2006-2


grootmense

dinkskrum

Assertiwiteit en Die Goorgomgaai

Betsie van der Westhuizen
Een van die mees ontstellende verskynsels in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing is die wyses waarop kinders blootgestel word aan en/of slagoffers word van gevare soos mishandeling, ontvoering en selfs moord. Dit word steeds belangriker dat kinders op soveel wyses moontlik bewus gemaak moet word van veiligheidsmaatreëls, maar sonder om hulle te beangs te maak om aan die openbare lewe deel te neem. Dit moet gedoen word op wyses wat hulle sal help ontwikkel om hulleself op goedgemanierde wyses te kan handhaaf en om hulle innerlik sterk te maak. So vroeg as wat kinders moontlike gevare en gevaarlike persone kan herken, so vroeg moet hulle ook assertiwiteit aangeleer word.

 



Afrikaans deur Philip de Vos; oorspronklik The gruffalo deur Julia Donaldson en Axel Scheffler

Vanselfsprekend is die beste manier om kinders uit gevaar te hou, om te sorg dat hulle gevaar vermy, maar in 'n reële werklikheid werk dié idee nie altyd so ideaal uit nie. Een van die wyses waarop kinders toegerus kan word om hulleself te handhaaf in moontlike konfrontasie met onaangename of selfs lewensgevaarlike situasies, is dat hulle aan die hand van fantasieverhale in 'n veilige en geborge omgewing deur 'n volwassene ('n opvoeder soos 'n ouer of onderwyser/fasiliteerder, bibliotekaris) (be-)gelei word om van so jonk moontlik op 'n hoflike wyse assertief te wees en om 'n interne lokus van kontrole te ontwikkel. Alhoewel dit moontlik onvanpas klink, kan daar juis wanneer dit oor 'n doodernstige saak gaan, in die ontwikkel van assertiwiteit en 'n interne lokus van kontrole by die kind van humor en humoristiese verhale gebruik gemaak word.

Een van die mees bekende, onlangs gepubliseerde fantasieboeke wat 'n kind kan help om assertiwiteit en 'n interne lokus van kontrole te ontwikkel, is The Gruffalo (1999), 'n verhaal deur Julia Donaldson en geïllustreer deur Axel Scheffler, en in Afrikaans vertaal deur Philip de Vos as Die Goorgomgaai (in 1999 en in 2005 uitgegee deur Human & Rousseau). Die Engelse weergawe het die hoogaangeskrewe Smarties-toekenning gekry en is in ten minste 28 tale vertaal; meer as 'n miljoen kopieë daarvan is verkoop en dit is in verskeie lande as toneelstuk opgevoer en is selfs verfilm. Resensies op die Internet en in die pers oor The Gruffalo is almal ten gunste van die boek, asook oor The Gruffalo's child, die opvolg op The Gruffalo.

In The Gruffalo/ Die Goorgomgaai gaan dit oor die wyses waarop die muis dit regkry om hom-/haarself telkens uit 'n moeilike situasie los te wikkel. In die Engelse weergawe is daar hoegenaamd geen aanduiding in die teks of die muis 'n hy-muis of 'n sy-muis is nie; dit is besonder vernuftig hanteer, en met goeie gevolg, omdat klein dogtertjies dus ook met die muis as 'n moontlike slim en sterk vroulike karakter kan identifiseer. Eers in die tweede boek, The Gruffalo's child, word die geslag van muis aangedui as manlik.

Die Goorgomgaai vertel 'n verhaal - op rym - van 'n muis wat deur die donker bos gaan stap, en wat eers 'n jakkals, dan 'n uil en dan 'n slang ontmoet wat hom/haar nooi om in hulle huise te gaan eet. Die muis wys al die uitnodigings van die hand en uitoorlê al drie diere wat duidelik duistere bedoelings het, deur telkens ewe hoflik te sê dat hy by die Goorgomgaai gaan eet. In ongeveer die middel van die verhaal maak die verhaal 'n ommekeer - die muis ontmoet 'n régte Goorgomgaai en uitoorlê hom óók.

Daar kan gevra word: waaroor handel muisverhale gewoonlik, en hierdie misverhaal in die besonder? Hiervan sê Amanda Craig (2004) die volgende: "(Mouse stories are) about our deepest fears - being lost, being eaten, being separated from our mother - expressed in seemingly simple language". Craig (2004) verwys na die outeur, Julia Donaldson, se sienings oor muisverhale en spesifiek The Gruffalo (Die Goorgomgaai): volgens Donaldson is die doel van talle kinderboeke om ouers gerus te stel; sy sê dat sy egter nie so seker is dat kinders altyd gerus gestel moet word nie, juis omdat kinders soms uit onervarenheid en onkunde te avontuurlik is en gevare op hulle eie probeer aandurf.

