Engela van Rooyen

Engela van Rooyen (Linde) is op 11 Augustus 1939 gebore te Kakamas teen die Oranjerivier (Grootrivier) in die distrik Kenhardt (Kaap-Kolonie). Haar voorouers was pionier-koloniste in ‘n besproeiingsnedersetting.

Die skryfster het plaaslik skoolgegaan en is vir verdere studie na Stellenbosh vir ‘n B.A.-graad en onderwysdiploma. In latere jare, tydens ‘n verblyf op Potchefstroom, het sy B.A.-Honns en ‘n M.A. aan die PU vir CHO verwerf.

Engela van Rooyen het reeds as student begin publiseer, en het gedurende die eerste jare uitsluitlik tydskrif- en radiowerk gelewer. Twee van haar radiohoorspele is met pryse bekroon. Haar eerste roman was Die Wenteltrap. Sy publiseer 22 jeugverhale waarvan sommiges wyd voorgeskryf is, en talle ligter werke onder die name Engela Linde, Louisa du Toit en Barend Bornman.

Etlike van haar jeugboeke is wyd voorgeskryf vir gebruik in skole.

Haar jongste en honderste publikasie is Vuur op die Horison – ‘n verhaal wat in hoofsaak oor die Anglo-Boereoorlog handel.

Engela van Rooyen is getroud met ‘n predikant. Die egpaar het vier kinders en ses kleinkinders. Hulle woon sedert hul aftrede in Pretoria.

Publikasies: Jeug- en kinderboeke

Tafelberg

  • Kaboep en Koer
  • Gesie van Sonsig
  • Gesie maak lig
  • Gesie in Villa Musica
  • Gesie in diep water
  • Middelmannetjie
  • Die môreboom
  • Die duiwe van Botala

Jutalit

  • Jat kry vlerke
  • Die Niemands van Langelaan

Human & Rousseau

  • Joepie maak plek
  • Jan Môre en die hamer / Johnny Later & his hammer

Daan Retief

  • Koenie se ontdekking / Stevie’s treasure
  • Die ding /The thing
  • Die koning/boswagter en die reënboog / The king, the forester and the rainbow
  • Spore /Tracks
  • Die nuwe woud / The new forest (Ook vertaal in Xhosa, Setswana en Zoeloe)

Perskor

  • Omkeer op Wolwekop
  • Janie in Akkerhof

Aktua

  • In die begin

NGKBH

  • Die kokkewiet roep
  • Figure uit die Nuwe Testament

George Weideman

GEORGE WEIDEMAN is vier-en-vyftig jaar gelede (op 2 Julie 1947) op die Karoo-dorp Cradock gebore. Hy is dus oud genoeg om ‘n oupa te wees – maar sy twee dogters, Melita (nou 18) en Siobhan (nou 13), en sy vrou, Celién, hou hom nog jonk. Melita is ‘n student in Natuurbewaring aan die Kaapse Technikon en Siobhan is ‘n Graad 8-leerling aan die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, waar die Weidemans bly.

George het in die Karoo en in die Noord-Kaap grootgeword en aan die Hoërskool Namakwaland op Springbok gematrikuleer. Hy was nie ‘n vreeslike goeie student nie en het veral gesukkel met Wiskunde en Skeinat. Maar hy het sy eie skoolkoerant gehad, vandat hy dertien jaar oud was. Daarin het hy geskryf wat hy wou … wel, ámper wat hy wou, want die onnies het ook Die Namakwa gelees!

Maar vandat hy kan onthou, wou hy skryf. Eintlik het letters en woorde en vreemde tale hom nog altyd gekielie. Toe hy nege jaar oud was, wou hy tale soos Magjaars (die taal wat hulle in Hongarye praat) en Yslands (die taal van die Yslanders) leer. Daar is iets geheimsinnigs aan woorde … Goed soos hiërogliewe, Sjinese beeldskrif, Runeskrif en enige soort geheimskrif maak die lewe interessant. Om te weet waar woorde vandaan kom, is lekker. Sy pa was net so verlief op woorde en liedjies en hy het altyd nuwe uitdrukkings, woorde, gesegdes en liedjies opgeteken. Woorde is nie so vaal as wat hulle lyk nie. Hoekom is pampoen nou juis pampoen? Maar dis ‘n lang storie vir ‘n ander dag.

George hou van stories. Vandat hy kan onthou, het sy ouma en sy ma en sy tantes stories vertel: spookstories, grilstories, stories met stertjies … Dis seker maar hoekom hy skrywer geword het.
En verbeelding! Dis die lekkerste van verbeelding, het hy vroeg uitgevind: As jy nou nie baie lus is om werk (nare woord!) te doen nie, kan jy altyd jou verbeelding aanskakel: bzzz, groen liggie flits, en daar gaan jy. Voor jy jou kom kry (of voordat iemand jou in die hande kan kry) gly jy oor ‘n spierwit gletser in Ysland (sjoe, waar’s my trui?), of jy ry op ‘n wildemaanhaarperd oor die vlaktes in Hongarye.

