Saam met Saartjie… My ervarings as jong leser

As kind was ek bevoorreg genoeg om ʼn boekrak vol kinder- en jeugboeke in my kamer te hȇ. Alhoewel ek eers op hoërskool vir my eie genot begin lees het, het my ma my van kleintyd af gemotiveer om die fantasiewȇreld te betree. Skoolvakansies by die see, was mý leestyd! Ek was nooit daardie waaghalsige kind wat nog voordat sy haar vlerkies aangehad het, gehardloop het vir die golwe nie… ek was ʼn dromer… skaam, teruggetrokke, en in my eie wȇreld. Gevolglik, was ʼn hartverskeurende liefdesroman onder my sonsambreel, my ondergang!

Vir spookstories was ek veels te lig in die broek, speurstories was veels te vervelig na my smaak, en fiksie was nog altyd te onrealisties. Maar namate ek ouer geword het, het my liefde vir tienerromanse, gegroei. As kind het my ouers ʼn groter invloed gehad op die tipe storieboeke en genres wat ek gelees het. My gunsteling kleuter- en slaaptydstorieboeke het gewissel tussen die werke van Martie Preller se ‘Babalela reeks’, Leon de Villiers se Maroelaboomstories, en Max Lucado se kindeboeke oor die geliefde ‘Pinkenolsie’ (Pinkenolsie en die Wonderlikste Geskenk, Ek het jou gemaak, Jy is myne, Die heel beste).

Tussen die ouderdom van 7 en 9 jaar, het ek die bogenoemde boeke self van tyd tot tyd gelees, sowel as meer ingewikkelde storieboeke van Leon de Villiers, Droomoog Diepgrawer, en die Engelse ‘Walt Disney’ kinderboekreeks (waarvan Lady and the Tramp, en The Little Mermaid my gunstelinge was). Tussen die ouderdom van 10 en 13 jaar, het Bettie Naudé se Saartjie-reeks my aan die lees gehou. Ek het Saartjie(#1), en Saartjie se vakansie(#2), oor en oor deurgelees. Sy was ʼn rabbedoe en ʼn waaghals. Dit wat ek in werklikheid nooit die moed gehad het om te doen nie, het Saartjie voor opgemaak in hierdie boeke.

Vanaf 13-jarige ouderdom het ek geniet om boeke soos, My hart is vol graffiti, deur Tania Brink, en Doodloopstrate van Louise van Niekerk, te lees. Op hoërskool het ek die meeste van Janie Oosthuysen se jeugromanse gehou, wat haar ‘Eerste liefde reeks insluit (Rugbyballe en bikini’s, Daar is ʼn ou in my aarbei-smoothie, My hart klop muffins, en Ouens is nes ekstra bagasie), asook van haar ander boeke, byvoorbeeld Soene op ʼn Suzuki. Tans is Sophia Kapp my gunsteling skrywer, met werke soos die van Die verhuising, Die tuiskoms, en Die ooreenkoms.

Juis omdat my ma my gemotiveer het om te lees as kind, het ek aan baie onvoorbereide leeskompetisies deelgeneem. Dit is hier waar ek meeste van my boeke gekry/gewen het. As jong leser het my ouers ook, minstens een keer ʼn jaar, ʼn punt daarvan gemaak om saam met my boekwinkel toe te gaan, sodat ek vir myself ʼn nuwe boek kan koop. Soos wat ek ouer geword het, kon (en wou) ek dit later self doen, of ek het sommer aanlyn die leesboeke op ʼn webtuiste bestel.

Soos wat ek terugdink aan die kinderboeke wat ek eens gelees het, erken/onthou ek genoeg daarvan om nostalgies te raak. As klein dogtertjie kon ek myself verbeel ek is ʼn meermin, met pragtige lang lokke, en ʼn selfs pragtiger stertvin. Met oulike pers maatjies soos die Babalela, het ek avonture in die woud aangepak. Saam met Saartjie was ek die heldin in elke storieboek, en in elke roman het ek iemand gehad om my te troos na nóg ʼn liefdesteleurstelling. Ek het altyd ʼn maatjie gehad, ek kon altyd met iemand identifiseer, ek was nooit alleen nie. Daarvoor, is ek baie dankbaar. 

