2011-01


grootmense

dinkskrum

Tove Jansson se fantasie-vallei: die gewilde Moemin is terug in Afrikaans!

Simone Hough

Weet julle wat? Die tyd is hier,
vir nader skuif vir 'n avontuur!
Wie laat ons kraai van pure plesier,
vir 'n storie van sy nuutste gier?
Dit is Moemin, die liewe lawwe Moemin . . . !

Hy's in sy Moehuisie, daar is hy!
'n Vriend soos min en 'n held daarby.
Dit is Moemin, die liewe lawwe Moemin.

Moemamma, moepappa, Moemy, Mymy,
Boeboe en Snifsnaf en Stinkie daarby!
Almal woon saam in die Moevallei
Saam met Moemin, die liewe lawwe Moemin.

Daar is heelwat mense wat hierdie aansteeklike kenwysie, soos gesing deur Danie Niehaus, sal onthou van die gewilde Moemin-animasiereeks wat in die 1990s op SABC en later ook op KykNet in Afrikaans uitgesaai is. Dié reeks van heerlike avontuurstories het die verhale vertel van die Moefamilie en hul vele interessante vriende wat in die toweragtige Moevallei woon en het meeste kinders in daardie jare ná skool vasgenael gehou voor die televisie. Die gewildheid van die hoofkarakter, Moemin, en sy familie en maats het gesorg dat hierdie karakters ook onder aanhangers in Suid-Afrika 'n soort kultusstatus verkry het - soveel so dat jy jongmense (nou al in hul vroeë twintigs) sal kry wat se oë blink as jy Moemin noem en sommer in 'n koor sal lostrek met: "Moemamma, Moepappa, Moemy, Mymy . . . !" Tog steek daar veel meer agter die bekorende karakters en die skepper van die Moeminwêreld as wat meeste mense besef.

Die Moemins is fiktiewe karakters geskep deur die Finse skrywer Tove Jansson en is internasionaal bekend as die 'Moomintrolls'. Wat presies hierdie karakters is, weet ons nie. Hulle is wit en rond en lyk nogal soos lieftallige, seekoei-agtige trolle met snaakse sterte en lang neuse. Maar moet tog nie vir Moemin vra of hy 'n seekoei is nie . . . o, nee! Volgens die Afrikaanse stories is hulle slegs 'Moe's', g'n seekoeie nie! En alhoewel hulle nie soos mense lyk nie, het hulle baie menslike kwaliteite. Hulle woon in die Moevallei, 'n vreemde en soms gevaarlike plek, wat tog altyd ook aangenaam en herkenbaar is. En selfs al beleef die bewoners van die vallei eienaardige dinge - ván groot vloede tót komete wat die aarde tref - leef hulle baie normale lewens, bekommer hulle oor dieselfde alledaagse dinge en wonder oor dieselfde fundamentele lewensvrae as enige gewone mens.

