2005-05


grootmense

dinkskrum

Die moeder en die meermin - 'n ander weergawe van Andersen

Marita van der Vyver
Daar is 'n speletjie wat ek amper elke aand met my vyfjarige dogter speel, bloot omdat dit min of meer die enigste manier is om haar uit die bad te kry. Sy is kamtig 'n meermin en ek 'n visser wat haar per ongeluk vang. Terwyl ek die meermin uit die bad lig, sien ek sy lyk soos die dogtertjie wat ek altyd wou gehad het - of my verlore dogtertjie wat deur 'n bose heks in die see gegooi is of deur koning Poseidon betower is of wat ook al. Daar is verskeie weergawes, afhangend van hoe haastig ek is om te gaan eet.

Terwyl ek dan dramaties ween - en as ek dit nie met volle oorgawe doen nie, laat sy my aanhou tot ek dit regkry - swiep sy skielik die handdoek van haar onderlyf af om my te wys dat haar meerminstert verdwyn het. Sy het bene gekry, soos 'n regte dogtertjie, wat beteken ek hoef haar nie terug te gooi in die see (of die bad) nie. Dan omhels ons mekaar vol vreugde, en ek wys vir haar haar kamer, haar klere en haar speelgoed, en ek stel haar voor aan haar pa en haar broers.

Dan eers kan ons gaan eet.

Dis taamlik uitputtend om elke aand oortuigend te ween (vra maar vir enige verhoogaktrise), dus probeer ek gereeld 'n ander speletjie voorstel, maar my meermindogter weier om aan enige ander aas te byt. Dis alles Andersen se skuld. Hans Christian Andersen, skepper van die beroemdste meermin op aarde, die meisie met die visstert wat 'n soort nasionale simbool van Denemarke geword het. Andersen se treurige meerminnetjie is die ouma van Disney se vrolike Ariel en al die moderne meerminne wat moderne meisietjies se verbeelding so aangryp.

Aanvanklik kon ek nie my Mia se passie vir hierdie legendariese amfibiese kreatuur begryp nie. 'n Meermin is waarlik nog vis, nog vlees - in die letterlikste betekenis van die gesegde. Of anders gestel: vis én vlees tegelyk. 'n Meermin sal altyd na droë land smag - maar sy kan nie op droë land aan die lewe bly nie.

Ná ek lank hieroor getob het (ek kry genoeg tyd terwyl ek saans op die badkamervloer kamtig diep uit my hart moet snik), het ek besef 'n meermin is waarskynlik iets soos 'n vroulike teenpool vir Peter Pan. Aan die een kant het jy die seuntjie wat nie wil grootword nie, wat verkies om altyd na Neverland terug te vlieg eerder as om volwasse emosies in die 'regte wêreld' te ervaar: aan die ander kant die meisietjie met die visstert wat smag om die volwasse emosies van die 'regte wêreld' aan te durf, maar weet dat dit haar veel meer as die verlies van haar stert gaan kos.

As jy só daarna kyk, is dit geen wonder dat Mia en haar maats gefassineer is deur meerminne nie.

Net nog 'n bewys dat Hans Christian Andersen (1805-1875) 'n groot skrywer was, nie sommer net iemand wat kinderstories opgemaak het nie. Sy meerminnetjie het die universele trefkrag van 'n Rooikappie of 'n Sneeuwitjie; 'n eenvoudige karakter met wie enige kind intuïtief kan identifiseer, maar waaroor sielkundiges en filosowe en ander slim volwassenes ingewikkelde tesisse kan skryf. Andersen, wat brandarm in 'n agterbuurt van Odense grootgeword het, het ondanks sy beskeie agtergrond daarin geslaag om finansiële en literêre sukses in sy eie leeftyd te bereik. En tog is sy eintlike prestasie dat sy sprokies tot vandag toe die mensdom betower.

Die tweehonderdste gedenking van Andersen se geboorte word vanjaar met tentoonstellings en feeste wêreldwyd gevier. Hy sou hom verheug het hieroor. Blykbaar het hy so openlik na roem en erkenning gesmag, onder meer na koninklike en adellike eerbetuig, dat sy tydgenote soms met hom die spot gedryf het. Maar wat anders kan jy nou ook verwag van iemand wie se arm skoenmakerpa vas geglo het dat sy familie eintlik van adellike afkoms is?

Daar word beweer dat Andersen sy eie lewe in 'n feëverhaal verander het - veral in sy memoirs wat hy aanhoudend herskryf het - met al die oordrywings, weglatings en sommer net doodgewone leuens wat dit impliseer. Maar selfs die droogste 'amptelike feite' van sy lewe bevat reeds die elemente van 'n sprokie. Sy pa was 'n skoenmaker, sy ma 'n wasvrou wat as alkoholis in 'n liefdadigheidstehuis dood is, sy suster het vermoedelik 'n prostituut geword.

