2000


grootmense

dinkskrum

In die storiewêreld in - Die jong leser en identifisering met karakters

Franci Greyling

Wie het nie al skuldig gevoel as jy in 'n storie huil, maar by 'n begrafnis droogoog staan? As jy 'n knop in die keel moet wegsluk as 'n heldin verkeerd verstaan word, maar onaangeraak kyk na die werklikheid van TV-nuus? Dan het jy die toorkrag van die storiewêreld ervaar. Het jy op 'n manier déél daarvan geword.

Daar is vandag baie oor stories en boeke gepraat - gesprekke wat mens moontlik aan eie leeservaringe as kind laat dink het. Kom, speel bietjie saam en dink aan 'n boek wat as kind 'n groot indruk op jou gemaak het… êrens moet 'n boek of twee/drie gewees het… dink bietjie terug…

Wat was dié boek? Waarom onthou jy dit nou nog? Was daar dalk 'n karakter wat 'n groot indruk gemaak het? Hoe oud was jy ongeveer? Is daar moontlik 'n soort ooreenkoms tussen die kind wat jy was, en dié spesifieke storie?

Dié inleef in 'n storie, storiewêreld hou dikwels verband met 'n mate van identifisering met 'n karakter. Navorsing bevind dat in gewilde verhale daar deurgaans 'n karakter is met wie die jong leser hom/haar graag mee wil identifiseer. Dis die onderwerp waaroor ek wil gesels en by die tema aansluit.

Ek gaan kortliks aandag aan die volgende gee:

  • Die wyses waarop jong lesers lees en vlakke van betrokkenheid by 'n verhaal.
  • Vorme van identifisering ·
  • Aspekte wat identifisering (en dus leesgenot) bevorder ·
  • Wát sê dit oor die tema onder bespreking, naamlik of kinder- en jeugboeke bestaansreg het.

Die wyses waarop jong lesers lees en vlakke van betrokkenheid by 'n verhaal.

Alhoewel die leesproses 'n individuele ervaring is, bevind verskeie studies 'n sterk verband tussen ontwikkelingsfase en leesrespons. Volwassenes en kinders lees nou eenmaal nie verhale op dieselfde manier nie.

Dillon* (1982:77-88) onderskei tussen drie basiese leesstyle (wyses van lees) naamlik die karakter-aksie moraal styl, die delf na geheime en antropologiese styl. Jong lesers maak hoofsaaklik van eersgenoemde gebruik. Hiervolgens word karakters word as werklike mense beskou, terwyl hul ervaring as die van dié leser self herken, en soos die eie verstaan en beskryf kan word. Waar volwassenes 'n werk objektief kan ontleed, is 'n kind meer subjektief betrokke by die karakter en gebeure. Dié afstand/ betrokkenheid wissel tussen totale verdieping in die storie tot relatiewe verwydering en kritiese lees.

    • Projeksie in 'n karakter hou in dat die leser as't ware die karakter word en die ervarings en gevoelens van die karakter deel.
    • Projeksie in 'n situasie behels dat die leser saam met die karakters in die boek is, maar nie met een van hulle identifiseer nie. Dié leser sien homself as toeskouer of vriend van die karakter wat wel emosioneel betrokke is, maar nie die gebeure kan beïnvloed nie.
    • Met assosiasie tussen boek en leser verbind die leser sigself en die werklikheid met die karakter en situasies in die verhaal. Die beweging vind na beide kante plaas: die boek word in terme van die eie wêreld gevisualiseer en die leser dink hom/haarself in wat sy/haar optrede in 'n soortgelyke situasie as dié van die karakter sou wees.
    • Verwyderde toeskouer geld wanneer 'n leser se ervaring beskryf word asof "bo" die karakters. Alhoewel die leser emosioneel betrokke is en graag die uitkoms van gebeure wil beïnvloed, staan hy/sy buite die gebeure.
    • Verwyderde evaluasie is ter sprake wanneer 'n leser begrip vir karakters se emosies toon eerder as om dit te ervaar. (Protherough, 1983:21-22*)

