2014-12


grootmense

dinkskrum

Waar Siobhán van die sirkus vandaan kom

Jaco Fouché

siobhan

Jaco Fouché vertel waar Siobhán van die sirkus vandaan kom.

Nog al die jare verlang ek skool toe en deesdae verlang ek nog meer, deels omdat my vrou Afrikaans gee by die hoërskool waar ek gematrikuleer het. Haar klas is die een waarin ek in standerd ses rekeningkunde en Bybelkunde gedoen het en sit ek daar, kyk ek soos ek meer as dertig jaar terug het uit oor die skoolvelde en die woonbuurt en ek onthou fietsry, vriende, huiswerk, skoolsokkies.

Verder hoor ek by haar staaltjies oor wat die huidige leerders in die klas aanvang.Ek was ook al by vyf Matriekafskeide vandat ons getroud is en ‘n paar ander skoolfunksies, en elke keer is ek weer bewus van jongmense – hoe energiek en optimisties en luiddrugtig en astrant en aantreklik hulle in hulle jeugdigheid is. Dis ‘n besieling om ‘n seun verbaas te hoor sê: “Wat die hel het nou net gebeur?” En sy ouer suster te hoor lag. Daar is ‘n hele storie in die vlugtigste situasies.

Die eerste storie vir skoolleerders wat ek geskryf het, moes in 1996 ontstaan het. Iemand het my gekontak en vir ‘n verhaal van ek dink ‘n duisend woorde gevra. Ek het dit geskryf, gepos en ‘n tjek vir R200 ontvang, maar ook die nuus dat die voorgenome bundel nie meer gepubliseer word nie. Vandag weet ek lank nie meer met wie ek toe gehandel het nie en die verhaal is ek kwyt. Daarna is ‘n paar kortverhale van my in skolebundels geplaas.

Ek het in 2011 ‘n vollengte jeugverhaal geskryf wat nie geslaag was nie omdat ek dit met my gewone truuks benader het: somberheid, eensame karakter, losserige storielyn, humor wat ek partykeer paranoïes dink net ek snap. Later daardie jaar het ek so 20 000 woorde aan nog een geskryf, maar dit laat vaar omdat ek bang was dit loop dieselfde paadjie as die eerste een. Toe het ek die vorm begin opswot en besef ek skryf nie werklik uit die oogpunt van ‘n tiener nie, miskien omdat ek elke keer ‘n seun soos ek, dit wil sê ek dertig jaar terug, kies. En ek moes leer om tieners se behoeftes in gedagte te hou. Onder meer het die konsep van ‘n gelukkige einde hom aan my voorgedoen.

Begin 2013 het ek weer ‘n verhaal geskryf en dit vir die Sanlamwedstryd ingeskryf. Dit het ‘n skoolmeisie as verteller gehad en hoewel die verhaal nie ‘n finalis was nie, dink ek dat dit goed gekom het. Daar het ek ‘n skryfstem ontdek waarvan ek gehou het terwyl ek ook lekker saam met van die karakters gekuier het, wat gebaseer was op mense wat ek op skool geken het.

En ook in 2013 het ek Siobhán se verhaal geskryf, nie heeltemal in dieselfde stem nie, maar in ‘n ouer meisie se klanke. Die twee meisieverhale was in ‘n mate ‘n reaksie op ‘n afkeurbrief wat ek vir ‘n drama gekry het waarin die anonieme keurder ontevrede was daaroor dat ek die vroue in die stuk nie werklik lewe, vleis of energie gee nie. Toe dag ek: nou ja, ‘n mens moet jou steur aan jou kritici. En ek het ‘n vroulike hoofkarakter gebruik.

Die Siobhan-storie speel meestal by ‘n sirkusskool in Wellington af. In die winter van 1983 het ek ‘n skoolkamp buite Wellington bygewoon en die plek het ek in my storie gebruik. Dit was die Hawekwa-kampterrein aan die voet van die Hawekwapieke (dis vandag bekend as Bergkroon). Die kamp moes ons ‘n bietjie vasbyt en ondernemingsgees leer. Ek onthou ons het een nag buite geslaap. Daar was ‘n groot vuur, maar geen kos nie. Murmurering het opgeklink. Toe het van die meer ondernemende seuns teruggegaan na die kamp toe en by die kombuis pakke droë vrugte gesteel. Die mans in beheer van ons het gesê hulle is teleurgesteld oor ons oneerlikheid. Ek weet nie van oneerlikheid nie. Hulle wou ons leer vir onsself dink en ons het. Ons was honger.

Die Siobhán-storie het baie gou gekom. Die hoofstukke is elk so ‘n duisend woorde lank en daar is 25 van hulle. Ek sou een skryf, dan opstaan en gaan koffie maak, bad, skottelgoed was, bed opmaak of watookal en die volgende hoofstuk sou my te binne skiet. Dit was lekker skryfwerk, dit het gevloei, ek het geïnspireer gevoel. Ek het vyf hoofstukke op ‘n dag geskryf, behalwe die laaste hoofstuk en dus die slot waaraan ek meer tyd moes bestee.

Die boek gaan oor transformasie. ‘n Sewentienjarige dogter wil ‘n nar word, maar ook ‘n grootmens en haar eie mens. Sy is ontvanklik vir leiding en dit kry sy nie net in die sirkusskoolaktiwiteite nie, maar ook by van haar nuwe vriende op die kamp. Daar is die befoeterde Alet, die talentvolle Elaine en dan Greer, wat ‘n vriendin duisend vir Siobhán word. En tog is daar ‘n onrustigheid aan die verbintenis. Word Siobhán tot keuses gebring in die blootstelling aan Greer? Dit sal interessant wees om lesers se vertolkings te hoor.

Ek het twee van wat ‘n mens sekere klassieke narre moet noem, Pierrot en Columbine, in die storie ingewerk, maar daar is nog heelwat wat ‘n mens oor die tema sal kan skryf. Twee figure wat byvoorbeeld ook genoem kan word, is die gesofistikeerde harlekyn en die auguste-nar wat seker die algemeenste is met sy bont oorgroot klere en rooi neus en geverfde gesig. Siobhán sien narre aanvanklik juis so, as bont rooineuse. Ek het gehou van die Columbine-figuur as wispelturig sodat die manlike Pierrot-nar nie van haar attensies seker kan wees nie. Sy stel in die harlekyn belang wat meer status en sofistikasie as Pierrot besit. Dit het vir my gelyk na ‘n tema wat tieners wat besig is om verhoudings, die liefde en die sosiale hiërargie te ontdek, mag interesseer. Columbine is ook ‘n sterk vrouefiguur en rolmodel in ‘n storie wat immers oor ‘n meisie gaan.

 

Jaco Fouché. 2014.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015