2012-07


grootmense

dinkskrum

Hoe help ek my kleuter praat?

Christine Neser

Hier volg 'n paar wenke om julle kleutertjie se taalvaardighede te help bevorder:

1. Motoriese ontwikkeling van orale strukture

Byt, suig, kou en sluk vorm die basis van artikulasie. Op vier moet die kind nie meer infantiel sluk nie (dit is 'n sluk wat met die lippe gevorm word.) Moedig geleidelik growwer teksture aan. Kyk na die koubeweging: word die kos al sirkelvormig in die mond rondbeweeg? Die onderkaak moet dus begin om sirkelbewegings te maak, onafhanklik van die tong en bokaak. Bottel en fopspeen is nou iets van die verlede.
Oefening:

  • Sit voor die spieel. Beweeg die onderkaak van links na regs, heen en weer. 10x.
  • Maak die mond so groot as moontlik oop, speel julle is leeus. 5x
  • Strek en tuit die mond, en sê daarmee saam: oe-ie-oe-ie... herhaal so 10x; maak die bewegings oordrewe groot; vat 'n brandweerwa en maak die alarm na: pie-po-pie-po....
  • Steek die tong so ver moontlik uit, lek rondom die mond.
  • Smeer grondboonbotter of sjokeladesmeer om sy mond; laat hy aflek.
  • Sit 'n lepel grondboonbotter of smeer agter sy botande: laat hom aflek.
  • Waai die tong soos 'n hond se stert heen en weer.10x
  • Blaas 'n partytieblaser: hou vir 10 sekondes; laat afblaas.
  • Maak 'n sagte ballon warm tussen die hande; blaas halfpad op - gee vir hom om te probeer groter blaas.
  • Strooitjie drink: drink melk met 'n strooitjie uit sy glasie.
  • Gebruik 'n strooitjie om 'n glas water op te suig en oor te dra na 'n ander glas; elke mondvol moet beheer word.
  • 'n Mondfluitjie of blokfluit kan mettertyd gebruik word.
  • Blaas wange op: maak styf en "pop" hulle.
  • Probeer wange opblaas met tong tussen die tande.

2. Taalstimulasie

Goue, goue reël: een gesig, een taal. Indien daar twee tale gepraat word en die kind stadiger ontwikkel, fokus eers op die moedertaal. Sodra die ankertaal gevestig is, kan die volgende taal gestimuleer word. Daar is baie kinders wat egter gelyktydig twee tale aanleer, maar met konstante taalmodelle.

Laat die tydjies saam met die kind tel. As julle nie tuis is nie, reël dat jul kleuter hoofsaaklik Afrikaanse kinder-tv (KykNet) kyk of kry dvd's van bv. Heidi, Nils Holgerson, Dawie die Kabouter, Liewe Heksie en ander. Kinders het baie herhaling nodig, so speel hulle oor en oor. Die kwaliteit van die taalgebruik is baie belangrik.

Met jul eie stimulasie: hou julle sinne kort. Probeer om jou sinne net een of twee woorde langer te maak as wat jou kind se eie sin is. Goue reël is egter dat jou sinne grammatikaal korrek moet wees.

Voorbeeld:

Kind vra: "Ek pappa ry?"
Pa: "Wil jy saam ry?" (wag vir respons) "Jy gaan saam met Pappa ry."
Terwyl julle ry, praat namens hom: "Leon ry saam met Pappa. Wie ry saam met Pappa?" Help hom om die "ek" te formuleer: "Ek ry saam met Pappa."

Voorbeeld:

"Koekie hê?"
Ma : "Wil jy 'n koekie hê?" (wag vir respons) "Hier's 'n koekie vir jou."
Versterk die voorbeeld: "Mamma wil ook 'n koekie hê. Een vir my, een vir jou..."
Soos wat sy sinne langer word, kan julle s'n ook rek.

Baie belangrik: "INPUT COMES BEFORE OUTPUT" Kinders se reseptiewe woordeskat moet eers opgebou word voordat ekspressiewe woordeskat na vore sal kom. Daar gaan dus 'n lang periode wees van insette en stimulasie, voordat die kind self sal begin sinne formuleer.

