Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout is in Zambië gebore maar het in Hennenman in die Vrystaat grootgeword. Sy was vir meer as 30 jaar ’n tweetalige reklameskrywer en het vir die meeste groot advertensie-agentskappe in Johannesburg gewerk.

In 2017 skryf sy haar eerste boek  – ’n jeugroman genaamd As mens geluk kon proe. Dit word aangewys as die naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie en dit gee haar die moed om aan te hou boeke skryf.

Wanneer sy nie skryf nie, stap, lees en reis sy graag. Sy het ’n onfatsoenlike liefde vir goeie koffie met kondensmelk. Sy woon in die metropool van Parys in die Vrystaat saam met haar man Izak en tienerdogter Mia.

Annerle Barnard

Annerle se passie is geletterdheid en gevolglik probeer sy almal met wie sy te doen kry, motiveer om te lees. Haar gunsteling aanhaling is “Geletterdheid is die brug van wanhoop na hoop.” (Kofi Annan)

Annerle Barnard is op 30 April 1971 in Musina gebore. Aan die einde van haar graad vier jaar verhuis hulle, verruil die Bosveld se massiewe onderstebo-bome vir die rooi vlaktes van die Noordwes. Sy matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Wolmaransstad. In 1993 voltooi sy ’n BA (Honneurs) (Engels) aan die Noordwes-Universiteit.  Daarna volg ‘n Hoër Onderwys Diploma. Aanvanklik hou sy skool, maar begewe haar later in die korporatiewe sektor.

Annerle is getroud en het twee sportiewe seuns en ’n wonderlike, ewe sportiewe stiefdogter en skoonseun. Gevolglik kyk sy redelik baie sport.

Van nature is sy is ’n fanatiese leser en behalwe vir swaarder literêre werke, lees sy graag jeug- en misdaadfiksie.

Annerle droom al sedert ouderdom vyftien van skryf, maar op die platteland klink só ’n droom redelik vergesog en dus het sy dit nooit eens gewaag om ‘skryf’ aan iemand te noem nie. Die korporatiewe wêreld het haar ingesluk, maar in 2013 stof sy haar droom af en woon ’n slypskool by.

Haar debuutroman, Sweepslag, word in 2017 genomineer vir die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (dit word egter eers in 2019 gepubliseer) en die opvolg, Sindikaat, is in 2019 die naaswenner (silwer) in die Afrikaans-kategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur.

Die volgende boeke vir tieners het reeds uit haar pen verskyn:

  • Sweepslag (2019) Tafelberg Uitgewers
  • Sindikaat (2019) Tafelberg Uitgewers

Jac J Brits

Jac J Brits matrikuleer in 1949 aan die Hoërskool Sentraal, Beaufort-Wes. In Januarie 1958 gaan hy oorsee waar hy vyf jaar in Londen woonagtig is en gedurende vakansies en naweke Europa verken. Na sy terugkeer einde 1962 behaal hy ‘n BA graad in Wysbegeerte en Afrikaans-Nederlands by Unisa.

Hy skryf van sy elfde jaar af en het oor die jare alle genres van die skryfkuns beoefen, behalwe draaiboeke – wat volgende op sy lys is. Hy het veral werk op die gebied van die radiodrama gelewer.

Twee jeugboeke het by Human en Rousseau verskyn: Die ligblou kano en Die inbraak. ‘n Kortverhaal Nols se oorwinning is in die bundel Kleinbegin die Prosa opgeneem en vir baie jare vir skole voorgeskryf. Dit is trouens nog steeds op die lys van voorgeskrewe boeke. Hy was ook verantwoordelik vir die libretto van die kinderoperette, Rip van Winkle, in samewerking met die komponis, Walter Swanson.

Hy woon tans in Bellville, Kaapstad.

