Freda Linde

Freda Linde is gebore op Swellendam en het grootgeword op haar ouerplaas tussen Bonnievale en Swellendam, ‘n pragtige omgewing wat die agtergrond vorm van haar eerste boek, Terug na die Mimosas, ‘n bundel essays en sketse.

Letterkundiges van destyds soos proff. F.E.J. Malherbe en Gerhard Beukes het in hul besprekings in die pers in in Ons Eie Boek die werk as iets nuuts in Afrikaans verwelkom. Vandag is dié ‘baanbrekersbundel’ egter so te sê vergete en is Freda Linde tot buite die landsgrense bekend as kinderboekskrywer.

Daar het 32 boeke van haar verskyn, waarvan 29 kinder- en jeugboeke is. Haar eerste kinderboek wat in 1959 verskyn het onder die titel van Swiera van die Waterkant word deur dr. Lydia Snyman beskryf as “die eerste kinderboek in Afrikaans met ‘n simboolstruktuur”.

Sy ontvang in 1965 die C.P. Hoogenhout-toekenning vir haar kinderboek Snoet-Aleeen, maar dis eers agt jaar later, in 1973, dat sy talle toekennings begin kry. Sy is o.a. vyf keer bekroon deur die S.A. Akademie vir Wetenskap en kuns en vier keer deur SAIBI en is verreweg die mees bekroonde kinderboekskrywer in die land.

Freda se joernalistieke loopbaan begin in 1937 by die Unie-Volkspers se koerant Die Suiderstem, waar Uys Krige voor hy oorlogskorrespondent geword het, haar aangemoedig met haar skryfwerk. Sy skryf later baie essays, sketse en gedigte onder skuilname soos J. van Velden e.a. vir die U.V.P. se tydskryf Die Naweek.

Einde 1954 volg sy vir Audrey Blignault op as redaktrise van Die Huisvrou tot sy in 1960 ‘n redaksiepos by HAUM aanvaar. In 1964 word sy uitgewersredaktrise vir John Malherbe, destydse uitgewer van kinderboeke, en redigeer Afrikaanse vertalings van oorsese bekroonde boeke.

Sy besluit einde 1971 om permanent te vryskut en besoek Namibië (destyds nog Suidwes) ‘n paar maande later. Hierdie besoek word die inspirasie vir haar drie keer bekroonde boek, Die Singende Gras.

Hoewel geëtiketteer as kinderboekskrywer, skryf sy wel af en toe vir volwassenes en bydraes van haar is opgeneem in dertien Afrikaanse prosaversamelings. Ook poësie is nog steeds ‘n belangrike deel van haar lewe.

Sy was sekretaresse van die Ingrid Jonker Gedenkfonds vir die aanmoediging van jong digters sedert die ontstaan daarvan in 1965 tot 1971.

Sy het meer as 150 kinderboeke van buitelandse skrywers, hoofsaaklik prenteboeke, in Afrikaans vertaal vir plaaslike uitgewers. Van haar oorspronklike boeke het ook ‘n aantal in vertaling verskyn – oorsee sowel as plaaslik.

Publikasies

  • Terug na die Mimosas – 1944 (Unie-Volkspers) Essays en sketse
    Hersiene en vergrote uitgawe – 1958 (HAUM)
  • Swiera van die Waterkant – 1959 (HAUM)
    Heruitgegee as Vlug na Sonnige Oewer – 1982 (Qualitas)
  • Vreemdeling in my stad – 1962 (Tafelberg-Uitgewers) Essays
  • Die Rooi Haan – 1963 (Simondium)
  • Snoet-Alleen – 1964 (John Malherbe
  • As jy kan fluit op hierdie maat – 1964 (John Malherbe) Verse vir kinders
  • Dakkuiken – 1965 (John Malherbe)
  • Botter-aas – 1966 (John Malherbe) Prenteboek
  • Die Stadmusikante – 1967 (John Malherbe) Prenteboek
  • Ken Jy die Kierangbos – 1967 (John Malherbe)
  • Stadsmuis en Veldmuis – 1969 (John Malherbe) Prenteboek
  • Maraaia Prima-donna – 1970 (John Malherbe)
  • Jos en die Sog – 1971 (John Malherbe)
  • Jos en die Bok – 1972 (John Malherbe)
  • Jos en Klos – 1973 (John Malherbe)
  • Die Kraai wat Jantjie was – 1973 (Tafelberg-Uitgewers)
  • Die Singende Gras – 1973 (Tafelberg-Uitgewers)
  • By die oog van die Fontein – 1974 (Human & Rousseau) Berymde spreuke
  • In die Boog van die Sekel – 1975 (Tafelberg-Uitgewers)
  • Die Kokkewiet en sy Vrou – 1977 (John Malherbe)
  • Die Sirkus – 1979 (Die Kinderpers van S.A.) Rympies
  • Die Gesiglose e.a. Eenbedrywe – 1980 (HAUM) Vir volwassenes
  • ‘n Tuiste vir Bitis – 1980 (Qualitas)
  • Mevrou Hesseltein se Duiwe – 1985 (Tafelberg-Uitgewers)
  • Strepie en Kurfie – 1987 (Qualitas)
  • Die Fluitspeler – 1987 (Daan Retief-Uitgewers)
  • Maanwys – 1989 (Anansi) Prenteboek
  • Pienke – 1991 (Daan Retief-Uitgewers)
  • ‘n Vlieër in die Wind – 1998 (Anansi)
  • Eenders en Anders – 1999 (Tafelberg-Uitgewers)

