Marga Jonker

Marga Jonker is gebore op 6 Februarie 1964 op Vredenburg aan die Weskus. Sy het grootgeword op ‘n plaas tussen Paternoster en Stompneusbaai.  Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg in 1981. Sy het ‘n onderwysdiploma aan die Wellington Onderwyserskollege, ‘n BA graad met Xhosa en Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, en ‘n Verdere Diploma in Vroeë Kinderontwikkeling aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf.

Marga is tans die Xhosa derdetaal-onderwyseres aan die Voorbereidingskool Durbanville waar sy graad 2- en 3-kinders bekendstel aan Xhosa as derde taal. Sy skryf en ontwikkel die kurrikulum hiervoor en maak rympies en stories om by haar materiaal te pas. Sy glo veeltaligheid lei tot multi-kulturele ontwikkeling. Sy wou van kleins af graag skryf en het gedigte in haar dagboeke geskryf. Sy het egter eers in haar veertigerjare dapper genoeg gevoel om van haar werk in Afrikaans aan uitgewers voor te lê.

’n Prenteboek, Wat is jy Kartoffel, (Lapa Uitgewers, 2010) deur die skrywer en die illustreerder Alzette Prins is deur die Namibiese Kinderboekforum bekroon. 

Marga en haar eggenote, PG, woon in Durbanville saam met hulle drie kinders,  Hardus, Anita en Chris-Jan. 

Publikasies
 
Mede-outeur van drie Xhosa kinderboeke, uitgegee deur Kagiso Uitgewers in 1996. Ibhola kaThembaBamba uBalekiThemba!, en UThemba uneminyaka emihlanu,  Marga Jonker, Lesley Krige, Lyn de la Motte.

Marga se eerste Afrikaanse publikasie was haar storie Die Onskadelike Reënspinnekop in Baba & Kleuter  2000. 

In 2009 word twee van Marga se verse opgeneem in die Nuwe Kinderverseboek, saamgestel deur Riana Scheeprs en Suzette Kotzé-Myburgh en uitgegee deur Tafelberg.

In 2010 verskyn haar geïllustreerde kinderboek, Wat is jy, Kartoffel, in hardeband, uitgegee deur LAPA.  In 2012 ontvang Kartoffel die Namibiese Kinderboekforum se toekenning vir die beste boek in die kategorie geillustreerde kinderboeke.

In 2011 word haar gedig ‘Slegs Bekendes’ opgeneem in Toulopers, saamgestel deur Jaco Jacobs, en uitgegee deur LAPA Uitgewers.

G.J. Joubert

Gert Jacobus Joubert is op 4 Januarie 1907 in Kestell gebore. Die gesin verhuis van hul plaas in dié omgewing na ‘n plaas in die Ermelo-distrik. Hier verlaat hy die skool na standerd 9 en gaan voltyds boer op die plaas, Onverwacht. Uit sy tweede huwelik is twee seuns gebore. Vir sy skryfwerk het Joubert ryklik geput uit die kontrei en sy ervarings as boer.

G.J.Joubert se bekendste en grootliks outobiografiese werk, Oupa Landman se viool (1951), word voorafgegaan deur twee bundels met sketse en kortverhale teen ‘n landelike agtergrond. Dié bundels is, soos Oupa Landman se viool, nie spesifiek vir kinders bedoel nie. Oupa Landman se viool is dikwels herdruk en wyd voorgeskryf vir skole.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Oupa Landman se viool (1951)

Scheepersprys in 1964 vir Oupa Landman se viool

Christine Joubert

Die Boekprinses (1996), Joubert se eerste kinderboek, is ‘n moderne sprokie waarin Siemoeraaia en haar seunsmaat, Tinnik, allerlei opwindende avonture beleef. ‘n Pers arend met likkewaanpote verskyn op ‘n dag op die speelgrond en ontbied die twee kinders na Lowerdal, die koninkryk van Prinses Sonduin. Lowerdal is in die mag van die bose prinses Spinnenag en die enigste manier om dit te verbreek, is om die tande van Prinses Sonduin se goue kam op te spoor. Saam trotseer die twee kinders buitengewone gevare om die koninkryk te red en ontmoet hulle in die proses ‘n verskeidenheid wonderbaarlike en bekoorlike wesens.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die boekprinses (1996)

Ria Jordaan

Ria Jordaan het ook vir volwassenes geskryf, maar het slegs een jeugverhaal gepubliseer. Wynand se oorlog (1989) speel in die Anglo-Boereoorlog af en handel oor ‘n jong seun wat, na sy pa se vertrek op kommando, op die plaas agterbly om na sy ma en sussies om te sien. Wynand is ‘n hoofkarakter waarmee die leser kan identifiseer. Hy ontwikkel van ‘n voortvarende jongeling wat baie graag wil gaan veg tot iemand wat besef dat oorlog smart bring en dat daar goed en sleg aan alle kante van ‘n oorlog is. Dit is een van die min verhale oor die Anglo-Boereoorlog waarin die perspektief van ‘n swart seun op die oorlog aangebied word.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Wynand se oorlog (1989)

