2002-12


grootmense

dinkskrum

"Breek" en die stryd tussen persepsie en realiteit

Susan Samuel

Toespraak by die boekbekendstelling van Breek, Woensdag 30 Oktober 2002, te Boekehuis.

Breek is 'n jeugroman wat deur beide die bekroonde jeugboekskrywer Barrie Hough en komediant Lizz Meiring geskryf is.

Sulke projekte is volop in die musiekbedryf en rolprentbedryf. Dis ook aanvaarde praktyk in akademiese geskrifte en handboeke … en natuurlik by prokureursfirmas en hofsake.

Maar twee skrywers? Met 'n jeugroman? Dis tog nie iets wat 'n mens gereeld sien nie?

Dis baie interessant om Hough en Meiring se beskrywing te lees van hoe die roman ontstaan het.

Die plan was om 'n verhoogdrama van Breek te doen, maar natuurlik moes die roman eers geskryf word. Hough en Meiring het toe reeds die roman haarfyn bespreek - die beskrywings, die karakters, en die gebeure.

Weens min tyd, werksdruk en ander verpligtinge is die roman toe nie teen spertyd gereed nie. Die drama was egter reeds as opdragstuk vir 2001 se KKNK aangevra en die verhoogteks moes geskryf word.

Die fisieke skryfproses is toe omgekeer, met Meiring wat die verhoogteks skryf, en Hough se grondplan as verwysing. Sy insette, asook die insette van die spelers en medewerkers aan die verhoogstuk, het gesorg dat Breek met groot sukses in nege uitverkoopte opvoerings opgevoer is.

Tussendeur het Hough voortgegaan om die verhaal in romanvorm te skryf, natuurlik met die drama as verwysing en insette van Meiring.

Daar bestaan dus aanvanklik - wanneer 'n mens na die boek kyk - die persepsie dat Meiring en Hough op 'n dag gaan saamsit het en aan hierdie verhaal begin skryf het.

Maar persepsies is bedrieglik, besef mens wanneer jy die nawoord oor die skryfproses lees. Die verhaal het gegroei, noodgedwonge en gestimuleerd tussen Hough en Meiring. Op die ou einde méér as net 'n 50/50-vennootskap; eerder 100/100.

Dis dan ook waarmee die boek besig raak: persepsie teenoor realiteit, hoe dinge nie altyd lyk soos wat dit is nie.

Die karakters worstel elk met sy of haar eie stryd teen persepsie, in sommige gevalle ook 'n stryd teen realiteit. Soms raak dit vir mense belangriker om die persepsie te behou, eerder as om met die realiteit te deal.

Die issues is groter as net die individue - dit raak die gesinne en die samelewing. Dink jy aan die ou regering, ouer generasies se worstelstryd met die realiteit, maar veral met die persepsies wat bestaan het, dan besef jy hoe groot die issues in hierdie boek kan raak.

Maar dis dan 'n jeugboek, hoor ek julle vra? Die jeug dink mos nie oor sulke goed nie? Die jeug hou nie van issues maak oor iets nie?

Want die persepsie bestaan dat daar 'n groot gaping is tussen vandag se jongmense en die volwassenes - die ouers, ooms, tannies, onderwysers - wat hulle sien grootword het.

Die persepsie is dat die jeug nie vreeslik diep dink oor issues nie, nie vreeslik gepla is met belangrike vraagstukke nie, nie vreeslik wonder oor die toekoms nie, niks ernstig opvat nie. Los ons uit! is die duidelike boodskap.

Die persepsie bestaan ook dat die jeug nie lees nie.

Persepsies is gevaarlik, want persepsies reguleer mense se optrede. En veral persepsies wat voorgehou word as die waarheid, die realiteit, kan potensieel die grootste skade verrig.

Dalk is dit omdat daar gereken word die jeug dink nie oor issues nie, dat hul opinie nooit gevra word nie.

Dalk is dit omdat daar gereken word die jeug kan niks ernstig opvat nie, dat die jeug nooit ernstig opgeneem word nie.