Só het ‘n paar kinderboeke (Rykdom uit rommel, Ben, Babi en die geel helikopter, Die raaisel van die spuitnaalde, Die storie van die lieweheersbesie en Koeries se rivier – almal uitgegee deur MML: Rimpelstories) en drie jeugboeke (Los my uit, paloekas!, Die optog van die aftjoppers en Dana se jaar duisend – uitgegee deur Tafelberg) al uit sy verbeelding ‘n draai op papier gegooi. Hoewel hy ook gedigte en kortverhale en romans en toneelstukke vir grootmense skryf, gee die skryf van kinder- en jeugboeke hom die grootste gevoel van vryheid. Dis dieselfde soort vryheid wat ‘n mens ook ervaar as jy ‘n lekker boek lees, nie waar nie?

Alet Steenkamp

Alet woon in Pretoria saam met haar man Nic, haar seuntjie Adriaan en tienerdogter, Christine. Sy is mal oor diere. Sy het vier katte en vier honde en sal enige tyd nog katte wil hê. Sy is ‘n Afrikaansonderwyseres in die hoërskool, maar hou nie nou skool nie. Sy is mal oor donker sjokolade, tienerboeke lees, skryf en Rock- en alternatiewe Afrikaanse musiek. Verder maak sy graag tuin en kyk dikwels goeie flieks (want sy is ‘n sucker vir ‘n goeie storie).

Saamskryf

Alet en Nerine Ahlers het begin saamskryf toe hulle besef het dat daar nie genoeg lekker tienermeisieboeke op die mark is nie (dit was voordat Maasdorp en Reënboogrant herdruk is). Hulle skryf die tienerboeke altyd saam. Nerine tik op haar skootrekenaar en hulle praat saam en besluit woord vir woord wat om te skryf. Dit is ‘n ongelooflik opwindende ding om so saam te skryf. ‘n Mens druk mekaar verder as wat jy as individu sou dink of waag. Dit veroorsaak dat die karakters en situasies by enige persoonlike ervarings verbygroei.

Die twee boeke wat reeds verskyn het, is

  • Selfone, skelms en sjokolade – 2006 (Lapa)
  • SMS’E, skurke en spinnekoppe – 2007 (Lapa)

Cecilia Steyn

Cecilia Steyn is die trotse ma van twee pragtige seuns. Sy woon in Klerksdorp in Noord-Wes saam met haar man, Johan en hul jongste seun Francois. Die twee gediertes in haar huis is die gesin se gemmerkat, Musca en Labrador, Oreo. Deesdae as sy nie lees nie, skryf sy. Sy is op 9 September 1974 in Welkom in die Vrystaat gebore, die jongste van drie kinders, was sy nog altyd lief vir skilder en skets en was kuns op Hoërskool haar gunsteling vak. In 1992 voltooi sy matriek.

Na skool skop sy haar loopbaan af in die kleinhandel Apteekbedryf.

In Desember 1995 trou sy met Johan Steyn. In 1998 met die geboorte van haar tweede kind speel sy tuisteskepper vir die volgende vier jaar. In 2000 vereis Johan se werk dat hulle na Noord-Wes moet verhuis. In 2002 begin sy by een van Klerksdorp se grootse apteke te werk. Kort voor lank word sy betrek by die administrasie kant van die bedryf en vandag is sy steeds die Tak Administreerder van HealthPharm Wilkpoppies.

Op die dappere ouderdom van veertig probeer sy in 2014, onder die mentorskap van haar broer en bekende skrywer, Fanie Viljoen, vir die eerste keer haar hand aan die skryfkuns.

In 2015 verskyn drie kortverhale in die tydskrif, Vrouekeur. Evan se Pizza, Die Affair en Belliedans op die duine.

In September 2015 woon sy die ATKV-Lenteskool vir skrywers van Romanses by en vind dit baie insiggewend.

In Januarie 2016 word haar eerste jeugroman – Die Meisie op die dakdeur Lapa uitgewers gepubliseer.

In Februarie 2016 publiseer Human & Rousseau Hartklop, die eerste boek in ‘n reeks vir tienermeisies.

Cecilia is mal oor sjokolade. Sonder musiek sal sy mal word en soms geniet sy dit om haar hande vuil te maak en saam met haar man aan hul huis te help restoureer of in die tuin te werk.

