Ela Spence (23/9/1909 – 2/5/1997)

Ela Spence (23/9/1909 – 2/5/1997)

“Almal wil tog van die liefde lees”, vertel Leana Lategan.

Ela Spence is in Burgersdorp gebore, en was die enigste kind van haar ouers. Van haar kinderjare vertel sy dat sy ‘n dromer was wat geselskap sommer vinnig kon ontduik ter wille van die lees van ‘n boek. Dat hierdie verbeelding haar skrywersloopbaan ten beste gepas het, is duidelik as ‘n mens sien dat sy 53 kinderboeke en sowat 136 liefdesromans geskryf het. Sy het ook vier operettes geskryf. Haar skryfloopbaan begin in 1946 met “Bevryding”, en strek tot die laaste publikasie in 1998. Herdrukke word hierna vir lesers in ‘n byderwetse formaat uitgeggee, en ook as grootdrukboeke en braille-weergawes gepubliseer. Sy kon vinnig skryf aan ‘n verhaal, en verskeie avontuurlustige maniere vind om feite te versamel en sodoende die liefdestema substansie gee. Verskeie oorsese reise het neerslag gevind in haar werk, en vir ‘n opdragreeks het sy letterlik ‘n tyd in die hospitaal deurgebring om die omstandighede van die verpleegster eerstehands te kon beleef. Die “Suster Wanda” – reeks, gebaseer op die lewe en werk van Florence Nightingale, was die resultaat.

Dit was egter nie net volwassenes wat gebaat het by Ela se ryk verbeelding nie. Sy begin trouens om vir kleiner kinders te skryf, want die jare ’40 en’ 50 was maar skaars jare vir kinderleesstof. Jeugverhale was egter ewe gewild en veral die “Soekie” – reeks en die “Tessa” – reeks (lg. onder haar nooiensnaam Elizabeth Stander geskryf) is opgeraap.

Ela Spence het ‘n droom gehad om as operasanger te kon werk, maar ‘n lang siekbed het haar musiekstudie kortgeknip. Daarna het sy as joernalis by verskeie tydskrifte en koerante betrokke geraak , totdat sy uiteindelik voltyds begin skryf het, en net nooit weer opgehou het nie. J. P. Van der Walt, later LAPA, het die Ela Spence – medalje vir liefdesverhale as eerbewys ingestel. Ela was getroud met Reginald Spence, en het twee dogters gehad. Dié fyn, kort, hartlike vroutjie het ‘n ganse era van lesers in die holte van haar hand gehad. Op my ma se boekrak staan daar ‘n hele ry liefdesverhale in gelid, en word Ela gekoester tussen skrywers soos Sophie Roux, Sanet te Groen, Susanna M Lingua en C. F. Beyers Boshof.

Die bladsye is vergeel en al effens bros, die omslae te veel gehanteer, die prys van nege sjielings en vyf pennies ‘n geldaanduiding so oud soos die teks self. Maar ek herlees hulle steeds, en herroep ‘n jongmenstyd waarin ook hierdie Klubboeke soveel kleur in my lewe gebring het.

Berig deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN.

Die artikel is oorspronklik op 23 September 2020 op NALN se Facebookblad gepubliseer. https://web.facebook.com/vriendevannaln

[Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) beskik oor die grootste versameling personalia van Afrikaanse skrywers in die wêreld, en lewer ’n unieke inligtingsdiens uit meer as 200 000 manuskripte, 450 000 knipsels en bykans elke Afrikaanse letterkundige werk (asook die verskillende uitgawes daarvan). Die NALN-versameling word steeds aangevul deur manuskripskenkings van skrywers, daaglikse knipsel-insameling – en digitisering en die aankoop en ontvangs van boeke, ter uitbreiding van die boekversameling. NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel.]

𝙆𝙤𝙣𝙩𝙖𝙠 𝙙𝙞𝙚 𝙉𝙖𝙨𝙞𝙤𝙣𝙖𝙡𝙚 𝘼𝙛𝙧𝙞𝙠𝙖𝙖𝙣𝙨𝙚 𝙇𝙚𝙩𝙩𝙚𝙧𝙠𝙪𝙣𝙙𝙞𝙜𝙚 𝙈𝙪𝙨𝙚𝙪𝙢 𝙚𝙣 𝙉𝙖𝙫𝙤𝙧𝙨𝙞𝙣𝙜𝙨𝙚𝙣𝙩𝙧𝙪𝙢 (𝙉𝘼𝙇𝙉): 𝙣𝙖𝙡𝙣@𝙨𝙖𝙘𝙧.𝙛𝙨.𝙜𝙤𝙫.𝙯𝙖

(Kurator: Wyno Simes)

Leana Lategan
Artikel deur Leana Lategan, pasafgetrede hoofvakkundige van NALN, asook skrywer, resensent , leeskringbegeleier en spreker.
September 2020