Nicky en Riffels speel in die tuin. Hulle jaag skoenlappers en blaas borrels – enigiets, net solank Nicky nie moet gaan bad en in ’n donker kamer moet gaan slaap nie. Nicky haat die donkerte, dit maak haar bang.
Toe Nicky moeg is van borrels blaas, plaas sy die halfvol botteltjie seepsop in haar broeksakkie vir later – want jy weet nooit. Sy loer na die son wat vinnig sak.
“Wat gaan ons nou doen, Riffels?” vra sy.
Riffels blaf. “Is jy lus vir ’n avontuur?”
Nicky klap haar hande. “Ja, natuurlik, altyd!”
Riffels hardloop na ‘n bos in die hoek van die tuin en begin ‘n gat grou. Hy haal iets uit en hardloop daarmee in sy bek terug.
“Nou toe, trek aan,” sê hy en gee vir haar die pragtigste stel vlerkies. Dit glinster met al die kleure van die reënboog. “Klim op my rug. Ons gaan maan toe!”
Nicky klouter op. Sy gee ’n gilletjie en gryp na Riffels se ore toe hy met een reusesprong tot bo-op ’n wolk spring. Daar klim sy af en vlieg saam terwyl Riffels van wolk tot wolk spring.
Saam-saam spring en vlieg hulle al hoër … tot op die maan.
“Kyk!” Nicky wys na ’n silwer meer. “Kyk hoe blink die water!”
“Dis nie water nie,” grom Riffels. “Dis Doengka wat so blink.”
“Doengka? Wat is dit?”
“Jy sal sien,” antwoord Riffels geheimsinnig.
Nicky se oë rek toe ’n eienaardige mannetjie oor die rand van ’n krater loer.
Sy onderdruk ’n gilletjie toe hy uitklim en naderstap. Hy het ’n woekoe-woekoe kop en ’n oliestreep oor sy neus. Langs hom drafstap ’n miniatuurdrakie, omtrent so groot soos ’n kat.
“Dit is ’n Holly Ke Pollie,” verduidelik Riffels. “En die drakie is sy Dunabenz.”
Riffels stel vir Nicky en die Holly Ke Pollie aan mekaar voor.
“Hallo,” sê die maanmannetjie met ’n lang sug.
“Wat is fout?” blaf Riffels. “Jy is dan altyd so vrolik en verspot?”
“Kom ek gaan wys julle.” Die Holly Ke Pollie stap met hangskouers weg. Hy loop tot by ’n masjien met talle lepels, arms en buise wat nie ’n geluidjie of ’n beweging maak nie.
Nicky snak na asem. “Dit lyk soos ’n enorme roomysskepper!” sê sy.
En sowaar. In een van die skeppers lê ’n perfek ronde bal wat uit maansand gevorm is.
“Die masjien skep dit op en druk dit baie styf saam.” Die Holly Ke Pollie snuif. “Maar nou is dit stukkend.” ’n Traan blink in sy oog.
Nicky frons. “Maar wat maak ’n mens met so ’n bal?”
“Kom kyk.” Die Holly Ke Pollie tel die maanbal op en stap na die silwer meer.
“Ek doop dit in die Doengka en wag tot dit droog is. Dit gebeur sommer vinnig. Kyk!” Hy hou die maanbal in die lug.
“Oe, dit blink te pragtig!” roep Nicky.
Die Holly Ke Pollie knik. “Dis ’n maanpêrel. Sodra dit droog is, bêre ek dit saam met die ander in die pakkamer. Wanneer dit baie donker is, steek Dunabenz dit aan die brand en dan skiet ek dit met my kettie die lug in.”
“En dan?” vra Nicky verwonderd.
Die Holly ke Pollie glimlag effens. “Het jy al gesien hoeveel sterre daar op ’n donker aand in die hemelruim is?”
“Jy bedoel …” Nicky aarsel. “So dis eintlik jou maanpêrels wat so brand?”
“Ja –” Die Holly Ke Pollie snuif. “Maar nou het die masjien gebreek. Hoe gaan ek nou maanpêrels maak?” Hy vee ’n traan weg.
Nicky en Riffels probeer hom troos. “Toe maar, Holly Ke Pollie, ons sal jou help.” Lank sit die driestuks langs mekaar op die maanstrand en dink.
Skielik spring Riffels op. “Ek het ’n plan! Nicky, gee gou die botteltjie in jou rugsak vir my.” Hy neem dit, sprinkel ’n bietjie maansand daarin, draf na die silwer meer en skep van die Doengka op. Toe skud hy die mengsel liggies en gee dit vir Nicky. “Kyk of dit werk.”
Baie versigtig om nie ’n druppel van die kosbare vloeistof te mors nie, blaas Nicky ’n borrel. Groter en groter word dit … tot dit net so groot soos ’n maanpêrel is. Die nuwe maanpêrel is heelwat ligter as die voriges en dryf die lug in.
Die Dunabenz maak sy bek oop en blaas vuur daaroor uit.
“Oe, kyk!” roep Nicky uit. “Kyk hoe skitter dit nou!”
“Dis die mooiste maanpêrel wat ek nog ooit gesien het!” roep die Holly Ke Pollie en hy lag en dans in die rondte. “Hoera, hoera! Ek kan weer maanpêrels maak! Mooier en blinker as ooit!”
Hy vang die nuwe, glansende maanpêrel en gee dit vir Nicky. Tot haar verbasing brand dit nie haar vingers nie.
“Hierdie een is joune, Nicky,” sê die Holly Ke Pollie. “Baie, baie dankie vir al julle hulp. Nou gaan ek die beste en mooiste maanpêrels onder die son maak. Dink net hoe bly gaan die ander kinders wees as hulle snags na die hemelruim kyk en al die nuwe ‘sterre’ sien.”
Nicky wil baie graag bly en nog maanborrels blaas, maar Riffels trek aan haar arm. “Dis tyd om huis toe te gaan,” blaf hy.
Nicky en Riffels groet die Holly Ke Pollie en die Dunabenz en vlieg deur die hemelruim en verby die wolke tot in hulle tuin.
“Wat ’n lekker avontuur was dit nie!” sê Nicky en sy gee vir Riffels ’n stywe druk voor sy binnetoe hardloop om te gaan bad.
Daardie aand slaap sy rustig en tevrede. Haar kamer is nie te lig nie en ook nie te donker nie, dis net reg, want sy het nou haar eie maan.
“Dankie, Riffels, dankie, Hollie Ke Polly, dankie, Dunabenz,” fluister sy. “Nou gaan ek lekker slaap.”
Maanpêrels – Martelize Faber
Tweede prys (volwassenes) in Storiewerf se skryfkompetisie 2021.