Johann Jordaan

Johannes Hendrik Jordaan is op 9 September 1926 in Venterstad in die Kaap gebore waar hy sy skoolopleiding ontvang. In 1946 sluit hy aan by die Natalse Afrikaner. Dis die begin van ‘n lang joernalistieke loopbaan waarin hy onder meer op die redaksies van Die Transvaleren Die Vaderland diens doen. In 1949 trou hy met Naomi van der Merwe. Twee kinders, Henk en Antoinette, is uit die huwelik gebore. In 1950 word hy redakteur van Die Mynwerker. Daarna werk hy as hoofsubredakteur van die Suid-Afrikaanse Persvereniging (SAPA). In 1959 skei hy van sy eerste vrou en trou in 1960 met Helene Lucille Lindegger. In 1975 word hy assitent-nagredakteur van Die Transvaler, ‘n pos wat hy tot sy dood behou. In 1970 stig hy die Skryfhuis Sewentig aan sy huis in Ontdekkers waar hy tot sy dood potensiële skrywers en joernaliste oplei.

Jordaan verwerf veral bekendheid as skrywer van jeugboeke. Verskeie van sy boeke is ook voorgeskryf. Hy skryf altesaam 31 boeke en twee dramas. Sy tweede drama, Melodie van die myne behaal in 1969 die tweede plek in ‘n dramawedstryd van die Departement Kultuursake. Hy skryf in 1981 Oase, ‘n omvattende Afrikaanse Skrywerskuns-ensiklopedie waarin hy die grondbeginsels vir ‘n wye verskeidenheid skryfwerk bespreek.

Hy is vandag meesal nog bekend vir sy twee Dirkas-boeke. Dirkas in die knyp verskyn die eerste maal in 1951 en word verskeie kere herdruk – ook weer in 1977 toe Dirkas se Meisiekind die lig sien. Dis die verhale van Venterspruit se kamerade, Dirkas, Chris en Fanus, drie ondeunde knape.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Dirkas in die knyp (1951)
  • Swart hings (1953)
  • Indoena (1967)
  • Die leeu van Aandblomkloof (1968)
  • Melodie van die myne (1969)
  • Silwervlerk (1970)
  • Agt akkers asiel (1973)
  • Dirkas se Meisiekind (1977)
  • Oase (1981)

Christa Jonker-Jordaan

Christa Jonker-Jordaan is drie en vyftig jaar gelede, op 26 September 1956, as die jongste van vyf kinders, in Bloemfontein gebore.

Sy is reeds 35 jaar getroud met Prof. Gerrit Jordaan, wat verbonde is aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat. Hulle het vier kinders, twee seuns en twee dogters. Hulle het twee kleindogters.

Na matriek het sy as ‘n klerk by die Ontvanger van Inkomste gewerk, maar was na haar huwelik, met die uitsondering van ‘n paar dinge wat sy van die huis af bedryf het, hoofsaaklik ma.

Sy skryf graag vanaf haar hoërskooljare gedigte en prosa. As vryskutskrywer het sy van tyd tot tyd in tydskrifte en op die internet, gepubliseer. In 1998 publiseer sy ‘n verseboek, “My valentyn dwarsdeur die jaar,”

Daarna was sy mede-outeur van verskeie publikasies soos dagstukkies en ander Christelike boeke wat deur Carpe Diem Media uitgegee is.

Einde 2005 versoek Carpe Diem Media haar om ‘n boek te skryf wat oor die lewe van ‘n ma handel. So word “‘n Ma is spesiaal” in April 2006 gepubliseer.

In Augustus 2007 sien “Lyf”, ‘n tienerfiksieboek wat onder andere oor eetversteurings gaan, die lig. Hiervoor kry sy ‘n Sanlam woordveertjietoekenning in 2008.

In Maart 2008 word Lyf, tesame met twee nuwe publikasies, “Lus” en “Luuks,” opgeneem in ‘n omnibus met die oorkoepelende naam: “Chilli Lipstiek.”

In Augustus 2008 kom ‘n dagstukkieboek waar sy as een van 12 skrywers in deel op die rak.

In Mei 2009 sien ‘n roman, “Naglig”, tesame met ‘n geskenkeboek, “Vir ‘n ma” die lig.

Haar heel nuutste boek, “Oudword is nie vir sissies nie,” het Januarie 2012 op die rak gekom.

Eersdaags, September/Oktober, sien “Chilli Lipstiek 2”, die lig.