Dit waarop ek my hande kon lê…

Ek het kleintyd enigiets gelees waarop my hande kon lê. Gunstelinge wat ek uit my laerskooldae onthou, sluit Marius se merkwaardige medisyne (Roald Dahl), Leandie en die wonderklimtol (Erna Moller) en CJ Langenhoven se spookstories in. Ek het vroeg ook Engels begin lees en dit het gehelp om hierdie Afrikaanse plaasseun wat in die Boland grootgeword het, vandag tweetalig te maak.

Kleuter-Ané se dagdroomwêreld

Ek hardloop na die derde boekrak in die middelste blok van die biblioteek. My hart spring amper uit my keel van geluk en my gloeiende wange hou die groot glimlag op my gesig vas. Daar staan hulle netjies gepak in die tweede laaste ry. Opgewonde om die sproetgesig dogtertjie met die bokstertjies na nog ’n week te sien, klap Trompie hande soos wat ek eerste aan sy blaaie raak. Saartjie knipoog vir my en vee ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. My maatjies van Maasdorp wag geduldig dat my hand hulle ’n drukkie sal gee. Ek plof op die grond neer en raak weg in die storiewêreld.

Dit was ek ’n dekade of wat terug: Elke Woensdag na gimnastiek het ek en my ma hand-aan-hand na die biblioteek net oorkant die saal gehuppel. Vir haastige karre wat by hierdie gebou verbygery het, was dit net nog ’n gebou in die stad. Maar vir my, skaam-introvert-boekwurm-Ané was die gebou ’n ingang na die sprokieswêreld van my kinderjare.

Wanneer my voete by daardie deur ingestap het, was ek nie meer die stil dogtertjie wat pouses alleen gesit het en net haar toebroodjies as geselskap gehad het nie. Ek was ’n feëprinses wat drake verslaan en koninkryke gered het. Ek was Saartjie Baumann se beste vriendin wat saam met haar Lynnekom se seuns met modder gegooi het en poetse op Wiskunde onnies gebak het. Ek was Trompie se boesimvriendin wat saam met hom en die Boksombende in riviere geswem en kleilat gespeel het. Ek was hoofmeisie van Maasdorp wat nie geskroom het om die beste skoolpartytjies te reël nie. Ek het pouses saam met Sunette en Shani toffies geëet en oor Reënboogrant se nuutste skindernuus gepraat. Ek was deel van Die Uile wat skurke beter as die polisie self gevang het.

My verbeelding was heeltemal te groot vir die wêreld waarin ek as kind moes leef, tot ek die towerkuns van leesboeke ontdek het. Ek het in ’n ander wêreld geleef wanneer ek gelees het. Dit was net ek en die karakters in my storieboeke. Ek het al wat ’n kinderboek is gelees en al wat ’n reeks is in die hande gekry. As ek al die boeke wat ek gelees het se titels moet neerskryf gaan ek oor ’n jaar nog steeds besig wees.

So baie soos wat ek gelees het, so baie gunsteling boeke het ek gehad. Een van my gunsteling boeke wat ek as kleuter gelees het en nog steeds tot vandag toe amper woord vir woord onthou, is “Speeltyd vir Nellie”. Die boek het die storie van ’n klein dogtertjie, Nellie, vertel en wat sy elke dag van die week doen. Ek het die boek oor en oor gelees en dit was steeds elke keer ’n asemrowende ervaring. Ek het “Speeltyd vir Nellie” oral gelees: Voor ek gaan slaap, wanneer ek bad, wanneer my ma my hare geblaas het, in die kar op pad skool toe en terwyl ek gewag het vir etenstyd. Nellie was my beste vriendin.

