Sprokies vanoor die wêreld

Hoofsaaklik geel en baie swaar was my gunsteling boek toe ek vier was. My pa het ‘n beurs gekry om vir ‘n jaar navorsing te gaan doen in Duitsland en toe het hy besluit om die hele gesin saam te vat vir ‘n jaar van ongelooflike avonture. My ma is ‘n bibliotekaresse en weet wat se boeke om te vat as jy ‘n kind moet besig hou. So kon ek en my boetie en sussie elkeen een boek kies om op die vliegtuig te vat vir die lang reis na die onbekende Duitsland. Onthou boeke is swaar goed en mens dra moeilik aan die skatkiste van die verbeelding, veral kinders wat moeg is. Maar so gesê en so gedaan kies ek toe my Sprokies vanoor die wêreld.

Sprokies vanoor die wêreld is so dik soos ‘n telefoonboek en so groot soos ‘n Huisgenoot se Wenresepte. Op die voorblad is daar ‘n skets van ‘n samoerai met ‘n gruwelike grinnik besig om sy swaard te trek. Agter hom jaag ‘n man met rooi bol wange ‘n slee met trekhonde en aan die ander kant ‘n groot seerowerseilskip oppad na die skedel wat op die voorgrond lê tussen pienk blommetjies. Die boek was vir my onweerstaanbaar. Vreeslik onheilspellend en vol beloftes van gevaarlike goed en onbekende mense en dinge. So gesê, so gedaan gaan die boek toe in my rugsakkie met ‘n kwaai waarskuwing: “Onthou, ek gaan jou nie help dra nie! “

Op die vliegtuig na die opstyg was dit tyd vir die boekies om uit te kom voor iemand ‘n scene maak van verveeldheid. Met drie kinders moes my ma maar bontstaan om almal tevrede te hou, maar gelukkig was ek heel bedeesd soos ek weggeraak het in die prente van die avonture waarvan ek deel was in my verbeelding. My lyf was oppad oorsee terwyl my gedagtes nog verder plekke oor die aardbol bereik het. Die swaar dra was toe die moeite werd.

En skielik het ek weer vier gevoel

Daardie winter het ek so ‘n rooi truitjie gehad. Van dié soort waarin ‘n mens sommer so wegraak. Daar was ‘n kaggel in die sitkamer en my onderbewuste wil-wil iets onthou van rooibostee met te veel suiker. Ja, dit was rooibostee en gebreide slaapsokkies.

As kleuter het ek nou nie veel verstaan van maande en jare nie, maar ek het wel verstaan dat ek vier jaar oud was en een keer per maand kom daar so ‘n kleurvolle pakkie met my naam op by die huis aan. Toegedraai in karton met ‘n oerwoudmotief op. En binne-in was keer op keer die allermooiste boeke. Oor varke en prinsesse. Drake wat kaas maak en ruimtewesens wat maan toe trek. Tog is dit snaaks hoe ‘n mens op een boek aandring. Tussen die ander honderd en vyftig op die rak sou ek telkens dieselfde een uitkies. Pienke. Pienke was ‘n pienk-rooi papegaai wat wegraak as ‘n seuntjie by sou ouma kuier. Die storie het vir my in absolute vervoering gehad. Ek wou opsluit ‘n pienk papegaai hê, kompleet met ‘n hok, spieëltjies en klokke. Nodeloos om te sê, ek moes maar tevrede wees met die storieboek.

So besluit ek toe dat daar net een uitweg is, ek sal moet leer lees. Dan is ek uit almal se hare en kan sommer wraak ook neem deur heeldag te lees net wat ek wil! Maar selfs op vier is ‘n mens soms tot ongelooflie diaboliese planne instaat. Dié gelesery moes in die geheim plaasvind. Soos ‘n wafferse klein Holmes begin ek toe so skelm-skelm lees. Hoe ek dit reggekry het, weet nugter. Bietjie hier uit die Kinderbybel, bietjie daar in Huisgenoot en ‘n paar maande later sit ek af om vir my pa die verhaal van Phillipus te lees. Was nogal vreemd dat niemand juis ‘n ophef gemaak het nie, eers later sou ek hoor dat my pa gedink het my ma het my geleer lees en my ma het gedink my pa het die edele taak verrig.