Petri Jooste

Petri Jooste se eerste jeugroman, Nag van die nonnetjie-uil (1986), het in 1986 onder die naam Petri Prinsloo verskyn. Dit is egter met As alles anders was (1991) en Wanneer die musiek ophou (1992) wat sy haar vestig as skrywer van jeugromans.

Henk Kruger, hoofkarakter van As alles anders was, is die soort ou waaroor elke skoolmeisie droom. Sy veilige wêreld word onderstebo gekeer wanneer ‘n vreemdeling, wat ontstellend baie na hom lyk, hulle lewens binnekom.

In teenstelling met bogenoemde verhaal, is die hoofkarakter vanWanneer die musiek ophou, ‘n rebel wat reeds vir die tweede maal in graad 11 is, gereeld alkohol misbruik en in ‘n seksuele verhouding met ‘n ouer meisie betrokke is. As straf het Jannes se pa hom verbied om weer kitaar te speel vir die rockgroep, Kaleidoscope, en die verhouding tussen Jannes en sy ouers versleg verder. Dan verdwyn sy beste vriend en kort voor lank moet Jannes belangrike besluite neem oor lojaliteit en eerlikheid.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Nag van die nonnetjie-uil (1986)
  • As alles anders was (1991)
  • Wanneer die musiek ophou (1992)

Jaco Jacobs

Jaco is op die Karoodorpie Carnarvon gebore en het daar grootgeword. Hy het al op laerskool aan skryfkompetisies soos die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse kompetisie en die ATKV se skryfwedstryd deelgeneem. Hy het albei hierdie kompetisies op hoërskool gewen, en ook die Poortprys vir prosa en poësie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. In 1998 was hy hoofseun van die Hoërskool Carnarvon (uit ’n klas van net 14 matrieks, voeg hy altyd baie vinnig by!), en in sy matriekjaar het hy begin om vir tydskrifte soos Sarie verhale te skryf.

Ná skool het hy B.A. (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer. In 2001 het sy eerste jeugboek, Troetelgedrog, by LAPA Uitgewers verskyn. In 2002 het hy sy honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die UV voltooi. Hy was daarna redakteur van JIP en die boekeblad by Volksblad in Bloemfontein, en deesdae is hy uitgewer van kinder- en jeugboeke by LAPA.

Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy twee dogters, Mia en Emma, en twee honde, Pippie en Binki. As hy nie skryf nie, hou hy hom besig met DVD’s kyk, lees en wat ook al sy kinders lus het om te doen!

Sy skryfwerk is onder meer bekroon met die Alba Bouwerprys, die C.P. Hoogenhouttoekenning, die MML-letterkundeprys en sewentien ATKV-kinderboektoekennings. Hy het, benewens kortverhale, rubrieke en joernalistieke werk, al meer as 100 kinder- en jeugboeke die lig laat sien (sommige daarvan onder skuilname) en meer as 200 boeke in Afrikaans vertaal. Van sy kinderverse is deur Anna Davel getoonset en opgeneem as ’n kinderalbum getiteld In die land van Kammalielie. In 2014 word ’n fliekweergawe van sy jeugboek Suurlemoen! vrygestel.

Die volgende titels het, benewens kortverhale, vertalings en joernalistieke werk, uit Jaco se pen verskyn:

  • Troetelgedrog (LAPA, 2001)
  • Duskant die doodlyn (LAPA, 2001)
  • Rugbypret (LAPA, 2001)
  • Tande (LAPA, 2002)
  • Hoe wyd kan ’n seekoei se bek ooprek? (LAPA, 2002)
  • Pretpark (Human & Rousseau, 2003) – ATKV-kinderboektoekenning
  • Hoe hoog kan ’n sprinkaan spring? (LAPA, 2003)
  • Superheroes vlieg net saans (LAPA, 2003)
  • Krieketpret/Gevaarlike lopies (LAPA, 2004)
  • Nag van die monsters (LAPA, 2004) – ATKV-kinderboektoekenning
  • My ouma is ’n rock-ster (LAPA, 2004) – ATKV-kinderboektoekenning
  • Wiskunde gee my maagpyn (LAPA, 2004)
  • Net aliens eet spinasie (Human & Rousseau, 2005)
  • Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies (LAPA, 2005) – CP Hoogenhoutmedalje, Alba Bouwerprys
  • Nagvlerke (LAPA, 2005)
  • Die heel beste toebroodjie (LAPA, 2006)
  • Hoeveel tande het ‘n krokodil? (LAPA, 2006)
  • Supersterre (Vivlia, 2006)
  • Suurlemoen! (LAPA, 2007) – IBBY-ereboek 2007
  • Monstergrappe (LAPA, 2007)
  • Verneukpan (Maskew Miller Longman, 2007) – MML-letterkundeprys 2007
  • Danie Dreyer se dinosouruseier (LAPA, 2007) – ATKV-kinderboektoekenning
  • Troeteldiere: ’n Gids vir beginners (LAPA, 2007)
  • Voelers (Grille & Goeters 5) (LAPA, 2007)
  • Bertie Blikbrein (LAPA, 2008)
  • Suzie se superdoeper-sjampoe (LAPA, 2008)
  • Die Teddiebeerbus (LAPA, 2008)
  • Liewe land, ’n olifant! (LAPA, 2008)
  • Borrels (LAPA, 2008)
  • Pasop vir die feetjies! (LAPA, 2008)
  • Perfek (LAPA, 2009) – ATKV-kinderboektoekenning
  • Bertus soek ’n boek (LAPA, 2009)
  • Virus (LAPA, 2009)
  • Middernagfees (LAPA, 2009) – ATKV-kinderboektoekenning
  • Zackie Mostert en die ongelooflike kulkunsie (#1) (LAPA, 2010)
  • Zackie Mostert en die (byna) Baie Briljante Idee (#2) (LAPA, 2010)
  • Zackie Mostert en die super-aaklige soen (#3) (LAPA, 2010)
    Harlekyn (Tafelberg, 2010) – Wenner: NB/Klein-B-skryfkompetisie
  • Oempakadoempa – rympies vir pret en plesier (LAPA, 2010)
  • Madelief, moenie! (LAPA, 2010)
  • ’n Kas vol monsters 1: Die groen hand (LAPA, 2010)
  • ’n Kas vol monsters 2: Vampierfoto’s (LAPA, 2010)
  • My boetie dink hy’s Batman en ander rympies (LAPA, 2010)
  • Wat weeg ’n walvis? (LAPA, 2011)
  • Slaaptyd, Matilda (LAPA, 2011)
  • Zackie Mostert en die Gemaskerde Groen Gevaar (#4) (LAPA, 2011)
  • Zackie Mostert en die spokerige storie (#5) (LAPA, 2011)
  • ’n Kas vol monsters 3: Hollywood-mummie (LAPA, 2011)
  • ’n Kas vol monsters 4: Weerwolfprobleme (LAPA, 2011)
  • Haasmoles (LAPA, 2011) (ATKV-Kinderboektoekenning 2012)
  • ’n Kas vol monsters 5: Die perfekte monster(LAPA, 2012)
  • ’n Kas vol monsters 6: Kinderspeletjies (LAPA, 2012)
  • Professor Fungus en die zombie-tamaties(LAPA, 2012)
  • Professor Fungus en die ongelooflike miniatuur-avontuur(LAPA, 2012)
  • Waarvoor is seerowers bang? (LAPA, 2012)
  • Zackie Mostert druk ’n drie(#6) (LAPA, 2012)
  • Zackie Mostert se groot grapboek(LAPA, 2012)
  • Bastian Blom en die pratende portret(LAPA, 2012)
  • Bastian Blom en die gillende geraamte(LAPA, 2012)
  • Bennie Brink en die seerowerskat (Via Afrika, 2012)
  • Basjan en Bella (Via Afrika, 2012)
  • Vis & tjips(LAPA, 2013)
  • Professor Fungus en die mensvreter-piranhas(LAPA, 2013)
  • Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla(LAPA, 2013)
  • Zackie Mostert en die geheimsinnige gedaante(#7) (LAPA, 2013)
  • Bastian Blom en die woedende weerwolf(LAPA, 2013)
  • Bastian Blom en die Magtige Moerasmonster(LAPA, 2013)
  • Meneer Monster (LAPA, 2013)
  • Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word(LAPA, 2013)
  • Onverklaarbaar! Feite en vrae oor vreemde verskynsels(LAPA, Oktober 2013)
  • Zackie Mostert en die wriemelende wurmkoekies (LAPA, 2014)
  • Professor Fungus en die dino-avontuur (LAPA, 2014)
  • Professor Fungus en die robotkrisis (LAPA, 2014)
  • Superboetie (LAPA, 2014)
  • Holderstebolder: rympies vir rakkers (LAPA, 2014)
  • Kougom in my hare en ander rympies(LAPA, 2014)
  • Koebaai, Gorilla (LAPA, 2014)
  • Zackie Mostert en die meisiemoles (#9) (LAPA, 2014)
  • Zackie Mostert en die baie beroemde hond (#10) (LAPA, 2014)
  • My ouma is ’n film-ster (LAPA, 2015)
  • Professor Fungus en die jelliemonsters van Mars (#7) (LAPA, 2015)
  • Professor Fungus en die BreinDrein-eksperiment (#8) (LAPA, 2015)