Dalk omdat daar gereken word die jeug lees nie, dat daar so min boeke vir die jeug geskryf word, so min respek is en gedoen word vir jeugpublikasies.

Hier het ons egter 'n roman - vir die jeug - wat op 'n hoogs suksesvolle wyse die hele issue van persepsies teenoor realiteit aanvat. 'n Roman wat op verskeie vlakke uitdaag. EN 'n romam wat op verskeie vakke entertain.

Want, nes volwassenes, wil die jeug veral ge-entertain word. Sonder om te entertain, kan jy maar vergeet om 'n gespitste oor, 'n flikkerende oog of effens versnelde hartklop by 'n jongmens te kry. By enige iemand te kry.

Wat beide hierdie skrywers besef het, en wat jeugboekskrywers so ontsettend belangrik maak, is die realiteit dat die jeug tog binne 'n soort kode operate. En dat die kode tussen generasies eers gecrack moet word vir een generasie om 'n volgende te begryp.

En dat een generasie nooit 'n stem, 'n plek, sal kan vind binne die reëls, die kodes van 'n ander generasie nie. Punt.

Vandag se jeug werk op 'n redelik ingewikkelde kode - glo dit of nie - 'n kode wat hul ouers nie eintlik verstaan of WIL verstaan nie, omdat die invloede (die tv, musiek, games, internet) so vreemd is aan hul ouers en sulke "vyande" geword het binne-in die huisgesin. Dis 'n kode wat ingebed is deur 'n bestaan binne die werklikheid van internet, selfone en flieks - volledig modern, op die punt af, kort, maksimum impak, minimum effort.

Die kode is nie onBreekbaar nie, soos Hough en Meiring duidelik besef het en dan ook bewys.

Die kode is ook visueel; dit het definitiewe grense waarbinne die jeug mekaar opweeg, mekaar verstaan en met mekaar kommunikeer.

Binne hierdie kode is die jeug net so ernstig soos enige ander generasie, net so passievol oor die toekoms, net so aan die gesels oor issues, net so aan die versamel aan informasie - deur te lees, te kyk of te luister.

Breek se waarde lê nie slegs in die bron van leesvermaak wat dit aan vandag se tieners gaan gee nie. Ja, dis 'n boek wat hulle op vele vlakke gaan geniet, synde die karakters nie aanmatigende karikature is van wat deur ouer generasies uitgedink is nie, maar werklike moderne Suid-Afrikaanse kids, met 'n klomp issues en 'n klomp lekker opinies wat die leser aan die dink gaan sit.
Die boek se meriete lê ook daarin dat dit 'n ouer generasie 'n glimpse kan gee van die strukture, die kodes waarbinne die jeug beweeg.

'n Voorbeeld (en Meiring se talent as komediant was hier duidelik onmisbaar) is dat jongmense oorleef op humor - vinnige, skerp dialoog en ironiese opmerkings wat dikwels die ernstige kwessies waaroor daar gesels word, verbloem. Die dialoog in die boek is besonders - en baie real.

Die boek is dus nie eintlik vir ouer mense nie, hoewel hulle dit sekerlik sal geniet.

Dis vir jongmense, vir daai middag waar jy nie lus is om huiswerk te doen nie, waar jou ma in jou ore neul met een of ander hormoonbehandeling wat nie so lekker werk nie, wanneer jou pa grom oor die nuwe regering en Mbeki se straler. Dis dan wanneer jongmense op hul bed moet gaan lê, moet afskakel en hierdie boek moet lees.

Dis in elk geval al tyd wanneer jongmense lus is om te lees: wanneer daar REGTIG niks anders is om te doen nie. Soos wat dit 10, 20, 50 jaar terug ook maar was vir kinders sonder 'n sosiale lewe. Dis maar nog steeds net die nerds wat lees - en elke generasie het 'n eie kwota nerds. Soos dit hoort.

As jou kind klaar is daarmee, tel dit gerus op. Dis lekker leesstof.


Susan Samuel

Toespraak by die boekbekendstelling van Breek, Woensdag 30 Oktober 2002, te Boekehuis.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005