Naomi Meyer

Naomi Meyer is op 13 April 1975 in Tygerberghospitaal in die Wes-Kaap gebore. Sy word groot in ’n huis waar stories en taal ’n groot rol speel; haar ma, Maretha Maartens, is self ’n skrywer.

Naomi matrikuleer in 1993 aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en kwalifiseer haar daarna as prokureur. Gedurende haar studies, kombineer sy soveel tale moontlik met die regsvakke. Terwyl sy ná haar klerkskap in Kaapstad vir die Staat werk, doen sy aansoek vir die kursus Skeppende Skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad onder Etienne van Heerden en voltooi ook haar meestersgraad (met lof behaal) onder sy leiding. Sy raak betrokke by LitNet en die Taalsekretariaat en haar mini-tesis se titel is: LitNet se SêNet as postmodernistiese, achroniese gespreksruimte: ’n ontleding van die tydperk Januarie 1999 – Oktober 2001.

Sy woon vanaf 2002 in Ierland saam met haar man, ’n sielkundige, waar sy kontraktueel by ’n regsuitgewer betrokke was, regsassistentswerk by ’n een-man-prokureur verrig het en die afgelope drie jaar viool by ’n musiekskool gee.

Publikasies

  • 2006: Ruik jy die filmster? (Tafelberg)

Empie Maritz

Empie Maritz (néé Jansen van Rensburg) is op 15 September 1922 op Bethal gebore. Sy gaan van graad 1 tot matriek skool op Carolina waar haar ouers in die distrik boer. Gaan tuis in die skoolkoshuis.

Opleiding as verpleegsuster. 1) Diploma in Verpleegkunde aan die Algemene Hospitaal, Pretoria 1944. 2) Diploma in Verloskunde aan die Verre Oosrandse Hospitaal Springs 1945.

Getroud met Brigadier Danie Maritz. Gesin: Een seun – dr. Danie Maritz (oogspesialis te Benoni), getroud met Esmé Jonck. Drie kleindogters.

Skryfwerk: Begin skryf op hoërskool – net vir kamermaats – nie vir publikasie. Jare daarna slaaptydstories vir my kleuterseun. Dink eers ernstig aan skryf toe eerste van stories in Patrys gepubliseer word.

Stokperdjies: Tennis, reis (binnelands sowel as buitelands). naaldskilder, lees-lees-lees.

Uit Empie Maritz se pen het verskyn: Jeug- en kleuterboeke (21); Romans (23); Radio Hoorspele vir Jeugprogramme (2); Radio Vervolgverhale vir Jeug (2); Jeugboeke verwerk vir radio (3); Bydraes vir versamelde werke (3); Praatjies vir SAUK Vrouerubriek (4 reekse van 8 elk); Praatjies vir SAUK vroegoggendprogam (1 reeks van 20); Boeke verfilm (1); Op TV gebeeldsaai (2); talle artikels vir tydskrifte; kortverhale vir jeugtydskrifte.

Totale geubliseerde boeke (44); Herdrukke (54); Amptelik voorgeskryf vir skole (9) – ‘n onbekende aantal gebruik as aanvullende leesstof.