Publikasies

  • Seun van vertroosting – drama – Voortrekkerpers
  • Die Eiland – drama – Voortrekkerpers
  • Bagasie sonder Bestemming – drama – Van Schaik
  • Die Drie Weë – Eenbedrywe – Tafelberg
  • Die Prisonier e.a. Eenbedrywe – Human en Rousseau
  • ‘n Vreemdeling in ons Midde – roman – Human en Rousseau
  • Die getuie – kortverhale – Human en Rousseau

Jeugboeke

  • Die ligblou kano – Human en Rousseau
  • Die Inbraak – Human en Rousseau

Bydraes in Bloemlesings

  • Vriend van die keiser – Eenbedryf – Vyf nuwe eenbedrywe – Van Schaik
  • Vakansie in Europa – Eenbedryf – Taalopknapping st 10 – Nasou
  • Korrespondent – Eenbedryf – Drie-twee-een – Nasou
  • As die Son ondergaan en Die Laaste Dae – Eenbedrywe – Die Reënboom – Tafelberg
  • Hoof van sy Huis en Simson van die Hebreërs – Eenbedrywe –Die Rooi Duiwel se as e.a. Eenbedrywe – Voortrekkerpers
  • Tussenspel – Eenbedryf – Fasette – Academica
  • Vakansie in Europa – Eenbedryf – Kollig – Tafelberg
  • Nols se oorwinning – Kortverhaal – Kleinbegin in die Prosa – De Jager/HAUM
  • Die Brandwag en Die Sterrekyker – 2 kortverhale – Vuur (Verhale uit die Anglo Boereoorlog) – J.P. van der Walt, 1999.

Ander

  • Rip van Winkle – Operette vir kinders (libretto) – Musiek: Walter Swanson – Dalro
  • Drie liedere – lirieke – “Liefdeslied” Lied vir my meisiekind” en “Ontwaking” Musiek: Walter Swanson (Privaat gepubliseer deur komponis se weduwee)
  • Ballad (Engels) – liriek – Musiek: Walter Swanson (Ongepubliseer)
  • Radiovervolgverhale – 21
  • Radiodramas – 49
  • Talle kortverhale en gedigte in tydskrifte
  • Engelse kortverhaal “The chiseller” op Internet
  • Engelse gedig “Epitaph” aanvaar deur Poetry Institute of Africa vir opname (2001) in bloemlesing “Sincerely Yours”. Augustus 2001.
  • Engelse gedig “Love song” aanvaar deur Poetry Institute of Africa vir opname (2002) in bloemlesing “Meandering Paths”. 
  • Afrikaanse gedig “Gebed” en Engelse gedig “Ballad” aanvaar deur Poetry Institute of Africa vir opname (2002)

Literêre pryse

  • Die konsul – kortverhaal – beste bydrae, Tydskrif vir Letterkunde
  • Die God en Duet vir drie stemme – eenbedrywe – Departement van Wetenskap en Kuns
  • So onderdeur die maan – radiodrama – RSG/SANLAM derde prys – 2001
  • Die roeping – radiodrama – Eerste Prys in die 2002 Radiodrama kompetisie van SANLAM/RSG.

Tania Brink

Tania Brink is ‘n jong Bloemfonteinse skrywer. Soos die meeste meisies van haar ouderdom weier sy om oor haar ouderdom te praat, maar sy is jonger as Alanis Morissette en ouer as Britney Spears.

Sy is die dogter van twee baie normale ouers en die eienaar van ‘n baie abnormale hond. Op die oomblik bly sy in Bloemfontein, waar sy as joernalis werk. Van sy vyf jaar oud is, is haar grootste droom om stories te skryf. Liefde laat jou Rice Krispies anders proe is die eerste liefdesverhaal uit haar pen. Sy beskryf dit as “‘n stroperige liefdesverhaal vir tieners wat siek en sat is vir stroperige liefdesverhale.” Voorheen het sy ‘n paar grilboeke vir jong lesers onder ‘n skuilnaam gepubliseer.

Haar gunsteling tydverdryf is om op maanligaande op die strand perd te ry. Ongelukkig bly sy deesdae baie ver van die see af. Sy glo onverbiddelik in die krag van die liefde, die wonder van sonbrandolie, prinse op wit perde, Sondagmiddagslapies en feëtjies.