Oorspronklike boeke wat in vertaling verskyn het

  • Das Taubschen auf dem Dach – 1968 (Schwabenverlag, Stuttgart)
  • Toto and the Aardvark – 1969 (Doubleday & Co., New York)
  • The Red Rooster – 1969 (Constantia-Uitgewers, Kaapstad)
  • The Musicians of Bremen – 1972 (John Malherbe, Kaapstad)
  • Flucht in die Wuste – 1978 (Thienemanns, Stuttgart)
  • The Singing Grass – 1975 (Oxford University Press, Londen)
  • Jesha – 1978 (Gamsberg Uitgewers, Windhoek)
  • ! Nais kha Namib !oa – 1979 (Gamsberg Uitgewers, Windhoek)
  • Schnuffel – 1981 (Maierverlag, Ravensburg)
  • Maraaia Prima donna, the Story of a Street-cat – 1982 (John Malherbe, Kaapstad)
  • The Flute Player – 1987 (Daan Retief Publishers)
  • The Princess of the Park – 1988 (Dias Publishers)
  • Polly Pink – 1991 (Daan Retief Publishers)
  • Mrs Hesseltine’s Pigeons – 1988 (HAUM, Pretoria)

Bekronings

  • 1965 – C.P. Hoogenhout-toekenning vir Snoet-Aleen
  • 1973 – Tienie Holloway-medalje vir Jos en die Bok
  • 1974 – C.P. Hoogenhout-toekenning vir Jos en Klos
  • 1974 – Scheepersprys vir jeuglektuur vir Die Singende Gras
  • 1975 – C.P. Hoogenhout-toekenning vir By die Oog van die Fontein
  • 1976 – W.A. Hofmeyrprys vir Die Singende Gras
  • 1978 – C.P. Hoogenhout-toekenning vir Die Kokkewiet en sy Vrou
  • 1983 – Scheepersprys vir jeuglektuur vir ‘n Tuiste vir Bitis
  • 1985 – Tienie Holloway-medalje vir Die Keiserkroon
  • 1989 – Alba Bouwer-prys vir Strepie en Kurfie
  • 1990 – Goue medalje van die Namibiese Kinderboekforum vir Die Singende Gras (retrospektief toegeken)
  • 2000 – M.E.R.-prys vir Eenders en Anders

Ander pryse en toekennings

  • 1982 – Silwer medalje van die uitgewer Qualitas vir Vlug na Sonnige Oewer
  • 1987 – Toekenning vir ‘besondere prestasie en dienslewering’ van die Hoërskool Jan van Riebeeck
  • 1961 – Eerste prys in Die Landstem se Letterkundige wedstryd van 1960 vir twee versamelings essays.
  • Sy het oor die jare ook verskeie pryse in ander letterkunde wedstryde verower. Die mees onlangse was ‘n eerste prys in Daan Retief-Uitgewers se kinderboekwedstryd van 1990.

Marzanne Leroux van der Boon

Marzanne Leroux van der Boon (Sasja) is in Somerset-Wes gebore, was in die Boland op skool, het aan ‘n Opleidingskollege en deur UNISA verder studeer as onderwyseres. Sy het by verskeie skole gewerk, betrokke by die Begaafde Kind-projek van die tagtigerjare en tot 1993 by die Rudolph Steiner Waldorfskool in Constantia as Afrikaansonderwyseres werksaam. Tans is sy deeltyds werksaam by ATICC (Vigssentrum) as berader. Sy is ook op die uitvoerende bestuur van die ASV (Afrikaanse Skrywersvereniging). 