Publikasies: Jeugboeke

  • Koraalkop se dogters – (J.L. van Schaik Uitgewers) Geskryf vir ‘n wedstryd deur uitgewers. Derde prys.
  • Drie en die Inbreker – 1964 (Voortrekkerpers)
  • Drie en Husse met Kraakore – 1964 (Voortrekkerpers)
  • Drie op die Smalle Weg – 1964 (Voortrekkerpers) 
    Herdruk 1983 met titel Husse met kraakore.
  • Die geheim van die Pers Blom – 1964 (Afrikaanse Pers)
  • Vuiste en Besluite – 1982 (Pat Lubbe uitgewers)
  • Dilemo van die Loeloeberge – 1962 (Afrikaanse Pers)
  • Vlam in die Namib – 1975 (Tafelberg Uitgewers)
  • Angsvlug uit Angola – 1978 (Tafelberg Uitgewers)
  • Sy Hond en sy Spantou – 1981 (JP van der Walt Uitgewers)
    Herdruk 1989 met titel Spantou (Marius Lubbe Uitgewers)
  • Spore en Speurders – 1980 (Pat Lubbe Uitgewers)
  • Avontuur op Mars – 1980 (Retief Uitgewers)
    Verwerking van Die Geheim van die Pers Blom.
  • Angel van die Wesp – 1983 (Tafelberg Uitgewers)
  • Gelukbringer – 1986 (Boekateljee Uitgewers)
  • Sewe in Een Slag – 1987 (Retief Uitgewers). Kleuterboek. Op televisie gebeeldsaai 1989 en 1994. Vertaling: Seven in one blow – 1988 (Retief Uitgewers)
  • Raai, raai wat is haar naam? – 1988 (Retief Uitgewers) Kleuterboek. Vertaling: Guess the baby’s name – 1988 (Retief Uitgewers)
  • Gesoek: Dinosourus van die Drakensberg – 1989 (H.A.U.M. Uitgewers)
  • Eiland in die Wind – 1990 (Tafelberg) Kortlys vir Sanlamprys.
  • Windvlug – 1995 (Benedict Boeke)

Bydraes vir versamelde werke:

  • Staal Burger – 1966 (Perskor)
  • Stories vir dogters – 1968 (JP van der Walt Uitgewers)
  • Kaleidoskoop vir Dogters – 1970 (JP van der Walt Uitgewers)

Radio Vervolgverhale vir Jeugprogram:

  • Die Blou Vlam – 1967
  • Avonture op Kommando – 1970

Jeugboeke vir Radio verwerk:

  • Husse met Kraakore – 1964
  • Die Geheim van die Pers Blom – 1965

Hoorspele vir SAUK-Jeugprogram:

  • Die Meisie sonder Glimlag – 1962 (Heruitgesaai 1964)
  • Wit Maskers in die Nag – 1963

Wendy Maartens

Ek is gebore op Worcester, en matrikuleer aan die Hoërskool Outeniqua op George waar ek die see en sagte groen berg oneindig lief leer kry. Studeer aan die Onderwyskollege op Oudtshoorn en hou skool in die Karoo en op Stellenbosch. Getroud met Ben, ‘n fassiliteerder in lewensvaardighede. Woon in Somerset-Wes op die oewer van die Lourensrivier. Gebruik elke moontlike geleentheid om verre lande, tale en kulture met ons rugsakke te verken. Het nie kinders nie, maar wel drie katte wat die huis regeer. Ek het onlangs uit die onderwys bedank om voltyds te skryf en vertalingswerk te doen. Ander stokperdjies sluit in perdry, joga, tuinmaak, ultra-staproetes en rugsakreis.

Publikasies:

Kinderboeke

  • Lena se bottelboom (Lapa)
  • ‘n Ster met strepe (Lapa)
    Beide word ook in Engels uitgegee en laasgenoemde is vertaal in Xhosa, Zoeloe, Sepedi en Setswana
    Kortverhale verskyn in 

  • Mense is Mense (Lapa)
  • Braaivleis in die bos en ander verhale (Aktuapers)
  • Die Selfoon en ander verhale (Aktuapers)
  • Biltong en Barakat (Tafelberg)

Toekennings en/of pryse

2005 – Lena se bottelboom was in 1995 op Exclusive Books se “Publisher’s Choice”-lys
2006 – Eervolle vermelding by Noma Awards for publishing in Africa
2007 – Finalis by ATKV se Veertjie-toekennings

