2017-07


grootmense

dinkskrum

Die storie agter Poort

Nelia Engelbrecht

Poort BewakersspasiePoort Reisigers

Die Poort-reeks bestaan uit vier boeke: Bewakers, Reisigers, Helers en Krygers waarin fantasie en wetenskapsfiksie gekombineer word. Die skrywer van die reeks, Nelia Engelbrecht, vertel meer oor die boeke, die karakters en haar skryfproses.

Poort Helers spasiePoort Krygers

Waar kom die idee vandaan?

Ek het al heelwat fantasieverhale gelees waarin die karakters of in ’n wêreld leef wat die skrywer totaal nuut geskep het, soos JK Rowling se Hogwarts, of waar die karakters in die ‘gewone’ wêreld leef maar spesiale kragte het en kontak maak met ’n ‘ander wêreld’ of mense vanaf so ’n ‘ander wêreld’.
In die boeke is dit gewoonlik ’n Amerikaanse of Britse tiener wat die wonderwêreld van die magiese, die bonatuurlike en die fantasmagoriese betree het. Toe begin ek wonder. . .

Sê nou net dit is ’n gewone Suid-Afrikaanse tiener wat in ’n gewone Suid-Afrikaanse dorp bly en oor gewone dinge soos huiswerk en ouens bekommer, wat skielik met fantasie en buiteruimelike wesens te doen kry.

Sê nou net die Vampire Diaries se Mystic Falls of Buffy the vampire slayer se dorp, Sunnydale, was ’n dorp iewers op die Suid-Afrikaanse platteland. Byvoorbeeld ’n dorp met die naam Bospoort?

Sê nou net Bospoort was eintlik nie net ’n gewone dorp nie, maar ’n Poort na ’n ander galaksie? En sê nou net Kali was nie net ’n gewone tiener nie, maar een met spesiale Magte en Kragte – iets wat sy van haar ouers en voorouers geërf het?

En so is die storie agter die Poort gebore.

Karakters

Kali, die hoofkarakter, is aanvanklik maar ietwat van ’n tjankbalie wat nie baie beheer oor haar emosies het nie, maar deur die boek ontwikkel sy en besef sy dat sy verantwoordelikhede het waarvan sy nie kan ontsnap nie.

In die verdere boeke ontwikkel nie net haar Magte en Kragte nie, maar kom sy te staan voor al hoe groter uitdagings en ontdek sy haar eie innerlike krag en ook die krag van ware vriendskap.

Aan die begin van die boek is Kali nie mal oor die idee om uit die stad Bospoort toe te trek nie, maar daar is darem een trekpleister wat dit die moeite werd maak – die mooie Zak met sy sonlig-en-heuning-oë wat haar kleintydmaatjie was toe hulle vroeër jare vakansies by haar oupa in Bospoort gaan kuier het, en wat intussen baie sexy grootgeword het.

Deur Zak leer ken sy vir Nomsa, wie se voorouers by die Zimabwe ruïnes gewoon het, en vir Tara, die Ierse ousus van die McGonigal clan. Sy ontmoet ook vir Leonardo, die arrogante Italianer van wie sy aanvanklik niks hou nie. ’n Viervoet-karakter is die minlike Kristoffel, die vetse Corgi-brak in Bospoort, wat Kali se lieflingseuntjiehond is.

Die aanvanklike vriendekring word later in die reeks ook uitgebrei deur Adriana, Leonardo se niggie, en die aantreklike tweeling, Caleb en Jason Lightfoot. Later ontmoet hulle ook vir Seamus O’Flannagan en sy seun, Patrick in Ierland.

Verder is die tieners se ouers almal newekarakters in die boek, met Kali se pa en ma die belangrikste van hulle. En dan is daar ook van hulle uitgebreide familie en vriende in Italië en in Ierland.

Die antagoniste in die verhaal is Chanda Mundia en die Ander wat deur die Poort kom en die mense van Bospoort bedreig. En natuurlik Chantelize, die rooikop in Bospoort Hoër wat haar oog op Zak het.

Veral Nomsa en Leonardo verskaf ligter, komiese oomblikke in die boek en Zak en Kali sorg vir die romantiese oomblikke.

Kultuur

Ek het die groep vriende so gekies dat dit inpas by tieners se alledaagse leefwêreld waarin hulle met mense van verskillende taal- en kultuurgroepe te doen kry en vriendskapsbande smee wat sterker is as die kulturele verskille tussen hulle.

