Annabel Allers

Annabel Allers is in Pretoria gebore. Sy studeer tans BA Multimedia Studies: Multimedia in Digitale Visuele Kuns aan UNISA. In haar vrye tyd dagdroom Annabel, skryf sy stories en doen enige kreatiewe werk. In 2017 is haar debuutroman, Kupido.com, gepubliseer. Sy droom daarvan om nog boeke te publiseer en selfs kinderboeke te illustreer en boekomslae te ontwerp. Skryf maak Annabel egter die gelukkigste en sy meen dat sy eenvoudig moet skryf om gelukkig te wees en inspirasie te kry vir haar skryfwerk. Sy hoop om in 2021, na afloop van haar studies, na Amerika te gaan om te werk as ‘n au pair.

Sy verwerf ‘n ATKV-woordveertjie vir “‘n Ou soos jy”.

Nerine Ahlers

Nerine woon in Pretoria saam met haar man en twee dogters. Hulle het twee honde, ‘n semi-Boerboel en ‘n Maltees. Sy is ‘n taalonderwyseres en gee op die oomblik Afrikaans en Duits in die hoërskool, hoewel sy eintlik ‘n Franse juffrou is. Sy is mal oor lees en skryf, vertaalwerk, nougat, stap en hou graag vakansie by die see en in die wildtuin saam met haar gesin. Sy skryf ook sketse, kortverhale en radiodramas.

Saamskryf

Nerine en Alet Steenkamp het begin saamskryf toe hulle besef het dat daar nie genoeg lekker tienermeisieboeke op die mark is nie (dit was voordat Maasdorp en Reënboogrant herdruk is). Hulle skryf die tienerboeke altyd saam. Nerine tik op haar skootrekenaar en hulle praat saam en besluit woord vir woord wat om te skryf. Dit is ‘n ongelooflik opwindende ding om so saam te skryf. ‘n Mens druk mekaar verder as wat jy as individu sou dink of waag. Dit veroorsaak dat die karakters en situasies by enige persoonlike ervarings verbygroei.

Die twee boeke wat reeds verskyn het, is

  • Selfone, skelms en sjokolade – 2006 (Lapa)
  • SMS’E, skurke en spinnekoppe – 2007 (Lapa)