Toe ek ouer word, omtrent op ’n 9-jarige ouderdom, het ek reeksboeke ontdek. My heel eerste reeks wat ek gelees het was die Saartjie-reeks. Dit het ’n gevoel binne my aangewakker wat ek nie kan beskryf nie. Ek het weke uitgesien na my verjaarsdag, Kersfees en ander geleenthede om die volgende boek as geskenk te kry. Daarna het ek al wat ’n reeks is gelees – Trompie en die Boksombende, Meisies van Maasdorp, Reënboogrant maats en -tieners, Die Uile, ensovoorts, ensovoorts. Ek sou so te sê my lewe daaraan wy om die boeke in die hande te kry – By die biblioteek, my ouers smeek vir ’n geskenk, self spaar om die winkels leeg te koop, boeke leen by maats en onderwysers – Die lys gaan aan.

Ek is dankbaar dat ek as kind grootgeword het met storieboeke en nie speletjies op ’n elektroniese skerm nie. Storieboeke is deel van wie ek is. My liefde vir lees het gegroei deur die jare en groei nog steeds. Daar is net iets aan die reuk van boeke. Elke kind moet lees. Dit is die een plek waar towerkuns nog bestaan.

Storiewerf – nog altyd een van my gunsteling webwerwe

Storiewerf was nog altyd een van my gunsteling webwerwe. Ek het nogal baie geput uit die Skryfgeheime aan die begin van my skryfloopbaan. Ek onthou dat ons destyds slegs ’n Telkom “dail-up” internetverbinding gehad het, en die koste om die internet te gebruik was gelykstaande aan die lengte van van die telefoonoproep wat die verbinding bewerkstellig het. Dit was dus goedkoper om na sewe in die aand die internet te gebruik, nes dit goedkoper was om daai tyd van die dag te bel. Ek het al die Skryfgeheime-artikels een vir een oopgemaak en gestoor op my rekenaar (“make available off-line”), sodat ek rustig enige tyd van die dag of nag daarna kon terugverwys sonder om verdere telefoononkostes aan te gaan.☺

My jeugervaring van Storiewerf

Ek het in ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap grootgeword en aangesien daar nie veel is om te doen nie, het ek my gewend tot die dorpsbiblioteek waar ek reeds op laerskool al die beskikbare kinder- en jeugliteratuur verslind het. Met die koms van die internet het ek eendag heel toevallig op Storiewerf afgekom en die prikkelrympie (uit een van my geliefkoosde kinderboeke, naamlik Huppelkind deur W.O. Kühne) het my dadelik tuis laat voel in ‘n wêreld vol belofte. Dit was vir my ‘n aanvulling tot die klein dorpsbiblioteek (wat bloot nie meer aan my onversadigbare behoefte aan boeke kon voldoen nie) en ‘n uiters gebruikersvriendelike portaal tot die boekewêreld.

As ‘n jong aspirantdigter het Storiewerf aan my ‘n platform (versfabriek) gegee waar ek my woorde met ander kon deel en erkenning ontvang vir my digpogings. Die resensies en boekenuus het my verder blootgestel aan literêre kritiek en ek sou selfs sê dat dit bygedra het tot my vorming as akademikus wat tans besig is met ‘n PhD in Afrikaans en Nederlandse letterkunde. Baie dankie aan Franci Greyling wat soveel aandag en liefde in hierdie webwerf stort en mag Afrikaanse lesers nog lank die voorreg hê om uit hierdie bron van kennis te drink. Groete, Stefan van Zyl, 2015.

Jaco Jacobs was die eerste skrywer waarop ek verlief geraak het – my eerste held ook

Die stel boeke wat ek in my ‘n hand gehou het en op my kneë voor gesmeek het, was die Zackie Mostert reeks deur Jaco Jacobs. As kind het ek die reeks in die biblioteek agter ’n boekrak gaan sit en skelm lees. Ek was saam Zackie as sy suster hom irriteer en as mevrou Langehoven hom uitskel. Dan natuurlik as hy en Vincent moeilikheid maak – wat omtrent altyd was.