Marianna Brandt

Ek is in Kaapstad gebore en het in Namibië groot geword. My ma het elke aand vir ons vier meisiekinders stories gelees of vertel, ook van Blinkoog die nagmonster wat kinders opvreet wat nie wil slaap nie. Net die woorde ‘Daar kom Blinkoog.’ was genoeg waarskuwing van Ma dat dit nou slaaptyd is. In Swakopmund het ek as kind ‘n ryke verbeelding gehad en ons was vry om ons verbeelding uit te leef. Ons het kartonhuise gebou, winkel-winkel gespeel en vir die hoenders skool gehou. Ons het hulle laat stil sit deur ‘n klippie op hulle koppe te sit. Pa was ‘n polisieman en soms het ons saam met hom langs die Skedelkus gaan uitkamp, in tente geslaap en na die huil van die hienas geluister.

Na skool het ek in die Vrystaat gaan studeer en ‘n Mediese Tegnoloog geword in chemie. Vir ongeveer tien jaar het ek in laboratoriums landwyd gewerk. Toe gaan ek oorsee en sien Europa, Verre Ooste en Israel. Ek kon net nie weer aanpas tussen die vier mure van die laboratorium na hierdie ondervindinge nie.

Met geen ondervinding sluit ek toe aan by die SAUK, Afrikaanse Diens. Dis toe daar wat ek leer skryf het. Baie stories (ongeveer 50) vir Siembamba het gevolg, een van hulle Poppie-Dot van die Kaap. Die storie is toe deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Ek het ook na ‘n jaar of twee by die SAUK by ‘n TV-maatskappy aangesluit. Daar het ek geleer om draaiboeke te skryf, veral vir die opvoedkundige mark, TV2 & TV3. Ek het ook navorsing gedoen en gehelp met die vervaardiging van ‘n paar ‘Uit en Tuis’ programme terwyl ek vir die maatskappy gewerk het en het dit baie geniet.

My skrywersloopbaan het toe eers weer in 1992 begin vlamvat met die Aids storieboeke in Engels vir Macmillan Uitgewers in Johannesburg. Dit is voorgeskryf vir Natal, Swaziland, Kenia en Namibië. Daarna het baie boeke gevolg vir Macmillan in Johannesburg en Macmillan in Engeland.

In 1994 het Poppie-Dot by die Grootrivier gevolg, ook uitgegee deur Tafelberg uitgewers. Ek weet dat die stories in die boek al opgevoer is deur skole in die Weskaap en word ook tans in die kurrikulum onderrig in Stellenbosch gebruik

In Mei 1998 was ek een van ‘n groep van vyf skrywers uit Suid-Afrika vir ‘n program Shuttle 99 Project (Kuns & Kultuur) wat in Ysland gehou is en deur die Nordiese Raad van Ministerieë georganiseer is. Een van die skrywers was Zakes Mda, ‘n bekende ook in dramakringe. By die geleentheid moes ons ‘n kinderboek produseer. Myne was Kria the Summerbird wat deur ‘n Yslandse uitgewer uitgegee is.

In 1999 het ek vier Afrikaanse stories geskryf vir die Rimpelstoriereeks van Maskew Miller Longman vir Graad 3. Hierdie stories het ‘n Eretoekenning gekry wat deur die Weskaapse Boekforum toegeken is.

Ek hoop om nog baie kinderboeke in Afrikaans te produseer. Veral stories waarvan kinders hou.