Tove Jansson is een van Finland se mees geliefde en bekende skrywers. In 1966 ontvang sy die Hans Christian Anderson-Prys vir haar bydrae tot kinderliteratuur. Sy is in 1914 in Helsinki gebore, en in 2001 oorlede. Haar pa was 'n Sweeds-sprekende Fin, 'n bekende beeldhouer, en haar ma 'n Sweedse illustreerder en grafiese ontwerper. In hierdie kreatiewe en boheemse huislike omstandighede het Jansson self as kunstenaar ontwikkel. Daar word vertel dat sy die eerste 'Moomintroll' geteken het as 'n spotprent van die filosoof Immanuel Kant, omdat sy die lelikste figuur wou teken waaraan sy kon dink - dit ná 'n argument met haar broer waar hy sy punt wou staaf met 'n aanhaling uit een van Kant se boeke. Daarna het sy die karakter gereeld in haar tekeninge gebruik, veral as 'n persoonlike kenteken toe sy sedert 1944 as illustreerder begin werk by Garm, 'n Finse tydskrif. Die eerste boek oor die 'Moomintrolls' begin sy in 1939 skryf, in reaksie op die depressiewe omstandighede van die Tweede Wêreldoorlog en die winteroorlog tussen Finland en die Sowjetunie. Die fantasiewêreld van die 'Moomin valley' het ontvlugting gebied, waarin sy haarself kon terugverbeel na 'n gelukkige, kommervrye kindertyd. Dié eerste boek, in Engels bekend as 'The Moomins and the Great Flood', word in Sweeds eers in 1945, aan die einde van die oorlog, gepubliseer. Tussen 1945 en 1970 verskyn daar nog agt boeke, asook enkele prenteboeke en word die verhale as strokiesprente in koerante gepubliseer. Teen die 1960s was die Moemins reeds wêreldbekend. Die boeke is al in 34 tale vertaal en daar is miljoene kopieë verkoop. Daar is ook enkele animasie TV-reekse vervaardig (in Europa en Japan), een waarvan die regte natuurlik in die vroeë 90s hier gekoop is vir 'n Afrikaanse oorklanking. Die 1990's staan ook bekend as die tydperk van die 'Moomin Boom' (of die muumibuumi in Fins), waartydens 'n grootskaalse bemarkingsveldtog geloods is en die Moemins tot 'n groot mate gekommersialiseer is. Vandag word die Moomintroll-handelsmerk gereken as Finland se grootste uitvoerproduk. Daar bestaan 'n ongelooflike verskeidenheid Moemin-produkte - enigiets van koffiebekers, horlosies, klere, grimering, poppies en selfs beddegoed! Daar is ook enkele animasiefilms reeds vrygestel - die nuutste het hierdie jaar verskyn en spog met 'n klankbaanliedjie deur Björk. In Naantali in Finland is daar selfs 'n Moemin-pretpark, sowel as 'n museum in Tampere.

Die meer onlangse gekommersialiseerde beeld van die 'Moomintrolls' staan in 'n effense kontras tot Jansson se oorspronklike karakters en die atmosfeer van die verhale in haar boeke. Háár fantasie-vallei kan eerder beskryf word as 'n soort melankoliese droomwêreld (wat soms ook 'n satire op die sogenaamde beskaafde wêreld is), vol interessante Samuel Beckett-agtige karakters - van intens private kluisenaartipes, obsessiewe intellektuele versamelaars, tot geheimsinnige wandelaars en zennerige ligtoringbewoners. Melankolie, ambivalensie, verlies en ontnugtering, hunkering en teleurstelling is sekerlik van Jansson se gunsteling-temas (Jackson, 2002), maar haar skryfwerk is ook slim humoristies en sy kon dit regkry om 'n universele wêreld te skep met wonderlike karakters en multi-dimensionele stories met 'n diepere betekenis wat tot beide kinders én volwassenes spreek. Juis dalk daarom dat dié klassieke verhale en karakters steeds so ongelooflik gewild en suksesvol is.

Afrikaanse aanhangers het die Moefamilie deur die TV-reeks leer ken as Moemamma, Moepappa en Moemin, 'n hegte gesinnetjie met 'n intense liefde en respek vir mekaar en eindelose verdraagsaamheid vir alles wat leef en beef. Moemamma met haar rooi-en-wit voorskoot en swart handsak het raad vir alles en kan die grootste bedreiging besweer met 'n koppie tee en ietsie te ete. Die praktiese Moepappa met sy swart pluiskeil, is ook skrywer en avonturier, wat met 'n ferm hand gedurig edel en goeie waardes by sy seun inboesem. Moemin, die hoofkarakter en natuurlik almal se held, is altyd op soek na pret en avontuur, is so goedgelowig as wat hy entoesiasties is en is byna altyd in 'n optimistiese, goeie bui.

Dan is daar ook Moemei, die karakter waarop Moemin heimlik verlief is, met haar goue kuif en enkelbandjie, effens verwaand oor haar eie skoonheid. Boeboe is Moemin se beste vriend. Hy dra 'n papperige groen hoed, rook graag pyp en speel op sy bekfluitjie, en woon in 'n tentjie langs die rivier waar hy gereeld visvang. Elke winter reis hy na die Suide op soek na avontuur, maar keer getrou elke lente terug na die Moevallei.