Vind by die skool uit watter rympies en liedjies hulle in die klas leer. Dit sal baie goed wees as julle dit weer tuis kan oefen. Enersyds gee dit die kind selfvertroue in die klas, want hy ken sy versie of liedjie vlot, andersyds gee dit die nodige taaloefening om sinne vlot aan te leer.

Spog maar gerus met jou kind: as hy/sy 'n gediggie ken, vermaak die familie of vriende daarmee!

3. Opdragte: dit is belangrik dat die kind taal verstaan

Gee eers net kort opdragte, bv.

  • Gaan haal jou tekkies
  • Gaan haal mamma se plakkies
  • Gaan haal pappa se rooi tekkies en die motorsleutels...

Maak die opdragte geleidelik meer ingewikkeld en spesifiek.
Beloon hom met 'n drukkie en baie aanmoediging as hy 'n opdrag korrek uitvoer.

4. Boekie lees, blaaivaardigheid, pre-leesvaardighede

Mens kan enige iets lees: tydskrifte, prenteboeke, storieboeke, bybelstories. Sluit gerus by 'n biblioteek aan. Betrek hom by die proses. As julle van 'n I-pad af lees, moenie dat die elektroniese stemme die verhaal vertel nie! Mamma of Pappa se stem is baie, baie belangrik! Onthou ook: storietyd voordat hulle gaan slaap, is vir kinders ongelooflik belangrik. Die brein prosesseer al daardie inligting tydens die slaap-fase. Dit gee kinders ook rustigheid, geborgenheid en voorspelbare roetine: alles noodsaaklik vir hul ontwikkeling.

  1. Kry hom om eers die prente te bekyk en te benoem.
  2. Lees of vertel dan 'n basiese storie vir daardie bladsy.
  3. Betrek hom deur sinne te herhaal, wat hy kan voltooi, bv: "en toe sit mamma alles in 'n...." (mandjie).
  4. Vra nou - Wat? Waarom? Wie? Vrae: wie kruip in die bos weg? Waarom het sy 'n jas aan? Wat gaan sy by ouma maak?
  5. As die storie klaar is, sal hy waarskynlik weer daarna wil luister. Vertel weer, met minder vrae om die lyn te breek, maar laat steeds ruimte vir die kind om sinne te voltooi.
  6. Kies stories waar 'n patroon herhaal word, soos Die drie bere, Drie varkies, Rooikappie, Rooi Hennetjie, ens.
  7. Gebedjie: net om volledige sinne aan te leer, kan 'n standaard gebedjie elke aand gesê word. Daarna kan ma of pa self verder bid.
  8. Begin jul eie plakboeke van taalkonsepte. Koop 'n klomp A 4 boeke en kies 'n tema vir elkeen. Kos, motors, klere, huise, plaasdiere, wilde diere. Knip gereeld saam prente uit en plak in. Laat hom help binne sy vermoë. Dis nie spogboeke nie, dis werkboeke.
  9. Telrympies: telrympies soos Duimpie, Duimpie se maat... ens. Kinderrympies is pret en bevorder 'n sin van voorspelling en ritme. Bevorder ook geheue.(Klein Verseboek, Nuwe Kleuterverseboek en ander)
  10. Handpoppe is lekker om in storievertel te gebruik. Dit moedig rollespel en dramatisering aan.
  11. Hou julle ore op vir tekens van spanning: hakkel ontstaan dikwels by kinders wat sukkel om hulself te verwoord weens taaltekorte. Hou alles lig en lekker.
  12. Sing saam! Kry kinder CD's ek luister hulle voos in die motor. Moedig saamsing aan. Herhaling is weer baie NB. Dink hier aan Lollos, Carike en Ghoempie, Sonja en Tjokker, Loflaaities, Ladies en Laaities (Steve Hofmeyer) en vele ander. Gaan kyk by musiekwinkels: daar is werklik baie.
  13. Wanneer julle saam uit 'n boekie lees, gebruik jou vinger en volg die woorde. Dit leer die kind se ogies om van links na regs te beweeg: 'n uiters belangrike konsep!

Onthou: "Language is caught, not taught." Met genoeg taal rondom hulle, sal kinders self die taalkodes optel.

 

Christien Neser
Spraakterapeut
Junie 2012

Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2011