Cliffordene Norton het haar BA Honneurs-graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom voltooi. Sy was al ’n uitgewer en joernalis en werk tans by die Noordwes-Universiteit as kopieskrywer in die bemarkingsafdeling.
Ek doen tans my honneurs in Skryfkuns by die NWU en het die eer gehad om ’n onderhoud met Cliffordene te kon voer. Ek het haar ontmoet by Die Jonge Akker op kampus. Tussen die gewemel van studente wat gereedmaak vir Canvas, het ons vir ’n stil hoekie by die Klipoog Kafeteria gesoek. Die Jonge Akker was ongelukkig al gesluit. Oorspronklik was ek gespanne vir die onderhoud, maar Cliffordene se opgewekte geaardheid het my gou op my gemak gestel.
Cliffordene vertel dat, terwyl sy nog besig was om te studeer, haar plan was om profielartikels te skryf vir tydskrifte. Sy het vir ses maande by Volksblad gewerk in die redaksieafdeling, maar het vinnig besef dat sy dit nie graag haar hele lewe lank sal wil doen nie. Dit het wel gehelp dat sy insig verkry het oor die redaksieproses en heelwat mense leer ken het.
Cliffordene was nog altyd lief vir skryf, maar sy is grootgemaak om aan die praktiese te dink. Joernalistiek was die opsie wat die mees praktiese voorgekom het vir iemand wat lief is vir skryf, maar graag ’n salaris wil verdien. Tog is daar baie agter-die-skerms drama wat in ag geneem moet word: “Soos byvoorbeeld die Cosas-saak waar daai mense gedreig is met hulle se lewens en hoe daar ingebreek is by hulle se huise en dan klink dit so exciting as jy daaroor dink en mens tend to glamorize sulke goeters en jy veg vir reg en geregtigheid. Dan besef mens, ’n paar van daai mense het dit swaar. Hulle het post-traumatiese stress, weet nooit wie hulle kan vertrou nie…” Sy het vinnig besluit dat joernalistiek nie vir haar is nie.
Haar groot passie is om te skryf. Dit het tyd en moed gevat om te besluit dat sy die uitdaging gaan aanvaar om ’n skrywer te word. Die fiksie wat sy skryf, is vir haar baie anders as die joernalistiekwerk wat sy gedoen het. Sy kombineer nie haar aanvoeling vir joernalistiek met haar skryfwerk nie. Sy het ook nie gevoel sy wil speurverhale skryf (soos baie voormalige joernaliste doen) nie. Haar werk is baie metodies, maar met haar kreatiewe skryfwerk volg sy ’n totale ander skryfmetode. Die kreatiewe skryfwerk is vir haar ’n ontvlugting.
Cliffordene is baie lief vir liefdesverhale, fantasie, geskiedenis en nie-fiksie boeke. Sy het nooit eintlik gedink dat sy jeugverhale sal skryf nie. Haar uitgewer het haar uit die bloute gevra om ’n kortverhaal vir ’n jeugbundel te skryf. So het sy haar liefde vir die genre ontdek. Gelukkig het die gogga gebyt, want dit het daartoe gelei dat sy Om Jou Te Ken geskryf het!
In Om Jou Te Ken, beeld Cliffordene die verskillende verhoudings wat die tieners met mekaar en met volwassenes het, puik uit. Die verhouding tussen die twee niggies wat die hoofrolle speel is natuurlik op die voorgrond. Cliffordene geniet dit baie om mense waar te neem. Georgia en Gabby is geïnspireer deur Cliffordene se verhouding met haar eie niggie. Groot dele van die boek is deur haar eie ervaringe geïnspireer. Haar skryfwerk is dus baie konkreet, dit voel asof jy van regte mense lees en jy word lief vir elkeen. Dit was vir haar opvallend hoe twee mense in presies dieselfde omstandighede kan grootword en steeds verskil.
Cliffordene is nie een vir stilsit nie en is al klaar besig met haar volgende projek, ’n opvolg op een van haar ander stories wat in die proses van publikasie is! Haar vyf-jaar plan het dalk nie uitgewerk nie, maar haar reis het haar gelei tot waar sy nou is – ’n uitstekende skrywer. Ek kan nie wag om nog vele meer van haar stories te lees nie.
As jy Om Jou Te Ken op die rakke sien, doen jouself ’n guns en gooi dit in jou inkopiesak!