2011-04


grootmense

dinkskrum

Suurlemoen (Jaco Jacobs) - 'n bespreking

Franci Greyling

1. Inleiding

Oor Suurlemoen! van Jaco Jacobs met illustrasies en uitleg deur Elsabe Milandri kan jong en oud saamgesels.

Jaco Jacobs is 'n veelsydige en besonder produktiewe skrywer. Sy boeke sluit 'n groot verskeidenheid vir verskillende ouderdomsgroepe in - en voldoen veral aan die behoefte aan lekkerleesboeke vir kinders:

Voorbeelde:

  • Prenteboeke (Die beste toebroodjie)
  • Rympies (Wurms in Tamatiesous, Die teddiebeerbus en ander rympies)
  • Eerste leesboekies (Wiskunde gee my maagpyn; My ouma is 'n rockster)
  • Ril-en grilboeke (Troetelgedrog)
  • Sportboeke (Gevaarlike lopies)
  • Perdestories (Stalmaats-reeks) - onder die skuilnaam, Lize Roux
  • Tienerliefdesverhale (Liefde laat jou rice krispies anders proe) - skuilnaam, Tania Brink
  • Tienerboeke (Suurlemoen!)
  • Feiteboeke (Hoeveel tande het 'n krokodil?)

Jaco is ook 'n vertaler - veral van ko-produksies by Lapa Uitgewers. (Jaco is Uitgewer: Kinder- en jeugboeke, LAPA Uitgewers.) Verder lewer hy gereeld bydraes in tydskrifte soos Taalgenoot en die nuwe kindertydskrif Hoezit!

Jaco het reeds verskeie toekennings ontvang vir sy werk, insluitende die Alba Bouwer-prys, die CP Hoogenhout-medalje, die Maskew Miller Longman-letterkundeprys vir jeugromans en verskeie ATKV-Kinderboektoekennings.

Suurlemoen! is onlangs deur die Suid-Afrikaanse been van IBBY (International Board on Books for Young People) aangewys as ereboek in die kategorie Afrikaans. (IBBY wys elke drie jaar in verskillende kategorieë boeke aan wat 'n spesiale bydrae tot die onlangse Suid-Afrikaanse literatuur vir kinders en jongmense gemaak het. Hierdie boeke word vanjaar (2008) uitgestal by IBBY se wêreldkongres in Kopenhagen.)

Suurlemoen! word goed ontvang by die teikengroep en het reeds sy tweede druk in minder as 'n jaar beleef. Die omslag van die twee boeke verskil. Die boek word ook voorgeskryf aan eerste en tweedetaallesers (gr 8-10).

2. Wanneer mens na Suurlemoen! se resensies kyk...

Wanneer mens die resensies lees wat oor Suurlemoen! verskyn het, is daar 'n paar aspekte wat gereeld voorkom, naamlik

Interessante aanbieding en uitleg.

"Die foto's, skribbel-gedeeltes en Post-It-plakkers, waarop Tiaan notas aan homself skryf, wat ook op die bladsye aangebring word, is nogal cool. Dit laat die blaaie lewendig lyk." (Ronnie Elliot, gr 9)

Toeganklike skryfstyl en aanbieding (kort hoofstukke, spanningslyn)

'n Hele paar lesers noem die feit dat hulle die boek nie kon neersit nie.

Die ligte benadering van die tema - teenoor heelwat tienerboeke wat oor ernstiger kwessies gaan.

'n Graad 9-leser skryf bv. "Jaco Jacobs het nie probeer om nog 'n "seks, skiet, sigarette en snuif"-boek vir die jeug te skryf nie. Dit werk vir my. Ek wou die boek nie neersit nie." (Ronnie Elliot, gr 9)

Humor

Die humor word op so 'n manier geïnkorporeer in die verhaal dat dit op die kritiese oomblikke gebeur wat nie net spanning verlig nie, maar ook die boek 'n ligter toon gee. Wat die humor nog meer genotvol maak is dat dit reg deur die hele boek loop en nie net losstaande insidente is nie. Mens verwag met hierdie karakters dat iets skreeusnaaks gaan gebeur, en dit gebeur weer en weer." (Marita Venter)

Lesersidentifisering met die karakters

Die skool- en orkesagtergrond is relevant vir die lesers
Die taalgebruik is natuurlike spreektaal
Die verhaal is realisties en relevant.