Die snipperige klein Mymy is meeste mense se gunsteling (en herinner op 'n vreemde manier aan Pippie Langkous!) - sy is altyd gereed met 'n skerpsinnige, nydige opmerking, en is aggressief en vreesloos al is sy skaars groter as 'n teekoppie. Snifsnaf is iets tussen 'n rot en 'n muis, is naïef-kinderagtig en altyd bang vir alles en die enigste karakter wat dol is oor geld en altyd op die uitkyk is vir 'n manier om vinnig ryk te word. Daar is ook Stinkie, die vuil bosbewonertjie wat graag kwaaddoen; Doktor Weet-als; die sampioenspokies; die yskoue Grokmonster; Tjoek-tjoek en die onsigbare muise . . . en nog 'n hele klomp ander karakters wat die verbeelding op soveel fantastiese maniere kan aangryp!

In 2010 vier die Moeminkarakters hul 65jarige bestaansjaar. Ter herdenking hiervan het Puffin Books 'n splinternuwe reeks boeke ontwerp, spesifiek gemik op jonger kinders van 3 tot 6 jaar. Hierdie boeke is ook nou in Afrikaans verkrygbaar, uitgegee deur Human&Rousseau Uitgewers. Dit is die eerste keer dat die Moemins in boekvorm in Afrikaans sal verskyn en al is jy nie reeds 'n jarelange Moemin-aanhanger nie, kan hierdie eenvoudige kleurvolle boeke dien as 'n perfekte eerste bekendstelling tot Moemin se toweragtige en opwindende wêreld. Daar is 'n lig-die-flappie boekie, 'n prenteboek en 'n prenteboek met plakkers wat Moemin en al die belangrikste karakters op prettige maniere voorstel. As jy dus nog nie vir Moemin en sy maats ontmoet het nie, gaan soek die boeke in jou naaste boekwinkel, want jy mis uit op 'n wonderlike avontuur!

Moemin se verjaardag, Moemin: lig-die-flappie wegkruipertjie en Moemin se somer en son prenteboek kan ook op www.kalahari.net bestel word.

Sluit gerus aan by NB-Uitgewers se Facebook-bladsy NB Jongklomp! waar jy meer inligting sal kry oor Human & Rousseau en Tafelberg Uitgewers se nuutste kinderboeke en kinderboekgeleenthede: http://www.facebook.com/pages/NB-Jongklomp/126988017319234

Kyk na videoskakels van Moemin:

Die temaliedjie van die destydse animasiereeks wat in Afrikaans uitgesaai is, met die bekende wysie wat aanhangers so graag saamsing. Die skakel is: http://www.youtube.com/watch?v=6iAdqTy4Rrg

‘n video van Puffin Books oor die ontstaan van die Moemin-verhale, die skrywer en die ontwikkeling van die handelsmerk oor die afgelope 65 jaar: http://www.youtube.com/watch?v=kay9vPBCZK4


BRONNE:

Jackson, Shelley. 2002. Moomin and Me. LA Weekly. http://www.laweekly.com/2002-05-09/art-books/moomin-and-me/

Räihä, Soile. 2005. Tove Jansson, The Moomin Business and Finnish Children. Finnish Institutions Research Paper, Department of Translation Studies, University of Tampere. http://www.uta.fi/FAST/CULT/sr-moom.html

Rix, Juliet. 2010. The Moomins - a family affair. The Guardian. Saturday 3 July 2010. http://.www.guardian.co.uk/lifeandstyle/2010/jul/03/moomins-tove-jansson-sophia/print

Shippert, Linda. The Unoffical Moomin Character Guide. http://research.wsulibs.wsu.edu:8080/dspace/retrieve/2412/license.txt

 

Simone Hough
Simone is ‘n redakteur by die kinderboek-afdeling van Human&Rousseau Uitgewers.

Januarie 2011

Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2011