Kinders moet juis meer bewus gemaak word van gevare in die lewe, maar dan terselfdertyd ook hoe hulle gevare kan benader en hanteer. Indien dit op 'n speelse en humoristiese wyse kan plaasvind, help die leeservaring dat angs en vrees oor werklike en verbeelde gevare oorkom kan word. As kinders die amorfe, verbeelde angste van hulle psige deur middel van 'n boek met spannende humor, pret en lag kan konfronteer, sal hulle gehelp word om toegerus te word om te weet wat om te doen wanneer hulle met werklike gevaar in die reële werklikheid gekonfronteer word - hulle sal 'n sterker gevoel van 'n interne lokus van kontrole hê en meer assertief kan optree. In die geval van die muis en die Goorgomgaai - dit mag dalk net wees dat daar regtig 'n Goorgomgaai ('n gevaar wat hulle net gedink het in hulle verbeelding bestaan en wat nog nie voorheen oor hulle pad gekom het nie) bestaan: "Mouse can scare hungry animals with tall stories of the terrifying Gruffalo, but what happens when Mouse comes face to face with a real Gruffalo?" (Anon., 2005 http://www.reallyuseful.com/rug/films/gruffalo/ ).

Aspekte rakende assertiwiteit moet vereenvoudig word na gelang van die ouderdom van die kind en op sy/haar vlak aan hom/haar verduidelik word. Dit is nodig dat kinders vaardighede ontwikkel om assertief te kan wees (Anon., 2004:8; De Vito, 1998:104, 233 - soos aangepas en toegepas op alledaagse situasies, maar ook situasies waarin kinders voel dat hulle in ongewenste of gevaarlike situasies ingedwing word):

  1. Begin wel met 'n positiewe aanname (moenie alles en almal wantrou nie), anders sal die kind voortdurend te beangs wees om in die lewe uit te gaan.
  2. Maar - wees paraat en proaktief: probeer vooruit dink hoe mense moontlik kan optree en wat jy in die moontlik gevaarlike situasies sou kon doen om jouself daaruit te kry.
  3. Weet wat jy wil hê, waarmee jy gemaklik is, waarvan jy nie hou nie.
  4. Gebruik goeie oordeel - besluit so vinnig moontlik of stilbly veiliger is, en of jy jouself moet handhaaf deur jou juis uit 'n probleemsituasie te praat.
  5. Sê wat jy wil hê/doen of nie wil hê of doen nie, en gebruik gevoelswoorde.
  6. Moenie verplig voel om altyd redes vir jou standpunte te gee nie (veral nie as jy in 'n ongemaklike of moontlik gevaarlike situasie is nie).
  7. As jy nie iets wil doen wat 'n vreemdeling of bekende persoon wil hê jy moet doen nie omdat jy weet of aanvoel dat dit verkeerd is, jou ongemaklik of bedreig laat voel nie, sê duidelik, beslis en kalm "Nee".
  8. Sê wat jy bedoel en hou daarby.
  9. Dink vinnig - soek vir moontlike oplossings uit die probleemsituasie.
  10. Onthou dat assertiwiteit nie noodwendig aggressie beteken nie.

Een van die eienskappe van muise in kinderliteratuur is dat hulle dikwels op humoristiese wyses uitgebeeld word. Humor is ook 'n integrale deel van die storie van Die Goorgomgaai, wat daartoe bydra dat die leser/kinders met die oënskynlik onbelangrike en swak klein muisie en sy/haar sukses onder moeilike omstandighede identifiseer.

Die Goorgomgaai is 'n verhalende vers wat van so vroeg as drie jaar tot ongeveer agt jaar (selfs deur ouers kinders) geniet kan word. Jan van Coillie (1999:99-101) verduidelik dat kinders in die volgende ouderdomsgroepe gewoonlik soos volg op humor ingestel is:

  • 3- tot 5-jariges geniet inkongruensie (onversoenbaarheid), die ongewone, herhaling, die skep van verwagtinge, verrassings en onverwagte ooreenkomste.
  • 6- tot 8-jariges geniet steeds dieselfde soorte humor, maar vind ook oordrywing/hiperbool, eksperimentering met die taal en fonetiese /klankmanipulasie, rym en ritme humoristies indien dit humoristiese gebeure of karakterisering in verhale en gedigte ondersteun.

