2004-11


grootmense

dinkskrum

Die klein meerminnetjie

Willie Burger

My kinders word groot met die Walt Disney-weergawe van Die klein meerminnetjie. Hulle ken die animasieflieks en die boekies wat op die animasieflieks gebaseer is. (En die meervoudsvorm is nie 'n fout nie, soos met alle Hollywood-suksesse, is daar ook 'n Die klein meerminnetjie 2.) Die eerste animasieprent en boekie is gebaseer op Hans Christian Andersen se bekende verhaal. Al die inkleurboeke en poppies en dogtertjieslaapklere met meerminprentjies op, en ander handelware waarmee geld gemaak kan word, spruit weer uit dié suksesvolle animasieprent.

Die meerminnetjie is die eerste keer in 1837 gepubliseer. Dit is eintlik, in sy oorspronklike vorm, 'n vreemde en ontstellende storie wat Andersen se loopbaan as kinderverhaalskrywer help vestig het. Afrikaanse lesers kan dit nou geniet in 'n pragtig versorgde uitgawe van enkele Andersen-verhale wat pas by Human & Rousseau verskyn het.

In die Disney-weergawe offer die meerminnetjie tydelik haar stem op om bene te kan hê. Die prins herken haar nie dadelik as sy redder nie en trou nie met haar nie, maar met die nare seeheks wat van gedaante verander het. Net voor die huwelik egter voltrek word, word die seeheks ontmasker. 'n Verwoede geveg ontstaan waarin die prins die seeheks verslaan en dan kan die dapper jong man met die beeldskone meermin (wat haar stem terugkry) trou en hulle kan vir altyd gelukkig saam wees.

My vyfjarige seun luister aandagtig toe ek die Andersen weergawe voorlees. Aan die einde wil hy nie van my skoot af opstaan nie. Ek het só op die teks gekonsentreer dat ek nie agtergekom het hoe die emosies by hom opgebou het nie. Hy kyk anderpad om sy trane weg te steek. Eers toe ek vra of hy hartseer is, loop die trane vrylik.

Nog nooit het die Disney-weergawe hierdie reaksie ontlok nie. Dit is geen wonder nie: Die meerminnetjie in die oorspronklike weergawe offer nie alleen haar stem op nie, maar die seeheks sê ook dat die transformasie van 'n stert tot bene baie pynlik gaan wees, ook dat die meerminnetjie met elke tree wat sy met haar mooi bene sal gee, sal voel asof sy op 'n skerp mes trap.

Hierna verdwyn die seeheks feitlik uit die verhaal. Sy word nie 'n bose figuur wat oorwin moet word nie. Die meerminnetjie word nie gedreig dat sy as slaaf vir die seeheks sal moet terugkeer nie, maar dat haar hart sal breek en dat sy in seeskuim sal verander as die prins nie met haar trou nie.

Die verhaal loop ook nie op 'n eenvoudige oorwinning van goed oor kwaad uit nie. Die prins raak verlief en trou met iemand anders. Trouens, wat presies goed is, is nie so duidelik nie. In Andersen se weergawe leef meerminne vir 300 jaar en gaan dan dood. Mense, daarinteen, het hoop op 'n ewige sielelewe. Die meerminnetjie betree as "'n gees van die lug" 'n ander dimensie omdat sy swaargekry en pyn verduur het en kry die kans om "'n onsterflike siel te verwerf".

My seuntjie se trane stort omdat sy nie die prins kry nie. Sy ontsteltenis is dat daar nie 'n oorwinning van maklik herkenbare goed oor eenduidige kwaad was nie.

Die Disney-weergawe ontstel nie. Die spanning spruit uit struikelblokke wat in die weg van die goeie beland, wat dit moeilik maak om die bose te oorwin. Dit is die bekende spanningslyn van menige Disney-verhaal. Dit laat almal goed voel.

Boonop is daar baie mense wat voel dit is beter om kinders nie bloot te stel aan verhale waarin goed en kwaad vertroebel raak nie. Kinders is immers nog klein, word geredeneer, en té ingewikkeld moet hulle wêreld nie gemaak word nie.

Die probleem met Disney se suikerskêr is dat die kinders aan sekere emosies, nuanses en kompleksiteit nie blootgestel word nie. Dit is vreemd dat kinders toegelaat word om die grootste klomp grafiese gewelddadigheid te aanskou, vol gevegte en ontploffings, solank die "goeie ouens" wen en die "slegtes" opgeblaas word. Derglike TV-stories mag kinders laat naels kou, maar nooit wek dit op dieselfde manier emosies met soveel nuanses nie.

Die tweede probleem met Disney-weergawes van klassieke sprokies en verhale, is dat dieselfde verhaalpatroon telkens gevolg word. As hierdie herhalende verhaalpatroon al is waaraan kinders blootgestel word, berei dit hulle nie voor om die lewe, waarin dinge juis nie altyd resepmatig verloop, te begryp nie. Dit kan naderhand maklik vir hulle voel dat hulle lewens 'n mislukking is omdat dit nie verloop volgens die enigste model wat hulle ken nie.

Dis beter om deur die trane te praat; om die verhaal weer en weer vir jou kinders te lees. Ek sal eerder dat my kinders op dié manier verskillende emosies ervaar en 'n wye verskeidenheid verhale leer ken, as wat hulle gespaar word van die ontstellende in verhale.

Artikel het oorspronklik verskyn in Beeld Plus, 23 Oktober 2004

Willie Burger is Professor in Letterkunde, Dept Afrikaans, RAU
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005