Maretha Maartens

My pa was ‘n “ongeletterde”: ‘n weeskind wat beeste opgepas het in die berge van die Langkloof. Hy was ook briljant, met die soort musikaliteit wat hom, met standerd 6 lewenslank agter sy naam, in staat gestel het om die een musiekinstrument na die ander te bemeester, om verbande te lê, taal en poësie te waardeer. Hy het my eerste tikmasjien, ‘n draagbare Olivetti, vir my gekoop en aan my die opdrag gegee om myself ordentlik te leer tik. Dit het ek in my standerdses-jaar gedoen. Die brein in my vingerpunte is aldus ontsluit en daarna het ek geskryf wat ek wou en wat ek moes: romans om ons aan die lewe te hou terwyl Hennie vir predikant studeer, semi-pastorale nie-fiksie boeke oor siekte en lewe en dood, jeugverhale waarvan Inkvoël die White Raven Collection gehaal het en met die Rooms-Katolieke Kerk se Kinderboektoekenning in Oostenryk bekroon is, boeke waaroor my kop so byna-byna gewaai het: Ruitevrou, Pot vol winter, Smaartie is skeel. Gedurende my eie geestelike pelgrimstog het ek Bybelstudiedagboeke en ‘n Kinderbybel of twee geskryf.

Wanneer ek terugkyk op veral die geestelike boeke wat ek die afgelope twintig, vyf en twintig jaar geskryf het, besef ek dat dit die een genre is waar kul onmoontlik is. Jou geestelike publikasies reflekteer jou babadae, jou tienerjare, jou jong volwassenheid en jou middeljare as gelowige. Daarom verskil die aanslag en inhoud van ‘n dagboek soos Om elke dag te cope (2000) van byvoorbeeld Die Huisdagboek (1986) en Maak my anders, Here (1992).

Vanaf haar ontstaan tot Maart 2000 was ek redaktrise van Finesse, ‘n tydskrif vir Christenvroue. Tans is ek redaktrise te velde by Vrouekeur, ‘n rubriekskrywer vir Volksblad en vryskut-joernalis.

Noudat Hennie emeriteer het en ons Skryfhuis, ons joernalistieke diens-onderneming vanuit die huis bedryf, het die geleentheid om voltyds te skryf, eindelik aangebreek. Soos ‘n pasgetroude vrou wat weet te vertel dat sy graag ses kinders sal wil hê, sou ek ook kon sê dat ek graag in die toekoms ‘n paar gesonde en leesbare babas in die lewe wou bring en dat hulle name nie net Dagboek 1, Dagboek 2 en Dagboek 3 sal wees nie. Maar bruide en skrywers moet liefs eers doen en dan noem.

Die lewe het sy vreugdes en sy liefdes, ontdek jy in jou dikheuptyd, dinge soos saamwees met Hennie (ons is deur 31 jare saam), ons dogters, Danila en Naomi wat hul eie onafhanklike skryflewens bedryf, en ons aangetroude geliefdes. En terwyl daar nou ruimte voor is, beslis ook die twee kleindogters, Margerethe en Lilian, twee waterrotte, rympieliefhebbers, mode-ontwerpers en sangsterre van 5 en 4 jaar onderskeidelik. Een van die diepste vreugdes is ligloop. Bedoelende: min goeters, min meubels, min nonsens. Om ver weg van die Belangrike Byeenkomste, die statussimbole, die wette en regulasies van die Verenigde Republiek van die Snobs te mag leef.

‘n Paar feite:

Gebore op 22 Junie in die laaste oorlog te Bloemfontein.

Groei op in Jacobsdal en Petrusburg, studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch en volg ook ‘n diplomakursus in verpleging. Was dosent in Didaktiek en aflosdosent in Opvoedingsfilosofie.

Getroud met Hennie Maartens. Hennie en Maretha was leraarspaar in drie gemeentes van die NG Kerk, t.w. Oos-Londen Moedergemeente, Welkom Moedergemeente en Noordhoek, Bloemfontein.