Maritha Snyman

CV ten opsigte van Jeugliteratuur

Prof. M.E. Snyman, B.A(UP), BA(Hons)(UP), HOD (UNISA), MA(UP), DLitt(UP) – mede-professor

Oorspronklik ‘n onderwysers in tale – Afrikaans, Engels en Frans – met spesialsering in Letterkunde – het Prof. Snyman met haar doktorale proefskrif die veld van mediakommunikasie begin ondersoek. Na haar permanente aanstelling by die Departement Afrikaans (UP) in 1993 bied sy hoofsaaklik Mediageletterdheid aan. Sy raak betrokke by en inisieer verskeie geletterdheidsprogramme. Sy stel veral belang in die wyse waarop inligting aan ontwikkelende gemeenskappe oorgedra kan word. Ten einde die doel te bereik, ontwikkel sy bepaalde kundigheid in die veld van die resepsie-ondersoek en doen sy navorsing oor die ontwikkeling van modelle waardeur inligting optimaal aan ‘n verskeidenheid gehore oorgedra kan word. ‘n Ander belangstelling van haar is jeugliteratuur en sy het veral bekendheid verwerf oor haar leserstudies op die gebied. Prof. Snyman sluit in 1999 by die Departement Inligtingkunde aan om die vak Inligting vir ontwikkeling aan te bied en haar navorsing in resepsiestudie verder uit te bou.

Publikasies: Jeugboeke

  • 1995. Reënboogrant: Skelmstreke en kattekwaad. Midrand: Perskor, p110.
  • 1996. Reënboogrant: Die balletkonsert. Midrand, Perskor. p141.
  • 1996. Reënboogrant: Alleen tuis. Midrand: Perskor, p150
  • 1996. Reënboogrant: Nag van Angs. Midrand, Perskor. p135.
  • 1997. Reënboogrant: Die hanswors. Midrand. Perskor, p132.
  • 1997. Reënboogrant: Teddie se geheim. Midrand. Perskor, p143. Wen hiervoor ATKV-prys 1999. (Snyman, M. & Hattingh, L)
  • 1998. Reënboogrant: Die ontvoering. Midrand. Perskor, p138. (Snyman, M. & Hattingh, L.)
  • 1998. Lekker lawwe lagboek. Pretoria: Fantasi.
  • 1999. Lekker lawwe lagboek 2000. Pretoria: Fantasi.
  • Herskryf Oloff die Seerower en Oloff en die Seewraak in 1999 vir Fantasi.
  • Vertaal die Fabels van La Fontaine (Verskyn in 1999 by Fantasi)

Navorsing oor jeugliteratuur

  • Snyman, M.E. 1994. “Die Afrikaanse jeugliteratuur: ‘n herbesinning”. Tydskrif vir Letterkunde, XXX11:1, Augustus, pp39-54.
  • Snyman, M.E. 1994. “Vat ‘n gap met Saartjie”. Die Suid-Afrikaan, no 51, Desember, p49.
  • “Afrikaanse ontspanningliteratuur vir die jeug.” Die Burger. 1 Mei, p4.
  • Snyman, M.E. 1996. “Reeksboeke vir kinders: ‘n wolf in skaapsklere?” Die Kaapse Bibliotekaris. Vol 40 No 6, Junie/Julie, pp12-16.
  • Snyman, M.E. 1999. “Hoekom en hoe ek vir jongmense skryf.” Stilet. 11/1, p 107 -115.
  • Snyman, M.E. 1999. “Ou Afrikaanse reekse weer uitgegee.” Drielande(n)punt: forum voor Afrikaanse en Nederlandse jeug(d)literatuur. Maart, p 9.
  • Doen op die oomblik navorsing oor die reeksboek in Afrikaans as deel van ‘n projek om ‘n Afrikaanse jeugliteratuurgeskiedenis te skryf .

Resensent: Resenseer sedert 1996 jeugboeke vir Beeld.

Annelize Snyman

Die fokuspunt in drie van Annelize Snyman se vier jeugromans is die verhouding tussen mens en dier. In Arka (1984) stry die dertienjarige Isabel ‘n verbete stryd om haar geliefde hond, Arka, te behou, in Ula van die see (1986) is die verhouding tussen ‘n blinde meisie en ‘n dolfyn ter sprake en in Balthasar knoop ‘n tienerseun ‘n vreemde soort vriendskap met ‘n haai aan.

Sandedans (1987) is die enigste verhaal deur Snyman waarin daar nie diere figureer nie. Tobie, veertienjarige boekwurm en introvert, blink nie uit in sport nie en word om hierdie rede deur sy pa as ‘n tou-opgooier beskou. Wanneer die Cessna 207, waarin Tobie ‘n passasier is, in die Namibwoestyn neerstort kry hy die geleentheid om sy boekekennis van die woestyn en elektronika prakties toe pas en kan hy uiteindelik aan sy pa bewys dat hy nie ‘n lafaard is nie.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Arka (1984)
  • Ula van die see (1986)
  • Balthasar
  • Sandedans (1987)

Solet Scheeres

Ek is ‘n huisvrou in Holland. Eintlik woon ek in die provinsie Brabant, maar Holland allitereer beter met huisvrou. Ek woon nou al sewe jaar lank hier in die platland en lees graag Elisabeth Eybers se latere gedigte om my daaraan te herinner dat ek nie die enigste mens is wat ooit huis toe verlang het nie.

