2016-06


grootmense

dinkskrum

Die pro - jeugroman na rolprent

Ruan Fourie

die pro 1 spasiedie pro plakkaat

Leon de Villiers is ’n gewese Pretorianer met ’n honneursgraad in Staatsleer en Internasionale Politiek. Sy debuutroman Aliens en engele is ’n jaar voor Die pro gepubliseer, maar met die laasgenoemde het De Villiers sy voete oënskynlik in die literatuurmark gevind. Die pro was die wenner in die beginnerkategorie van 1996 se Sanlam-wedstryd vir jeuglektuur, wenner van 1998 se Scheepersprys vir jeuglektuur, en wenner van 1998 se M.E.R.-prys. Dit vertel Tiaan se storie, van “die jaar waarin hy sewentien word en waarin hy leer om met ’n groot verlies saam te lewe”.

De Villiers beskik oor ’n besondere vernuf om lewe te verwoord. “Alles is ineengeweef. Die lewe rimpel van kant tot kant. Ons woorde hier laat ’n blom daar …” borrel die goudvis in sy Groete van die Hiëna (2000). Dié roman word ingelei deur ’n aanhaling van die Dkhw’Duw’Absh-hoof, Chief Seattle: “Whatever befalls the earth, befalls the sons of the earth. Man did not weave the web of life, he is merely a strand in it. Whatever he does to the web, he does to himself.” De Villiers se boeke word ook gewoonlik opgedra aan persoonlike kennisse, gevolg deur ’n breër subgroep — in Groete van die Hiëna is dit sy ma en Sanet, asook al die paleiseienaars; Toko is vir Janna en Greet, en vir almal wie se hande bou, nie breek nie; Die pro is vir die Van Tonders, die Standers en die siele van die see.

In 2015 is die lewensweb van Die pro verder (of, byna, van voor af) geweef deur ’n filmverwerking daarvan bekend te stel, met Ballade vir ’n Enkeling se Edwin van der Walt as Tiaan, die tienerseun aan die woord in die oorspronklike roman. Tiaan se beste vriend, Dirkie (Viljé Maritz), se lewe is onlangs deur die see geneem, en Tiaan het hom gevolglik voorgeneem om nooit weer te surf nie. Dis ’n beskermingsmeganisme; hy sien bloot nie kans om hom binne-in sy herinneringe van Dirkie te dompel nie. Reine Swart vertolk die rol van Tiaan se liefdesbelangstelling; Bennie Fourie is ’n nuwe vriend en dryfkrag in Tiaan se verhaal; Arno Greeff vertolk ’n vyand; Neels van Jaarsveldt verskyn as berader en onderwyser (met sy eie innerlike worstelinge om te verwerk).

Die pro is ’n besonders goeie literêre voorstelling van die Suid-Afrikaanse tiener- en surfersubkultuur. Karakters se taalgebruik is hoogs geloofwaardig en is nêrens ongemaklik of onrealisties nie. De Villiers verduidelik dat hy, toe hy Die pro geskryf het, “pas opgehou skoolhou het en nog duidelik bewus [was] van die tienertaal van die tyd.” Die roman se onderskeie hoofstukke word elk met Tiaan se biologienotas ingelei. “Biologie is die studie of leer van lewende organismes, d.w.s. die studie van die lewende wêreld,” open die roman, en nes die virusse, bakterieë, plante en vertebrata wat Tiaan-hulle bestudeer, is tienertaal ’n lewende entiteit. Die pro wend tienertaal egter nie só hoogspesifiek aan dat dit die roman beperk tot ’n sekere plek in tyd nie. Dit bly dus effektief.

Die gedaanteverwisseling van roman na film is beslis onderneem met ’n verskeidenheid aspekte in gedagte. Die roman se lesers sal verbaas wees om te sien hoe karakters aangepas en uitgeruil is — anders as die meeste roman-na-film-verwerkings, is daar drastiese veranderinge aangebring in terme van karakters, hulle plek in die storie, en die storie self. Die karakters is verplaas vanaf standerd nege na matriek, en die skoolbus word met eie vervoer (veral motorfietse) vervang, maar klassieke tienerangs en musieksmaak bly behoue.
 