Na ‘n jaar of wat het Saartjie gevolg, daarna Trompie, Uile en al die gebruiklike jeugliteratuur, soos jong bleeksiele in wording mos maar maak. Maar deur die Drie varkies en later Sus, Daan, Kees en daardie verdekselse kalkoen, het Pienke steeds my gunsteling gebly. Nou die dag krap ek in die studeerkamer rond en kom af op ‘n boks vol kinderboeke. Paultjie Polisieman, Die boef, Snater, die hele versameling Grimm en Pienke. Die blaaie was taai toe ek daardeur blaai. En skielik het ek weer vier gevoel. Nostalgie dalk? Klein vingermerkies het aan die bladsye geklou. Op bladsy twaalf was daar ‘n rooibosteevlek. En ek het gewonder of Donna Claire hierdie seisoen rooi truie in voorraad het.

In ‘n huis vol boeke

Ek het grootgeword in ‘n huis van boeke, nie net by die biblioteek uitgeneem nie, maar self gekoop. My oorlede pa het in die vlaktes van die Dorperland (Kenhardt) grootgeword en sy ontvlugting was boeke en nogmaals boeke. My eerste ervaring was toe ek as 5-jarige ‘n wedstryd gewen het met ‘n opstel wat ek geskryf het – en my prys… ‘n boek met die naam Die Rooi Ridder. My pa is twee jaar later oorlede en ek het al sy boeke geërf, ‘n paar duisend om presies te wees. Ek het begin met die oorspronklike Rooi Jan-reeks (gedruk in die jare 1930 en later) die Afrikaanse vertaling van Tarzan deur MC van Schoor, Die avonture van Fanie (Fanie word Grootwildjagter, ens), die Bushies, Keurboslaan, FA Venter se boeke (wie kan die onvergeetlike Man van Sirene vergeet?) Karl Kielblock, veral die verhale van Frits Deelman, die Uile-reeks (self aangekoop en net een gemis uit die hele reeks) Ramala-reeks, Buiter reeks, Oloff die Seerower, Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Trompie, Huppelkind, Heidi, Famous five, Hardy Boys (ons moes ook Engels lees) ens.

Later ons meer gevestigde skrywers soos Elmar Steyn, Ena Murray, Tryna Du Toit, CF Beyers-Boshoff, Ela Spence, Nan Jenning, Johan Jordaan (Vors van die Vlakte), Wille Martin, Christoffel Lessing (Ek Ellendige Mens seker een van die bestes van alle tye) Largo en so kan ek opnoem. Die latere vertalings het gevolg met Konsalik op sy beste. Ek het stelselmatig die boekery uitgebrei en het tans meer as 5 000 boeke in die huis waarvan baie ook Engels is (James Bond series, The Saint en ‘n ongekende versameling Readers Digest Condensed Volumes – my laaste telling was meer as 50 daarvan). Ek het verskeie vertalings van die Bybel met my trostse besitting ‘n Hoog Hollandse familiebybel wat uit 1834 dateer.

Tot vandag toe gryp ek die beskikbare oomblik aan vir lees – die beste ontspanning wat daar is en sluit mens werklik af en herlaai die batterye. My seun (Ricky) het die liefde oorgeëf (moet seker wees as die vyde geslag met die familienaam) en lees van hy vyf jaar oud is sy eie boeke en skryf vir himself stories waarvoor mamma moet prentjies teken. Hy self het reeds sy eerste boek gewen hier op Storiewerf en het die boek alreeds meer as een keer deurgelees – hy is nou net so versot soos ek en is heilig op sy boeke (en as aanvullende lees in sy eerste skooljaar het hy weggespring met pa se 1968 Sus en Daan en my ou Bollies en Jongspanne wat nog in die kas lê en so dan en wan afgestof word). Ons kinders word vandag anders as ons groot en ek is net dankbaar dat myne lief is vir lees – ons doen dit saam en geniet ons self gate uit

