2002-06


grootmense

dinkskrum

Op soek na 'n storie: Die skrywer, die geskiedenis en die historiese jeugboek

Franci Greyling

Op 14 Mei 1902 skryf die sewentienjarige Carel de Jager vanuit Diyatalawakamp in Indië aan sy dertienjarige broer Jiems, 'n gevangene op St. Helena. Hy vertel van briewe wat gestuur en ontvang is, deel nuus oor familie en vriende, bemoedig sy broer met teksverse en sluit die brief met 'n naskrif:

Ou Boer, als gij weer hoor dan is ik al achtien jaar en noch ongetrouwd (hardlines) niet waar? Ou Broer, dit is maar net een grappie om jou te laat moed hou.

En dié twee sinne in 'n vergeelde brief word 'n storie van jongmensverlange en die patos van oorlog.

Om 'n historiese jeugboek te skryf, is om te reis ... soveel verskillende wêrelde op soveel wyses te ontdek.

Dis 'n soektog

  • om inligting en agtergrond te kry
  • die ruimte, 'n plek te vind
  • karakters
  • en 'n storie

Waar vind mens die inligting?

Jy speur dit ná: In boeke oor die tydperk en bronne vanuit die betrokke tyd.

Jy blaai deur vergeelde dokumente, ou briewe en dagboekinskrywings. Volg kontoere op kaarte en tuur lank na foto's.

Jy gesels met mense. Lees name op gedenksuile en toegegroeide grafstene; kyk hoe ou hande 'n sweep vleg, en lig 'n mauser teen jou skouer.

Jy lees en leef die tydperk waaroor jy wil skryf. Want soveel as moontlik wil jy uitvind, soveel as moontlik kén.

Om 'n plek te kry waar die storie kan afspeel is 'n avontuur.

My soektogte het my al na die bosveld, na begraafplase - en selfs sover as Bermuda geneem.

Ek kan nou maar eenmaal nie die storie klaarskryf as ek nie die omgewing waar dit afspeel self ervaar het nie. Ek moet die son voel, die stof ruik, die wind deur die blare hoor, die lig op die water sien. Vir die Melrosehuis storie het ek ure deur die huis en park gedwaal; en op die stoep gesit om te ervaar hoe dit is - en hoe dit kon wees.

Waar kry mens 'n karakter?

Diegene wat al self geskryf het, weet dis nie net vir uitdink en gebruik nie.

Soms as ek my aanvanklike aantekeninge vergelyk met die karakter wat uiteindelik uit die verf gekom het, is daar weinig ooreenkomste.

Dirkie (Dirkie Drieka Frederika) se naam was aanvanklik Matilda en sy het drie sustertjies gehad. Later was sy Gertruida - en uiteindelik Dirkie, die enigste dogter tussen vier seuns!

Soms meld die hoofkarakter hom of haar self aan. Ander kere is dit nie so maklik nie, en moet mens eers 'n entjie met die storie vorder voordat die karakters méns word.

Dis dieselfde met 'n storie en gebeure. Soms is die invalshoek en moontlike storie vroeg reeds deel van die soek- en skryfproses. Maar meermale neem dit maande se soek en dink en skryf en oorskryf voordat 'n storie uitkristalliseer. Die skrywer moet immers uit 'n magdom moontlikhede kies. Uit die groot historiese momente selekteer én besluit watter klein alledaagse belewenisse en krisisse gebruik gaan word.

Maar die reis is nog lank nie verby wanneer mens die inligting, plek, storie en karakters het nie - nou is dit net 'n dieper reis:

In die karakter in - die reis van mens tot mens.

Dié besondere kind wat midde-in die gebeure is: Wie is sy? Hoe beleef sy die dinge om haar? Hoe voel dit as jou lieflingbroer sneuwel? Wat maak jy as 'n figuur uit die verlede onverwags 'n deur oopmaak?

En hoe sou hierdie kind die besondere ruimte ervaar het? Hoe lyk die tentkamp vir 'n 12-jarige? Die see vir 'n 16-jarige? Hoe ervaar hy, wat in die Vrystaatse vlaktes grootgeword het, gevangeneskap op 'n morggrootte eiland?