Daar is talle wyses waarop die verband tussen assertiwiteit, die lokus van kontrole en die humor in Die Goorgomgaai ondersoek en vereenvoudigend-verduidelikend saam met kinders gelees kan word. Een daarvan is om die muis se optrede te volg soos wat dit in die verhaal as proses ontvou.

Wanneer die boek oopgemaak word, gaan die leser en luisteraar stil deur die eerste dubbelbladsy-donkergroen-en-bruin-illustrasie in die bos in, en lees dan wanneer die storie begin, die volgende:
'n Muis gaan stap deur die donker bos.
'n Vos sien die muis en hy dink aan kos.
"Waarheen stap jy, liewe Muis?
Kom eet by my in my jakkalshuis."

Hierdie woorde verskyn ook op die agterkant van die boek, en kan 'n aptytwekker wees van die moontlikheid van iets spannends binne-in die boek/in die verhalende gedig; dit lei die leser/luisteraar die spannende verhaalgebeure en die storie-op-rym-ervaring binne.

Die poëtiese taalgebruik bewerkstellig 'n besonderse bekoring wat die gehoor spoedig kan boei. Van hierdie poëtiese aspekte is dat die gedig 'n sterk ritme het, wat Philip de Vos heel vernuftig ook in die vertaling behoue laat bly het. Die gedig is geskryf in oorwegend afwisselende jambiese en daktiliese metrum, dit het verse van wisselende lengte (daar is koeplette, tersines, kwatryne en sestette), en dit het deurgaans 'n sterk patroon van paarrym. Omdat kinders ritmiese wesens is en sterk op klank ingestel is, sal die klankrykheid van die gedig hulle waarskynlik gou boei.

Ander wyses waarop die poëtiese aspekte van die gedig kinders mag boei, is die speel met woorde en klanke en die humoristiese gebruik van beeldspraak. Die simboliese betekenis van die bos, die voetpad en die verskillende diere sal moontlik nie vir die kind bewustelik iets beteken nie, maar kan wel in sy onderbewuste aan die werk wees - die simboolrykheid dra by tot die onderwerp en die tema, asook tot die versterking van die onderbewuste aanvoeling van die kind oor wie reg en wie verkeerd is in die gedig.

Die gedig is só gestruktureer dat 'n proses ontwikkel waarin die oënskynlik niksvermoedende muis ongeërg en sorgvry is aan die begin, maar dan drie roofdiere ontmoet wat hy moet uitoorlê. Alhoewel daar geen bewys uit die verbale teks is dat Muis bang is vir hierdie diere nie, kan aangeneem word dat Muis doelbewus sy/haar ware gevoelens wegsteek. As Muis nie wys dat hy bang is vir die skelm-glimlaggende vos, die uil met die skerp kloue en die half orente slang nie, het Muis 'n voordeel bo hulle wat deel is van 'n assertiewe houding - dat hy nie sy vyand moet laat agterkom dat hy bang is vir hom nie.

Die wyse waarop die verhaal vertel word, laat deurgaans blyk dat daar 'n
positiewe aanname is dat Muis nie 'n slagoffer sal word nie. Maar blote oorlewing is nie goed genoeg nie - die lewe behoort veel meer te wees as die blote oorlewing van die sterkste of die slimste. Nadat Muis die roofdiere uitoorlê het deur aan almal te vertel dat hy by die Goorgomgaai gaan eet, glo hy steeds dat hy hulle afgeskrik het met 'n dier - die Goorgomgaai - wat hy sommer self uitgedink het. Muis skrik hom skoon van sy voete af wanneer hy, in die konteks van hierdie verhaal as dierefantasie, 'n "werklike" goorgomgaai sien (vgl. die skaduwee onder sy voete in die illustrasie). Muis herstel egter baie vinnig, en uitoorlê ook die Goorgomgaai deur die hele strategie net om te keer. Muis en die Goorgomgaai loop terug op dieselfde voetpad en hy skrik weer die Goorgomgaai af deur dié te laat glo dat al die diere in die bos bang is vir hom wat Muis is. Op hierdie wyse het die verhaal ook 'n sirkelstruktuur - uiteindelik vind Muis rustigheid en vrede, alhoewel die Engelse en die Afrikaanse weergawes ietwat verskil. Die Engelse weergawe eindig gelukkig - met die vind van 'n neut, terwyl die Afrikaanse weergawe 'n oop einde en weglatingspuntjies het - wat óók positief geïnterpreteer kan word, maar wel met die suggestie dat die gebeure herhaal kan word, en dat Muis maar op sy hoede moet bly:
All was quiet in the deep dark wood.
The mouse found a nut and the nut was good.