Publikasies

  • 1985: Poppie-Dot van die Kaap (Tafelberg Uitgewers) 8-9 jaar
  • 1992: The Truck Driver’s Love (Macmillan Jhb) – Aids Ed. story (Also released in Kenya en Swaziland)
  • 1993: The Food of Love (Macmillan Jhb) – Aids story (Also released in Kenya and Swaziland) – prescribed for all the schools in Natal.
  • 1993: Poppie-Dot by die Grootrivier (Tafelberg Uitgewers) 8-9 jaar
  • 1994: Beads for a Bird – 11-13 jaar (2nd language)
  • 1996: Two Eggs for the President (Macmillan England) Children’s fiction for grade 3/4
  • 1997: Hero of the Hills (Macmillan England) A story about the Health train of South Africa (Phelophepa)
  • 1997: Heroes of the Coal Yard (Macmillan Jhb) A story set in Soweto’s coal yards- true to life
  • 1997: Grade 1 Reading books: I like fish What’s in Grandma’s bag? What can you see? (Macmillan England) Translated for countries e.g. Ghana, Gambia, Kenya
  • 1998: The Wake-Up Whistler (Macmillan England) HOP in the HOP/STEP/JUMP series
  • 1998: The Mealie-Cob Doll (Tafelberg Publishers) age 8-9
  • 1998: Die Mieliestronkpop (Tafelberg Uitgewers) ATKV prys
  • 1999 Rimpelstories: Kalahari toe…, Die towermengsel, Die koningin en die winterkombers, Dis die klippie. (Maskew Miller Longman) Word in skole gebruik gr 3
  • 1999: Kria the Summer Bird (Icelandic Publisher) 7-9 years.
  • 1999: The Wait and See Car (Macmillan England) HOP in the HOP/STEP/JUMP educational series. Prescribed in Gambia and Ghana.
  • 2001: Toringkamer (jeugboek 13-15jr) Human &Rousseau
  • 2002: Die Stoutsterte (Kinderboek 8-10) Human & Rousseau.
  • 2003: The River Queen (Kinderboek 10-12) Macmillan, UK
  • 2003: Markus Stermuis op die Sojoes … 3 …2 …1 (ook in engels) Human & Rousseau
  • 2004: The River Queen (Macmillan UK)
  • 2004: Afrikaans vir Ons (medeskrywers vir Graad 4,5.6)
  • 2004: Om die Wêreld – Maskew Miller Longman (Graad 6)
    Hoekom is die see swart – Maskew Miller Longman (Graad 4)
  • 2005: Nelson & Ali (Heinemann UK)
  • 2005: Die Kat van Rowerbaai, Die Dertiende Uur, Die Geheim van die Kiss, Shamila se blomme, Die Kunsjuffrou, Tanja in Taiwan (Graad 5 – Heinemann SA)
  • 2006: Die Avonture van Magrietjie Swaaiboude – Human & Rousseau
  • 2006: Die Stoutsterte – Poot aan Wal (einde Mei) Human & Rousseau

Francois Bloemhof

François Bloemhof skryf boeke vir volwassenes, tieners en jong lesers. Sy werk is in al drie kategorieë meermalig bekroon.

Dit het alles in graad nege begin, toe sy Engels-onderwyseres hom 97% gegee het vir ‘n kortverhaal. Toe kom die groot vasbyt, want hy het jare lank (grusame) Engelse kortverhale vir tydskrifte gestuur en hulle kon dit nie gou genoeg terugstuur nie … tot hy vir die grap ‘n lighartige Afrikaanse verhaal vir Huisgenoot geskryf het en sy vriende se name daarin gebruik het. Dit is aanvaar en sedertdien het hy al “so iewers oor die tweehonderd” tydskrifverhale gelewer.

Hy beskou sy boeke egter as sy “eintlike produkte”. Hy het weggetrek met ‘n Sanlam/De Kat-prys vir Die nag het net een oogen sy eerste vier boeke is ten spyte van groot verskille as “rillers” beskou. Met die fantasieroman Storieboek was dit egter duidelik dat hy hom nie so maklik wou laat klassifiseer nie. En hoe later hoe kwater.

Hy het ook vir tieners begin skryf en geniet baie sukses op hierdie terrein, ondanks omstredenheid omdat hy kwessies aanraak wat ver van dié in die ou Trompie-boeke verwyder is.

Verder gaan ‘n veelbekroonde Rillers-reeks by Human & Rousseau vir jong lesers van krag tot krag.

Hy het ook al sukses behaal met die skryf van tekste vir die verhoog (‘n kabaret, tienerstuk en “rondloop-rildrama” vir die KKNK) en radio (dramas en vervolgverhale).

François se raad vir beginnerskrywers is: “Skryf net die ding en klaar.”