Dit is die uitdaging: om binne in dié kind, binne-in die gebeure te wees - om oor tyd en plek en ervaring en oudersgaping te reis - en dáár te wees. Om saam met die kind die geskiedenis te ervaar.

En dan is die uitdaging - om al hierdie dinge tot storie en tot boek te maak. 'n Storie wat vandag gelees en geniet kan word.

Kortliks oor die ontstaan van my Anglo-Boereoorlog boeke

Die oorlogstories wat ek as kind gelees het, het altyd seuns as hoofkarakters gehad. Dis hulle wat al die avonture beleef het - dit, terwyl die meisies op die plaas gebly het en as romantiese afleiding gedien het. Ek kan my nie herinner dat ek 'n storie gelees het wat in 'n konsentrasie- of krygsgevangenekamp afspeel nie. Helena in die tyd van die tente was waarskynlik 'n soort reaksie hierop. In die verhaal van die 12-jarige Helena word die gesin weggevoer en na Irene konsentrasiekamp.

Met die navorsing vir Helena het ek die eerste keer bewus geword van die groot aantal vrouens en kinders wat in die oorlogtyd in die veld rondgeswerf het. Dit is die agtergrond waarteen Dirkie Drieka Frederika afspeel.

Die Meisie van Melrosehuis is 'n eietydse storie. Ná 'n bomontploffing by die Melrosehuis en die verskyning van 'n geheimsinnige figuur, raak die 14-jarige Sonja bewus van die verlede en hoe dit mense geraak het.

Helena en Dirkie se stories het om 'n derde perspektief gevra: dié van 'n jong seun se ervaring in 'n krygsgevangenekamp. Op Johannes se eiland handel oor Johannes se ervaringe as gevangene in Groenpunt en op Bermuda. Ongelukkig kon geen uitgewer nog gevind word vir Johannes se storie nie.

Kriteria vir die historiese kinderboek

Helena, Dirkie, Sonja en Johannes se stories is geskryf sonder dat ek werklik bewus was van kriteria wat t.o.v. die historiese kinder- en jeugverhaal gestel word.

John Stephens (1992:205) identifiseer die volgende as algemene kriteria vir die historiese kinderboek:

  • Die onderdele (eksistente) van die vertelling moet histories juis en met gesag aangebied word.
  • Karakters moet geloofwaardig wees en leseridentifikasie aanmoedig.
  • Lesers moet deur die ervaring voel asof hul meer van 'n tyd en plek geleer het.
  • Die teks moet toon dat menslike gevoelens en gedrag deur die eeue heen konstant gebly het.

Op die oog af lyk dit na algemeen aanvaarde kriteria - en verwagtinge waaraan 'n skrywer graag sal wil voldoen. - Maar só eenvoudig is dit ook nie:

Stephens (1992:205) is van mening dat 'n werk wat volgens hierdie kriteria gelees word, 'n kragtige ideologiese werktuig is. Volgens hom is die historiese kinderboek nie 'n geisoleerde werk nie, maar die produk van besliste/vaste ideologiese bedoelinge en wat binne 'n spesifieke en komplekse kulturele agtergrond geskryf en gelees word.

"The historical novel in children's literature is not a genre which, in some abstracting proccupation with the past, consitutes a closed system of signification, re-presenting a pre-existing and essential reality, but rather is the discoursal product of firm ideological intentions, written and read in a specific, complex cultural situation" (Stephens, 1992:205).

Dit kom bietjie kras oor vir die skrywer. Impliseer hierdie sienswyse dan nie dat die skrywer bloot 'n lakei is wat bepaalde ideologiese sieninge in sy werk wil oordra nie? Is Stephens reg? En is dié kriteria vir die historiese kinderboek aanvaarbaar?

Ek wil graag 'n paar gedagtes hieroor wissel.

Wanneer mense anders na die wêreld rondom hulle kyk, lei dit daartoe dat daar ook nuut na die verlede/geskiedenis gekyk word - en ander stories daaroor vertel word. In 'n artikel oor die historiese jeugboek wys Anne Scott Macleod (2000) hoe dié veranderings neerslag vind in die historiese kinder- en jeugboek.

