Terwyl Smokey een oggend in die sonnetjie lê, hoor hy aardige geluide vanuit die kamer kom. Dis ‘n gekreun en gesteun, ‘n gesug en gehyg.
“Dalk het Ouma geval!” dink hy terwyl hy vinnig kamer toe draf. Maar nee, sy is besig om haar groot tas bo van die kas af te haal.
“Sy gaan vlieg!” sê Seun, die papegaai. “Vlieg! Vlieg! Ek saam! Ek saam! Kom Seun, soet Seun!!” Die papegaai praat aanmekaar en deurmekaar.
Smokey se ore en sy hart pyn. As Ouma gaan vlieg en Seun gaan vlieg en hy wat Smokey is, moet by die huis bly….want hy het nie vlerke nie!! Bekommerd en bek-af stap hy tuin toe.
“Wat is fout Smokey?” koer Fief , die duif, bo van die dak af.
“Ag Fief,” sê Smokey en sy grys ogies is sommer vol trane. “Seun en Ouma gaan vlieg en ek kan nie saamgaan nie, want ek het nie vlerke nie!” snik hy.
“Nee! Nee!” krys Hadida wat op die gras rondloop en pik-pik na goggatjies.
“Nee!! Nee!! Vlieg is hoog bo en onder is vêr onder! Heigend hert…bly onder, bly onder!”
“Ek wil regtig saamgaan,” sê Smokey, “hulle gaan lank weg, dalk vir altyd weg.
Daar kom sulke klein kermgeluidjies uit Smokey se keel.
Fief kry hom baie jammer en roep haar maat, Faf, nader. ”Hoe kan ons hom help vlieg, Faf?” Faf skud sy kop.
“Dis nie mooi nie, dis nie mooi nie!” koer hy en vlieg nader aan Smokey.
“Kom ons sit koppe bymekaar. Ons moet ‘n plan kan maak.”
Smokey lig sy hartseer gesiggie op en kyk hoopvol na die twee duiwe. Hy weet hulle is nou nie die slimste voëls in die tuin nie, maar twee koppe is altyd beter as een.
“Nou hoekom kan jy nie vlieg nie Smokey?” vra Faf.
“Ek kan nie vlieg nie, want ek het nie vlerke nie.” sê Smokey stadig en duidelik. Hy lig sy voorpote op om vir Faf te wys…hy het gedink Faf behoort dit darem te weet.
“Seun het vlerke, so, hy kan vlieg, jy en Fief het vlerke, julle kan vlieg. Selfs Hadida kan vlieg, as hy net nie so bang was vir hoogte nie, kon hy ook vlieg, maar ek, ek het net hare!”
“Mmmm”, sê Faf, “Dis nou ‘n probleem…”
“Hoekom maak ons nie vir hom vlerke nie?” vra Janfrederik wat nuuskierig naderwip.
“Ek weet nie hoe om vlerke te maak nie, weet jy?” vra Faf.
“Nee, maar ek is seker Grootoog Uil sal weet.”
Die drie van hulle vlieg dadelik na uil se huis in die groot akkerboom. Smokey en Hadida drafstap agterna.
“Nee! Nee! Nie vlieg nie! Net nie vlieg nie!” roep Hadida sover as wat hy stap.
“Grootoog, Grootoog!” roep Janfrederik toe hulle by Grootoog se nes kom.
“Kom uit, Kom uit” koer Fief en Faf.
“Wat wil julle hê?” brom Grootoog van sy sitplek af. “Ek slaap, ek werk nagskof, ek slaap!”
“Ons is so jammer om te pla,” sê Janfrederik en vertel gou vir Grootoog van hul probleem.
“Kan jy ons dalk help om vir Smokey vlerke te maak? Jy is mos baie slim,” vra Jan Frederik vir Grootoog.
“Belaglik,” brom die uil. “Katte wat vlieg?! Belaglik!”
Smokey se ogies raak weer tranerig en net voor hy begin snik, sê Grootoog: “Goed, goed…ek sal bietjie dink…stomme ding…ja, dis nie lekker om alleen te wees nie.” Kom so oor ‘n rukkie terug, ek moet dink.”
