Cliffordene Norton

Cliffordene is ’n trotse kaalvoetkind van Barkly-Wes in die Noord-Kaap. Sy het haar BA Honneurs-graad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom voltooi en haar loopbaan by Volksblad as vertaler begin. Sy was ook al ’n uitgewer en joernalis en is tans werksaam by die Noordwes-Universiteit as kopieskrywer in die bemakingsafdeling. Sy hou van lees en speelse sarkasme op die regte tyd en is verslaaf aan springmielies en cinnamon buns! Daar het reeds meer as twinting kortverhale uit haar pen verskyn.  

Haar debuutroman, Om jou te ken, is in 2022 deur Pan Macmillan South Africa Children’s Books gepubliseer.

Cliffordene is ook een van die skrywers in die kortverhaalbundel vir tieners, Die meisie met die uitroeptekens in haar oë.

Annabel Allers

Annabel Allers is in Pretoria gebore. Sy studeer tans BA Multimedia Studies: Multimedia in Digitale Visuele Kuns aan UNISA. In haar vrye tyd dagdroom Annabel, skryf sy stories en doen enige kreatiewe werk. In 2017 is haar debuutroman, Kupido.com, gepubliseer. Sy droom daarvan om nog boeke te publiseer en selfs kinderboeke te illustreer en boekomslae te ontwerp. Skryf maak Annabel egter die gelukkigste en sy meen dat sy eenvoudig moet skryf om gelukkig te wees en inspirasie te kry vir haar skryfwerk. Sy hoop om in 2021, na afloop van haar studies, na Amerika te gaan om te werk as ‘n au pair.

Sy verwerf ‘n ATKV-woordveertjie vir “‘n Ou soos jy”.

Martie Kruger

Martie het in Johannesburg groot geword en bly tans in Durbanville.Sy het haar honneurs graad in sielkunde sowel as ‘n diploma in Moderne Motessori gedoen. Tans hou sy haar besig met ’n Afrikaanse opvoedkundige webwerf en as familieberader. Boeke uit haar pen sluit in: Jy kan ook ‘n entrepeneur wees, Die Mylpaal-reeks: Tatta doeke, Kleuterskool toe, Die Mangelvanger en ’n Sussie vir Natasha. Sy het ook die twee Dis jou Keuse-boeke geskryf genaamd: Gevang! en Oorleef! Martie het ook bydraes in die volgende bundels gelewer:Sweef! en Toulopers.

Bianca Flanders

Bianca Flanders is ‘n aktrise, stemkunstenaar en onderwyser wat in Kaapstad woon. Sy het haar graad in Drama- en Teaterstudie aan die Universiteit van Kaapstad (UK) behaal in 2011. In die daaropvolgende jaar, het Bianca ook ‘n nagraadse sertifikaat in onderwys by UK verwerf. Bianca was ‘n onderwyser by Camps Bay High en sy was ook verbonde aan Battswood Arts Centre en City Varsity.

Vir haar akteurswerk ontvang Bianca in 2016 ‘n Fleur de Cap-nominasie vir haar rol as Miela in “Kristalvlakte”. In 2018, word sy ook genomineer vir ‘n WoordTROfees-toekenning vir haar rol as Amelia in “The Demon Bride”. Wanneer Bianca nie werk nie, is sy besig om te kook in haar kombuis in Walmer Estate. Of sy wandel graag langs die Seepunt-promenade soos die meeste Kapenaars.

Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout is in Zambië gebore maar het in Hennenman in die Vrystaat grootgeword. Sy was vir meer as 30 jaar ’n tweetalige reklameskrywer en het vir die meeste groot advertensie-agentskappe in Johannesburg gewerk.

In 2017 skryf sy haar eerste boek  – ’n jeugroman genaamd As mens geluk kon proe. Dit word aangewys as die naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie en dit gee haar die moed om aan te hou boeke skryf.

Wanneer sy nie skryf nie, stap, lees en reis sy graag. Sy het ’n onfatsoenlike liefde vir goeie koffie met kondensmelk. Sy woon in die metropool van Parys in die Vrystaat saam met haar man Izak en tienerdogter Mia.

André Trantaal

André Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler. Hy is die skrywer van die strokiesprentboeke Stormkaap en Coloureds. Sy strokiesprent-werk, geskryf in beide Kaaps en Engels, het in Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus, Cape Times verskyn en was in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal. Sy Engelse vertalings van die Kaapse gedigte van sy broer, Nathan Trantraal, het in ‘n uitgawe van die New England Journal verskyn. Hy en sy broer werk gereeld saam en is pioniers in die bevordering van Kaapse Afrikaans…

Nathan Trantaal

André Trantraal is ’n skrywer, illustreerder en vertaler. Hy is die skrywer van die strokiesprentboeke Stormkaap en Coloureds. Sy strokiesprent-werk, geskryf in beide Kaaps en Engels, het in Beeld, Die Burger, Rapport, Cape Argus, Cape Times verskyn en was in Hamburg, Amsterdam en Kaapstad uitgestal. Sy Engelse vertalings van die Kaapse gedigte van sy broer, Nathan Trantraal, het in ‘n uitgawe van die New England Journal verskyn. Hy en sy broer werk gereeld saam en is pioniers in die bevordering van Kaapse Afrikaans.