In die Amerikaanse opset het skrywers en uitgewers sensitief geword oor die uitbeelding van groepe wat in die verlede min aandag gekry het, soos vroue en dogters, minderheidsgroepe en gewone mense (teenoor historiese figure). Ook die tradisioneel chauvinistiese beskouing van die geskiedenis het verandering ondergaan. (Macleod, 2000).

Ten spyte van die positiewe aspekte van dié verandering, is daar volgens Macleod rede tot kommer. In die proses om stories te vertel wat by huidige sosiale en politieke voorkeure aansluit, word die historiese realiteit van 'n betrokke tydsfase misken. Dit kan tot wanpersepsies lei: bv. waar vroue- en meisiekarakters toegelaat word om vrylik keuses te maak, terwyl dit nie die geval was nie. Hiervoor word sosiale norme opsy geskuif en geimpliseer dat, wat in werklikheid 'n groot struikelblok sou wees, maklik oorkom is. 'n Vals beeld van die sosiale omstandighede en die geskiedenis word so geskep.

Wat hier ter sprake is, is die botsing tussen heersende (eietydse) sosiale norme/verwagtinge (ideologie) en historiese juistheid. Die meeste skrywers van historiese jeugboeke het waarskynlik al hiermee te doen gekry: Jy spandeer ure en dae om inligting te versamel en seker te maak van detailbesonderhede - net om terselfdertyd 'n historiese werklikheid waaroor daar geen twyfel is nie, te verswyg of te verander. 'n Eenvoudige voorbeeld is die verwysings na rasse en gebruik van aanspreekvorme.

Die eerste kriterium, Die onderdele (eksistente) van die vertelling moet histories juis en met gesag aangebied word - kom dus in die gedrang wanneer historiese feitlikhede en ideologiese verwagtinge nie strook nie.

Die tweede kriterium lui: Karakters moet geloofwaardig wees en leseridentifikasie aanmoedig. 'n Paar gedagtes hieroor.

Stephens (1992) maak 'n baie interessante waarneming, naamlik: dat behoefte van 'n verhaal aan struktuur en sluiting tot gevolg het dat die makroskaal historiese gebeure vervang word deur mikrostories oor persoonlike verhoudinge. Eenvoudiger gestel: 'n verhaal moet vorm, en 'n begin en 'n einde hê. Daarom is die fokus van die historiese verhaal gewoonlik op die menslike ervaringe en verhoudinge - en wat afspeel teen die agtergrond van die groot historiese gebeure. Dit is veral by die historiese kinder-/jeugboek ter sprake.

Die hoofkarakter van historiese jeugverhale is gewoonlik 'n jeugdige. Die gebeure word meestal dié karakter se perspektief gesien en beleef word (fokalisasie). Hierdie karakterkeuse en vertelwyse bring mee dat jong lesers makliker met die karakter identifiseer en die gebeure as't ware saam met/deur die oë van die jong karakter beleef. Maar hierdie vertelwyse bring beperkinge mee - beperkinge waarmee keurders en resensente nie altyd rekening hou nie.

'n Karakter wat binne-in 'n situasie is, (met bepaalde agtergrond/ omstandighede/ siening, ens) sien en beleef gebeure subjektief. Die karakter het nie die agternaperspektief van die historikus nie. Met 'n jong karakter geld bykomende beperkinge van ervaring, mensekennis, ens. 'n Karakter beleef dus dinge vanuit sy/haar verwysingsraamwerk - met die resultaat wat waarskynlik nie sosiaal/ polities korrek is nie.

'n Eenvoudige voorbeeld: Op Johannes se eiland begin waar Johannes, ná maande op kommando, oppad na 'n krygsgevangenekamp is. 'n Britse soldaat hou wag oor die burgers wat in die treintrok saamgebondel is. Een van die keurders het geoordeel dat Johannes sonder spesifieke rede wrewelrig teenoor die Engelse soldaat is. Wanneer die tydgees, historiese en politieke agtergrond, die ervaring van gevangenskap, en die perspektief van 'n jeugdige in ag geneem word, is die psigologies seker begryplik dat 'n jong seun in dié situasie wrewelrig teenoor die simbool van oorheersing kan wees. Die vertelwyse (personale fokalisator) bring ook mee dat die visie op die "ander" gekleurd is en dus wel eenogig is. Verder wou ek hiermee Johannes se gevoel van magteloosheid en frustrasie met die gevangeneskap-situasie konkreet voorstel.