Publikasies

Sy volwasse romans is:

  • Die nag het net een oog – 1991
  • Die duiwel se tuin – 1993
  • Koue soen – 1994
  • Bloedbroer – 1995
  • Storieboek – 1996
  • Mooidraai Basuin: ‘n tydskrifroman – 1997
  • Nagbesoeker – 1997
  • Hostis: met oorspronklike CD-klankbaan – 1998
  • Klipgooi – 1999
  • ‘n Tweede asem vir Jan A – 2001
  • Spinnerak (Alma van der Pool 1) – 2006
  • Jagseisoen (Alma van der Pool 2) – 2007
  • Rooi Luiperd (Mark Steyn 1) – 2008
  • Harde woorde (Alma van der Pool 3) – 2009
  • Afspraak in Venesië (Mark Steyn 2) – 2009
  • Die onbekendes – 2010
  • Die Genesis-faktor (Mark Steyn 3) – 2010
  • Helse manier van koebaai sê (Mark Steyn 4) – 2011

Vir tieners:

  • Slinger-slinger – 1997
  • Die wit huis – 1998
  • Die dae toe ek Elvis was – 2000
  • Nie vir kinders nie – 2005
  • Stad aan die einde van die wêreld – 2007
  • Moenie dat die grootmense hoor nie – 2009

Vir jong lesers:

  • Middernagland – 1996
  • Die vrou met die pers oog*– 1996
  • Donkerwoud* – 1996
  • Die waterding* – 1997
  • Kamer 13* – 1998
  • Die speletjie:* met interaktiewe rekenaarspeletjie – 1999
  • Kry vir jou, ou Langklou* – 2000
  • Hospitaaltyd* – 2002
  • Agent Snoet en die Botterdiamant (comic) (by Lapa) – 2002
  • Vampiere in Londen* (2004)
  • Agent Snoet en die Kattekwaad (comic) (by Lapa) – 2005
  • Rillers-omnibus – 2006
  • Agent Snoet en die Hondelewe (Felino 3) – 2008
  • Flipom (Die spring-ding/Projek Zero) – 2009
  • 13 spookstories (saam met Jaco Jacobs en Fanie Viljoen) – 2010
  • Agent Snoet en die Groen Genugtig (Felino 4) – 2010

    * in Human & Rousseau se Rillers-reeks

Vir nog jonger lesers:

  • Die dom towenaar – 1994
  • Sakkie en die Toffiewolf (by Juta) – 1994
  • Middernagland – 1996
  • Dinnie Kaboef (by Juta)- 1997
  • K-TV Holiday Fun (pret- en aktiwiteitsboek) – 1997
  • ‘n Dag om te vier! – 2003
  • Wie wil wat wees? – 2003
  • Spinnekoppe in die huis – 2003
  • Blink gedagtes (saam met Johan van Lill) – 2003
  • My grillerige alfabet – 2011

As samesteller:

  • Donker veld: spanningsverhale (by Lapa) – 2002
  • Die boek van spoke (by Tiara, slegs vir Leserskring) – 2004
  • Donker plekke: spannings- en misdaadverhale – 2011
  • Onder die skuilnaam Leo Bekker:
  • Dinge met tande – 1995
  • Sprong – 1998

Alba Bouwer

Albertha Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 in die Vredefort-distrik (Vrystaat) gebore waar sy haar kinderjare deurgebring het. In haar tienerjare verhuis sy na Klein Drakenstein by die Paarl en matrikuleer aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Daarna skryf sy as student in by die Hugenote Universiteitskollege te Wellington waar sy ‘n B.A.-graad behaal met Geskiedenis en Duits as hoofvakke. As opvoeder begin sy haar onderwysloopbaan aan die Hoërskool Burgersdorp en eindig dit ses jaar later aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Hierna word sy joernalis, eerstens by die vrouetydskrif Huishouding, daarna by die destydse SAUK in Kaapstad, en laastens by die bekende tydskrif Sarie Marais waar sy tot assistentredaktrise vorder. In 1963 tree sy in die eg met Hubert Coetzee (destydse besturende direkteur van Nasionale Pers), en in 1975, ses jaar na die afsterwe van Hubert Coetzee, trou sy met Jan Hofmeyr. Hy is in 1999 oorlede. Alba Bouwer woon tans in Somerset-Wes.