Toe die son net-net verby die middel van die dag staan, is almal vol afwagting voor die akkerboom. Grootoog kom stadig uit sy nes en in sy bek is stuk papier met tekeninge op. Geruisloos vlieg hy grond toe en sit die papier neer. Op die papier is ‘n tekening van ‘n kat en aan sy voorpote twee groot vlerke vasgemaak. Die voëls kyk verstom na die vlerke. Dit is van takkies, blare en ou penvere gemaak en met dun draadjies aanmekaar vasgemaak.
“So,” sê Grootoog, “ons moet vier groot blare soek, tien lang blare, ses penvere en lang stringe van die garingboom in die park. Roep dadelik vir Fanie Vink. Hy is die beste bouer en sal weet hoe om alles aanmekaar te kry.”
Jan Frederik vlieg vinnig na Fanie Vink se nes. Hy is besig om hier en daar nuwe grassies in sy nes te sit terwyl kwaai Sannie Vink toekyk. Sy hele lyfie bewe so bang is hy dat sy die nessie weer gaan afbreek. Dis al die derde een die week. Hy luister so tussen die werskaf na Jan Frederik se versoek en loer versigtig na Sannie.
“Tjaag, hierdie nes lyk stewig. Hy sal werk. Gaan help tog die kat,” kwetter sy.
By Grootoog se huis bekyk Fanie Vink die planne van bo, van onder, van links, van regs. Hy draai sy koppie amper reg in die rondte.
“Mmmm,” tjirp hy, “dit lyk nie te moeilik nie…sterk gras…sal self gaan haal…weet waar..,” praat hy met homself.
“Goed julle, gaan soek die res, bring dit hiernatoe dan bou ons vlerke.” Die voëls vlieg in alle windrigtings en Fief ruk sommer een van haar penvere uit.
“Smokey,” sê Grootoog, “jy sal moet begin oefen om te vlieg. Jou voorpote moet sterk wees. Seun sê julle gaan Kaap toe en glo vir my, die Kaap is baie vêr van hier.”
Smokey se oë rek. Hy begin dadelik strekoefeninge doen en die res van die dag hardloop hy boom-op en boom-af, doen opstote, trek homself teen takke op. Hy spring en strek en hardloop tien keer om die huis.
Ouma skud net haar kop. Sy dink Smokey het sonsteek. Hy kom nie eers in om te eet nie, dis net skarrel en hardloop. Stokflou slaan hy die aand op sy bedjie neer.
Die volgende oggend kwetter en kweel al wat ‘n tuinvoël is voor en in die akkerboom. Mossie en sy hele familie is daar, Janfrederik se neef, Jan-Jan ook.
Smokey stap stadig nader. Almal is baie nuuskierig om te sien wat gaan gebeur. Smokey steur hom nie aan hulle nie – sy oë is net op die vlerke wat Grootoog in sy snawel vashou.
“Toe-toe Smokey” sê Grootoog van bo af. “Trek bietjie aan dat ons kan sien of dit werk.” Fief en Faf help Smokey om die vlerke aan te trek. Vink staan nader met ‘n lang stringetjie gras. Vinnig ryg hy die vlerke aan Smokey se lyfie vas.
“Daar’s hy,” sê Fanie Vink tevrede.
“Mmm…” laat hoor Grootoog van bo af, “Jy het goeie werk gedoen Vink, goeie werk…”
Smokey stap versigtig ‘n paar tree met sy vlerke. Dis ongemaklik en hy moet sy pote hoog oplig om te keer dat die vlerke nie op die grond sleep nie. Hy konsentreer baie hard en soos ‘n kat op ‘n warm plaat hop-skuifel-hop hy tot op die boonste stoeptrappie. Die groot oomblik het aangebreek…sal hy kan vlieg? Hy staan so entjie terug, gee ‘n skuifel-stappie, swaai sy vlerke op en af en spring!
Met ‘n harde slag maak hy kop eerste met moeder aarde kennis! Jy sien net stofwolke en stukkies blare trek soos hy val.
“Meer wind onder die vlerke,” gee Janfrederik raad.
“Jy moet hoër wees sodat die wind onder jou vlerke kan inkom. Dis hoe vlieg werk” tjirp hy.
Skaam en seer kom Smokey regop. Hy stof homself af en stap na die hoogste boom in die tuin toe.
