2013-01


grootmense

dinkskrum

Leesavonture

Tweedejaar Skryfkunsstudente, Noordwes-Universiteit

Jongmense aan die woord oor hulle leeservaring en -avonture

Jy het wát gedoen as kind?

“Onder die bed...”
“Nee! Wag! Soms!”
“In die donker...”
“Nee!”
“Voor almal?”
“Ja! Wag! Soms, net soms!”

 “Al my kinderboeke het ek gememoriseer, met behulp van die prente natuurlik, en teen die ouderdom van vier het ek vol selfvertroue voor die hasie-klassie gestaan en Die slapende skoonheid, hardop 'voorgelees'. Ek was so erg oor daardie boek dat ek dit oral saam met my gedra het, en aan die einde van daardie dag, by die kleuterskool, het die boek, geweek in papiermaché, my huis toe vergesel. Die Disney prinsesreeks het 'n groot rol in my lewe gespeel en met my Barbiepoppe het ek al daardie verhale op die planke, of eerder op my kamervloer, gebring.” (Juanet Le Roux)

“Ek onthou ek het altyd met 'n boek rondgeloop op skool. Dit was al snaaks vir die onderwysers om my sonder een te sien. Ek het orals gelees waar ek kon – op die gras gedurende pouse, op die vierkant voor skool, oppad na die volgende klas toe, tydens klasse, voor etes by die koshuis waar ons in gangverband moes wag, en in my kamer. Ek het selfs in die saalbyeenkomste gesit en lees.” (Monique Louw)

“Toe ek so vier jaar oud was, het ek die boek al hardop saam met kassette gelees. Ek het presies geweet wat staan op elke bladsy. Ek het dit letterlik beter as my eie handpalm geken. Een oggend besluit ek, ek gaan die boek saamvat kleuterskool toe en vir die juffrou lees. Juffrou Rienie was so beïndruk met die 4-jarige dogtertjie wat kan lees, sy laat my die storie vir die klas lees. Ek maak ewe stemme na en vertel met oorgawe. Juffrou Rienie  is in haar skik, min wetend dat ek dit uit my kop ken en nie eintlik kan lees nie. Met my beduie, stemmetjies en toneel speel vergeet ek toe skoon wat die volgende sin is. Ewe rustig wys Juffrou Rienie vir my op die bladsy waar ek moet aangaan. Ewe opreg trek ek my skouertjies op en sy wys weer vir my. Daar sit Elizna, en kan nie lees nie! Juffrou Rienie besef toe dat ek die hele storie gememoriseer het en nie werklik kan lees nie. Die enigste sinnetjie wat ek van dag nog van die storie kan onthou is: 'In die bed met jou,' sê pappa Beer.” (Elizna Jansen van Rensburg)

“Die eerste ware leeservaring wat ek kan onthou was in graad een waar ek begin lees het. Ons het boeke gelees oor Biebie, Kalla en Vlooi. Eerstens was ek mal oor die stories want ek het my verbeel dat ek en my twee boeties die karakters in die boek was. Ek was dus Biebie, my ouer boetie Kalla en my jongste boetie Vlooi. Ons het selfs na die karakters gelyk! Tweedens was ek absoluut dol oor lees en het altyd vooruit gelees. My liefde vir lees het net daar op die ouderdom van ses jaar begin.” (Rozeldi Rollip)

“As'n jong tiener het ek altyd romantiese verhale verkies en het veral Mills&Boon boeke verkies. Ek het daarvan gehou as die boeke die hoofkarakter, wat gewoonlik 'n meisie was, op die voorblad gehad het, want dan kon ek die heeltyd daardie gesig by die heldin plaas.” (Eske Cilliers)

“Ek was maar 5 toe ek my eerste Asterix boek gekry het, maar dit was in Engels en ek het nog gesukkel op daai tydperk om Engels te verstaan, so my pa het dit vir my gelees en snaakse stemme gemaak wat by elke individuele karakter pas en dan vir my die prentjies gewys. Binnekort kon ek al self Engels redelik vlot lees, maar soms as ek nie verstaan wat hulle gesê het nie, dan sou ek net gelag het vir die snaakse prentjies. Die boekwinkel het nie altyd die nuutste Asterix and Obelix boeke gehad nie, maar toe hoor my ma dat die plaaslike biblioteek van dié boeke het. Ons was altyd toegelaat om op naweke drie boeke uit te neem, my broer het altyd Goosebumps verkies, my sussie meer prenteboeke en stories, en ek het natuurlik altyd Asterix and Obelix boeke gevat en oor en oor gelees. Soms het ek my ma gekul om die boeke langer uit te neem want ek het my boeke ‘verloor’” (Jonty Fouché)

“Op hoërskool het ek die voorgeskrewe boeke in die middae na skool verder gelees omdat ek nie kon wag om te sien wat gaan verder gebeur nie. As my boetie-hulle ander boeke as ons gelees het, het ek sommer hulle boeke ook gelees. Ek het boeke soos Liefde laat rice krispies anders proe en Ouens is nie pizzas nie, gelees. Ek het al hoe vinniger begin lees en baie keer my skoolwerk afgeskeep om die boeke klaar te lees.” (Carina Bester)

“My gunsteling tyd en plek om te lees was in ons voertuig oppad skool toe en terug. Aangesien ons op 'n plaas gebly het was dit gelukkig 'n hele ent dorp toe en terug. Ek is nog altyd lief daarvoor om op die strand te lees as ons met vakansie see toe gaan. By die huis lees ek egter vir ure lank sommer in die bad of in my bed.” (Alicia Ehlers)

“My ma vertel altyd die staaltjie van my as 'n jong dogtertjie as besonder besig, of soos sy dit stel ‘blerrie stout’ beskryf kon word. My ma, raadop met haar stoute kind gaan maak toe 'n draai by die pediater, in my oë'n baie wyse man, se raad aan my ma was eenvoudig: 'Mevrou, sorg dat hierdie kind se stapel boeke altyd hoër as sy self is.' Nou dat ek ouer is wens ek dikwels dat ek vir daardie pediater kan dankie sê, sy raad het my lewe vir altyd, in die besmoontlike manier, verander. My ouers het ook my liefde vir lees ondersteun, en dis grootliks aan hulle te danke dat ek  genoeg boeke besit om my eie biblioteek te begin!” (Petronell Voster)
 

Tweedejaarstudente in Skryfkuns, Noordwes-Universiteit. Julie 2012.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013