Martie Kruger

Martie het in Johannesburg groot geword en bly tans in Durbanville.Sy het haar honneurs graad in sielkunde sowel as ‘n diploma in Moderne Motessori gedoen. Tans hou sy haar besig met ’n Afrikaanse opvoedkundige webwerf en as familieberader. Boeke uit haar pen sluit in: Jy kan ook ‘n entrepeneur wees, Die Mylpaal-reeks: Tatta doeke, Kleuterskool toe, Die Mangelvanger en ’n Sussie vir Natasha. Sy het ook die twee Dis jou Keuse-boeke geskryf genaamd: Gevang! en Oorleef! Martie het ook bydraes in die volgende bundels gelewer:Sweef! en Toulopers.

W.O. Kühne

Wilhelm Otto Kühne is in 1924 gebore in die distrik Graaf-Reinet. Na vier jaar in die onderwys tree hy toe tot die redaksies van Die Burger, onder andere as seiljagverslaggewer, Die Huisgenoot en Sarie Marais. In Die Klein Burger verskyn, toe hy nog onderwyser was, sy eerste kinderverhale. In 1960 redigeer hy ‘n tydlank Die Jongspan en maak ook self bydraes. Hy is in 1951 met Dorothy Margaret Hill, die bekende kinderboekillustreerder, getroud. Sy het ook die meeste van sy boeke geïllustreer.

W.O. Kühne is by uitstek bekend vir sy ses Huppelkind-boekies:Huppelkind (1958), Huppel maak ‘n plan (1958), Wip-Huppel-Wip(1959), Vrolike Huppelkind (1959), Huppel by die water (1960) en Huppel verjaar (1960) wat almal by Tafelberg verskyn het. Die verhale word in versamelbundels opgeneem in 1976 (Vrolike Huppelkind), 1982 (Huppel en sy maats, herdruk in 1988), en in 1995 in ‘n tweede hersiende uitgawe. Kühne was die eerste ontvanger van die C.P. Hoogenhout-toekenning vir Huppel verjaar. Dorothy Hill, sy vrou, het al die publikasies geïllustreer, behalwe die 1995-uitgawe met illustrasies van Alida Bothma.

Hoera vir Klaas Jas! (1975), Piet-‘n-Jan (1975), Die wonderbaarlike motor van Barnabas Bombas (1981), Pot, graaf en houtvurk (1983) en Pip in Otterland (moontlik 1983) en Eendag was daar ‘n witborskraai: ‘n fantasieverhaal (1985) is ook op die jonger kind toegespits. In 1960 publiseer Kühne sy eerste jeugboek, Kassie Krog in die knyp.

Die kring van Keerom (1962) was medewenner saam met Die goue protea van Mikro van die eerste prys in die wedstryd vir jeugverhale wat die Nasionale Boekhandel in 1961 uitgeskryf het om die verskyning van die eerste Afrikaanse boek in 1861 te herdenk. Dit het twee uitgawes en twaalf herdrukke beleef.

Die reeks Die nagvlieërs (1957), Die indringers (1958) en Die mededingers (1962) is ligte avontuurverhale. In Goue fluit my storie is uit: verhale, verse en raaisels vir kinders (1988) waarvan Linda Rode die samesteller was, publiseer Kühne ook ‘n hervertelling van die Icarus-verhaal onder die titel Die jong man wat te hoog wou vlieg.

Kühne het ook ‘n aantal kleuterboeke vertaal of oorvertel, soos Die flukse kabouters van Keulen (1969), My prentepoetseboek (1976) met verse en manupileerbare prente, en vier boekies in die reeks Bybelstories vir die kleinspan, naamlik Die geboorte van Jesus, Moses in die mandjie, Dawid en Goliat en Die kindertyd van Jesus, almal uit 1982.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die nagvlieërs (1957)
  • Die indringers (1958)
  • Huppelkind-reeks (1958-1982)
  • Kassie Krog in die knyp (1960)
  • Die mededingers (1962)
  • Die kring van Keerom (1962)
  • My prentepoetseboek (1976)
  • Die wonderbaarlike motor van Barnabas Bombas (1981)
  • Die waterskeiding (1981)
  • Pot, graaf en houtvurk (1983)
  • Eendag was daar ‘n witborskraai: ‘n fantasieverhaal (1985)
  • Goue fluit my storie is uit: verhale, verse en raaisels vir kinders (1988)

C.P. Hoogenhout-toekenning vir Huppel verjaar

Anzil Kulsen

Gebore op Upington, grootgeword op Keimoes en toe Laerskool op De Aar gaan doen. Hoërskool het ek weer op Keimoes klaargemaak.