Alhoewel 'n direkte verband tussen ouderdom en leesresultaat nie bestaan nie, kan tendense wel aangetoon word. Jonger kinders van 11-12 is meer geneig om wyses 1 en 2 te gebruik, terwyl modes 4 en 5 deur ouer respondente (14 jaar +) gebruik word. Die ouderdomsgroep 13/14 kan in elke van die vyf kategorieë verteenwoordig wees. Die vermoë om van 'n volgende modus van lees gebruik te maak, beteken nie noodwendig dat die ander nie meer gebruik word nie, maar dat die leser nou meer leesmoontlikhede tot beskikking het. Hierdie meerdere vermoë hou ook in dat 'n leser tydens die leesproses ten volle by 'n karakter of in die storie betrokke kan wees, maar daarná tot onbetrokke evaluasie in staat is. Die tendens van toenemende distansiëring.

Vorme van identifisering

'n Leser identifiseer nie noodwendig met alle karakters op dieselfde manier of met dieselfde mate van intensiteit nie. Jauss* onderskei tussen verskillende vorme van identifikasie:

    • Assosiatiewe identifikasie: In dié vorm van identifikasie verplaas die leser hom in die rol van die karakter en word só 'n deelnemer aan die spel. (Dié interaksie kan 'n sterk sosialiserende invloed hê.)
    • Bewonderende identifikasie: Die karakter word as gevolg van sy/haar volkomenheid bewonder deurdat dit 'n besondere heilige of wyse personasie is. (Hierdie identifikasie kan veranderinge in die persoonlike of maatskaplike gedrag van die leser bewerkstellig.)
    • Simpatieke identifikasie: In teenstelling met die volmaakte/heilige karakter het die held in hierdie geval ook menslike swakhede. (Deur medelye met dié swakhede, vereenselwig die leser hom/haarself met die held en kan in dié proses eie moontlikhede leer ken en insig in die menslike situasie kry.)
    • Katartiese identifikasie: Die held wat hier ter sprake is die lydende en humoristiese karakter (tragedie/ komedie). Die leser verplaas hom/haarself in die lydende held of die karakter wat homself in 'n netelige situasie bevind. (Deur identifikasie word die leser bevry van die spanning van die daaglikse bestaan en kom tot 'n selfstandige morele oordeel.)
    • Ironiese identifikasie: Dié identifikasie hou verband met die normdeurbrekende funksie van literatuur. Die karakter is tipies 'n anti-held en lei tot vervreemding van die leser. Die verskillende tipes identifikasie kan met genres verband hou. Waar die bewonderende identifikasie in avontuurverhale geld, vra die realistiese probleemverhaal meer 'n simpatieke identifikasie.

Aspekte wat identifisering (en dus leesgenot) bevorder

Hier kan onderskei word tussen die aspekte wat veral met die teks, karakter of leser te doen het.

Die teks:

Triviale/maklike teks lees makliker as meer literêre teks waarin die afstand tussen die leser en teks groter is. Eersgenoemde moedig dus identifisering aan. 'n Teks wat aandag op sigself vestig, verg gewis ander vaardighede van lesers as dié waarin die klem op die storie en karakter is. Subgenres stel verskillende eise. 'n Speurverhaal vereis meer aan denkvernuf en ontrafeling van 'n misdaad/geheim, as wat dit om emosionele betrokkenheid by die karakter gaan. Die sukses van 'n rillers hierteenoor steun sterk op die identifisering van die leser met die slagoffer vir opbou van spanning. Dit blyk ook dat lesers, ongeag die tipe teks, herken- en identifiseerbare karakters verkies.

Die leser:

Ooreenkomste tussen leser en karakter.

Ooreenkoms tussen karakter en leser 'n beter begrip en 'n groter mate van waardering van die teks en karakter bewerkstellig, en tot identifikasie (bewondering, nabootsing) lei. Dié ooreenkomste kan ooglopend wees, maar dit is nie noodwendig die geval nie. Alhoewel ooreenkoms tussen leser en karakter tot identifisering kan bydra, sluit verskille tussen leser en karakter dit nie uit nie.