En toe my eerste keer in ’n boekwinkel. Dit het bo-op die rak gestaan. Dit was soos iets uit n film. Ek loop in – maar net nege op die stadium – die lig wat direk op dit skyn en hy soos ’n engel van die hemel gloei en roep “vat my”, “ koop my ”, en dis toe dat ek begin smeek.

Aande wat die dag te lank was en ek tot ruste kom in my bed was hierdie boeke my uitlaatklep. Dit was altyd ’n vredemaker in my hart en dit het altyd my maak lag.

Voor ek verhuis het Potchefstroom toe het ek my kinderdae uitgegooi en weggegee. En dis toe ek weer op my reeks van Zackie Mostert afkom, en natuurlik uit my maag weer gelag en alles weer saam Zackie beleef. Die boeke staan nou trots op my rak en wanneer die dag lank wag, gryp ek een nader.

En dalk eendag as ek ’n kleinding het, sal sy alles ook beleef.

‘n Expatriat onthou

Ek het nou so lekker gelees aan die insette van die lesers, en as ‘n expatriat het dit weer hope herinneringe teruggebring.

Lees was deel van ons kinderjare, en ma-hulle het dit sterk aangemoedig. As klein kinders, voor ons self die wonder van die geskrewe woord baasgeraak het het ons al was kinderboek was geken.

Pa het gesorg dat hy weekliks die tydskrifte huis toe gebring – die Huisgenoot en Sarie vir ma, die Vonk vir die ouer kinders, die dogters kry die Tina en ons kleintjies die Bollie. Met sewe kinders in die huis was dit nogal ‘n probleem om jou beurt af te wag, want die ouer kinders het eerste keuse gehad.  Dus moes jy geduldig wag totdat die ander klaar was, tensy jy jou kans waarneem terwyl hul elders is of besig is met watter takie ookal. Dit het gereeld op ‘n bakleiery uitgeloop oor wie nou eerste is en nog nie klaar is met die vorige uitgawe nie. Al die vorige uitgawes is gebere, en daaruit is die intligting vir take, kuns of watookal verkry.

Die vervolgverhale in die Tina kan ek na al die jare nie meer onthou nie, maar ek onthou wel die hoofkarakter in een van die verhale. ‘n Beeldskone donkerkop jong vrou met die naam van Martha Aucamp.  En om die een of ander rede onthou ek die karakter in ‘n wit rok met ‘n halternek, amper soortgelyk aan die van Marilyn Monroe in die bekende foto waar sy staan op die lug rooster met die warrelende romp om haar. En sy het pêrels om haar nek gedra. Ek wonder wie die skrywer van die reeks was?

Speel kinders nog papierpop, wonder ek. En ek dink nie aan die gekoopte papierpoppe van later jare nie –  mits dit nog bestaan inaggenome deesdae se kinderbeheptheid met tegnologie.

In ons kinderjare was papierpoppe altyd daar.  Ma was uiters begaafd en kon perfekte gesigte en figure teken, die haarstyle was gepas modieus en die figure altyd geklee in ‘n swembroek. Na ‘n bietjie gesmeek het sy dan ‘n nuwe geteken, ook net mits die vorige pop verweerd was. Die nuweling is dan op ‘n karton agtergrond geplak (met ‘n staandertjie) en noukeurig uitgeknip en dan is daar aan ‘n gepaste naam gedink vir die nuweling.

Dan het die lekker begin. Al ma se tydskrifte is deurgewerk op soek na die regte “materiaal” want het die nuweling het mos ‘n nuwe klerekas nodig gehad. Om so rok te ontwerp is die pop bo-op die “materiaal” geplaas en die buitelyne na gelang van die ontwerp rondom die figuur afgetrek, asook hakkies wat oor die skouers gevou word om die klere in plek te hou wanneer die regop staan. Natuurlik moes die kleur en “tekstuur” van die “materiaal” pas by die ontwerp en styl van die kledingstuk, en daarvoor is net die mooiste fotos in tydskrifte gebruik.