Navorsing

Vir die eerste boek in die reeks, het ek navorsing gedoen om die karakters se name so te kies dat feite en fantasie so min of meer saam dans.
Daar was regtig Chipunzas wat van die leiers van die historiese Zimbabwe-koninkryk was, en McGonigal is ’n regte Ierse van. Die Contarini’s – Leonardo se voorvaders – was regtig van die stigters of ‘prinse’ van die stad Venesië en Kali se voorouers, die Therons en die Du Plessis’s, het regtig met die Oosterlander in 1688 Kaap toe gekom. Kali is ook die Hindu-godin van oorlog en verwoesting – iets was sinspeel op haar rol as Bewaker en Kryger.

Ek moes ook redelik oplees oor skubaduik – handseine, buddy lines, en watter toerusting hulle gebruik en oor die eiland Poveglia, wat werklik bestaan en een van die spookagtigste plekke op aarde is. Ek het ook gelees oor die Ierse Druïdes en hulle wyshede en wreedhede, byvoorbeeld om mense te offer.
Die lekkerte van fantasie is dat jy soms saam met die waarheid kan wals, en ander kere jou verbeelding vrye teuels kan gee.

Perspektief

Ek skryf in die eerstepersoon en die ‘ek-verteller’ is Kali. Die storie vind dus plaas soos wat sy dit beleef – wat sy dink, sien, voel, ruik, proe en doen. Wat die ander karakters dink, weet ons dus nie, behalwe as hulle daaroor praat of as Kali dit uit hulle gesigsuitdrukkings, woorde of handeling aflei.
Ek verkies om in die eerstepersoon te skryf, omdat dit dan vir my makliker is om binne-in die Kali-karakter te klim – as’t ware Kali te word. Deur haar oë sien en hoor ek die ander karakters, en ervaar ek wat gebeur. Ek glo ook die leser vereenselwig hulle makliker met die hoofkarakter as die verhaal vanuit die ‘ek’ perspektief vertel word.

Mileu/ruimte en tyd

Die verhaal speel in Bospoort af, hoofsaaklik by Kali-hulle se huis, by die skool en in die Bewakers se Raadsaal. Dele van die verhaal speel ook by die rotspoel buite die dorp af. Ek het die naam Bospoort gekies om te pas by die idee dat daar ’n Poort buite die dorp is.

Ek as skrywer weet natuurlik presies hoe Kali-hulle se huis binne en buite lyk, waar die swembad is, waar die Raadsaal is. Om die waarheid te sê, moet ek meer weet van hoe die plekke lyk as wat ek dalk in die verhaal te kenne sal gee.

Ek het ook na foto’s van die eiland Poveglia gekyk, hoe die ‘oog’ van ’n storm lyk, en hoe kastele binne lyk.

Ruimte is ook die innerlike ruimte van karakters – die ontdekking dat hulle leefwêreld buite hulself en in hul binneste groter is as wat hulle aanvanklik besef het. Dit ervaar Kali en die Nuweling-Bewakers namate hulle innerlike en buitewêrelde al hoe groter word, hoe verder die reeks boeke vorder.

Die tyd waarin boek een afspeel, is ’n paar weke aan die begin van die jaar. Die uittreksel uit boek twee aan die einde dui aan dat dit Maart is – boek een speel dus hoofsaaklik in Januarie en Maart af. Daar is egter ook heelwat verwysings na die verlede – byvoorbeeld na die tyd toe Kali-hulle in die stad gewoon het en vakansies in Bospoort kom kuier het, en nog verder terug tot waar die tieners se voorouers eeue gelede Bewakers geword het.  

Die latere boeke in die reeks speel in die Aprilvakansie af.

Spanning

Spanning word geskep deur die gebeure – byvoorbeeld die vreemde dinge wat Kali ervaar wat sy nie kan verduidelik nie – wat eintlik die proses is waardeur sy uiteindelik ’n Bewaker met bepaalde Kragte en Magte word. Die vroue wat verdwyn verhoog ook die spanning, asook die konflik tussen Kali en Chantelize, en Kali en Leonardo. Later in die boek begin daar ook liefdesdriehoeke ontwikkel, wat ook tot die spanning bydra.

Seker die grootste struikelblok vir Kali – en dus ook spanningsfaktor – is dat al haar vriende, behalwe haar geliefde Zak, Bewakers is. Zak word dus uitgesluit en dit veroorsaak dat sy telkens vir hom moet jok, wat die spanning verder verhoog.

Dan, in boek 3, is daar ’n nuwe, onverwagse wending in die verhaal – Zak is moontlik ook een van die Ander, en sy ouers is beslis spioene vir die Ander. Kali word ook al hoe meer gedwing om ’n keuse tussen Zak en Leonardo te maak.  

Dialoog

In die Poort-reeks is daar baie Engelse woorde – as sleng gebruik, maar ook as praattaal in die geval van Nomsa en veral Tara, wat in die Engelse klasse van die dubbelmediumskool is. Ja, sure, mens moet seker nie mens se taal mix nie – Kali se ma moan dikwels oor Kali se taalgebruik. Maar dit is genuine soos wat die karakters praat.

