As kind was ek bevoorreg genoeg om ʼn boekrak vol kinder- en jeugboeke in my kamer te hȇ. Alhoewel ek eers op hoërskool vir my eie genot begin lees het, het my ma my van kleintyd af gemotiveer om die fantasiewȇreld te betree. Skoolvakansies by die see, was mý leestyd! Ek was nooit daardie waaghalsige kind wat nog voordat sy haar vlerkies aangehad het, gehardloop het vir die golwe nie… ek was ʼn dromer… skaam, teruggetrokke, en in my eie wȇreld. Gevolglik, was ʼn hartverskeurende liefdesroman onder my sonsambreel, my ondergang!
Vir spookstories was ek veels te lig in die broek, speurstories was veels te vervelig na my smaak, en fiksie was nog altyd te onrealisties. Maar namate ek ouer geword het, het my liefde vir tienerromanse, gegroei. As kind het my ouers ʼn groter invloed gehad op die tipe storieboeke en genres wat ek gelees het. My gunsteling kleuter- en slaaptydstorieboeke het gewissel tussen die werke van Martie Preller se ‘Babalela reeks’, Leon de Villiers se Maroelaboomstories, en Max Lucado se kindeboeke oor die geliefde ‘Pinkenolsie’ (Pinkenolsie en die Wonderlikste Geskenk, Ek het jou gemaak, Jy is myne, Die heel beste).
Tussen die ouderdom van 7 en 9 jaar, het ek die bogenoemde boeke self van tyd tot tyd gelees, sowel as meer ingewikkelde storieboeke van Leon de Villiers, Droomoog Diepgrawer, en die Engelse ‘Walt Disney’ kinderboekreeks (waarvan Lady and the Tramp, en The Little Mermaid my gunstelinge was). Tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar, het Bettie Naudé se Saartjie-reeks my aan die lees gehou. Ek het Saartjie(#1), en Saartjie se vakansie(#2), oor en oor deurgelees. Sy was ʼn rabbedoe en ʼn waaghals. Dit wat ek in werklikheid nooit die moed gehad het om te doen nie, het Saartjie voor opgemaak in hierdie boeke.
Vanaf 13-jarige ouderdom het ek geniet om boeke soos, My hart is vol graffiti, deur Tania Brink, en Doodloopstrate van Louise van Niekerk, te lees. Op hoërskool het ek die meeste van Janie Oosthuysen se jeugromanse gehou, wat haar ‘Eerste liefde reeks insluit (Rugbyballe en bikini’s, Daar is ʼn ou in my aarbei-smoothie, My hart klop muffins, en Ouens is nes ekstra bagasie), asook van haar ander boeke, byvoorbeeld Soene op ʼn Suzuki. Tans is Sophia Kapp my gunsteling skrywer, met werke soos die van Die verhuising, Die tuiskoms, en Die ooreenkoms.
Juis omdat my ma my gemotiveer het om te lees as kind, het ek aan baie onvoorbereide leeskompetisies deelgeneem. Dit is hier waar ek meeste van my boeke gekry/gewen het. As jong leser het my ouers ook, minstens een keer ʼn jaar, ʼn punt daarvan gemaak om saam met my boekwinkel toe te gaan, sodat ek vir myself ʼn nuwe boek kan koop. Soos wat ek ouer geword het, kon (en wou) ek dit later self doen, of ek het sommer aanlyn die leesboeke op ʼn webtuiste bestel.
Soos wat ek terugdink aan die kinderboeke wat ek eens gelees het, erken/onthou ek genoeg daarvan om nostalgies te raak. As klein dogtertjie kon ek myself verbeel ek is ʼn meermin, met pragtige lang lokke, en ʼn selfs pragtiger stertvin. Met oulike pers maatjies soos die Babalela, het ek avonture in die woud aangepak. Saam met Saartjie was ek die heldin in elke storieboek, en in elke roman het ek iemand gehad om my te troos na nóg ʼn liefdesteleurstelling. Ek het altyd ʼn maatjie gehad, ek kon altyd met iemand identifiseer, ek was nooit alleen nie. Daarvoor, is ek baie dankbaar.