Luister na die klank ‘ghong’ en blaai dan om”

Ek is nou twintig en ek ken nog steeds die wysie wat speel as Storieman begin. ” Luister na die klank ‘ghong’ en blaai dan om”. Ek kan nou nog presies sê watter prentjies is op die tassies waarin die kassette en die boeke gekom het. Die Sneeuwitjie-prentjie was vir my die mooiste. Ek het altyd die stories wat op die kassette was op die tassies se prentjies gaan soek. Ek weet ook dat die storie van Die heks van Heksrivier in Storieman drie is en daar is so groot swart perd op die boekie se voorblad is. So dis nie baie moeilik om te raai watter kasset my gunsteling was nie.

Kyk ons het Storieman baie geluister. My arme ouers het menigte kere uitgehou om Storieman kasset na Storieman kasset te luister as ons iewers heen ry. Ons het so draagbare radio gehad wat oral saam op vakansie gegaan het, saam met die twee ou tassies. So vanselfsprekend lyk ons boeke redelik geskeur en deur geblaai en party val uitmekaar.

My beste maatjie toe ek klein was, Petro, het Storiemuis ook gehad. Ek was so jaloers. Ek wou altyd die Storiemuis-kassette by haar leen, maar sy het altyd nee gesê. Dit hare en net hare.

Storieman het ons verwysingsraamwerk geword. Later het ek ander boeke ook gelees en ek was kwaad as daar ‘n “Storiemanstorie” in was.

Nou nog ken almal Storieman. As jy net iets sê van Storieman het almal ‘n storie om te vertel of ‘n opmerking om te maak. Storieman is meer as net kassette en boekies vir my, dit is ‘n deel van my kinderjare.

Die begin was ‘n rondreisende biblioteek

Ons het op ‘n plaas gebly so 40 km van die naaste dorpe af, Nylstroom en Warmbad. Ons het na die plaaslike plaasskool Uitsig toe gegaan. Uitsig was baie klein (net so 40 kinders!) maaaaar dit het ‘n eie biblioteek gehad! Maar die ding van lees kom veel vroeër…. Op die buurplaas het Tant Heleen Koekemoer die rondreisende biblioteek in ‘n staalkas beman. Van my vroegste herinneringe is hoe ons soontoe is en dan kon ek kies, al was daar maar net een groot rak van klein kinderboekies. Dan is ons terug huis toe en dan het my pa vir my gelees, in daardie dae het ek gehou van boeke met mooi en helder illustrasies. Was dit hier waar ek Huppel en sy maats ontdek het?

My ma het in die dorp gewerk en so het ek toegang gehad tot die Vonk, Patrys, Jongspan, Tina en ja, Bollie! Dit het nogal tot baie frustrasie gelei vir my arme ma want as sy die nuwe tydskrif die huis ingebring het , kon hoor en sien vergaan, ek wou net my tydskrif lees.

Met verloop van tyd is ons toe laerskool toe, en ontdek ek toe die biblioteek en leer ek als, maar om baie vinnig te lees en word daardie beperking van twee boeke per week my kruis… So ontdek ek Trompie en die Boksombende, Die Uile, Saartjie, Kobie-hulle, Keurboslaanstories. Die reekse was nie volledig nie en wanneer ek by my Tannie Hannah gaan kuier het, het sy my na hulle dorpsbiblioteek geneem en dan begin die pret van vooraf. Groot was die vreugde as ek nog ‘n boek in die reeks opspoor.

In my tienerdae was ‘n biblioteek vir my die plek waar ek tot rus kon kom, of droom, of dink of wonder. As student by die Randse Afrikaanse Universiteit het die boekwêreld ontsaglik groot geword, maar ek sal nooit my eerste besoek aan die Johannesburg stadsbiblioteek vergeet nie. Dit was soos heilige grond! En raai watter reekse gaan soek ek toe weer om te sien of daar nie tog iewers nog een in die reeks te vinde is nie?

