2000-06


grootmense

dinkskrum

My kindertyd en die invloed van die natuur op my werk

Freda Linde

My verbondenheid met die natuur het begin in my vroeë kindertyd.

Ek was 'n woelige kleuter en my oppasster, (ene Lenie Johnston of Johnson) het my geleer om blomme en blare tussen boekblaaie te pers, seker net om my besig te hou.

Ek het grootgeword tussen Bonnievale en Swellendam. Wintertyd in hierdie gematigde landstreek aan die voet van die Langeberge was destyds 'n lushof van plantegroei, wat tot teenaan die werf en stoep gedy het, te danke aan die tydige reëns en sagte son. Dit was vir my maklik om blare te pers. Daar was die groot gekartelde blaar van die kaneelbol, die simmetries saamgestelde blaar van die "turknaels", daar was kruide en onkruide te kus en te keur. Dis hoe ek op 'n vatbare ouderdom plante en blaarvorms leer ken het en patrone raakgesien het.

Dis interessant dat twee van my boeke wat op 'n laat leeftyd geskryf is, patrone in die natuur as 'n tema het, naamlik die fantasie, Strepie en kurfie, en my onlangse Eenders en Anders, wat 'n realistiese werk vir kinders is, om hulle bekend te stel aan die wonder van patrone in die lewe en die natuur. Ek is oortuig dat die kiem, of saadjie, vir hierdie twee boeke in my vroeë kinderjare gelê is, dit wil sê in my kleuterjare tussen die plante en blomme van destydse winters en somers. Dis immers deesdae ou nuus dat die eerste vyf jaar van 'n kind se lewe deurslaggewend is en dat hy, volgens deskundiges, meer leer en aanleer in sy eerste vyf jaar as in die hele res van sy lewe.

Ek was 'n enigste kind tot op die ouderdom van vyf jaar, waarna my twee broers gebore is, en ek kan onthou dat ek gelukkig was op my eentjie in my spel en verbeeldingswêreld, dat ek my klere met modder bemoers het en dat ek goed - kruisbande of iets van my pa - stukkend geknip het, ook dat ek op 'n keer weggeloop het, en hoe hulle my ingehaal en gevang het. Talle goeie dinge onthou ek nog, soos toe my pa en ma my geprys het omdat ek 'n skilpad op die agterkant van 'n sigaretdosie geteken het - een met 'n stertjie wat onder sy dop uitsteek. Ek was toe vier, en hulle het 'n hele ding daarvan gemaak en die tekening gebêre en vir besoekers gewys. Ek onthou my tabberdjie van wit ogieskant, en my hoed met rooi bessies versier. [Lees meer oor my jeugjare in Prof. Carl Lohann se boek, Freda Linde, Perskor, 1983.]

Wat is jou doel met Eenders en Anders? Hoekom het jy dit geskryf?

Ek wou die kind bekendstel aan die wonder van patrone in die natuur en die lewe deur hom op 'n "ontdekkingstog" te neem na die dinge wat hy elke dag om hom sien maar nog nooit van naby beskou het nie. Feite kan net so vreemd en boeiend as fiksie wees.

My benadering in hierdie boek is persoonlik. In plaas van "kyk hierdie padda" sê ek: "Kom ontmoet Platanna, ook bekend as Plandoeka, van die Poele." Dit gee aan die platanna 'n soort identiteit, wat tot die kind spreek.

Ek doen dit sonder om feite te verdraai of feite vals voor te stel.

In die hoofstuk "Alles wat vier is" kom vier-vlerkiges aan die beurt, onder andere:

"Die meeste kewers het ook vier vlerke,
maar toktokkie het syne nie gebruik nie
Toe het hulle vasgegroei
Nou leef hy doodtevrede met
sy harde dop en met sy
pote op die aarde."

[Met ander woorde wat nie gebruik word nie, kan vasgroei, nutteloos word. Nie net inhoud nie maar ook taalritme kan bydra om 'n teks boeiend te maak.]

Dis belangrik dat 'n kind self moet ontdek in plaas van gedurig inligting gevoer te word (by die een oor in en by die ander uit).

As hy self één enkel blomstruktuur ontleed het, sê een met vyf kelkblare, vyf kroonblare, tien meeldrade (vyf langes en vyf kortes) en 'n stempel wat in vyf verdeel soos 'n fyn blommetjie, gaan hy met ander oë na alle blomverskynsels kyk: vier-patrone, drie-patrone of wat ook al.

Hoe skryf 'n mens vir kinders? Wat is jou resep?

Ek het nie 'n resep nie, maar ek sou sê ek doen dit deur die kinderwêreld in myself op te roep; ook nie willekeurig nie maar wanneer ek in die stemming is. Dit beteken dat ek wat ek skryf, self as werklikheid moet beleef. Dis nie genoeg om net 'n begrip van die kinderwêreld te hê nie.

Ek kan onthou dat toe ek Snoet-Aleen geskryf het, ek Snoet-Aleen feitlik kon sien in die maanlig by Toto se deur inkom, so intens het ek die gebeure en die dialoog beleef, en dieselfde geld vir die res van die verhaal.

My werksmetode: Ek werk baie ongereeld in die sin dat daar soms 'n lang tyd verbyaan dat ek nie kans kry om te skryf nie, maar ander verpligtings nakom. Maar terselfdertyd dwaal daar miskien 'n tema in my kop rond.

Dis ongeveer hoe al my kinderboeke ontstaan het. Ek kry 'n ingewing en dit los my nie maar neem, soms oor 'n lang tyd, vorm aan in my gedagtes tot ek skielik op 'n dag begin skryf. En dan werk ek aaneenlopend met slegs kort tussenposes, en skryf taamlik vinnig en vlot, rofweg met die hand, om die verhaal as geheel op papier te kry. Skaafwerk en veranderings kan later volg, want verhale het 'n manier om te verander terwyl jy skryf - daarvoor is daar in elk geval genoeg tyd as jy eers in beheer is van wat jy skep. Dit duur ook soms geruime tyd voordat ek met 'n stuk werk tevrede is.

(Al my verhale en ander skeppingswerk word eers met die hand gekryf. Ek doen slegs joernalistieke-tipe werk regstreeks op die masjien.)

Ek het my soort skryf aangeleer in die jare toe ek meer as voltydse betrekkings gevul het en ek my kinderboeke in my vakansies moet skryf.

Junie 2000

Kopiereg: Freda Linde.

Meer inligting oor die Freda Linde se oevre.
Dr. Lydia Snyman oor die patrone in Freda Linde se werk.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005