“Die vloek kan my nie kry nie… die vloek gáán jou nie kry nie!”
My oë lyk leeg. Miskien is my spieël net vuil. Ek is vandag 17. Dis al drie jaar sedert ek die laaste keer my voete uit die huis gesit het. Die vloek kan my mos kom haal as ek buite gaan, só sê my ma.
“Anja!!” My ma se stem is skril.
“Ek kom, Ma!” Ek vee my trane af met die tissues wat op my bedkassie staan. Ek huil baie, maar ek haat dit om te huil.
Ek haat die gang. Die foto’s wat bruin soos ou blomme teen die muur hang laat my dink aan die dood. Die mure is volgekrap met ma se rooi lipstiffie…
‘Ons bestraf die vloek, die vloek sal ons nie kry nie!’
Asof wegkruip in die huis die vloek sal weghou!
Ek stap die eetkamer binne. Daar is ses ballonne aan die stoel vasgemaak. Almal swart.
“Geluk met jou verjaarsdag, skapie!” sê my pa emosieloos soos hy oor sy koerant loer.
“Ek sien daar is vyf kinders laasweek deur die vloek kom haal,” sê ek soos ek ’n stukkie toast in my mond prop.
“Anja, my magtig! Ons praat nie oor die vloek in die huis nie,” sê my ma bedroef.
Al wat ek soek is vryheid. As dit my kom haal moet almal dit aanvaar. Daar is net so baie wat ek nog wil doen. Ek wil met klere en al in die see in hardloop, ek wil my eerste soen hê, ek wil leer om ‘n kar te bestuur. Heng! Ek wil in die klas sit en my vrot Wiskundepunte terug kry.
“Ek’t Marie-Anne gevra om eers môre te kom, om vir jou klas aan te bied, ek’t gedink ek en jy kan later vir jou ’n koek bak.”
“Jis ma, dit sal lekker wees!” Ek hoop my opwinding het realisties gelyk.
Ek haat koekbak.
“Ek gaan na my kamer toe om bietjie te lees.” Ek sit my bord in die wasbak en gee my ma ’n soen op haar wang. “Dankie vir my toast en my ballonne”.
Sy gee my ʼn stywe drukkie, asof dit die laaste keer is wat sy my gaan druk. Ek haat drukkies.
“Onthou om sout voor jou deur te gooi voor jy in jou kamer ingaan.” My ma se stem klink angstig.
Sy glo in ouvrou-stories. Moenie onderdeur ’n leer loop nie, trap op jou vurk voor jy hom optel, moenie te lank in die spieël kyk nie. As jy ’n swart kat sien, bestraf hom! Dis pure bog!
Ek hou altyd my botteltjie sout in my sak, ek maak dit oop en strooi dit voor my deur. My ma gaan later kyk of ek dit gedoen het en bewaar my siel as daar nie sout voor daai deur lê nie. Ek val agteroor op my bed en kyk vir my plafon.
‘Ons bestraf die vloek, die vloek sal ons nie kry nie’
Kon my plafon nie liewer vol sterretjies wees nie? Ek dink terug aan my 14de verjaarsdag in 2010. Dis die laaste dag wat ek my vriendinne gesien het. Die vloek het vir Jenny kom haal op 15, vir Liza op 17 en Louise op 16. Ek is sover gelukkig. Net nog een jaar, dan sou die vloek my verbysteek. Ek weet nie eers of ek die vloek wil oorleef nie? Al my vriende is dood. Ek’t niemand oor nie. Ek haat dit om alleen te wees.
Ek sit regop en kyk by my venster uit. Ek het genoeg gehad om op huisarres te wees as gevolg van ‘n blêrrie vloek! Ek gaan uit! Ek trek my wit tekkies aan en my hoodie en klim deur die venster. Die vars lug voel vreemd. Nou dat ek buite is, weet ek nie wat ek gaan doen nie.
Ek begin by die straat af hardloop en voordat my ma my sien staan in haar blombedding. Vrek, voor sy my buite die huis sien staan! ‘n Entjie verder sien ek Jenny se huis. Jenny was my beste vriendin. Op die stoep staan ‘n groot wit kruis met haar naam daarop uitgekerf. Dit is tradisie hier op Grootdoring om ‘n kruis op jou stoep te sit vir die kinders wat die vloek kom haal het. Al die huise om ons is versier met wit kruise. Ek rus vir ‘n oomblik lank. Ek voel ‘n yskoue lug in my nek blaas. Ek wip om. Dis Jenny!
“Jenny?”
“Moenie bang wees nie, ek’t net vir jou kom kuier.”
“Jenny ek dog die vloek…”
“Shhhh! Die vloek het my kom haal, dit was wonderlik. Ek het gevlieg, Anja, hoog in die lug.”
Die wêreld om my draai. Als word dowwer en net so, val ek neer in die middel van die pad.
Die reuk van gebrande kruie maak my wakker. Ek haat die reuk van kruie. Ek maak my oë stadig oop en sien dadelik:
‘Ons bestraf die vloek, die vloek sal ons nie kry nie’
Agge nee! Ek’s weer terug in dié hel. Ek probeer my hand oplig, maar dit is aan die bed vasgemaak. My voete ook! Ek wens op die oomblik dat die bed nie ‘n koppenent of voetenent gehad het nie, nes die beddens in die tydskrifte. Modern en raamloos. Waaraan sou die mal vrou my dan vasmaak?