3. Is dit wat Jaco Jacobs wou bereik het met Suurlemoen!?

Ek het Jaco gepols oor die boek, onder andere oor die formaat daarvan. Sy antwoord gee mens 'n kykie in die kreatiewe proses van die skrywer en wat alles 'n rol gespeel het in die ontstaan en aanbieding van die boek.

Kreatiwiteit is dan ook 'n belangrike tema in die boek - en dit is dus ook heel gepas om by die skrywer se kreatiwiteit te begin.

In sy antwoord aan my, skryf hy onder andere:


"Oor die idee vir die formaat, ens.: Dit was 'n hele paar dinge wat gelyktydig bymekaargekom het. Ek broei al lank aan die idee om 'n tienerboek te skryf wat wegkom van die "see van teks" wat deesdae vir baie jong lesers 'n leesuitdaging is (en in die toekoms dalk ook vir sommige volwasse lesers 'n probleem gaan wees). Aan die een kant het dit te doen met die feit dat jongmense se "leeservaring" deesdae in 'n hoë mate uit internetblaaie en selfoonskerms bestaan. Aan die ander kant kla Afrikaans-onderwysers dat tweedetaalleerders regtig sukkel om die voorgeskrewe tienerboeke baas te raak.

"Terwyl ek met hierdie idee in my agterkop rondgeloop het, was ek redakteur van Volksblad se JIP en derhalwe ook organiseerder van die Vrystaatse uitdunronde van Rockspaaider. Ek het ook in hierdie tyd vir die eerste keer kennis gemaak met digitale fotografie en Photoshop. Nou ja, dis min of meer hoe als in plek geval het.

"Ek is baie mal oor musiek (metal, emo, grunge, alternative) en sou dolgraag 'n rockgroep wou hê - as ek enige musiektalent hoegenaamd gehad het! Op 'n dag het ek geloop en wonder wat ek my rock-groep sou noem ... ek het besluit om 'n naam te kies wat goeie visuele moontlikhede het, en die idee van 'n goudgeel suurlemoen voorop 'n tromstel het dadelik by my opgekom. By die huis het ek dadelik prentjies gaan teken, aantekeninge begin maak, 'n suurlemoen gaan koop en afgeneem ... en dis grotendeels waar die boek sy ontstaan gehad het. Die storie en hoofkarakters het ook deels hul ontstaan gehad in 'n manuskrip wat ek vroeër vir 'n kompetisie begin skryf het, en toe nie klaargemaak het nie omdat die tyd te min was.

"Ek besef dit klink vir baie mense erg resepmatig as ek dinge sê soos dat ek byvoorbeeld geweet het daar was 'n behoefte in die mark aan 'n sekere soort boek, maar dit nou maar eenmaal hoe my kreatiewe proses werk. Ek hou van uitdagings en van nuwe dinge aanpak in my skryfwerk.

"Terwyl die ontstaan daarvan dalk resepmatig mag klink, was die storie en karakters vir my ongelooflik lekker om mee te werk en die skryfproses was vir my besonder bevredigend. My uitgewer beweer ek het nog nooit 'n hoofkarakter geskep wat so naby aan myself is soos Tiaan in Suurlemoen! nie - ek sê nie sy's reg nie, maar ek het nog selde 'n karakter so goed verstaan! Veral die humor in die storie is die soort goed wat ek self snaaks vind." (Jaco Jacobs - Persoonlike korrespondensie met Franci Greyling.)

4. Bespreking

Ek gee veral aandag aan die visuele aanbieding van die teks en hoe dit bydra tot die betekenis.

Soos met enige ander medium, is daar konvensies in boeke. Van die konvensies het meer met die inhoud te doen (bv. hoe stories vertel word, karakters, plot, ensovoorts) terwyl ander met die vorm (en uitleg en formaat) te doen het (bv. verdeling in paragrawe, hoofstukke, titelblaaie, inhoudsopgawes, ensovoorts). Konvensies ontwikkel oor die verloop van tyd sodat dit later as vanselfsprekend aanvaar word. Dit is wanneer daar 'n boek soos Suurlemoen! verskyn wat bietjie met hierdie konvensies speel, dat mens weer daarvan bewus raak.