Elkeen praat ook op sy of haar eie manier. Hulle het hul eie sêgoed en uitdrukkings wat hulle gereeld gebruik, soos Nomsa se Oh. My. Word. en verwysings na haar destiny en Hollywood movies.

Skryf van ’n reeks

Omdat dit ’n reeks is, word sekere storielyne se drade nie heeltemal bymekaar gebring aan die einde van elke boek nie. Daar is wel afsluiting, maar ook die moontlikheid van verdere avonture en groei van karakters en verhoudings. Eers in boek vier is daar ʼn finale afsluiting en word alle los drade bymekaar gebring.
Wat ’n reeks vir my so lekker maak, is dat die skrywer nie finaal afskeid hoef te neem van die karakters aan die einde van boek een nie – daar is steeds die vooruitsig om ’n langer pad met jou geliefde karakters te stap en te kyk waarheen hulle jou lei.

Een van die uitdagings van ’n reeks is dat jy deurentyd jou karakters ‘in karakter’ moet laat optree. Dit vat nogal kophou om al jou karakters getrou aan hulself te hou. Kali moet in al die boeke soos Kali klink en optree. Sy kan groei en ontwikkel, ja, maar sy kan nie byvoorbeeld skielik totaal ander uitdrukkings begin gebruik en ander voor- en afkeure hê nie – behalwe weereens as dit met opset is om haar ontwikkeling as karakter aan te dui.

Sintuiglike beskrywings

Kali is van die begin af baie ingestel op reuke – die emosies wat sy aan dinge heg, is vir haar soos reuke – as iets goed gebeur, ruik sy dinge soos perskes, en as sy iets negatiefs beleef, ruik sy iets soos stink sokkies. (Later in die reeks praat Leonardo daaroor – die verskynsel om sintuie te ‘meng’ is sinestesie.)

Omdat hulle Bewakers is, ontwikkel veral Kali en Leonardo se sintuie ook besonder goed – veral hul gehoor.

Sintuiglike beskrywings help natuurlik om die leser in die verhaal in te trek – die leser ruik en voel en hoor saam met Kali en Leonardo.

Temas

Verskillende mense sal waarskynlik verskillende temas in die boek opmerk, maar ek dink die waarde en krag van vriendskap is waarskynlik die sterkste tema in die boek – iets wat in die leefwêreld van die tiener baie belangrik is.
Ontdekking speel ook ’n groot rol in die boek. Kali ontdek dinge oor haar ouers wat sy nie geweet het nie. Sy ontdek dinge van haarself wat sy nie geweet het nie – en dit sluit meer in as bloot haar nuwe Kragte en Magte. Sy ontdek ook dat daar ’n Kali ontluik wat sterker en dapperder is as arme banggat Kali. Deur die loop van die reeks gaan sy al hoe verder op hierdie ontdekkingstog en ontdek sy al hoe meer haar innerlike krag.

’n Subtema kan ook wees dat die lewe nie altyd ’n reguit pad is nie en onverwagse draaie met jou kan loop – dat daar dinge kan gebeur waarvan jy nie hou nie, maar wat jy na die beste van jou vermoë moet hanteer. Liefde wat die sement in verhoudinge is, is nog ’n subtema – die liefde tussen ouers en kinders, tussen vriende, tussen mens en dier en dan ook romantiese liefde tussen verliefdes.

Die skryfproses of: die movies in my kop

Ek kan niks skryf wat ek nie sien en hoor nie. Visualisering is vir my baie waardevol. Ek hoor en sien as’t ware die gebeure soos ’n movie in my kop afspeel.

Met die maak van die movie is ek die regisseur wat redelik in beheer is, maar soms verras ’n karakter my en kies sy of haar eie koers sonder dat ek dit so in die draaiboek van my verbeelding beplan het. Karakters ontwikkel ook soms geite wat ek nie kon voorsien nie, of daar duik karakters op wat ek beslis nie vooraf uitgedink het nie.

Wat die einde van die laaste boek betref: ek het tot laat in die reeks nog nie geweet hoe die reeks moet eindig nie. Ek het ook nie geweet wie Kali gaan kies nie – Leonardo of Zak? Toe, tydens ’n besoek aan ’n skool in die Kaap, vra ek vir die meisiesklas wat dink hulle moet in die laaste boek gebeur, en toe die een meisie antwoord, was dit vir my ’n bevestiging van wat ek reeds self begin dink het. Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar die storie het hierdie spesifieke einde aan my dikteer.

 

Nelia Engelbrecht. Junie 2017.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016