Haar debuut, Stories van Rivierplaas (1955) en sy opvolg, Nuwe stories van Rivierplaas (1956) verskyn aan die vooraand van die sestigerjare. Stories van Rivierplaas het as reeks in Sarie verskyn en is nie in die eerste instansie vir kinders bedoel nie. Stories van Ruyswyck (1963) is ‘n opvolg van die Rivierplaas-stories. Alie het intussen grootgeword en is bykans dertien jaar oud as die storie begin. In Stories van Bergplaas (1963) staan die tienjarige tweeling, Bramie en Grietjie, in die sentrum op die Bolandse plaas, Sadewee.

In Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ‘n Maleiertjie van die Ou Kaap (1958) verken Abdoltjie, ‘n vyfjarige Maleierseuntjie, in elke opeenvolgende storie sy eie leefwêreld: die berg en sy diertjies, die see, die wolke en lug, en die buitenste ruimte. Nog ‘n vyfjarige, Dirkie, leer in Dirkie van Driekuil (1966) van die onstuitbare gang van tyd en van verganklikheid. ‘n Hennetjie met kuikens (1971) handel oor ‘n wit kind, Sarie van Johannesburg, en die swart dogtertjie, Sara van Soweto. Hulle het elk afsonderlik ‘n pop van ‘n ander ras as gespreksgenoot. In Vlieg, swaeltjie, vlieg ver (1983) is nog ‘n vyfjarige, Faantjie, die hoofkarakter.

Ienkel dienkel: ‘n verseboek vir kleintjies (1980) is ‘n kinderpoësiebundel wat bestaan uit sewentien gediggies, elke gedig is geïllustreer deur May Hillhouse. Bouwer laat ook 16 verse in D.J.Opperman se Kleuterverseboek (1981) die lig sien en dra ook by tot die versamelbundel Verskombers (1977). Sy publiseer verhale in bundels, soos “Oupa Kyken” in Storiehuis, woordpaleis (1980) en “Ou Pettepet” in Goue fluit, my storie is uit (1988) en dra ook by tot Son en saffier (1972) en Voorsmaak (1972) wat werke van 10 Scheeperspryswenners bevat.

Alba Bouwer het heelwat vertaalwerk van kinder- en jeugtekste uit Amerikaans, Duits, Engels en Nederlands gedoen. Hieronder val Die Spaanse roosboom (1946), Seeverhale van Seepbel (1949), Peppie se hoed (1950), Pieter en die wolf (1958), Katinka (1960), Rinus die stasiemossie (1961), Die dogtertjie van êrens (1961), Die wit buffel(1962), Rip van Winkel (1965), Tippie se liefde (1966), Die leerling-towenaar (1968), Die groen pad (1969), Perd uit die storm (1971), My eerste groot storieboek (1975), Die goue motor van Matys (1976), Ek is ‘n wilde wollabeer (1976), Kom, krokodil, na lewerstad (1976), Winnie-die-Poeh (1985) en My groot, groot storieboek (1987). Sy het ook religieuse tekste vir volwassenes uit Duits en Nederlands vertaal.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die Spaanse roosboom (1946)
  • Seeverhale van Seepbel (1949)
  • Peppie se hoed (1950)
  • Stories van Rivierplaas (1955)
  • Nuwe stories van Rivierplaas (1956)
  • Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ‘n Maleiertjie van die Ou Kaap(1958)
  • Pieter en die wolf (1958)
  • Katinka (1960)
  • Rinus die stasiemossie (1961)
  • Die dogtertjie van êrens (1961)
  • Katrientjie van Keerweder (1961)
  • Die wit buffel (1962)
  • Stories van Ruyswyck (1963)
  • Stories van Bergplaas (1963)
  • Rip van Winkel (1965)
  • Tippie se liefde (1966)
  • Dirkie van Driekuil (1966)
  • Die leerling-towenaar (1968)
  • Die groen pad (1969)
  • ‘n Hennetjie met kuikens (1971)
  • Perd uit die storm (1971)
  • Voorsmaak (1972)
  • Son en saffier (1972)
  • My eerste groot storieboek (1975)
  • Die goue motor van Matys (1976)
  • Ek is ‘n wilde wollabeer (1976)
  • Kom, krokodil, na lewerstad (1976)
  • Verskombers (1977)
  • Ienkel dienkel: ‘n verseboek vir kleintjies (1980)
  • Storiehuis, woordpaleis (1980)
  • Kleuterverseboek (1981)
  • Vlieg, swaeltjie, vlieg ver (1983)
  • Winnie-die-Poeh (1985)
  • My groot, groot storieboek (1987)
  • Goue fluit, my storie is uit (1988)
  • Jangroentjie

