Ontwaking van winter

Noodlot (resensie)

Sunel Combrinck
LAPA
Resensie deur Cari Cloete

Noodlot is die derde boek in Sunel Combrinck se faereeks, Die Ontwaking van Winter, gemik op ’n tiener- en jongvolwasse-gehoor. Wat dadelik die aandag trek, is die pragtige, geïllustreerde omslag deur Casper Schutte. Op die voorblad staan twee figure rug-aan-rug: ’n jongman aan die linkerkant en ’n meisie aan die regterkant. Die man het helder-oranje hare, en sy donker klere smelt saam met die plantegroei en die silhoeët van ’n Gotiese, kasteelagtige struktuur wat agter hom teen ’n diep-pers naghemel uittroon. Hierdie toneel kontrasteer skerp met die meisie se seeblou vel, haar sagte, pastelkleurige rok en die helder, sandkleurige gebou met die koepeldak wat in die agtergrond sigbaar is.

Lesers van die vorige boeke sal die karakters herken as die rebelse elf Zander Blight en waternimf Nereida (Niri) Kearney wat saam met Lumi Erös en Colden Breakspear (die protagoniste van Hartklop (2022)) by Kasteelhoogte Kosskool skoolgaan. Die keuse om Zander en Nereida op die voorblad te plaas, dui daarop dat hierdie boek spesifiek oor hul individuele of gesamentlike ontwikkeling en verhoudings sal handel.

Waar die vorige boek, ’n Beeldskone Nagmerrie (2023), die leser terugvoer na gebeure voor die ontstaan van Tír na hÓige, ’n aparte faedimensie, volg Noodlot direk op die gebeure van Hartklop. Lumi en haar vriende se wintervakansieplanne word omvergewerp wanneer Melody, die monarg van die Winterryk, besluit om Colden Breakspear, ’n Winterfae en een helfte van Winter se Hartklop, tydens die Ysbloeiselfees by haar binnehof in te sluit sodat sy oor hom beheer kan uitoefen. Om tyd te wen, besluit Zander Blight om ’n Forya en’tarna – ’n Elwe-grootwordritueel – vir hom en sy vriendekring op te roep. Ná die ritueel reis Zander en Colden na die Gruwelryk om Koning Donohue se hulp te verkry om Valta (die Elwe-ryk) te bereik en ’n artefak op te spoor wat Colden teen die monarg se mag kan beskerm. Intussen gaan Lumi, Niri en Kai Fermi na Óneiro (die Waternimfryk) om ’n alliansie met Generaal Fermi (Kai se pa) te vorm in die hoop om ’n weermag te bekom.

Noodlot stel nuwe karakters bekend, waaronder Raidan (Donohue se suster) en Generaal Fermi en sy seun, Nalu (Kai se ouer broer). Die Forya en’tarna verbreek tydelik die sielsverbinding tussen Lumi en Colden, asook tussen Zander en Nereida, wat spanning en konflik veroorsaak wanneer Zander gevoelens vir die Gruwelkoning se suster begin ontwikkel.

Tydens hul ontdekkingsreis leer Zander en Nereida meer oor hulself. Vroeg in die verhaal is Zander onseker oor Valta se aanbod, en sy verhouding met Raidan kompliseer sake verder. Nereida voel verdeeld tussen haar pa se verwagting dat sy met Kai Fermi moet trou en haar liefde vir Zander. Beide karakters dra die swaar las van ander se verwagtinge op hul skouers.

Die Ontwaking van Winter pas by wat Bill Hughes as dark faery romance bestempel, ’n subgenre van die bonatuurlike liefdesverhaal waarin gebeure nie altyd deur wetenskap verklaar kan word nie. Kenmerkend van die genre is die gebruik van spoke en tydreise asook die teenwoordigheid van bonatuurlike wesens, insluitend kruisings (mens-monsters), vampiere, engele, demone, zombies, vormverwisselaars, weerwolwe, fae en towenaars. Deesdae geniet fae en pixies groot literêre populariteit. Internasionale fae-liefdesverhaalreekse soos Julie Kagawa se The Iron Fey (2010-2015), The Folk of the Air (2018-) deur Holly Black en Sarah J. Maas se A Court of Thorns and Roses (2015-) is gewild. Soos in The Iron Fey, word die verskeie fae-groepe in Combrinck se reeks tematies aan die verskillende seisoene gekoppel, soos die Somer- en Winterryk.

’n Kenmerk wat fae-verhale uniek maak, is die karakters se toetrede tot sekondêre dimensies of ’n ander wêreld. Elikser (2021) en Die Ontwaking van Winter is Afrikaanse voorbeelde van hierdie subgenre. In beide verhale besoek karakters ’n tweede fantasie-ruimte wat bevolk word deur fae en ander magiese wesens; in Elikser is dit Dobrón, die vampierkoninkryk wat deur faerieringe betree word, en in Hartklop en Noodlot, Tír na hÓige.

Lesers wat van bonatuurlike liefdesverhale hou, sal dalk ook hou van die Die Poort-reeks deur Nelia Engelbrecht, wat tussen 2016 en 2017 verskyn het, asook van Frenette van Wyk se Elikser.

Cari Cloete
Cari Cloete het ‘n MA in Afrikaans en Nederlands (Skryfkuns) verwerf met die fokus op die skryf van ‘n Gotiese jeugverhaal.
19 November 2024
0
Would love your thoughts, please comment.x