Op hierdie punt in die bespreking wil ek eers verwys na die Belgiese skrywer, Anne Provoost, se voorstelling van lesersbehoeftes. Anne se voorstelling of model het twee asse, naamlik inhoud en vorm. Elke as is 'n glyskaal met twee pole.

INHOUD: bekend - vervreemdend.
VORM: tradisioneel - eksperimenteel.

Die twee asse vorm vier kwadrante, naamlik:

  • Inhoud: bekend. Vorm: tradisioneel
  • Inhoud: vervreemdend Vorm: tradisioneel
  • Inhoud: bekend Vorm: eksperimenteel
  • Inhoud: vervreemdend Vorm: eksperimenteel

Anne reken (en ek stem met haar daarmee saam) dat dieselfde leser uitleenlopende leesbehoeftes kan hê. Soms het 'n leser behoefte aan boek waarvan die inhoud bekend en die vorm tradisioneel is (bv. 'n onspanningsverhaal wat jy op 'n vliegtuig wil lees), Ander kere wil die leser graag met nuwe inhoud kennis maak, maar verkies 'n tradisionele aanbieding daarvan. Of die leser kan bekende inhoud op 'n nuwe manier aangebied wil sien. Of dit kan wees dat die leser behoefte het aan beide nuwe/ vervreemdende inhoud en nuwe wyse van aanbieding.

Ek vind Anne se lesersbehoeftes ook 'n handige manier om na boeke self te kyk. Sommige boeke maak gebruik van bekende inhoud en vorm; ander eksperimenteer weer met beide vorm en inhoud. Volgens hierdie indeling kan ons Suurlemoen! beskou as 'n bekende inhoud (die storie is redelik tradisioneel en voorspelbaar), maar met ongewone en vars aanbieding.

Hierdie verdelings is natuurlik nie staties nie. 'n Leser kan met die eerste kennismaking met 'n bepaalde soort teks (bv. 'n literêre roman) dit as nuut en anders ervaar, maar deur meer blootstelling daaraan, soortgelyke tekste as "bekend" ervaar. Soms verskyn daar 'n boek wat as vernuwend of eksperimenteel beskou word, maar wanneer ander skrywers dieselfde tegnieke gebruik, word dit "gewoon" - en langsamerhand selfs tradisioneel (bv. Sewe dae by die Silbersteins; Harry Potter). Lesers soek dan weer nuwe/ oorspronklike boeke. Dit sal natuurlik ook van die betrokke leser afhang of hy of sy 'n boek as vernuwend beskou.

Suurlemoen! is 'n toeganklike boek wat veral t.o.v. vorm/aanbieding eksperimenteer. Dit kan dus interessant wees om te kyk hoe die skrywer met die konvensies speel en die verhaal vir die leser tot stand bring.

Hier steun ek veral op Johanna Drucker se teorie oor gebruik van grafiese elemente (middele) in tekste. Grafiese middele is elemente van bladuitleg en komposisie wat die struktuur en aanbieding van narratiewe elemente bepaal.
Hierdie grafiese elemente kan opvallend wees, soos prente en foto's - of onopvallend soos bladsynommers, hoofstuktitels, kantspasies. Dit is selfs die spasies tussen paragrawe.

Grafiese elemente het twee funksies in 'n teks, naamlik navigasie en as narratief (verhalend). (Die gebruik daarvan is dus gedeelte betekenis tussen skrywer/boekontwerper en die leser.)

Navigasie is om vir die leser leiding te gee hoe om die teks te lees, in watter volgorde, wat as belangrik beskou moet word, ens. Voorbeelde hier is die hoofstukindelings, lettergrootte en bladsynommers. Dit kan dus beskou word as aanbieding/vorm.

Narratief (verhalend) is wanneer die grafiese elemente bydra tot die manier waarop die verhaal vertel en verstaan word. Dit kan dus beskou word as inhoud. In 'n prenteboek vind mens dikwels dat die illustrasies bykomende inligting gee wat nie in die woordteks self is nie. Hier vorm die woordteks en die illustrasies dus 'n nuwe of oorkoepelende betekenis/storie.

[Dit is belangrik om te noem dat die tegnologie nog altyd 'n rol gespeel het oor die aanbieding van 'n boek, en watter moontlikhede beskikbaar is om die verhaal te vertel....]