Hy moes op die ouderdom van 11 die skool verlaat en begin werk om die gesin te help onderhou. Eers as 17-jarige kon hy terugkeer na die skoolbanke (saam met 11-jarige klasmaats, stel jou voor die vernedering), danksy die geldelike hulp van 'n soort goeie fee - 'n invloedryke regeringsamptenaar wat geglo het dat die sukkelende lelike eendjie eendag 'n swaan sou word.

Buitendien, skrywers is berug daarvoor dat hulle nie altyd getrou met die werklikheid omgaan wanneer dit by die skryf van hulle eie lewensverhale kom nie. Skrywers se outobiografieë bevat soms meer fiksie as enige fiktiewe verhaal. Die Franse Marguerite Duras is 'n goeie voorbeeld van iemand wat lewenslank die feite van haar bestaan verdraai het - nie net in die stories wat sy geskryf het nie, maar ook in onderhoude en gesprekke - om haar eie legende te skep. En tog maak dit haar nie 'n swakker skrywer nie.

Dit behoort dus nie verbasend te wees dat 'n sprokieskrywer soos Andersen, met so 'n onwaarskynlike agtergrond soos syne, nie die versoeking kon weerstaan om sy eie lewe ook soos 'n sprokie te laat klink nie.

Nie die soort sprokie waar die prins en die prinses trou en vir altyd en altyd gelukkig saam lewe nie. Nee, sy sprokies is dikwels donkerder van toon - die prys wat die meerminnetjie moet betaal om op land te lewe, die vernedering van die keiser wat kaal voor sy onderdane paradeer, die arme vuurhoutjiemeisie wat honger en verkluim doodgaan - en eindig nie noodwendig met liefdesgeluk nie. Die lelike eendjie word inderdaad 'n swaan, maar daar val nie vir hom 'n pragtige swaneprinses uit die lug nie.

Vir Andersen was liefdesgeluk ook nie beskore nie. Soos 'n paar ander skrywers van werklik beroemde kinderverhale - dink maar aan Peter Pan se JM Barrie en Alice se Lewis Caroll - het hy buitengewone passies ontwikkel wat nooit seksuele vervulling gebring het nie. In Andersen se geval was die objekte van begeerte weliswaar nie minderjarig nie, maar hy het telkens versot geraak op mense, vroue én mans, wat vir hom so onbereikbaar gebly het soos die vuurhoutjiemeisie se droom van kos en hitte. Hy het nooit getrou nie, nooit eens 'n bevredigende intieme verhouding met enigiemand aangeknoop nie, en nooit kinders gekry nie.

En tog het hy vir kinders - en nie alleen vir kinders nie - 'n skatkis van onvergeetlike verhale agtergelaat. My eie gunsteling is Die keiser se nuwe klere, 'n tydlose storie met 'n revolusionêre ondertoon wat net so sterk tot volwassenes as kinders spreek, soos bewys deur onder meer Bartho Smit se meesterlike verhoogverwerking van die gegewens in Die keiser (1977). Slegs 'n dosyn van Andersen se meer as 150 gepubliseerde sprokies is gegrond op reeds bestaande volkverhale. Die res is almal uit sy eie verbeelding geput. En wat 'n verbeelding was dit nie.

'n Ambisieuse moeder het glo op 'n keer vir Albert Einstein gevra wat sy kan doen om haar kind se intellektuele vermoeëns te stimuleer. Lees vir hom sprokies, het die slim Einstein geantwoord. Ja, goed, sê die ma, en wat nog? Lees nóg sprokies, was Einstein se eenvoudige antwoord.

Ek wonder steeds of dit 'n apokriewe storie is - maar ek is meer as bereid om dit as die waarheid te sluk. Bloot omdat ek in my eie lewe, en dié van my kinders, die mag van sprokies ervaar het. Nee, ek weet nie of die sprokies wat ek my kinders soos moedersmelk voer, hulle enigsins slimmer maak nie, maar dis duidelik dat dit hulle meer verbeeldingryk maak. En vir 'n kind met 'n gevleuelde verbeelding is énigiets immers moontlik - soos die arm skoenmakerseun van Odense bewys het.

Daarom sal ek aanhou om elke aand daardie lastige meermin in die bad te vang, in elk geval tot my dogter eendag moeg word van die speletjie. Hopelik gebeur dit in die nabye toekoms, want my repertoire van dramatiese snikke is byna opgebruik.

Aan die ander kant, as my dogter 'n passie ontwikkel vir 'n ander karakter uit 'n Andersen-sprokie, sê nou maar die keiser sonder klere of die prinses wat die ertjie onder honderd matrasse gevoel het, kan my lewe selfs moeiliker word. Ons het nie genoeg matrasse in die huis om die ertjie-prinses se storie op te voer nie. En hoewel ek soms ietwat belaglik voel terwyl ek oortuigend op die badkamervloer probeer ween, sal dit ongetwyfeld tien keer erger wees om elke aand die rol van die kaalstert keiser te vertolk.

Marita van der Vyver, April 2005
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005