2013-01


grootmense

dinkskrum

Die reuk van muf

Chantél Robijn
chantelrobijn  

Dit was die reuk van muf.

Dit was die reuk van verouderde papier, matte en parfuum. Dit was die reuk van Potchefstroom se Biblioteek.

Is dit dan nie waar dat wanneer ek van myself getuig dit 'n leuen is nie? Veral wanneer 'n mens terug dink, en jy skielik besef dat my geheue herinneringe met swart gate vervang het. Ek skryf dus die opstel tot die beste van my geheue, wat my al dikwels in die steek gelaat het.

Ek kan lieg en sê dat ek toe ek nog 'n snuiter was, het ek gelees asof ek nie maatjies gehad het nie. Terwyl die waarheid is dat ek het wel baie vriende gehad, ek het ook sport gedoen en ek hét buite gespeel. Ek was nie skaam of teruggetrokke met 'n selfbeeldkompleks nie, maar ek was wel 'n semi-hiperaktiewe kind wat net wou swieties eet en speel, speel, speel.

My leeservaring het begin toe ek omtrent 4 jaar oud was. My ouer broer, Nicky, was my mentor, my held en my beste vriend, maar hy moes skool toe gaan. Ek insinueer glad nie dat hy is dom of so iets nie, maar was boeke betref, lê sy sterk punt daar nie. My ma het met 'n gesukkel vir hom en my niggie, wat toe by ons gebly het, leer lees. Op daardie manier het ek ook stadig maar seker leer lees. So wanneer Nicky en Cathy by die skool was, het ek onder my ma se lessenaar gesit en lees, en prentjies kyk.

Alhoewel ek al op dié rype ouderdom lief was vir lees, was ek liewer vir die stories self. So in die aande na Bybelstudie, met prentjies en al, was my gunsteling dat my ma of my pa vir my stories moet vertel of voorlees. Soms wanneer hulle nie die storie klaar gelees het nie, sou ek wakker lê en tob oor wat aan die einde gaan gebeur.

My ma het my van kleins af orals saamgevat, maar die beste plek waar sy my ooit heen kon vat, was die Potchefstroom Biblioteek. Ek weet nie of dit die unieke reuk van ou boeke was of die sagte banke nie, maar dit het gou een van my gunsteling plekke in Potchefstroom geword. Ek het my eie kaartjie gekry en ek kon toe twee boeke uitneem. Ek kon natuurlik meer uitneem, maar my ma was bang ek verloor die boeke.

Ek sal jok as ek sê dat ek elke boek by naam kan onthou, wie kan tog? Nietemin; wat ek wel kan onthou, is die nagmerries wat ek gekry het as gevolg van R.L. Stine se Grillers. Dit is die enigste reeks van my laerskooldae wat 'n noemenswaardige impak op my lewe gemaak het. Ek het verdrink in spanning en indien ek dit nie in die dag klaar gelees het nie, sou ek deurnag en dit klaar lees.

Dit was omtrent in graad 7 toe my ma eendag 'n boek van leserskring ontvang, sy het Die Laksman van Leon van Nierop eenkant toe geskuif want soos alle werkende ma's het sy eenvoudig net nie tyd gehad nie. Ek het die boek begin lees en alhoewel ek bewus is dat Van Nierop die boek nie juis vir kinders geskryf het nie, was ek betower daardeur. Wanneer ek terug dink aan die boek is die plot nog vars, ek kan nog die karakters onthou, en ook my uiterse verbasing met beide die ontknoping asook die seks-scene.

Op hoërskool begin 'n kind mos nou 'n tiener word, en ek onthou een naweek toe ek Dis ek Anna gelees het, ek was salig onbewus van die monsters in die wêreld maar ek onthou nog hoe verskriklik die gevoel was wat ek gekry het toe ek lees dat dit gebaseer is op 'n ware verhaal. Ek onthou ook dat toe ons in graad 9 Vlerkdans gelees het, het ek die storie by die huis klaar gelees sodat ek nie voor die hele klas moet huil nie. In matriek dink ek was ons net sewe kinders in my klas wat regtig Manaka gelees het.

Wanneer ek lus was vir vinnig lees het ek Romanza of Mills&Boon gelees. Ek het dit wel in die geheim gelees, sodat niemand mag weet nie. Ek het altyd die aksie en spannings-boeke verkies. Ek sal nooit die gevoel, wat ek gekry het na ʼn goeie boekie nie, die gevoel van ongelooflike verligting, vreugde en tevredenheid vergeet nie. Dit is uiters bedwelmend en verslawend.

In graad 11 was ons op 'n wildsplaas met vakansie. Ek het Danielle Steel se Johnny Angel gelees. Dit was die eerste keer dat Engelse leesstof my so diep aangeraak het. Ek het deurnag by 'n gasvuur gesit om dit klaar te lees.
Om tot die punt te kom; alhoewel ek nie elke boek by naam kan onthou nie, ook nie elke skrywer nie, kan ek wel getuig dat ek myself nog altyd intens in die boeke ingeleef het. Dit is dus duidelik dat boeke wel 'n beduidende impak op my en my lewe gehad het en steeds het.

Wanneer ek boek lees, gaan daar 'n deurskynende muur om my op, en ek raak salig onbewus van alles om my.

Sonder dat dit my ma se bedoeling was, het sy vir my 'n ontsnappingsplek gegee. Wanneer ek en Nicky baklei het, het ek hom net geïgnoreer en gelees. Of wanneer ek raas gekry het, het ek onder my bed gaan wegkruip en lees. Wanneer ek siek was, of gemaak het of ek siek is, het enige iets en alles gelees. My ma het my eenkeer vertel dat ek was nog klein toe kry sy my in my ouma se sitkamer besig was om 'n fisika boek te lees. Dit was langs my kinderstorie bundel en ek moet erker dat ek meer prentjies gekyk het as wat ek gelees het, maar nietemin.

Lees was vir my as kind nie 'n mode of 'n fase nie. Dit het as beitel gedien vir die mens wat ek is. Om te lees, en om daarvan te hou was die eerste egte keuse wat ek in my lewe gemaak het. Ek was nie gevra om te lees nie, nog minder was ek gedwing. Van die min wat ek wel kan onthou van kindwees, was lees die enigste, konstante element in my lewe. Want ek speel nie meer buite nie, ek doen nie meer sport nie, en Nicky het nou 'n meisie wat hom besig hou. Ek kon my boeke afskeep of vergeet, maar elke keer wanneer ek dit optel het hulle my terug verwelkom in 'n nuwe wêreld met nuwe avonture.
Lees vir my is meer soos 'n vriend as net 'n blote stokperdjie.

 

Chantél Robijn. Tweedejaarstudent in Skryfkuns, Noordwes-Universiteit.
Julie 2012.

Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013