“Ek sal nie opgee nie,” dink hy. “Ek sal oefen en oefen totdat ek kan vlieg. Ouma sê altyd ‘aanhouer wen’.” Hy trek homself op in die boom, hoër en hoër…
“Dis hoog, dis hoog!!” krys Hadida van onder af, “Ek wil nie kyk nie! Hoog is vêr, help, help!!” Hy maak sommer sy oë toe met sy een vlerk.
Vir Smokey voel dit ook skielik bietjie hoog hier van bo af. Die voëls onder lyk asof hulle gekrimp het. Met sy hartjie wat klop-klop-klop begin hy sy voorpote op en af swaai.
“Nog, Nog!” por Janfrederik hom aan.
“Vinniger, vinniger!” kom dit van Fief en Faf.
Smokey maak sy oë toe en spring. Hy voel die wind onder sy arms en waag dit selfs om sy oë effens oop. Al wat hy sien is die grond wat baie vinnig naderkom. Hy klap sy vlerke nog vinniger, hy skop sommer met sy agterpote ook. Jy sien net blare en vere waai toe hy hom disnis val op die tuinpaadjie. Sy kop draai, hy is naar, sy neusie is nerf-af en sy asem op. Hy het alles probeer om genoeg wind onder sy vlerke te kry, maar niks wou help nie.
“Aanhouer wen” dink hy terwyl hy homself weer teen die boom optrek.
Bo gekom wag hy nie eers nie, hy spring sommer dadelik, klap sy vlerke en…land in ‘n bondeltjie op die grond. Weer en weer probeer hy – elke keer val hy homself katswink. Die voëls beskou die petalje vanuit die boom. Party van Mevrou Mossie se kinders giggel-giggel, kwaai Sannie Vink knyp haar oë toe en Janfrederik skud net sy kop.
“Smokey,” sê hy, “Ek dink nie katte is veronderstel om te vlieg nie, jong. Miskien is dit beter as jy maar plat op die aarde bly.”
“Maar Seun gaan vlieg en Ouma gaan vlieg en ek wil saamgaan,” snik-snik hy van pure moedeloosheid.
“Toemaar, Smokey,” sê Fief gou om Smokey te troos. “ gaan rus, die son is amper onder. More probeer jy weer. Fanie Vink sal die vlerke regmaak en sterker maak met boomgom. Dan sal alles nie uitmekaar val as jy…mmm….land nie.”
“Dankie Vink, dankie vir al jou harde werk,” onthou Smokey darem sy maniere toe hy mank-mank met hangskouertjies wegstap.
Toe Smokey sy oë die volgende oggend oopmaak is die eerste ding waaraan hy dink sy vlerke en hoe hard hy sal moet oefen. Wat hy by die voordeur sien, laat hom so groot skrik dat hy sommer sit. Sy oë rek. By die deur staan Ouma se tasse mooi in ‘n ry. Langsaan is hy en Seun se dramandjies staan gemaak.
“Sy gaan nou vlieg. Vandag nog,” besef Smokey. Sy hartjie spring omtrent uit sy keel van pure skrik.
“Ek het nog nie genoeg geoefen nie!” Al wat hy nou kan doen is om sy vlerke sou gou moontlik in die dramandjie te kry. Terwyl Ouma besig is om Seun in sy mandjie te laai, storm hy by die voordeur uit na Grootoog se boom.
“Help julle!” roep hy die voëls, “Ouma vlieg VANDAG! Ek moet my vlerke in my dramandjie kry!”
So tussen die verbaasde uitroepe en gekwetter kry Smokey net genoeg asem om vir almal dankie te sê.
“Toe loop nou, “ brom Grootoog uit die boom. Hy lyk bekommerd en skud net sy kop. Smokey gryp die die vlerke in sy bekkie en storm die huis in. Net betyds duik hy met vlerke en al in die katmandjie. Hy trek hier en skuif daar om dit onder sy kombersie in te kry.
“O, jy is al klaar in jou mandjie,” sê Ouma verbaas. Sy maak die hekkie toe en dra hom kar toe.
“Seun-Seun,” roep Seun opgewonde. “Kom ons gaan vlieg! Soet voëltjie! Kom-kom!” praat hy nes Ouma.