Ooreenkoms ten opsigte van geslag; ouderdom; etnisiteit; ervaring-, leef- en beleweniswêreld.

  1. Ooreenkoms ten opsigte van geslag. Jong lesers verkies dikwels verhale waarin die sentrale karakter van die ooreenkomstige geslag is. Hierdie voorkeur dui alreeds op 'n gewilligheid om met dié betrokke karakter te identifiseer. Die waarneming word dikwels gemaak dat seuns nie graag "meisieboeke" lees nie; maar dat meisies geredeliker boeke waarin manlike karakters figureer, lees. Waarskynlik kan dié leesvoorkeure benewens die geslag van karakters ook toegeskryf word aan die inhoud van die verhale, sowel as die ontwikkelingsfase van lesers. "Seunsboeke" bevat gewoonlik meer aksie, uiterlike gebeure en avontuurelemente - aspekte waarby meer lesers aanklank vind. Skrywers gebruik soms doelbewus beide geslagte as karakters om sodoende meer lesers te betrek. Geslagsverskille blyk ook uit die neiging tot, en proses van identifisering. Seuns geneig om van enige gevoel weg te skram - ook in boeke. Meisies beskou identifikasie oor die algemeen belangriker as seuns; is meer betrokke voel by die sentrale karakters; en ervaar 'n meer empaties-affektiewe verhouding met die karakter.
  2. Ooreenkoms ten opsigte van ouderdom. Kinder- en jeugverhale maak grootliks van jeugdige sentrale karakters gebruik. Die veronderstelling is dat jong lesers eerder met jong karakters sal identifiseer. Dié siening word nie deur alle skrywers gedeel nie. Jeugdiges voel aangetrokke tot verhale waarin karakters van eie ouderdom, of effens ouer, voorkom. Die voorkeur aan ouer karakters kan moontlik verband hou met bewonderende identifikasie en wensvervulling. 'n Jong karakter waarborg nie identifisering deur die jong leser nie. Die genre en diskoers (aard van die teks) speel waarskynlik hier 'n groot rol. In 'n verhaal waar patrone en strukture redelik bekend en karakterdoelwitte duidelik en herkenbaar is, kan die jong leser hom/haarself maklik met 'n volwasse karakter vereenselwig Waar kinders en volwassenes beide belangrike rolle in 'n verhaal vertolk, sal die jeugdige leser hom eerder met die jonger karakter vereenselwig. Whitehead* (1978:215) haal die studie van Wolfenstein aan wat ten opsigte van die storie Sally and the Baby and the Rampatan, opvallende verskille in die identifikasiepatrone van moeders en kinders bevind. Die moeders het hul met die swanger karakter geïdentifiseer, en die kinders (4jr) hulself hul met Sally en die Rampatan-element vereenselwig.
  3. Ooreenkoms ten opsigte van etnisiteit/ras. Etniese en kulturele ooreenstemming as sulks lei nie noodwendig tot identifisering nie. Of rasooreenkoms tussen leser en karakter identifisering gaan beïnvloed, hang benewens die vertelstandpunt, saam met die betrokke verhaal en die eienskappe en rol van die karakter; asook met die kulturele agtergrond en opvoeding van die leser.
  4. Ooreenkoms ten opsigte ervaring, leef- en beleweniswêrelde. Daar bestaan nie eenstemmigheid daaroor of 'n gedeelde leefwêreld tot identifisering kan bydra nie. Voorstanders van verhale waarin die kinders se leefwêreld (byvoorbeeld myndorp/woonstelblok/landelike omgewing) uitgebeeld word, voer onder andere aan dat kinders hulself en omstandighede in 'n verhaal moet kan vind en dat sodanige verhale met meer begrip gelees en meer waardeer sal word (Radebe, 1996:187*). Hierteenoor word die mening gehuldig dat ander lande, tye, omstandighede as dié van die leser nie beperkend is ten opsigte van identifikasie nie. Whitehead* (1978:252) ag die emosionele inhoud belangriker as die ruimte van 'n verhaal. Instinktiewe bevrediging vind plaas wanneer die emosionele behoeftes, vrese en konflik mees kenmerkend van 'n leser se ouderdom en ontwikkelingsfase, aangespreek word.