Dieselfde keurder maak ook die volgende opmerking: "'n Mens merk wel op dat daar nie veel van 'n geskakeerdheid is omtrent "reg" (die Boere) en "verkeerd" (die Engelse) in hierdie verhaal is nie. In die huidige bestel meen ek dit is nogal nodig om die balans in te bring van Goed en Sleg aan albei kante, Reg en Verkeerd by alle mense."

Hierdie aanhalings wys duidelik dat keurders/lesers/resensente sekere verwagtinge het - verwagtinge waaraan die skrywer onmoontlik alles kan voldoen.

Soos aan die begin aangetoon, moet die skrywer keuses maak: die karakter, die plek, die tyd, die storie. Dit net eenvoudig nie moontlik (of wenslik) om alle aspekte van die oorlog, alle kante van die waarheid, in een storie te hê nie.

Die derde kriterium verwag: Lesers moet deur die ervaring voel asof hul meer van 'n tyd en plek geleer het.

Indien 'n karakter (en skrywer) met moderne oë na sy wêreld en omstandighede kyk - dan deel die leser nie die egte ervaring nie - en kan dus nie werklik meer van 'n tyd, plek en omstandighede leer nie. Wanneer historiese feitlikhede geïgnoreer of versag word ter wille van heersende sentiment en sensitiwiteit - kan dit meebring dat die leser die karakters se optrede, asook die latere historiese gebeure, nie begryp nie.

Enkele woorde oor die vierde kriterium: Die teks moet toon dat menslike gevoelens en gedrag deur die eeue heen konstant gebly het.

Hierdie kriterium is volgens Stephens (1992) strydig met die kulturele relativisme wat tans in die westerse wêreld domineer. Dié beskouing huldig onder andere die standpunt dat daar geen gemeenskaplike grond tussen mense van verskillende tye en plekke is nie en dat die kulturele aannames van een gemeenskap nie sonder meer op 'n ander toegepas kan word nie.

MacLeod (2000) sluit hierby aan wanneer sy sê: "But people of the past were not just us in odd clothing. They were people who saw the world differently; approached human relationships differently; people for whom night and day, heat and cold, seasons and work and play had meanings lost to an industrialized world."

Sy (MacLeod) gee toe dat die menslike natuur oor tyd moontlik dieselfde kan wees, maar dat die mens se ervaring nie dieselfde is nie. "Even if human nature is much the same over time, human experience, perhaps especially everyday experience, is not. To wash these differences out of historical fictions is not only a denial of historical truth, but a failure of imagination and understanding that is as important to the present as to the past."

En hieroor sal elke skrywer seker self moet besluit...

Dit lyk vir my, dat: As mens na al die verwagtinge kyk, teenstrydighede en al, dan moet die skrywer van die historiese jeugboek nie slegs 'n reisiger wees nie, maar ook 'n balanseerkunstenaar!

Op 13 Mei 1902 skryf Jiems se ma vir hom vanuit Betulie konsentrasiekamp:

Jiems, ik het een brief ontvang van jou pa en Carel, toe het det ook nog goet met helle gegaan. Mij kint u drie broerjes is in school. Verder verlang ik tog veel na my mense. Ag, mog de dag tog aanbreek dat ons tog elkander weer ontmoet al is het tog niet hier op aarde - dan namals waar nooit weer schyding sal plaasvent.

Twee weke later is die vrede geteken.


Voordrag gelewer op 29 Mei 2002 by 'n konferensie ter herdenking van die einde van die Anglo-Boereoorlog aangebied deur die Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur, Unisa. Die tema was: Eendag was daar 'n oorlog: Die Anglo-Boereoorlog in fiksie.



Verwysings:

MacLeod, A.S., 2002, Writing Backward: Modern Models in Historical Fiction. http://www.hbook.com/exhibit/article_macleod.html (Datum van gebruik 4 Junie 2000) From the January/February 1998 Horn Book Magazine

Stephens, J. 1992. Language and ideology in children's fiction. London: Longman.

Franci Greyling is sedert Julie 2002 verbonde aan die Noordwes-Universiteit
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005