Sus ry met Ouma, Seun en Smokey na die lughawe. Dit is hier waar Ouma in die groot voël gaan klim om Kaap toe te vlieg. Grootoog uil het vir Smokey van lughawens vertel en verduidelik dat Ouma te oud is om self te vlieg. Sy klim in ‘n groot voël van yster se maag, en hy vlieg met haar Kaap toe. Smokey was bly om dit te hoor, want hy weet Ouma gaan te gou moeg word om self te vlieg.
“Seun,” vra Smokey, “wanneer maak hulle ons mandjies oop dat ons kan regmaak om te vlieg. Hy doen solank ‘n paar strekoefeninge.
“Wetie, wetie,” sê Seun onseker. Skielik is hy ook nie meer seker wat gaan gebeur nie.
Hulle word op ‘n waentjie gelaai saam met Ouma se bagasie. Die waentjie stop langs die vliegtuig. Smokey se oë rek groot. Hy voel soos ‘n muggie teen hierdie groot voël.
“Hy moet seker sy vlerke baie klap om genoeg wind onder hulle te kry, “ dink hy terwyl hy sy vlerke probeer aantrek in die klein dramandjie. As hulle die deurtjie oopmaak, wil hy reg wees om te spring. Hy hoop die groot voël wag darem vir hom en Seun. Netnou verdwaal hulle op pad Kaap toe.
Twee sterk hande tel hom en Seun se mandjies, op, gooi ‘n kombers oor en dra hulle tot in ‘n donker kamertjie.
“Seun, hoekom maak hulle ons nie oop nie? Wanneer kan ons vlieg?”
Seun se bek gaan oop en toe, maar daar kom geen geluid uit nie. Hy is skoon stomgeskrik.
“Miskien wil hulle nie hê ons moet vlieg nie!!” Smokey miaau al hoe harder.
“Dalk wil Ouma ons nie meer hê nie. Dalk het sy ons aan die sirkus verkoop! Sy’t altyd gesê sy gaan ons vir die sirkus gee as ons laf is!”
Nou huil Smokey dat die trane so spat. Hy gaan nooit weer vir Ouma sien nie!
“Wat is fout met die kat?” vra ‘n stem uit die hoek van die kamertjie?
Smokey hou vir ‘n oomblik op met huil toe hy die stem hoor. Hy maak sy oë effens oop om te loer wie praat. Regoor hom staan nog twee dramandjies. In een is ‘n wit poedel in en die ander ‘n klein worshondjie.
“Hoekom huil jy so katjie?” vra die poedel neus in die lug. “Jy maak my kop seer.”
“Ouma het ons aan die sirkus verkoop. Nou vlieg sy Kaap toe en ek gaan haar nooit weer sien nie!” Smokey snik weer soos hy huil, sy voorpote is sopnat.
“Ek het vlerke en alles en ek het hard geoefen. Ons sou saam vlieg, ek en Seun…nou gaan ons sirkus toe.”
Die twee honde kyk vir mekaar en bars uit van die lag. Hulle hou skoon hulle magies vas soos hulle lag. Smokey is sommer vies. Hier breek sy hart en die twee lag asof dit ‘n groot grap is! Hy hoop nie hulle gaan ook sirkus toe nie. Hy weet nie of hy baie van hulle hou nie.
“Sies, stout! A nee a!” kry Seun sy stem terug toe hy sien hoe bang en verwese arme Smokey is. Uiteindelik hou die twee op met lag.
“Katjie,” sê die poedel, “jy is nie aan die sirkus verkoop nie, jong. Jy is in ‘n spesiale kajuit binne in die vliegtuig wat net vir troeteldiere is. Wanneer ons in die Kaap kom, haal hulle ons uit en gee ons vir ons mens-ma’s. Jy hoef nie self te vlieg nie. Bedaar tog nou, ons het al baie Kaap toe gevlieg.”
Smokey kan sy ore nie glo nie! Hy gaan vir Ouma sien en hy hoef nie eens self te vlieg nie! Hy is so verlig dat hy sommer op die naat van sy rug gaan lê.
“Hoor jy Seun…hoor jy….?” Voor hy sy sin kan klaarmaak, val sy ogies toe.
“Nou-nou sien ons weer vir Ouma…”dink hy terwyl hy met ‘n breë glimlag as aan die slaap raak.