Selfs op skool al het ek meer in tale belang gestel en eerder opstelle geskryf as om te leer. Vandat ek kan onthou, wou ek skryf.

Na skool was ek twee jaar Noordwes-Universiteit om B Com te gaan studeer. Dit het heel goed gegaan, maar in my tweede jaar kon ek net nie langer vir myself jok nie. Ek het opgeskop om die volgende jaar Taalpraktyk by Technikon OVS te gaan swot, maar het toe by Perm Bank op Upington begin werk en in dieselfde jaar my man ontmoet.

Ek het besluit om die lang pad te volg om my droom te verwesenlik. Ek het voortdurend gedigte, kortverhale en artikels aan tydskrifte en uitgewers voorgelê. In 2000 het ingeskryf vir ‘n kursus in Creative Writing deur The Writer’s Bureau of London. 2001 is my eerste artikel in De Kat gepubliseer. Ek het ‘n paar gedigte deur Poetry Institute of Africa gepubliseer. En so drie jaar saamgewerk as medewerker aan dagstukkie-boeke vir Carpe Diem Media.

Zita is in 2002 gebore. Ek het twee aktiewe jare daaraan gewerk. 17 Nov 2005 is dit amptelik aanvaar vir publikasie deur LAPA Uitgewers en 15 November 2006 was die bekendstelling op Upington.

Ek is sewe jaar gelukkig getroud. Word die jaar 30 en het twee pragtige kinders van 4 en 2 jaar oud. Ek hoop om nog baie boeke die lig te laat sien en aan nog vele karakters lewe te gee!

Publikasies

  • 2006: Zita (LAPA-Uitgewers)

Louis Krüger

Louis Krüger is 25 Oktober 1955 in Upington langs die Oranjerivier gebore. Hy studeer Teologie en Afrikaans-Nederlands aan Universiteit Stellenbosch.

In 1984 verhuis hy na Nederland waar hy as predikant van die Gereformeerde kerk in die gemeentes in Nieuwlande en Sliedrecht werk. Sedert 1994 is hy verbonde aan die Koningskerk Rotterdam-Feyenoord.

Louis Krüger se eerste boek, Die skerpskutter (1981) is met die Eugène Maraisprys bekroon. ‘n Basis oorkant die grens (1984) handel oor die oorlog in die voormalige Rhodesië.

Jeugverhale is Murasie in die stadDonkerboskind en Son op die water.

DonkerboskindSon op die waterGevaarlike land en Herinnering aan Agnes is in Nederlands vertaal.

Oor die Nederlandse vertaling Son op die water (Zon op het water) sê Hans Ester: “Een buitengewoon spannende en huiveringwekkende roman. Het is volstrekt geen kinderboek, maar veeleer voor alle lezers vanaf vijftien jaar bestemd. In zijn verlangen naar een leven in harmonie met de wetten van de aarde is Manasse vergelijkbaar met de hoofdpersoon uit ‘Life and times of Michael K.’ van J.M. Coetzee.”

Publikasies

  • Die skerpskutter – 1981
  • ‘n Basis oorkant die grens – 1984
  • Murasie in die stad (jeugroman) – 1984
  • Donkerboskind (jeugroman) – 1985
  • Son op die water (jeugroman) – 1989
  • Gevaarlike land – 1990
  • Herinnering aan Agnes – 1995
  • Wederkoms – 2001

Kobie Kruger

Kobie Krüger is in 1946 op ‘n bosveldplaas in Limpopo gebore. Sy verwerf ‘n BA en HOD aan Tukkies en werk daarna in Windhoek en Johannesburg. Hierna woon die gesin vir baie jare in die Krugerwildtuin, waar hulle drie dogters grootword.