My eerste biblioteek was my ma

My eerste biblioteek was my ma. Sy was ‘n opgeleide kindertuin-onderwyseres en het haar vier kinders klein-klein met die klankmetode leer lees. Ek is skool toe met ‘n voorsprong: ek was die enigste sub A’tjie wat somme kon doen en vlot kon lees en het gevoel ek is die slimste kind in die skool.

Elke klas het ‘n klein klasbiblioteek gehad en ek moes dikwels vir die klas voorlees terwyl die juffrou iets anders sit en doen. Ek onthou ek het eenkeer uit pure dwarsgeit ‘n ABC-boek begin lees. Die klas het ‘n keel opgesit en die onderwyseres het gesteurd opgekyk. Ek moes iets anders kies. Maar die kwaad was gedoen. My gewildheid as voorleser was onherroeplik geknou. Hierna het ‘n ander dogtertjie, Gerda, ook soms voorgelees. Ek het vir Gerda met inspanning verdra.

In daardie tyd het Swellendam se openbare biblioteek ‘n beleid gehad (of dalk het ons kinders dit net vir die een of ander rede geglo) dat kinders een Afrikaanse en een Engelse boek moet uitneem. Ek het uit die staanspoor lywige Afrikaanse boeke gelees, soos “Ciske” en J.H.H. de Waal se “Johannes van Wyk” en was skaam om met klein Engelse kinderboekies in die hand gesien te word. Ek het dus groot, dik, imposante Engelse boeke uitgeneem wat ek tot my skande nooit gelees het nie.

My ma se keuse van Afrikaanse voorleesmateriaal was beperk. Ek onthou hoe sy die eerste Afrikaanse vertaling van “Winnie-the-Pooh” met smaak vir ons voorgelees het. Sy’t soms so gelag dat ek en my boetie niks kon hoor nie. Terloops, ek dink nou nog “Ottie” is ‘n briljante vertaling vir “Piglet”. Baie ander Engelse kinderboeke het my ma sommer uit die vuis vertaal terwyl sy vir ons lees. Ek reken dis waar my liefde vir die Engelse letterkunde begin het.
Ek kan nie genoeg klem lê op die waarde van voorlees vir kinders nie. Alle ouers en kinders móét net ‘n spesiale tydjie voor slaaptyd hieraan afstaan. Dit bring almal tot bedaring, maak die wêreld oop en bou wonderlike herinnerings. En vandag is daar soveel om uit te kies.

Heidi, hoe kan ek jou ooit vergeet?

Ek het in ‘n pioniersamelewing grootgeword en leesstof was skaars, beide in ons huis en die plaasskooltjie. Een van die eerste boeke wat ek uitgeneem het toe ek in die hoërskool aankom, was Heidi. Dit was in Afrikaans vertaal, maar ek het nie geweet of omgegee nie, ek was so meegevoer. In die week het ek altyd by my ouma tuisgegaan, maar naweke het Pa my kom haal. Op hierdie Vrydagmiddag het hy by bekendes aangegaan, maar ek wou nie uit die voertuig klim nie, het soos ‘n besetene aangehou met lees en omblaai. Hierdie sprokiesagtige verhaal uit die Switserse Alpe was vir ‘n dertienjarige dogter die hoogste vorm van betowering.

Sedertdien het ek baie boeke gelees, en self geskryf ook. Nie een van hulle kan egter aan my doen wat Heidi reggekry het nie: om my heeltemal weg te voer uit my bekende lewe op die rand van die Kalahariwoestyn langs die Oranjerivier.
Weg, na ‘n oord waar spierwit sneeu bankvas lê, waar bokklokke dof teen die steil hellings lui, waar ‘n vrolike dogtertjie op ‘n strooibed in die solderkamer slaap.

Nooit, o nooit, sou my eie bed so sag kon wees, my eie lewe so betowerend vreemd nie.

Heidi, hoe kan ek jou ooit vergeet?