In Suurlemoen! het die grafiese elemente beide 'n navigerende en narratiewe funksie. Vorm en inhoud word meestal gekombineer.

'n Paar voorbeelde hiervan:

Die hoofstuktitels

Die hoofstuktitels gee gewoonlik 'n aanduiding van die inhoud van die hoofstuk, en rig dus die leser se aandag, bv. Mozart met lipstick en Orkesoefening.
Jaco wissel dit egter ook af met titels wat die leser attent maak op die vertelling self. 'n Baie slim gebruik is die terugflits wat aangedui word met: Pause. Rewind. Die hoofstuk wat hierop volg se titel is Play. Hierdie titel pas nie slegs by die musiektema van die boek nie, maar sal deur enige kind begryp word - en 'n moeilike literêre begrip word op 'n speelse en natuurlike manier toeganklik vir die leser.

Die feit dat die titels in handskrif op maskeerband geskryf is, dra tot betekenis by. My gunsteling is die woordspeling Senuweebrakke - selfs die letters is gevorm asof dit op die randjie van 'n senuwee-ineenstorting is. Die leser ontdek gou dat dit die hoofkarakter Tiaan is wat die aantekeninge maak. Mens kan jou goed voorstel dat 'n graad 10 seun plesier daarin het om die woord so te skryf - en dat sy humorsin hieruit blyk. Wanneer Tiaan sukkel om idees vir 'n liedjie te kry, bestaan die titel slegs uit 'n paar uitroeptekens. Die hoofstuk waarin hy sy gyselaarsdrama beplan, Psycho, is die maskeerbandtitel in repies geskeur.

Die keuse van hoofstuktitels en die manier waarop dit geskryf is, word karakteriserend van Tiaan. Die navigering word dus ook narratief. Aanbieding en inhoud versmelt.

Post-it plakkers, aantekeninge en krabbels

Die geel post-it plakkers (geel gedruk) is meestal 'n nota aan self. Dit word nie in die teks geïnkorporeer nie (behalwe wanneer Tiaan nie plakkers byderhand het nie, en 'n nota in sy gedagtes maak). Die leser moet dus hierdie notas self met die vertelling kombineer. Die grafiese element word dus deel van die narratief/van die storie. Dit gee 'n aanduiding wat Tiaan dink - en word ook karakteropenbarend.

In ander gevalle word die papiertjies gebruik om idees te kry. Later word die volledige liedjie in Tiaan se handskrif afgedruk. Alhoewel die proses beskryf word, is hierdie beplanning 'n konkretisering daarvan. Die leser kan eerstehands ervaar hoe Tiaan gesukkel het om idees te kry. Op hierdie wyse word Tiaan as karakter meer geloofwaardig.

Enige leser sal ook die krabbels verstaan - want watter kind (of volwassene) maak nie uit verveling of frustrasie letterlik "kant-aantekeninge" nie? Dit is opvallend dat daar nie in die teks na hierdie krabbels verwys word nie - wat die idee versterk dat die boek 'n persoonlike dagboek/plakboek is.

Gidsinskrywings en briefies

Die gidsinskrywings en briefies is ingebed in die teks. Tiaan sal bv. na die inskrywings verwys (p 34) waarna spesifieke inskrywings in die teks verskyn. In 'n "gewone" boek sou hierdie inskrywings soos ook die briefies van sy vriende (p 132) kursief gedruk gewees het. Deur die afdruk van die fisiese briefie word dit karakteriserend - dus nie slegs wat 'n karakters skryf nie, maar ook die karakter se skrif en selfs die soort papier wat gebruik word. Dit dra verder by tot die realiteitsgevoel. Die leser word ook verplig om die grafiese gedeelte self met die narratief te kombineer. Dit is dus duidelik dat dit 'n onlosmaaklike deel van die storie en die verstaan van die teks maak.