Die ooreenkoms tussen leser en karakter hoef dus nie 'n gedeelde ruimte of leefwêreld te wees nie. Die gewildheid van sekere reeksboeke kan toegeskryf word daaraan dat die leser 'n eietydse leefwêreld herken. Daar kan aangeneem word dat die leser met makliker met sodanige karakters kan vereenselwig, aangesien dit voel asof dit oor mense en omstandighede gaan wat hy/sy ken.

** Indien 'n karakter vreemd aan 'n leser is; vaag voorgestel word; en motiewe onduidelik of onbegryplik is, word identifisering nie aangemoedig nie. Wanneer karakters gekies word wat ooreenkoms met die waarskynlike leser toon - byvoorbeeld ouderdom, geslag, etnisiteit, leef- en beleweniswêreld - is die karakter meer herkenbaar en word identifisering makliker. Ooreenkomste maak nie altyd opwindende leesstof nie: "It's strangeness, not familiarity, that excites our curiosity. It's hard to imagine a blander character than one who is exactly typical of a certain group." (Card:1988:79*).

Teks:

Vertelstrategie

  1. Gesigspuntkarakter/ enkel fokalisator. Die verhouding wat deur die vertelstrategie tussen leser en teks opgebou word, vestig reeds identifikasiemoontlikhede. Die konstantheid van vertelstrategie beïnvloed ook die identifisering. Sommige subgenres steun sterk op die leser se identifisering met die protagonis. Die sukses van heelwat speur en avontuurverhale kan byvoorbeeld toegeskryf word aan die vrees wat opgewek word deur gevaar asof deur eie oë te beleef.
  2. Verteltegnieke. Om 'n karakter van binne te ken, bevorder identifikasie. Tegnieke waardeur 'n karakter van binne (gedagte- en gevoelslewe) geleer ken word, is benewens die vertelstandpunt, ook verteltegnieke soos selfopenbaring, vrye indirekte rede en bewussynstroomtegniek. Die gebruik van briewe, dagboekframente en die kwasi-onthullende karakter van die ek-vorm kan tot sterker identifisering bydra.
  3. Struktuur van die teks. Identifisering word aangemoedig indien die sentrale karakter reeds vroeg in die verhaal bekend gestel word, en by aksie, dialoog of denke betrokke is. Die karakter moet ook by die belangrikste gebeure sowel as by die ontknoping, optree.

Eienskappe van 'n karakter

Die eienskappe waarmee 'n karakter toegerus word en die wyse waarop dit meegedeel word (persoonsbeskrywing), kan die leser se repons ten opsigte van 'n karakter rig/manipuleer. Lesers identifiseer graag met positiewe karakters. Aantreklike persoonseienskappe en voorkoms kan tot simpatie bydra mits dit nie oordrewe is. 'n Eensydige goeie/ aantreklike karakter wat te perfek, te goed, slim of mooi is, kan die leser ontoereikend laat voel. 'n Karakter wat in 'n moeilike of onbenydenswaardige situasie verkeer, wek simpatie en verhoog lesersbetrokkenheid. Behoeftes, begeertes en drome wat die leser verstaan, dra by tot begrip vir die karakter se optrede en kan identifikasie bevorder. "Once we're caught up in a character's plans and dreams we're on her side almost without limit. (…) As a general rule, audience sympathy increases with the importance of the character's dream and the amount of effort the character has already expended to try to fulfill i." (Card, 1988:82*).