Die wildtuinlewe is ook die inspirasie vir haar boeke Boskonsert en The Wilderness Family.

Publikasies:

Boskonsert – 1991 (Tafelberg)

The Wilderness Family – 2002

Karel Kielblock

Karl August Kielblock op 23 Oktober in Beaufort-Wes gebore as die naasjongste van elf kinders. Sy skoolopleiding geniet hy op die dorp en hoewel hy aanvanklik joernalis wou word, bekwaam hy hom as onderwyser aan die Paarlse Onderwyskollege en word in 1928 by die Sekondêre Skool (later Laerskool Hendrik Louw) in die Strand aangestel. Hier ontmoet hy ook sy vrou, Susan Vera Abel, ‘n onderwyseres. Hulle is in 1939 getroud en het twee kinders. Kielblock tree aan die einde van 1967 as onderhoof by die Laerskool Hendrik Louw af. Hy was ook lief vir sport en het lank betrokke gebly by die administrasie van tennis. Die egpaar woon tot met die afsterwe van Kielblock op 27 November 1991 in die Strand.

Meer as 40 boeke het uit Kielblock se pen verskyn. Van kleins af was hy lief vir lees en het ‘n begeerte gehad om te skryf. Na aanmoediging van sy vriend, Mikro, begin hy publiseer, aan die begin meestal kortverhale en sketse. Van die hoogtepunte in sy loopbaan was die Scheepersprys wat hy in 1970 vir Rebel (1969) ontvang het en die verfilming van onder andere die Jasper le Feuvre-reeks vir televisie.

Die skat van Java (1936) was een van die gewildste avontuurverhale in Afrikaans. Verskeie spannings- en speurverhale volg hierna, onder andere Jasper le Feuvre (1942), Moord op Eendevlei (1943) en Moord op Kroonbaai (1945).

Hoewel die bogenoemde romans, en die meeste van sy ander werk, vir volwassenes bedoel was, het die Afrikaanse jeug dit baie gou hulle eie gemaak. Resensente het dit ook dikwels vir die jeug aanbeveel, soos in die geval van Die skat van Java (J.W. 1936), Mooier as blomme (1961) (R.N. 1961) en Die vete (1962) (Hudson, 1963). Die radioverwerking van Die skat van Java was so gewild, dat daar in Die Jongspan daaroor berig is. Die jeug eien dit vir hulle op en Kielblock kom hulle as’t ware tegemoet met Die verlore skat (1964) wat by die verhaalgegewe van Die skat van Java aansluit, maar ‘n jong seun as held het.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Guillam Woudberg
  • Jasper le Feuvre-reeks
  • Lafras Cuyper-reeks
  • Moord op Kroonbaai
  • Nooi uit die vreemde
  • Onder die stil waters
  • Onrus op Rusdal
  • Rebel
  • Rivier van drome
  • Die skaam man
  • Die skat van Java
  • Skuil in die skaduwees
  • Die swaard verteer
  • Vaandrig Freyn
  • Verhale uit Herodotos
  • Weerlig slaan twee maal

Chris Karsten

Chris Karsten is op 9 November 1947 op Morgenzon gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal en behaal ‘n B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria (1970). As koerantjoernalis by die Volksblad, Beeld en Rapport reis hy wêreldwyd. Hy woon saam met sy vrou, drie seuns, hond, kat voëltjie, en vyf visse in Westdene in Johannesburg.

Floris Sapiens: ‘n fantasie (1985) is ‘n wetenskapsfiksieverhaal wat uniek in Afrikaans is. Dit verwerf in 1985 die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer). Die jokkie wat met perde kon praat (1997) is ‘n avontuurverhaal oor ‘n seun wat met perde kan praat.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Floris Sapiens: ‘n fantasie (1985)
  • Die jokkie wat met perde kon praat (1997)

Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) in 1985 vir Floris Sapiens: ‘n fantasie (1985)