De Wet Hugo

De Wet Hugo is op 26 November 1982 op Worcester gebore. Hy het drie ouer susters en hulle het op ‘n Bolandse wynplaas, Spes Bona, tussen Worcester en Villiersdorp grootgeword. Tydens sy laerskooljare het De Wet elke dag met ‘n bus tot op Worcester gery, en gedurende sy hoërskoolloopbaan het hy in die Paarl in ‘n koshuis gebly. Na skool het De Wet onderwys op Wellington en Stellenbosch studeer. Daarna het hy as laerskoolonderwyser begin werk – eers in Kaapstad en toe in Somerset-Wes. Gedurende hierdie tydperk het hy ‘n vryskutteksskrywer vir Cool Catz op E-TV geword. In 2010 het De Wet die geleentheid gekry om na Djedda in Saoedi-Arabië, waar hy steeds as laerskoolonderwyser by ‘n Britse Internasionale Skool werk, te verhuis. As skrywer het hy bydraes tot die volgende publikasies gelewer: 

Skrik op die lyf (2015) – Tafelberg 
Rympies vir pikkies en peuters (2015) – Tafelberg 
Seesand en koekies (2016) – Shuter & Shooter  
Rympies vir kleintjies en kleuters (2017) – Tafelberg      
Liedjies vir pikkies en peuters (2017) – Tafelberg
Skool is ‘n riller (2017) – Human & Rousseau
Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai (2018) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 2: Web van die mummie (2018) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 3: Kamp vir monsters (2018) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 4: Die meisie in die maanlig (2019) – Human & Rousseau 
Grilgrypers 5: Die groen watergraf (2019) – Human & Rousseau 
Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters (2019) – Tafelberg  
Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf (2020) – Human & Rousseau 
Kies-jou-avontuur 1: Die gevaarlikste speletjie op aarde (2020) – Human & Rousseau 
Ingonyama en ander maats met leeueharte (2021) – Best Books
Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde (2021) – Human & Rousseau
Kies-jou-avontuur 3: Die gevaarlikste fliek op aarde (2021) – Human & Rousseau

Annerle Barnard

Annerle se passie is geletterdheid en gevolglik probeer sy almal met wie sy te doen kry, motiveer om te lees. Haar gunsteling aanhaling is “Geletterdheid is die brug van wanhoop na hoop.” (Kofi Annan)

Annerle Barnard is op 30 April 1971 in Musina gebore. Aan die einde van haar graad vier jaar verhuis hulle, verruil die Bosveld se massiewe onderstebo-bome vir die rooi vlaktes van die Noordwes. Sy matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Wolmaransstad. In 1993 voltooi sy ’n BA (Honneurs) (Engels) aan die Noordwes-Universiteit.  Daarna volg ‘n Hoër Onderwys Diploma. Aanvanklik hou sy skool, maar begewe haar later in die korporatiewe sektor.

Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe stiefdogter en skoonseun. Gevolglik kyk sy redelik baie sport.

Van nature is sy is ’n fanatiese leser en behalwe vir swaarder literêre werke, lees sy graag jeug- en misdaadfiksie.

Annerle droom al sedert ouderdom vyftien van skryf, maar op die platteland klink só ’n droom redelik vergesog en dus het sy dit nooit eens gewaag om ‘skryf’ aan iemand te noem nie. Die korporatiewe wêreld het haar ingesluk, maar in 2013 stof sy haar droom af en woon ’n slypskool by.

Haar debuutroman, Sweepslag, word in 2017 genomineer vir die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (dit word egter eers in 2019 gepubliseer) en die opvolg, Sindikaat, is in 2019 die naaswenner (silwer) in die Afrikaans-kategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur.

Die volgende boeke vir tieners het reeds uit haar pen verskyn:

  • Sweepslag (2019) Tafelberg Uitgewers
  • Sindikaat (2019) Tafelberg Uitgewers

A.J.J. Visser

A.J.J. Visser is op 31 Mei 1925 in die Karoo, op Laingsburg, gebore. Hy studeer op Stellenbosch en hou 15 jaar skool in die Boland. Vanaf 1964 was hy verbonde aan tersiêre onderwysinrigtings tot hy in 1976 inspekteur van Onderwys (Departement van Nasionale Opvoeding) word. In 1980 word hy as adjunk-direkteur van die Departement Nasionale Opvoeding na Suidwes-Afrika gesekondeer. Hy is voorsitter van die keurraad by die Departement Onderwys en Kultuur in Pretoria tot aftrede in 1985. Hy woon tans in Pretoria.

Publikasies:

Die volgende bundels poësie van hom verskyn:

  • Kaleidoskoop (1957)
  • Labarint (1960)
  • Lig en donker (1966)

Kinderverse:

  • Stories klein en versies fyn (1966)
  • So klink Afrikaans, ‘n bloemlesing (1967)
  • Hier kiep-kiep en hiep-hiep daar (1981)
  • Die harlekyn verskyn (1983)

Digwerk is opgeneem in ‘n 20-tal bloemlesings, waar onder:

  • Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte (G.Komrij)
  • Groot Verseboek (D.J. Opperman)
  • Nuwe kleuterverseboek (D.J. Opperman)

Het ek my verbeel
of hoor ek ‘n orkes
wat deur die strate speel? 

(Die sirkus uit D.J. Opperman se Nuwe Kleuterverseboek.)