regs draai.”
Ek draai regs en stop in my spore. ʼn Doodloop. Ek draai terug. “Is jy seker?”
James byt sy lip. “Dalk het ons ʼn afdraai gemis. Kom ons gaan terug.”
Terwyl ons omdraai, hoor ek weer die geritsel van bosse. My hart gaan sit in my keel. Dit kan nie wees nie: nog ʼn doodlooppad!
“Onmoontlik,” fluister ek. “Ons het dan nou net hier deurgekom …” Dit voel asof my hart gaan staan. Die geritsel in die bosse … Dit was nie in die bosse nie, dit was …
“Guys, ek dink … ek dink die doolhof …” Ek sluk hard. “Ek dink die doolhof beweeg.”
Hulle kyk my net met groot oë aan, maar ek het klaar besluit: genoeg is genoeg. Ek druk my flits in James se hand, gryp hulle albei aan die elmboë en begin hardloop.
Uit! Ons moet hier uit!
Ek voel hoe James langs my struikel en ek my greep op sy arm verloor.
“Bly by, man!” gil ek.
Doringtakke gryp na my klere. Ek skeur myself los en hou aan hardloop.
“Adriaan!”
Ek swaai terug. Lana struikel om los te kom van doringtakke wat blitsig om haar bene krul. Waar is James? Voor my oë begin die doringtakke groei. Binne sekondes is daar ’n muur tussen ons.
“Adriaan! Hou aan hardloop! Gebruik die kompas, vinnig!”
Lana se woorde tref my soos ʼn hamer. Die kompas! Ek grawe dit met bewende hande uit. Ons enigste hoop! Ek begin weer hardloop, hierdie keer al agter die kompas se rooi pyltjie aan. Om draaie, verby doringtakke wat na my gryp soos frenetiese dansers, aan en aan totdat ek uiteindelik in ʼn oopte instruikel.
Trane rol oor my wange. Die fontein!
“Geluk,” fluister ʼn spottende stem. Ek vries. “Jy is die eerste een ooit …”
“Ek is reg om my wens te maak,” wurg ek uit. Ek draai bewend om. Die skadu op die grond wat ek eers gedink het is myne, begin in stadige sirkels om die fontein loop.
“Is jy seker?” fluister hy weer.
Ek maak my geklemde vuis oop. Die muntstukke glinster in die donker.
“Wel,” grom die stem, “dit lyk asof jy is. Wat is jou wens?”
“Ek wens dat jy my en altwee my vriende sal laat gaan.”
“Dis nie hoe dit werk nie!” singpraat die skadu. “ ʼn Muntstuk is slegs geldig vir sy eienaar…”
Ek kan die grynslag in sy stem hoor. Ek kyk wanhopig af na die muntstukke in my hande. My hart galop soos ʼn resiesperd en ek baklei om my jagende asem onder beheer te kry. Fokus! Ek moet fokus.
James se muntstuk val met ‘n dowwe ‘klonk!’ in die water. “Ek wens namens my vriend dat jy hom sal bevry.”
Nog ʼn grynslag. “Goed dan.”
Ek kyk af na die oorblywende muntstuk en terug na die skadu. Sy pretpark … ʼn Plan begin vorm in my kop. Ek laat val my eie muntstuk in die water. “Ek wil ʼn speletjie speel,” forseer ek dit uit.
Die skadu raak stil. Tyd het nog nooit so stadig verloop nie.
“En wat is hierdie speletjie?”
“As ek my vriendin in die doolhof kan kry, laat jy ons altwee vry op my muntstuk. En dan is dit verby met jou. Dan mag jy nooit weer enigiemand in jou doolhof gevange hou nie.”
Ek hou my asem op. Asseblief-asseblief-asseblief …
“En as jy verloor?”
Ek sluk hard. “Dan bly ons hier, vir ewig. Dan … dan behoort ons siele aan jou.”
Die skadu lag onheilspellend, en vir ʼn oomblik dink ek hy gaan weier, maar dan sis hy, “Jy het tot middernag, seun.”
My oë skiet na my polshorlosie: 11:21. Ek is voor my volgende asemteug aan die hardloop, die kompas vasgeklem in my hand.
“Lana!” gil ek. “Lana, waar is jy?”
Die pyl spring aanhoudend rond. Waar’s jy waar’s jy waar’s jy … Die lug verlaat my longe soos ek pynlik met die aarde kennis maak. Die kompas vlieg uit my hand uit en verdwyn onder die lang, gevlegte rankplante.
“Nee!” Ek trek die rankplant om my enkel los en skarrel agterna. Die golwende rankplante vou voor my toe.
Nee! Nee!
“Lana! Adriaan!”
My kop ruk op – James! Ek struikel om die volgende draai, en – daar! Hy is uit! Hy is veilig!
Ek kyk na die doolhof agter my. Toe ek weer vorentoe kyk, is die uitgang klaar besig om toe te groei. My voete dra my terug na die eindelose donkerte … aan en aan en aan. My horlosie glinster in die maanlig: 11:42. Om die volgende draai sien ek ‘n spatsel bruin hare.
“Lana!”
Ek vlieg om die hoek, net betyds om haar wit tekkies te sien verdwyn. Dit voel asof ons op ʼn mallemeule is: net soos ek om ʼn draai kom, verdwyn sy om die volgende een. Ek is net naby genoeg om haar te sien verdwyn, maar nooit naby genoeg om haar te vang nie.
11:58. My tyd is amper om.
My oë rek toe ek om ʼn laaste draai vlieg. Ek is weer terug by die middel, maar ek is nie alleen nie. Lana staan hygend oor die rand van die fontein gebuk, die kompas tussen haar vingers vasgeklem. Sy het dit gekry nadat ek dit laat val het! Ek gee ʼn tree vorentoe en vries. Daar is rimpels in die water; die derde muntstuk lê nou glinsterend op die bodem van die fontein. My oë rek. Sy het haar eie wens kom maak!
“Adriaan?” hyg sy toe sy my raaksien.
Die dorp se kerkklok weergalm skril deur die nag. Middernag – ek het verloor!
ʼn Hand gryp my arm en begin my terugtrek in die doolhof. My voete volg asof ek gehipnotiseer is. Al wat ek kan sien, is die grypende, groeiende skadu’s om my en die hoë, eindelose heinings wat dreig om my te verslind.
Dis verby. Dis verby met my!
Die vriesende naglug tref my soos ʼn vuis in die gesig. Ek kyk verwilderd om my rond. Ek is buite die doolhof! Lana se bewende hand is nog steeds in ʼn ystergreep om my arm vasgeklem. Ons oë ontmoet mekaar in stille skok terwyl ons op die klam gras inmekaarsak.
“Hoe…?” hyg ek.
“Hy het my gevra of ek ʼn speletjie wil speel … vir ons vryheid. As ek nie die kompas kon gebruik om ons altwee uit te kry nie, dan – dan sou ons in die doolhof moes bly. Vir ewig.”
ʼn Skril, onaardse skreeu weergalm deur die lug. Voor ons oë begin die doolhof toegroei. Die doringtakke en rankplante vleg styf deurmekaar en verdroog met ʼn bloedstollende geknars en gekraak.
ʼn Doodse stilte kruip oor die nag.
Die doolhof se geheime lê weereens diep agter sy mure versteek.

Die doolhof – Laura Kruger
Eerste prys (hoërskoolafdeling) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.