“Maak my los!!!” Ek sukkel om my kop regop te hou.
“Die vloek sal jou nie vat nie! Die vloek sal jou nie vat nie!” My ma gooi haar kruie-en soutmengsel om my bed, “Anja sal lewe, die vloek sal haar nie kry nie!”
Sy maak my nou bang. Ek sien my pa by die deur staan. Hy dink seker my ma is mal.
“Liewe magtig, Hester! Kan jy net ophou met die nonsens?” sê my pa ewe skielik.
My ma kyk hom stip aan.
“Ek is nie bereid om my kind te verloor as gevolg van jou roekeloosheid nie.”
My ma draai na my en smeer my voorkop met vaseline. Ek sien nie hoe vaseline enigsins ‘n verskil sal maak nie.
Wat bedoel sy met roekeloos?
“Tóé Gerard, vertel haar wat jy aangevang het!”
My ma storm by my kamer uit en stamp amper my blompatroonpotjie van my kassie af.
Ek staar ‘n oomblik lank na my pa. Daar is ‘n ongemaklike stilte. Ek haat ongemaklike stiltes.
“Kan pa my asseblief losmaak?” vra ek ongeduldig.
Hy stap nader aan die bed en begin die toue losmaak. My arms is rooi van die toue wat styf vasgemaak is. Ek sit regop en vryf my enkels en my polse. My ma het regtig haar varkies verloor. My pa sit op my wiegstoel wat in die hoek langs my bedkassie staan. Dit was my ouma se wiegstoel, sy het altyd daarop gesit en brei, só sê my ma. My pa gee een groot sug.
“Ons het destyds hierheen getrek net na my ma, jou ouma, oorlede is. Sy was ‘n vreemde vrou wat dag in en dag uit in die einste wiegstoel gesit het.”
“Pa! Ek weet klaar hoekom ons hierheen getrek het. Hoekom vertel Pa my die storie?”
“Dis sodat jy kan verstaan wat aangaan my kind! Daar is dele van die storie waarvan jy nie weet nie.”
Ek vryf my hande angstig deur my hare. My pa maak sy keel skoon en vertel verder.
“Jou ouma het boeke vir my gelos, dit het op haar wiegstoel gestaan. Sy wou hê ek moet die boeke lees. Die boeke was vol resepte en tussenin was daar towerspreuke versteek. Ek het eers gedink jou ouma los vir my haar koeksister- en biltongpotjieresepte, maar ek was verkeerd.”
“Was ouma dan ‘n heks?”
“Ja, sy was. Jou ouma het vir my een bladsy gemerk met rooi pen. Bo-aan die bladsy het sy vir my geskryf dat hierdie towerspreuk vir ons ‘n beter lewe gaan gee.”
“Ek is so deurmekaar, Pa! Wat het hierdie te doen met enige iets?”
“My kind, as ek nie daardie towerspel uitgespreek het nie, sou die Vloek van Grootdoring nooit bestaan het nie.”
“Bedoel Pa?” Ek sukkel om te begryp wat my pa vir my vertel. Ek spring op en loop venster toe. “Het Pa die vloek na ons dorp gebring?”
“Ek wou nie! Ek het jare lank gesoek na ‘n oplossing, maar daar is nie een nie.”
“Kan Pa nie harder soek nie?”
“Ek het jou ouma se boeke fyn deurgekam, bladsy vir bladsy het ek gesoek na ‘n oplossing. Daar is niks!”
Ek kan nie glo wat ek hoor nie. My hande sweet, ek voel angstig.
“Dit is Pa se skuld! Hoekom sou ouma wou hê dat Pa ‘n vloek op die dorp sit?”
Hy staan op. “Jou ouma was bitter omdat my broer oorlede is, sy het altyd geglo ek het die motorongeluk veroorsaak. Sy wou wraak neem.”
Soos hy uitloop, slaan hy die deur hard agter hom toe. Ek dink hy voel skuldig, dit maak sin. Hy kyk niemand ooit in die oë nie, veral nie die kinders se ouers wat al kom haal is nie.
Ek lê in my bed en luister na die reën wat saggies op die dak begin val. Die maanlig skyn helder deur my venster. Ek maak nooit my gordyne toe nie, ek hou van die lig. Ek kan nie ophou dink aan wat my pa gesê het nie. Ek staan op en loop na my venster toe. Ek wil die maan sien. Ek wil die reën wat teen die ruit afloop, volg. Ek sit vir ‘n rukkie, ek voel koud. Dis tyd om te gaan slaap, as ek vanaand oorleef is ek op die regte koers. Dan het my ma verniet tekere gegaan, my pa kan ophou skuldig voel en ek kan uiteindelik uit die huis uit kom. Ek haat die huis.
Ek draai om net om myself op die bed te sien lê. Hoe is dit moontlik? Ek staan dan hier? Ek loop nader aan die bed. Ek staar ‘n oomblik lank na myself. My eens bruin hare is nou kleurloos. My blou oë lyk leeg. My liggaam lyk koud en uitgeteer. My wange duik in. My asem is stil. Ek haat dooie mense. Ek loop rustig na my spieël, dit voel of ek vlieg. Dit voel wonderlik!
Ek kyk na myself in die spieël, maar niemand kyk terug nie. Die vloek is seker net erg vir almal wat agterbly. Ek hou van die vryheid.
“Die Vloek van Grootdoring het my uiteindelik kom haal.”