Die aard van film noodsaak dikwels ’n eksplisiete derdepersoonsperspektief. Terwyl Tiaan se innerlike reis na aanvaarding en berusting in die roman sterk na vore kom, is ander tegnieke aangewend ter wille van die film. Met die derdepersoonsperspektief kry ’n mens ook ander karakters se verwerking van verlies te siene, wat opmaak vir die afgeskaalde innige en noue medelye deur die hoofkarakter wat ’n mens met die eerstepersoonsperspektief kon verkry. “Mense hanteer verlies op verskillende maniere. Almal rou anders.” Die see is natuurlik ook ’n besondere visuele ervaring. Sekerlik een van die treffendste oomblike van die film, is die uitroeiseremonie ter afskeid van Dirkie; dit is een van die surfkultuur se heiligste en mooiste tradisies, en in hierdie film dra dit by tot die uitstekende uitbeelding van die surfelement.

Buiten gesigte wat nou al bekende voorstellings van Suid-Afrika-identiteit geword het, word die film begelei deur ’n treffende klankbaan: die film se opening bestaan uit ’n montage strandparafernalia, met Bouwer Bosch se herkenbare stem wat sing: “Neem ’n foto van die oomblik, maak seker jy kry alles in; Omring jouself met vriende wat tot die dood vir jou sal sing.” Tiaan se musieksmaak kom, te danke aan film se klankmatige moontlikhede, na vore; hy luister Van Coke Kartel en North of Winter. Met Francois van Coke in die agtergrond sien ’n mens hoe Tiaan homself dwing om ’n gedaanteverwisseling te ondergaan deur surfplakkate van sy kas af te haal — enigiets wat hom aan die see(r) herinner, moet weg. Sy verwerking van sy verlies is nie ’n selfbejammering nie, en dit verloop nie sonder heelwat glimlagte nie. Dit is byvoorbeeld duidelik uit die dramatiese ironie wanneer Jasmine, ’n mooi meisie wat Tiaan se voete onder hom uitslaan, heel verleidelik opmerk Tiaan “must have been hurt pretty badly.”

Die tienertaal is duidelik maar fyn aangepas om die film se uitbeelding van tieners en hul taalkultuur meer eietyds te maak. Tiaan van Niekerk het as draaiboekskrywer (en een van die vervaardigers) opgetree; hy het deurlopend De Villiers op hoogte gehou van die proses, en eindelik is die karakters aangepas soos hulle is om toe te laat dat ’n sekere essensie behoue bly. Ná die verskyning van die film is die romanteks ook hersien om talige tendense en ander gebruike op datum te bring. Hierdie weergawe is met ’n nuwe voorblad uitgegee. 

Die film stel ’n nuwe konsep voor, naamlik ’n kompetisie waar surfers hulself kan bewys. Hierdeur word daar verder gebruik gemaak van die moontlikhede wat filmvoorstellings bied, en die kompetisie (en verwante oorwinnings) dien as die klimaks van die film. Die roman, met Tiaan se innerlike reis as goue deurlopende draad, verbeeld ewe effektief Tiaan se stiller aanvaarding van die see as ’n onvermybare, onbeheerbare mag, sowel as sy verwerking van sy persoonlike ervaring met verlies. Die film se kompetisie-element dien as steungrond vir die vinniger tempo wat kykers sal verkies/verwag.

Bennie Fourie se karakter, Tiaan se nuutgevonde vriend Hermann, bring (nes in die roman) ’n flikkerende silwer randjie na ’n verhaal wat maklik donker kon uitloop, gegewe die feit dat dit vanaf ’n aansienlik hartseer gebeurtenis wegspring. Surfers is ’n menslike subkultuur wat nader aan die natuur leef as sekere ander. Die karakters as onderliggende vertakkings in ’n web van lewe word belig deur die breek van branders, seeskuim wat op die strande uitspoel. en die rats bewegings op, deur, bo-oor en in die bewegende see. Die filmiese aflewering van Tiaan se wordingsverhaal is effektief, nes die literêre weergawe, en eindelik pas die titel in beide instansies van die verhaal vir Tiaan soos ’n wetsuit. Die lewe langs en in die see lê ineengeweef met die karakters, wat daarvan getuig: moet nooit jou rug op die see (of jou vriende) draai nie.

 

 

Ruan Fourie, Skryfkuns, Noordwes-Universiteit. Junie 2016. .
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016