Aanddrag, dag tabbertjies, slaapklere, baadjies, serpe, handskoene en ‘n magdom bykomstighede is dan ontwerp en uitgeknip. Soms is modelle in die tydskrifte se uitrustings sorgvuldig aangepas en verstel sodat die die pop kan pas. Partytjies, funksies en redes is geskep vir die nuwe wardrobe sodat die pop tog nie weer in dieselfde klere as die vorige geleentheid verskyn nie. Baie maal het die pop nog ‘n gesin ook gehad wat geklee moes wees. Agterna is die pop en klere in ‘n ou sjokoladeboksie gebere waarna dit daagliks uitgehaal was om onder andere huis huis met hul te speel.

Ek en Lydia het ure en ure so verwyl. Ander speelgoed het ons natuurlik ook gehad, maar die kreatiwiteit wat gepaard gegaan het hiermee was onbeperk. Dit was nou nie juis seuntjie speelgoed nie, maar ek het dit verskriklik geniet en natuurlik nie my maats ooit daarvan vertel nie wetend dat dit ‘n gespottery van formaat sou afgee. Ma het my giere maar aanvaar vir wat dit is en flink nuwe gesigte en figure geteken soos die voriges verweerd of oudmodies geraak het. 

Dit was ure en ure se speelplesier!

Daar was so baie wat ek oor en oor gelees het

As kind het ek in die Noord Transvaal op ‘n plekkie met die naam van Alma groot geword. Die “dorpsbiblioteek” was ‘n kamer aan die kant van ons huis gewees. Ek het gevolglik enige tyd van die dag of nag vrylik toegang gehad tot die vier vaal kaste vol boeke. Een maal ‘n maand het die provinsiale boekebus al die pad van Nylstroom af gekom om boeke om te ruil. Dit was elke keer vir my ‘n hoogtepunt gewees, om met die trappie in die bus in te klim en al die nuwe boeke te ruik. Om ‘n lang gesprek met Mevrou Veldsman, die reisende bibliotekaresse, te voer, wat duidelik die selfde gevoel vir boeke as ek gehad het. En om as die bus weg is, iewers onder ‘n boom te gaan sit en lees en lees en lees.

In die laerskool was ek dol op Elsabe Steenberg se boeke. Later op universiteit het ek haar somtyds op die kampus gesien, maar was altyd te bang/skaam om ‘n gesprek te begin. Blou is ‘n Bokkie en Boom, bomer boomste sal altyd gunstelinge bly! Ek was ook gek oor Helena Lochner, Hester Heese en C.S. Badenhorst se boeke, onthou jy nog die bloeddorstige Assie? Danda op die oudeur het my aangegryp soos min ander boeke en ek wens Chris Barnard wil meer/weer vir die jeug skryf. Ag, daar was so baie wat ek oor en oor gelees het, Jeanetta, die Tessa- en Groenheuwelreekse, Fritz Deelman, die Buiter en natuurlik Die Uile. Keurboslaan en Maasdorp lees ek nou nog gereeld en verlustig my steeds aan die wonderlike Doktor Serfontein. O ja, en dan was daar die (seker nou, polities uiters onkorrekte) Offerland en Gelofteland.

As volwassene probeer ek hard om by te bly met dit wat met jeugboeke gebeur. Maar helaas, grootmens leesstof maak dit moeilik om elke nuwe Afrikaanse jeugroman wat verskyn, te lees. Ek het egter steeds my gunstelinge, Barrie Hough (veral My Kat word herfs), Janie Oosthuysen (Klara en die blafdemper), Phillip de Vos (Vincent van Gogga), George Weideman (Optog van die Aftjoppers), Franci Greyling (Die meisie van Melrosehuis) en De Waal Venter se verhaal, In die klein Woud, om maar net enkeles te noem. Op die oomblik spandeer ek elke vry sekonde aan Harry Potter. Oe, ek geniet die boeke iets aller verskrikliks!