Sedert 1974 is 16 romans van haar gepubliseer, asook talle kortverhale en sketse. Vier van dié publikasies was jeugromans. Sy het al twee geskiedkundige romans vertaal en doen gereeld ander vertaalwerk. Twee van haar romans asook ‘n novelle is bekroon. Sy en haar man reis dikwels vandaar dat haar romans dikwels teen ‘n buitelandse milieu afspeel.

Publikasies

  • Elizabeth se kind. 1973. N.G. Kerk-uitgewers.
  • Die Weerloses. 1974. Human & Rousseau.
  • Seisoen op ‘n verlate strand. 1974. Human & Rousseau.
  • Kennis van die lig. 1975. Tafelberg-uitgewers.
  • Lente van die rooi papawers. 1976. N. G. Kerk-uitgewers.
  • Ver land van vrede. 1977. Tafelberg-uitgewers.
  • Aandmis oor Paternoster. 1983 Tafelberg-uitgewers.
  • Tyd van herkenning. 1984. Waterkant-uitgewers.
  • Die blywendste seisoen. 1985. Waterkant-uitgewers.
  • Dosyn dae dosyn maande. 1987. Tafelberg-uitgewers.
  • Klaprose teen die wind. 1992. Tafelberg-uitgewers.
  • Soos honde van die hemel. 1995. Tafelberg-uitgewers.

Publikasies – Jeugboeke

  • Somernagdroom. 1981. Tafellberg-uitgewers.
  • Die wag vir die somer. 1983. Tafelberg-uitgewers.
  • Langebaan/Parys-retoer. 1986. Tafelberg-uitgewers.
  • Luc en Libertine. 1998. Tafelberg-uitgewers.

Marlene le Roux

Gebore en getoë in Bloemfontein. Getroud met ‘n man wat aan die akademie verbonde was en deesdae afgetree is. Ons het drie kinders en vyf kleinkinders en woon steeds in Bloemfontein.

Ek het in tydskrifte begin skryf, eers kortverhale en later vervolgverhale. Vyf van die ses spanningsverhale was aanvanklik vervolgverhale in die Sarie. My eerste boek, Die Vlindervanger is as radiodrama verwerk en ook verfilm.

Publikasies

  • Die Vlindervanger (Tafelberg-Uitgewers) 1973
  • Piroop is Rooi (Tafelberg-Uitgewers) 1974
  • Die Turkse Pyl (Tafelberg-Uitgewers) 1975
  • Valke oor Delphi (Tafelberg-Uitgewers) 1978
  • Alles op die Spel (Tafelberg-Uitgewers) 1979 
    [Dit het die eerste prys in ‘n jeugverhaalwedstryd wat deur die tydskrif Sarie en Tafelberg-uitgewers uitgeskryf was, verower en het eers as vervolgverhaal in die tydskrif verskyn voor dit in boekvorm uitgegee is.]
  • Die Vonds (Tafelberg-Uitgewers) 1980
  • Blomme in die Ryp (Tafelberg-Uitgewers) 1982
  • Wagkamer (Human en Rousseau) 1985
  • Die Koms van die Fluitspeler (J.P. van der Walt-Uitgewers) 1989 
    [Naaswenner-Volkskasbankprys]
  • ‘n Uil op die Voëlhok (J.P van der Walt) 1991 [ Volkskasbankprys]
  • Die Prys van ‘n Witkruis (Tafelberg-Uitgewers) 1991
  • Groen is die Kleur van Genade (J.P. van der Walt) 1993 [Volkskasbankprys]
  • Sterling (Tafelberg-Uitgewers) 1994 [ATKV-Toekenning]
  • Fokus op Stella (Tafelberg-Uitgewers) 1996
  • Die Pasaangeër (J.P van der Walt) 1999

Lulu Latsky

Lulu Latsky was die eerste vrou wat in 1930 ‘n doktorsgraad in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Haar ongeveer 50 boeke vir kinders getuig almal van haar intense belangstelling in die diereryk. Titels soos Diertjies en hul giertjies (1937), Verhaaltjies uit die dierelewe (1939) en Soveel diere soveel dinge (1960) verraai haar kennis oor ‘n groot verskeidenheid insekte, voëls, seediere, soogdiere en reptiele. Ook diere wat nie inheems aan Suid-Afrika is nie, vorm soms die tema, soos in Bere gaan te kere (1941), Oupa Bewer (1940) en Tannie Tydsaam (1949) waarin sy luidier bekyk. Met haar populêr-wetenskaplike werke is sy een van die eerste kampvegters vir natuurbewaring.