… vergeleke met:
Toe stap die muis deur die donker bos
En al wat hy soek is neutekos...


Behalwe dat herhaling tipies is van rym en ritme, is herhaling ook 'n integrale deel van die verhaal. Muis se reaksies op die uitnodigings van die roofdiere word 'n belangrike refrein regdeur die verhaal. So word ook die herhaaldelike beskrywings van die Goorgomgaai 'n patroon waaraan luisteraars en lesers groot plesier kan hê, omdat hulle kan voel dat hulle kan voorspel hoe Muis gaan reageer en dus saam met hom in beheer van die situasie is; herhaling dra dus by tot versterking van die indruk van assertiwiteit, 'n interne lokus van kontrole/beheer en tot die identifikasie met die hoofkarakter:
"Waarheen stap jy, liewe Muis?
Kom eet by my in my jakkalshuis"
(uil - boomtophuis/slang - stompehuis)
"Rooihaarvos (Hoehoe-uil/Slanke slang), jy's gaaf en fraai,
maar ek gaan eet by die Goorgomgaai."

Deur gebruik te maak van die verrassingselement in die vertelstruktuur reg in die middel van die verhaal, kom Muis van aangesig tot aangesig met die Goorgomgaai, wat hy gedink het bloot 'n uitvindsel van sy verbeelding is:
"Domme ou Slang, kan hy nie raai
daar's glad geen ding soos 'n Goorgom ..."

En met die omblaai van die bladsy skrik die klein leser/luisteraar saam met Muis wanneer dié uitroep:
" ... gaai!"
Maar wie is die dier wat wil kou en verskeur,
met lang, lange naels en 'n bek soos 'n beer?
Hy't knieë met knoppe, 'n horrelpootvoet
En 'n giftige moesie wat sit op sy snoet.
Hy't borriegeel oë, 'n lang tong wat swart is;
'n rug vol van stekels wat purper en hard is!
Liewe tyd, kan jul nie raai?
Dis die nare Goorgomgaai!

(In die Engelse weergawe klink dit só:
"Oh help! Oh no!
It's a Gruffalo!"
)

Hierdie humoristiese omkeer in die verhaal is 'n strategie om terug te verwys en om die storie in trurat te sit, maar met 'n nuwe kinkel: nou moet vinnigdenkende Muis ook die Goorgomgaai uitoorlê. 'n Interessante en humoristiese patroon ontvou: Muis gebruik die skynvriendelikheid van die drie roofdiere en die intensies van die Goorgomgaai teen mekáár, deur hulle juis vir mekaar bang te maak en af te skrik:
Die Goorgomgaai sê: "Sapperloot!
Ek gaan jou eet op roosterbrood!"//
Toe piep die muis: "Jy Moet my los.
Ek's die goorste dier in hierdie bos!
Kom, volg my spoor. Loop agter my.
En kyk hoe almal my vermy!"

Dit blyk dat die soort humor wat die meeste gebruik word, inkongruensie is. Alles in die verhaal wat nie is soos dit veronderstel is om te wees nie, bring spanning, senuagtigheid, angs en kommer oor die veiligheid van die muis - met wie die leser sal identifiseer - teweeg. Kreatiewe kombinasies soos "vos op 'n broodjierol", "uil met geklitste room" en "slange met gerookte ham" is alles voorbeelde van humoristiese inkongruensie. Die taal speel 'n belangrike rol in die verkry van kontrole of beheer in 'n situasie, hetsy beheer oor Muis/mens se eie vrese of beheer in 'n situasie waarin Muis/die kind bedreig voel.

Alhoewel daar vele moontlike redes vir senuagtige gelag of beangste gille in die verhaal is, eindig die verhaal met 'n gevoel van diepe vreugde.

Maar wanneer die verhaal klaar gelees is, besef mens meteens: dié Muis is eintlik 'n klein leuenaar! Hy vertel die hele tyd wit leuentjies om homself te red. Die mees algemene humortipe waarvan kinders hou, is inkongruensie, wat intrinsiek deel is van alles wat lyk asof dit op 'n ongewone of selfs verkeerde manier gebeur. Om dieselfde rede is taboeverbreking vir kinders dikwels vir kinders humoristies. Om 'n leuen te vertel is terselfdertyd die verbreek van 'n taboe en 'n vorm van inkongruensie. 'n Muis wat gewoon wou soek na 'n neut om te eet en dan leuens vertel om homself te red van vier roofdiere wat duidelik die doel gehad het om vir Muis leed aan te doen/hom op te vreet, sal nie probleme ondervind om bewonderaars onder klein lesers en luisteraars te vind nie. Amanda Craig (2004) toon aan dat Muis die ander karakters vernuftig uitoorlê: "The only non-predator in the deep dark wood, he (sic) just wants to find a nut to eat, but in order to survive he has to tell lies. His lies are very similar to those told by children facing bullies…"