Fritz Deelman red nog altyd lewens

Toe ek klein was het ek Fritz Deelman en die Uile geniet. Mettertyd het my belangstelling geskuif na Engelse boeke toe. Ek dink dat ek waarskynlik net nie die regte boek in die hande kon kry nie. Toe al vier van Melkbosstrand Biblioteek se Deelman boeke twee keer deurgelees is, het ek noodwendig ‘n Engelse boek opgetel. The Hardy Boys, Willard Price en vele ander Engelse boeke het my verstand gretig opgeslurp.Stadig het ek myself begin identifiseer met die Engelse wêreld. Afrikaans was vir die NG Kerk en Universiteitsfeministe.

Nou sit ek hier in Londen. ‘n Jaar gelede het ek in Kanada gewerk. My vrou is Kanadees. Ek het sommer uit verveling die naam Fritz Deelman op die internet begin soek. En verveling verander toe in ‘n bietjie opwinding, toe ek sien dat Human & Rousseau besig is om die hele reeks weer her uit te gee. Nou besit ek al die boeke.

Dis nie al nie. Ek het ‘n ou digbundel wat ek bestudeer (Digters en Digkuns – P.J. Nienaber, 1963). Ek het nou al vyf gedigte vasgevang in my geheue. Ek het ‘n Koffiekroeg begin vir tweede taal Afrikaners, hier in Londen. Ek het lid geword van Vriende van Afrikaans. Ek het my eie gedigte in Afrikaans en Engels begin publiseer op die net.

Om op te som: my lewe is verander deur ‘n kinderboek. Fritz Deelman red nog altyd lewens (al is dit meer figuurlik as letterlik).

Nou wonder ek net; wat kan ander boeke vir my doen? Hoe kan ek ook verseker dat ander se lewens ook geraak kan word deur kinderboeke? Wel, ek is ‘n onderwyser. Ek en vrou beplan om een van die dae ‘n ander Van Renen-tjie te sien. Miskien sal ek gewillige ore wel vind…

Fanie word grootwildjagter

Onthou niemand dan meer die Fanie-reeks deur P.J. Schoeman nie? Ek het Fanie word grootwildjagter in die boekrak opgespoor toe ek ‘n tjokkertjie was. Die boek het saam met my pa deur die jare gekom – seker van sy jonger dae af. Toe ek dié klaar gelees het het my ouers die een na die ander P.J. Schoeman-boek vir my aangeskaf vir verjaardae en Kersgeskenke en partykeer sommer vir sommer. Toe ek weer sien het ek ‘n versameling van om en by twintig van hierdie boeke. As ek nou een van daai boeke op my boekrak sien, dan kry ek weer daardie lekker onthou-gevoel van die lees van Fanie en sy dinge. Ek onthou ook die Fritz Deelman boeke waarvan Eben vertel, boeta, wat ‘n ervaring vir ‘n jong kannetjie om een van daai boeke te lees.

Ek wou op ‘n stadium ‘n veearts word en het toe op die spoor van James Herriot se boeke gekom – baie humoristies en ‘n uitstekende balans van karaktersketsing van persone en diere – egter lank laas een op ‘n rak gesien.

Een nostalgiese aspek wat ek nooit sal vergeet nie is hoe die ouer boeke geruik het – ruik bietjie vandag hoe ruik die blaaie van ‘n ou Bybel of van die ouer ensiklopedië – daai boeke wat nog van die dunste papier gemaak is. Jy verlang sommer soos die sê-ding sê “na iemand wat jy nie eers ken nie”. Ek het by my skoonpa die drie Landbou-handboeke (Hulpboeke vir Boer – 1957) persent gekry – en ek hou hulle op my kantoorrak net om af en toe aan hulle te ruik.

Lees is lekker en het ‘n groot rol gespeel in ons middeljariges se opvoeding. Ek kon nie al die kleure glo in die eerste Bollie wat uitgekom het nie – ek was gewoond aan die valerige Patrys – wie van julle onthou nog van Patrys? – groot nuus in my tyd!