In die reeks Kennis vir almal was sy die redaktrise van die afdeling vir Natuurstudie. Sy skryf self nege titels in die reeks oor onderwerpe soos dierekommunikasie (Dieretaal – 1945), eetgewoontes en die voedselketting (Die wêreld is honger – 1948), kamoeflering (Oëverblindery – 1945) en die spinnekop (Spinnekopstreke – 1943).

Al Latsky se kinderboeke is geïllustreer, dikwels deur A.J.D. Meiring. Heelwat van haar kinderverhale het eers in Die Jongspan of Brandwag verskyn. Die voorwoord tot haar roman Die martelgang(1941) wil kennis oor tuberkulose so oordra dat kinders dit sal verstaan. Latsky skryf ook enkele Christelike verhale waaronderVrede en vreugde op aarde (1941).

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Diertjies en hul giertjies (1937)
  • Verhaaltjies uit die dierelewe (1939)
  • Bere gaan te kere (1941)
  • Oupa Bewer (1940)
  • Vrede en vreugde op aarde (1941)
  • Die martelgang (1941)
  • Bollie gered (1943)
  • Spinnekopstreke (1943)
  • Dieretaal (1945)
  • Kleinbaas Eina (1945)
  • Oëverblindery (1945)
  • Die wêreld is honger (1948)
  • Tannie Tydsaam (1949)
  • Soveel diere soveel dinge (1960)

C.J. Langenhoven

Loeloeraai (1923) is waarskynlik die eerste voorbeeld in Afrikaans van ‘n verhaal wat vandag as wetenskapfiksie bekend sal staan. Dit verskyn oorspronklik as vervolgverhaal in Langenhoven se rubriek Aan stille waters in Die Burger. Neelsie, Vroutjie en Engela ontvang ‘n besoek van Venus in die vorm van die hoogsbegaafde, Loeloeraai.

Ook die Afrikaanse klassieke fantasie Brolloks en Bittergal: Wonderstories vir die Kindertjies (1925) sluit aan by Langenhoven se eie Karoowêreld, en selfs die olifant Herrie en Kerneels en sy gesin verskyn in die derde verhaaltjie. Die leser kan die fout begaan om Brolloks en Bittergal as een lang verhaal in vier dele te lees, wat nie die outeur se bedoeling was nie, al kom ooreenstemmende karakters in die eerste drie verhale, Kapokkie, Die eensame huisie, en Die houtboskinders, voor. Die twee mensvreters tree net aktief in die eerste en laaste verhale op.

Jantjie Muis en Jakob Slang, Kootjie Totjie, Die twee oorlosies, My sewe maters, en Dirkie Mens en Snytjie Brood verskyn almal in 1931 in die reeks Verhaaltjies vir Laer Skole (sic). Dit is later (1976) onder die titel, Jantjie Muis en Jakob Slang met treffende illustrasies van Cora Coetzee saam uitgegee.

Sommige van Langenhoven se spookverhale waarvan die meeste versamel is in Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte(1930) het ook by kinders byval gevind. Met een van die eerste dramas wat spesifiek vir kinders geskryf is, die klugtige Die kinderparlement (1927) wou hy die kinders vertroud maak met die politiek van die dag. In Die Krismiskinders (1926), met illustrasies van A.Vries, gebruik Langenhoven sy verhaal en die drie engelagtige kinderkarakters, Talie, Aristo en Sontie om sy eie kunsfilosofie uit te beeld.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Loeloeraai (1923)
  • Geeste op aarde (1924)
  • Brolloks en Bittergal: Wonderstories vir die Kindertjies (1925)
  • Die Krismiskinders (1926)
  • Die kinderparlement (1927)
  • Die wandelende geraamte (1930)
  • Jantjie Muis en Jakob Slang (1931)
  • Kootjie Totjie (1931)
  • Die twee oorlosies (1931)
  • My sewe maters (1931)
  • Dirkie Mens en Snytjie Brood (1931)
  • Jantjie Muis en Jakob Slang (1976)