Scheepersprys vir jeugliteratuur in 1959 vir Stories van Rivierplaasen Nuwe stories van Rivierplaas en in 1965 vir Katrientjie van Keerweder, Stories van Ruyswyck en Stories van Bergplaas

Die C.P.Hoogenhoutprys in 1962 vir Katrientjie van Keerweder, 1972 vir ‘n Hennetjie met kuikens en 1984 vir Vlieg, swaeltjie, vlieg ver

Die eerste M.E.R.-prys vir kinder- en jeugliteratuur word in 1984 vir Vlieg, swaeltjie, vlieg ver toegeken.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel in 1987 die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur in wat driejaarliks toegeken word.

Tertia Botha

Tertia Botha was onderwysers, dosent aan Durbanse Onderwyskollege en senior lektrise aan die Universiteit van Natal. Haar vakgebied is Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Tans is sy afgetree.

Kwalifikasies: B.A. (Universiteit van Pretoria); Honneurs en M.A. (Universiteit van Natal, Durban).

Publikasies:

  • Rebel – 1994 – (Tafelberg) Sanlamprys vir Jeuglektuur 1994, Bronstoekenning
  • Waterkind – 1998 – (Tafelberg)

Ettie Bierman

Ettie Bierman is ‘n gebore Johannesburger wat by die Onderwyskollege in Pretoria drama studeer het. Sy hou ‘n paar jaar skool en word toe lugwaardin. In 1971 begin sy voltyds skryf. Sy is getroud met Roelf van Rensburg, self ook jeugboekskrywer en voormalige uitgewer. Hulle het afgetree en bly tans op Chrissiesmeer.

Haar eerste roman, Waardin in die wolke (1973) beskryf sy self as ‘n eiesoortige biografie (Bierman, 2000). Daarna volg meer as honderd ontspanningsomans en 21 jeugboeke wat die gewilde Bienkie-reeks (1987 – 1988) insluit.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Armaansie (1979)
  • Bienkie-reeks
  • Dingo (1996)
  • Eenspoor (1981)
  • Elke hond kry sy dag (1975)
  • Leeu, leeu hoe laat is dit? (1976)
  • September (1984)
  • Sommer net Sam (1985)
  • Tien en elf (1979)
  • Waardin in die wolke (1973)
  • Wreker (1986)

C.F. Beyers-Boshoff

Christiaan Frederik Beyers-Boshoff op Potgietersrus gebore. Hulle verhuis na Pretoria waar hy sy skoolloopbaan by die Afrikaanse Hoër Seunskool voltooi. Aan die Universiteit van Pretoria ontmoet hy sy vrou, Petro Maritz. Hulle het vyf kinders. As professionele en kommersiële skrywer was sy werkywer legendaries – tot agtien uur per dag.

C.F. Beyers-Boshoff het tientalle tydskrifverhale, kortverhale en ontspanningsromans geskryf wat grootliks bygedra het om boekklubs en ‘n uitgewery soos J.P. van der Walt en Seun Edms. (Bpk.) te vestig. Veral verwerf hy bekendheid vir radioverhale soos Ongewenste vreemdeling, Dans van die flamink en My liedjie van verlange. Twee van sy draaiboeke, Catch me a dream en Karate Olympia is in Amerika verfilm en versprei. Hy het ook televisiedraaiboeke vir die Amerikaanse mark geskryf.

Duisende kinders onthou hom vir sy Jasper-reeks wat hy glo, sommer oor die skouer, vir sy sekretaresse gedikteer het. In die Jasper-reeks (1959 -1976) verskyn 8 titels . Die meeste van die titels het ‘n paar herdrukke beleef.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Jasper-reeks