Die Snyman agter die stories
“Dankie, ouma,” sê ek en vat die hoop kosbare papiere by haar.
Dit is nog verhale uit die pen van Dana Snyman. My ouma gee elke jaar so ’n pak papiere vir my, sodat ek hierdie stories lewe kan gee by kunswedstryde.
“Ek is mal oor oom se skryfwerk – ek gebruik dit altyd vir my dramaopvoerings,” sê ek self ’n paar jaar later aan Dana Snyman na ’n vertoning by die Aardklop Kunstefees in 2019.
“Dankie dat jy doen wat jy doen, Ané,” was Dana se antwoord.
Ek moes natuurlik myself eers ’n paar keer knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Wanneer ek my oë toemaak, onthou ek steeds die nederige kyk wat hy in sy oë gehad het terwyl hy daardie woorde vir my gesê het. Min het hy geweet dat dit ’n oomblik is wat ek vir die res van my lewe sal koester.
Nooit sou ek kon raai dat ek twee jaar later self ’n skrywersonderhoud met hom gaan voer nie. Die agtste September 2021 het aangebreek. Ek het Dana se nommer geskakel. My hart het wild geklop soos wat ek vir ’n antwoord gewag het. Met ’n warm “hallo” is ek dadelik gerus gestel en ons het gesels asof ons al jarelange vriende is.
Dana Snyman is ’n Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer. Hy is in 1963 in Stellenbosch gebore en het aan die Hoërskool Nylstroom matrikuleer. Later het hy joernalistiek by die Technikon in Pretoria studeer.
Ek het hom daaroor uitgevra en hy het gesê dat hy eintlik eers laat, op 26-jarige ouderdom, sy liefde vir skryf ontdek het. Hy het eers ’n paar ander beroepe beoefen voordat hy voltyds begin skryf het, naamlik veiligheidswag, boekwinkelklerk en ook op die skakelbord by die flieks.
“Ek het nie geweet wat ek wil doen nie,” beaam Snyman, maar vertel verder dat hy nog altyd daarvan gehou het om koerant te lees.
Dit is toe dat hy besluit het om joernalistiek te studeer, “en ek was ook bietjie desperaat,” het hy laggend bygevoeg.
Snyman het daarna by Beeld gewerk. Terwyl hy besig was om een aand laat ’n rubriek te skryf, het hy besef dat skryf dalk vir hom ’n ding kan wees. Hierdie besluit het daartoe gelei dat hy diep in ’n klomp lesers se harte ingekruip het.
Snyman se gepubliseerde boeke is: Uit die binneland (2005), Anderkant die scrap (2006), Op die agterpaaie (2008), Op die toneel: stories, reise en stemme (2009), Hiervandaan: op reis in die geliefde land (2011), Onder die radar: stories uit ons land (2013), In die blou kamp: Facebook-stories (2015), Op pad: ’n reisjoernaal (2017), Soekmekaar (2019) en Onder een dak (2020). Op die agterpaaie en Hiervandaan is ook in Engels vertaal.
Snyman het egter ook verskeie produksies geskryf, waar Die uwe, Pottie Potgieter, onder andere een van hulle is. Hierdie toneelstuk is deur Frank Opperman by die Aardklop Kunstefees in 2006 opgevoer en is as naaswenner van die AngloGold Ashanti-Aardklop-Smelt-kroesprys vir nuutgeskrewe tekste aangewys.
My passie vir drama en my liefde vir Snyman se skryfwerk loop hand aan hand en ek wou dus by hom weet of hy daarvan bewus is dat sy kortverhale dikwels by kunswedstryde opgevoer word.
“Dit gee my plesier, want dit is wat ek graag wil doen. Ek is verskriklik dankbaar vir so iets,” sê die nederige skrywer en hy sê dat hy ook self daarvan hou om stories voor te dra.
Hy stel dit so mooi wanneer hy sê: “’n Storie is vir my ’n ding wat jy hardop moet kan voorlees. Dit is iets wat jy moet kan opvoer of dramatiseer.”
Dana Snyman het al vele toekennings vir sy werk ontvang. Hy het die Technikon-raadsmedalje vir buitengewone prestasie op kulturele- akademiese- en sportgebied, in 1990, ontvang. In 2005 en 2006 is die ATKV-prys vir gedrukte media in die kategorie vir tydskrifjoernaliste aan hom toegeken. In 2008 is hy as die Pica-wenner van Reisskrywer van die Jaar aangewys. Hy het ’n Mondi-koeranttoekenning in die artikelskryf afdeling, in 2011, ontvang. In 2012 en 2013 het hy ’n ATKV-Mediaveertjie in die rubrieke kategorie verwerf. Onder die radar is in 2014 vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die Niefiksie kategorie genomineer.
Hierdie ikoonskrywer het sy eie, unieke skryfstyl – een wat my, en beslis ook vir ander, heeldag aan die lees kan hou. Ek het om uitgevra oor waar hy inspirasie vandaan kry om te skryf. Hy het gesê dat hy al van kleintyd af lief vir stories is.
“Ek het grootgeword met stories in die huis,” vertel hy verder. “Dit was nog die tyd voor TV, so dit was die tyd van sit by die eetkamertafel en luister na oupa se stories. Die lewe inspireer my.”
Snyman geniet dit om oor die lewe te praat. Hy kyk na dinge in die lewe en probeer om die vrae en onsekerhede daarvan in woorde om te sit. Sy gunsteling tyd om te skryf is ook vroeg in die oggend.
Snyman vertel ook dat hy sy tyd met sy skryfwerk vat. Hy probeer om ’n prentjie duidelik te maak en dit vat tyd. Hy vertel verder dat dit moeiliker is om eenvoudig te skryf as om geleerd te skryf.
“Ek sê altyd ‘as jy dit wil doen dan sal jy dit doen’. Party mense het net daardie impuls om te kan skep met woorde,” sê Snyman.
Hy is natuurlik ook ’n rolmodel vir baie en ek wou weet wie sy rolmodel was voordat hy self een geword het.
Sonder om twee keer te dink, het hy geantwoord: “Chris Barnard, vir seker.”
Hy het vertel van die tyd toe hy op Barnard se plaas gaan kuier het en hoe hulle oor alles behalwe skryf gepraat het.
“Hy het net oor die lewe gepraat en ek hou daarvan – so gewoon – Chris was ’n ongelooflike skrywer, maar in die eerste plek ’n mens,” vertel Snyman verder.
Natuurlik moes ek by Snyman hoor watter raad hy vir aspirant skrywers sal gee. Hy het gesê dat ’n mens moet verstaan dat dit baie harde werk is. ’n Mens moet probeer en probeer en weer probeer.
“Skryf, skryf, skryf, skryf – hou net aan,” het hy bygevoeg. “Moet net nooit die liefde daarvoor verloor nie.”