Sy verkies Hennie bo enige ander man op aarde; kindergeselskap bo small talk; versiersuiker bo die koek; eet bo dieet; stap en swem bo draf of sink; snorkel bo 10,000 ander aktiwiteit; Vrystaatse reën bo Londonse reën; lees bo televisie; orde bo wanorde; lig leef bo opgaar; ‘n half-leë klerekas bo ‘n driekwart-vol klerekas; haar rekenaar bo haar stoof; Midde-Oosterse argeologie bo insae in die liefdeslewe van filmsterre; orrel- en vioolmusiek bo doedelsak; gumbootdanse bo boksgevegte.

Publikasies:

Omtrent 90 boeke. Die publikasies sluit in geestelike boeke, geestelike dagboeke, romans, kortverhale, kinderboeke, tienerboeke en romas vir jong volwassenes.

Skryf ook (geestelike) verhoogstukke vir groot en kleiner groepe. Het o.a. Legio wat so roepDie Kruiskoning (Paasspel), Die Kripkoning (kersspel) en Kom huis toe, Koningskind! Geskryf en die regie daarvan gedoen. Vir Hoërskool Chris van Niekerk op Vredefort het sy die verhoogstuk, Moses, geskryf waaraan elke ind in die hoërskool deelgeneem het. Noorhoek se gemeente het 7 jaar lank evangeliese dramas onder Hennie en Marehta se leiding opgevoer.

Stories vir jong kinders (ouderdom 5-8)

  • My dik boek – Tafelberg 1982
  • Ons mooiste Kersfees – CUM-boeke 1983

Geestelike boeke vir kinders (ouderdom 8-11)

  • Aljander-Aljander – Lux Verbi 1981
  • Groot genoeg om te weet – Lux Verbi 1986

Kinderboeke (ouderdom 9-13)

  • Die bomelaars – Tafelberg 1984
  • Grys kat, grys kat, jy laat vir Anja hoes – Waterkant 1984
  • ‘n Pakkie mieliepitte /Sidwell’s seeds – Tafelberg 1984 (Ook vertaal in Duits as Sidwell und der Müllhaldenmann.)
  • Swart Griet is vas – Tafelberg 1984
  • Die sakmense – Tafelberg 1985 (Sanlamprys vir jeugliteratuur, Goud. Credo Toekenning.)
  • Die inkvoël – Tafelberg 1987 (Ingesluit in die White Raven Collection. Vertaal in Engels, Duits en Hollands.)
  • Goue fluit, my storie is uit – Tafelberg 1988
  • Is Gideon dan ‘n swartskaap? – Daan Retief 1988
  • Zek en die skoenlappers van die nag – Pro Biblia 1989
  • Plek van dolfyne – Tafelberg 1990
  • Smaartie is skeel – HAUM literêr 1993

Tienerboeke (ouderom 12-15)

  • Gezina en die bruin wind / Ring around the moon HAUM 1985
  • Rowe val af – Tafelberg 1985
  • Oor die nek van die draak – Tafelberg 1988 (Sanlamprys vir Jeugliteratuur, Silwer.)
  • Op Filippa se planeet – JP van der Walt 1989 (Volkskasprys vir Jeugliteratuur.)
  • Geagte mej. Snob/ Dear miss Snob – Daan Retief Uitgewers 1992
  • Spinnekopsomer – Tafelberg 1992 (Sanlamprys vir Jeugliteratuur, brons.)

Geestelike boeke, tieners

  • Oud genoeg vir nagbriewe – Lux Verbi 1987
  • Mooi loop, Meisiekind – Bybelkor 1989

Romans vir jong volwassenes

  • Moedhou, Maria, dis donkermaan – JP van der Walt 1984 (Wenner literêre kompetisie.)
  • ‘n Pot vol winter – HAUM 1989 (Andrew Murray toekenning.)
  • In die hemel eet mens mieliepap – Perskor 1991 
  • Keerpunt – CUM 1991