2014-09


grootmense

dinkskrum

Verna Vels

Liewe Heksie, Blommie Kabouter en Bennie Boekwurm se stemme is nou finaal stil – maar Verna Vels sal nog baie jare ‘n teenwoordigheid wees in huise waar ouers vir kinders met Liewe Heksie groot maak. Vels is Donderdagaand na ‘n lang siekbed in Johannesburg oorlede.

verna vels

Dit kan van min mense gesê word dat hulle vir meer as veertig jaar 'n vormende invloed gehad het op 'n taal se lesers. Verna Vels het sedert sy in 1961 vir Liewe Heksie en Blommie Kabouter geskep het, Afrikaanssprekende kinders deur haar radioprogramme, boeke en televisiewerk bekoor en die wonderlike wêreld van die verbeelding leer ontgin.

Dit is veral die Liewe Heksie-boeke, wat die eerste keer in 1965 met illustrasies deur Dorothy Hill verskyn het, wat gehelp het om baie kinders die genot van lees en boeke te laat ontdek.

Haar dood is 'n groot verlies - maar met die Liewe Heksie-boeke wat so onlangs as 2012 herdruk is, en ook op TV nuwe vriende gewen het, sal Vels se invloed en die warm menslikheid van haar skeppings nog baie jare lewend bly. Verna was as radiomens bekend as 'n nougesette, deeglike joernalis wat veral vir die vrou in daardie medium 'n bres geslaan het, maar dit is deur haar jeugprogramme wat haar persoonlikheid en die ruimheid van haar gees en humorsin gebloei het. 

Dit was vir NB-Uitgewers 'n voorreg om sedert 1965 haar werk te kon publiseer. Ons bring graag hulde aan een van die groot meesters op die gebied van die Afrikaanse kinderboek.

Verna Barbara Robertson Vels is op 13 Junie 1933 op Reitz in die Vrystaat gebore as die oudste kind van Vernon en Minnie Vels. Haar broer is elf jaar jonger as sy en sy glo dat haar klein boetie dalk die latere inspirasie agter haar kinderprogramme en ook Liewe Heksie was. Sy het as kind al “grootmensboeke” in Afrikaans en Engels gelees en was toe al gefassineer deur die radio.

Nadat sy aan Hoërskool Reitz gematrikuleer het, is sy na die Universiteit van Pretoria waar sy in 1954 haar BA-graad behaal met Afrikaans-Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis as hoofvakke. Ná universiteit wou sy as joernalis gaan werk, maar kon nêrens ’n pos kry nie. Sy het vir ’n stemtoets gegaan en is aangestel as programassistent-plateprogram-opsteller. Op 1 Desember 1954 begin sy werk by die SAUK in Durban en sy het van die begin af geweet : dit is waar sy hoort. En as aanbieder van kinderprogramme het sy as boorling van Reitz in die voetspore van ander Reitz-vroue soos Una Fischer, Monica Breed gevolg.

In Durban het Bessie Mentz, aanbieder van Siembamba, vir Verna gevra om ’n paar stories te skryf en is haar eerste kinderverhale gebore.

Vanaf 1963 tot 1968 is Verna in Johannesburg waar sy aanbieder van Vrouerubriek was. Sy was in beheer van die kunsprogramme wat haar in aanraking gebring het met bekende kunstenaars en sy was die eerste persoon wat ’n radio-onderhoud met Marlene Dietrich gevoer het.

In 1968 is Verna na Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum en dit het sy beskryf as een van die hoogtepunte in haar uitsaailoopbaan.

Terug in Suid-Afrika was sy verantwoordelik vir Jongspanateljee en kunsprogramme totdat sy in 1973 deur Morkel van Tonder aangestel is as organiseerder van die Afrikaanse Programdiens in Natal – die eerste vrou wat so ’n pos beklee het. In 1974 is Verna terug in Johannesburg en het begin help om voor te berei vir die koms van televisie na Suid-Afrika as organiseerder van Afrikaanse joernaalprogramme met inbegrip van kinder- en jeugprogramme. In Februarie 1983 is Verna aangestel as die Programdirekteur: TV1 (Afrikaans), die hoogste pos wat ’n vrou tot in daardie jare beklee het. In 1993 tree sy uit na ’n loopbaan van amper 39 jaar in die uitsaaidiens.

Sy was die skepper van die program Kraaines en was die stem van Bennie Boekwurm op Wielie Walie. Verna was baie trots op die kwaliteit van die kinder- en jeugprogramme wat hulle destyds aangebied het. Hulle het niks geweet nie en moes alles self skep.

Verna se skepping, Liewe Heksie, se bekende stemmetjie is reeds in 1961 die eerste maal oor die radio gehoor. Aanvanklik was sy nie die hoofkarakter nie, maar Blommie was en die eerste stories se titel was Blommie Kabouter en die heks wat vergeet het.

Verna was as kind baie bang vir Sneeuwitjie se heks en sy het toe sy groter was, gewonder oor so ’n dierbare, dommerige, sagte heksie en so is Heksie gebore. Richard Strauss se opera Der Rosenkavalier was die inspirasie vir Blommeland en die silwer roos.

Ná die radio is die eerste Liewe Heksie-boeke in 1965 gepubliseer en daarna was sy ook in omnibusse, langspeelplate en CD’s totdat sy in 1978 op televisie verskyn het. Om tred te hou met die tegnologiese era waarin ons lewe, is Liewe Heksie en die rekenaar in 1999 uitgegee met illustrasies deur Piet Grobler. Sy het ook op groot verhoë opgetree in dramas wat Verna spesiaal vir die verhoog geskryf het.

Toekennings vir Verna het nie agtergebly nie: Liewe Heksie het aan haar ’n literatuurprys van die Rapportryers en van die ATKV-Dames besorg. Kultuurtoekennings van Dames Aktueel en die FAK het gevolg en in 1994 het sy ’n Artes van die SAUK gekry, asook ’n oorkonde van die ATKV. Van haar alma mater, UP, ontvang sy in 2000 die Laureata-toekenning van Tuksalumni.  Die Tienie Holloway-medalje vir kleuterlektuur het in 2000 na Verna se kant toe gekom en in 2002 ook die CP Hoogenhout-toekenning vir kinderliteratuur van Unisa. In 2005 ontvang sy ’n Afrikoon-toekenning van die ATKV. In 2011 is Verna by die kykNET Fiëstas vereer vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns. By 2013 se Woordfees op Stellenbosch is haar oeuvre in oënskou geneem.

Musiek en reis was twee van Verna se groot liefdes en ’n groot passie van haar was om bekendes se graftes op te soek. Tydens Verna se laaste besoek aan Parys, haar hartstad, het sy Gertrude Stein se graf probeer opspoor en moes sy by ’n jong meisie rigting vra. “En sy vat die kaart en draai hom om! Toe het ek hom onderstebo gehad. Dis nou die soort goed wat Heksie sou doen!” vertel sy in 2011 aan Anim van Wyk in Beeld (11 Februarie 2011).

liewe heksie

verna vels

Verna Vels (foto Neil Rademan)

Erkenning: NB-Uitgewers en LitNet. Augustus 2014.
Terug na Dinkskrum

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015