Foto's, plakkate en ontwerpe

Ons vind gou uit dat Tiaan 'n ywerige fotograaf is en (soos sy maats rekenaargeletterd is) en graag met sy rekenaar speel. Die leser vind dit dus nie vreemd om foto's van die karakters in die boek te sien nie. Hierdie foto's dra ook by tot die karakterisering van die karakters sodat daar weinig oor hulle voorkoms gesé hoef te word - die leser kan self sien hoe hulle lyk en optree.
Die CV's wat hulle vir die Rumoer-inskrywing moet verskaf, gee nog meer inligting oor die karakters en is 'n natuurlike en kreatiewe manier van karakterisering. Die leser moet/kan hierdie inligting self met die narratief kombineer. Waarskynlik sal die jong leser hier voel asof hy die karakters as vriende leer ken. Die gebruik om op hierdie manier inligting oor 'n persoon te verskaf, word baie deur tydskrifte gebruik. (Suurlemoen! Maak baie gebruik van konvensies waarmee die jong leser in ander media vertroud geraak het.)

Die afdrukke van plakkate en T-hemp-ontwerpe word deel van die teks - veral omdat daar verder daarop geskryf word, bv. waar Tiaan vir Zane 'n spel-les gee. Alhoewel dit nêrens genoem word nie, kan die leser die afleiding maak dat hierdie deel van Tiaan se dagboek/plakboek is. Dit is asof die dagboek/plakboek fisies tot stand gebring word. Die koerantknipsel versterk hierdie idee verder.

Hierdie effek kulmineer aan die einde van die boek waar die narratief slegs deur die grafiese elemente tot stand gebring word: naamlik die foto van die "band" met die byskrifte - en dan die foto van Tiaan en Zane op die laaste bladsy.
Die narratief en navigasie is versmelt.

5. Resultaat

Ek dink dat Jaco Jacobs, sy redakteur en die grafiese kunstenaar (Elsabe Milandri) daarin geslaag het om woordteks en grafiese elemente op 'n interessante en kreatiewe manier te kombineer. Waarskynlik is dit veral geslaagd omdat daar so 'n groot verskeidenheid grafiese middele is. Die leser word kort-kort met 'n nuwe grafiese element verras. Dit word egter op so 'n natuurlike manier as deel van die verhaallyn gebruik dat dit nie opval nie.

Soos ek aanvanklik genoem het, is die storielyn eenvoudig en bekend. Wanneer mens noukeuriger oplet, word daar egter 'n groot verskeidenheid teksvorme en literêre tegnieke gekombineer - en op 'n toeganklike manier vir die jong leser gegee. Die humor in die boek - woordhumor, situasiehumor, en ook humor in die grafiese elemente maak dit nog meer verteerbaar. (Veral uit die droë kommentaar van die verteller.)


Daar is natuurlik nog verdere besprekingsmoontlikhede vir die boek, byvoorbeeld:
" Humor
" Skoolverhale in 'n nuwe Suid-Afrika
" Die vergestalting van kreatiwiteit in Suurlemoen!
" Die leesbehoeftes en -vaardighede van jong lesers
" Die ontvangs van die boek deur die teikengroep

Hoeveel kan mens dus nie uit een oënskynlik eenvoudige jeugboek put nie?
En soos die graad nege resensent, Ronnie Elliot, sê "...ek sal net graag wil weet hoe die band klink ..."

(Voordrag gelewer op 10 November 2008 by Potchefstroom Leeskring.)

Lees ook die artikel "SF Greyling. 2009. Die konkretisering van die fiksionele węreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekste. Mousaion 27(2) spes 2009." In hierdie artikel gee ek meer aandag aan Elsabe Milandri se belangrike aandeel aan Suurlemoen! se sukses.

Verwysings


CAMILE, M. 2001. Sensations of the page: Imagining technologies and medieval illuminated manuscripts (In: Bornstein, G. &. T. Eds. The Iconic Page in Manuscript, Print, and Digital Culture. Michigan: The University of Michigan Press. pp. 22-53.).

CHAMBERS, A. 2001. Reading Talk. Woodchester: The Thimble Press.

DRUCKER, J. 2008. Graphic devices: narration and navigation. Narrative, 16(2):121-139, May.

JACOBS, J. 2007. Suurlemoen! Pretoria: Lapa.

JACOBS, JACO. 06 November 2008. Persoonlike korrespondensie met Franci Greyling.

JACOBS, JACO. 2009. Persoonlike onderhoud met Franci Greyling. Bloemfontein. 14 Julie 2009.

 

Franci Greyling is verbonde aan die Noordwes-Universiteit
(C) Kopiereg voorbehou
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2011