Lesers verkies karakters wat 'n duidelike doel voor oë het, en nie bloot op gebeure reageer nie. Identifisering vind eerder plaas met die karakter wat ten spyte van terugslae oorwin, as met die verloorder. Karakters wat waagmoed aan die dag lê, regverdig optree, 'n positiewe houding teenoor ander en die lewe het, as vrywilliger optree, betroubaar en inoverend is, en menslike swakhede openbaar, wek meer simpatie. Lyding, opoffering, dreigende gevaar, seksuele spanning, tekens en voorbodes (byvoorbeeld natuurverwysings) dra by tot betrokkenheid by die karakter en besorgdheid oor die uitkomste.

** Alhoewel die spanning wat 'n leser ervaar afhanklik is van die emosionele gesteldheid, verbeelding en vaardigheid van die leser, is die keuses van die skrywer ook baie belangrik. Wanneer 'n leser besorg is oor karakters en hul wel en weë, word deelname by die verhaal en besorgdheid oor verhaaluitkoms verhoog.

Die skrywer kan deur die karakterkeuse, -toerusting, -beskrywing, en -handeling; die keuse van ruimte en situasie; asook deur verhaalgebeure, die afstand tussen leser en karakter beïnvloed. Identifisering met 'n karakter word sodoende aan- of ontmoedig. Die aard van identifikasie -- assosiatiewe, bewonderende, simpatieke, katartiese en ironiese identifikasie - sal waarskynlik sterk verband hou met die keuse, eienskappe en optrede van die karakter in die verhaalgebeure.

Wát sê dit oor die tema onder bespreking?

Dit is waar dat jeugdiges dikwels boeke lees wat vir volwassenes bedoel is - soos beweer is. Waneer 'n mens nagaan watter boeke dit is, blyk dit dat grootliks die gewilde verhale is wat van relatief vaste patrone gebruik maak - en gewoonlik 'n karakter het met wie die leser gou kan identifiseer, wie se doelwitte duidelik en verstaanbaar is - die leser raak geinteresseerd daarin of dié karakter in sy/haar doel gaan slaag. Dit is 'n eng beskouing om dié leser sy leesplesier te ontneem - nét soos dit is om 'n jong leser wat graag met jeugdige karakters wie se ervaringe vir hom begryplik is, met wie se doelstellings hy/sy hom/haar kan vereenselwig; met wie avonture gedeel kan word - dié ervaring te misgun.

Ek sluit met 'n opmerking van Leeson: "To survive, a literature needs books of all kinds, and it needs readers of all kinds, and above all it needs more of every kind" (Leeson, 1985:186*).

(Voordrag gelewer op 10 September 1999 by 'n seminaar oor die jeugboek en die tiener as leser/nie-leser aangebied deur die Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur, Unisa. Die seminaartema was: Die Jeugboek: 'n Kunsmatige Genre geskep deur Bibliotekaresses?)



Verwysings

CARD, O.S. 1988.
Characters and viewpoint. Cincinnati, OH: Writer's Digest Books. 182 p.
DILLON, G. L. 1982.
Styles of reading. Poetics Today, 3(2):77-88.
JAUSS, H.R. 1977.
Ästhetische Erfahrung und literarische Hermeneutik 1. München: Wilhelm Fink. 382 p.
LEESON, R. 1985.
Reading and righting. London: William Collins. 193 p.
PROTHEROUGH, R. 1983a.
Developing response to fiction. Milton Keynes: Open University Press. 212 p.
RADEBE, T. 1996.
Context and culture as a factor in black children's responses to books. (In Machet, M., Olën, S. & Van der Walt, T. eds. Other worlds other lives: children's literature experiences. Pretoria: Unisa Press. 1:184-202.)
WHITEHEAD, F., CAPEY, A.C., MADDREN, W. & WELLINGS, A. 1978.
Children and their books. Hampshire: Macmillan Education Ltd. 335 p. (Schools Council Research Studies.)
Franic Greyling is sedert Julie 2002 verbonde aan Noordwes-Universiteit
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005