Indien die verhaal vergelyk word met die teorie oor assertiwiteit (soos aanvanklik uiteengesit), blyk die teorie en die verhaal wedersyds bevestigend te wees. Muis toon deurgaans dat hy wakker en paraat is; hy is 'n goeie luisteraar en hoor elke klein stukkie detail van wat die ander karakters sê. Hy sien onmiddellik wie elke roofdier is en wat hulle intensies met hom is, en reageer in detail deur hulle op hulle presiese name te noem en reageer op wat elk van hulle spesifiek gesê het - behalwe toe die regte Goorgomgaai op die toneel verskyn; gelukkig het Muis sy selfbeheersing byna onmiddellik herwin. Muis is dus proaktief, hy neem die situasie telkens fyn waar, dink op sy voete en vind maniere waarop hy die roofdiere kan afskrik. Muis is assertief:

  1. Muis begin sy staptog met 'n positiewe ingesteldheid: hy "gaan stap" met selfvertroue; hy loop nie huiwerig of koes-koes nie.
  2. Muis is proaktief: alhoewel daar nie interne fokalisasie is sodat die leser of luisteraar presies weet wat Muis dink nie, kan sy gedagtes uit sy optrede afgelei word.
  3. Muis weet wat hy wil hê - sy vryheid.
  4. Muis praat homself telkens uit die penarie/moeilike situasie uit.
  5. Muis gebruik gevoelswoorde soos:
    "Rooihaarvos, jy's gaaf en fraai,
    maar ek gaan eet by die Goorgomgaai."
  6. Muis maak nie allerlei verskonings of verduidlik oormatig wat hy wil doen en hoekom hy dit wil doen nie; dit lyk asof hy nie gedwing voel om sy besluite en woorde voortdurend hardop te probeer regverdig nie.
  7. Muis sê kalm en ferm "Nee".
  8. Muis sê nie eers "Nee" en bedink hom later weer nie; hy bly by sy besluit en kom beslis voor.
  9. Muis soek vir oplossings - hy is deurgaans kreatief besig met probleemoplossing - asof probleemoplossing deel is van sy lewenstyl.
  10. Muis raak nooit aggressief nie; hy handhaaf homself op 'n beheerste wyse.

Deurdat die luisteraar of die leser met Muis identifiseer, kan die kind groter assertiwiteit ontwikkel en hom-/haarself moontlik beter in gevaarlike situasies handhaaf. Alhoewel volwassenes die verhaal van Muis en die Goorgomgaai vir kinders op so 'n wyse kan verduidelik dat die kind groter assertiwiteit en 'n interne lokus van kontrole/beheer kan ontwikkel, moet die kind ook daarvan bewus gemaak word dat hy nooit die bose moet onderskat nie of dink dat hy met die idee daarvan kan speel dat dit tog nie bestaan nie, of as dit wel vir hom 'n werklikheid is, dat hy dit altyd sal kan oorwin nie; dit mag dalk net wees dat een of ander werklike Goorgomgaai oor sy lewenspad kom. Nogtans kan kinders innerlik groei en sterk word deur lewenslank boeke te lees waarin die bose deur die Goeie oorwin word.

Bibliografie

Anon. 2004. Assertiveness: Participant Workbook. Potchefstroom : North-West University (Potchefstroom Campus).

(Anon., http://www.reallyuseful.com/rug/films/gruffalo/ ) The Gruffalo: The film home page. [Datum van gebruik: 2005/07/13.]

Craig, Amanda. 2004. The Gruffalo: Tricksters in the deep dark wood. The Telegraph, Aug.

DeVito, J.A. 1998. The interpersonal communication book. New York : Longman.

Donaldson, J. & Scheffler, A. 2005. Die Goorgomgaai. Kaapstad : Human & Rousseau.

Donaldson, J. & Scheffler, A. 1999. The Gruffalo. London : Macmillan.

Van Coillie, Jan. 1999. Leesbeesten en boekenfeesten. Leuven : Davidsfonds /Infodok.

Betsie van der Westhuizen is verbonde aan die Vakgroep Afrikaans en Nederlands, Noordwes-Universiteit, (Potchefstroomkampus)
afnesvdw@puk.ac.za
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2006