Ek het drie pragtige kinders en ‘n baie liewe man. As ek nie die huis skoonmaak, op my fiets rondjaag of met die kinders raas nie, skryf ek! Ek skryf die heel graagste vir tieners en ek hou ook baie daarvan om kortverhale te skryf. Vanjaar het ek ook my hand aan ‘n volwasse niefiksie-boek vir Tafelberg Uitgewers gewaag. Verder skryf ek ook graag keurverslae oor ander skrywers se manuskripte vir uitgewers. Dit is vir my ‘n wonderlike uitdaging om te probeer verstaan waarom sommige stories werk en ander nie.

As kind het ek in die ou Noord-Transvaal op ‘n plekkie met die naam Alma grootgeword. Die “dorpsbiblioteek” was ‘n kamer aan die kant van ons huis. Ek het gevolglik enige tyd van die dag of nag vrylik toegang gehad tot die vier vaal kaste vol boeke. Een maal ‘n maand het die provinsiale boekebus al die pad van Nylstroom af gekom om boeke om te ruil. Dit was elke keer vir my ‘n hoogtepunt om met die trappie in die bus in te klim en al die nuwe boeke te ruik. Om ‘n lang gesprek met mevrou Veldsman, die reisende bibliotekaresse, te voer, wat duidelik dieselfde gevoel vir boeke as ek gehad het. En om as die bus weg is, iewers onder ‘n boom te gaan sit en lees en lees en lees.
Op laerskool was ek dol op Elsabe Steenberg se boeke. Later op universiteit het ek haar somtyds op die kampus gesien, maar ek was altyd te bang/skaam om ‘n gesprek te begin. Blou is ‘n bokkie en Boom, bomer, boomste sal altyd gunstelinge bly! Ek was ook gek oor Helena Lochner, Hester Heese en C.S. Badenhorst se boeke – onthou jy nog die bloeddorstige Assie? Danda op Oudeur het my aangegryp soos min ander boeke en ek wens Chris Barnard wil meer/weer vir die jeug skryf. Ag, daar was so baie wat ek oor en oor gelees het: Jeanetta, die Tessa- en Groenheuwelreekse, Fritz Deelman, die Buiter en natuurlik Die Uile. Keurboslaan en Maasdorp lees ek nou nog gereeld en verlustig my steeds aan die wonderlike doktor Serfontein. O ja, en dan was daar die (nou, polities uiters onkorrekte) Offerland en Gelofteland.

My lewe het tot nou toe interessante draaie gemaak. Ek het ná my studie in Kommunikasiekunde aan die PU vir CHO (Noordwes-Universiteit) ‘n verskeidenheid van werke gedoen en uiteindelik by die SABC opgeëindig. Daarna het ek ‘n tyd lank deeltyds klasgegee in Kommunikasiekunde. Ek het ook ‘n storie-uur vir kinders aangebied. In 2004 het ons Nederland toe verhuis vir my man se werk en hier sit ons nog steeds!

Ek is dol op boeke en my versamel-manie grens aan die skrikwekkende. Hier in Nederland kry ek ook die geleentheid om die Europese jeuliteratuur van naderby te leer ken en dit gee my weer dieper insig in my eie skryfwerk. Nederlands is ‘n moeilike taal om te skryf en reg te praat. My kinders skaam hulle altyd dood vir hulle ma. Maar die taal dwing ‘n mens om oor Afrikaanse na te dink. Jy sien Afrikaanse spelling en herkoms van woorde weer in ‘n nuwe lig.
Wat ek deesdae lees? Ek lees soveel jeugboeke moontlik en dit is vir my onmoontlik om alles neer te skryf waarvan ek hou. Jong(er) jeugskrywers in Nederland wat my beïndruk, is Francine Oomen en Simone van der Vlught. Ek wens die Spanjaard Carlos Luis Zafon wil meer vir kinders skryf en die Duitse Cornelia Funke kan ook meer van haar laat hoor. In die Engelse wêreld het ek onlangs vir Karen Cushman en Celia Rees ontdek. Soos Simone van der Vlught skryf hulle historiese romans. Ek het nou skielik ‘n ding met historiese romans. Dit laat my wonder oor die Buiter-boeke wat ek as kind gelees het. Dit sal interessant wees om nou historiese romans in Afrikaans te skryf binne die nuwe Suid-Afrikaaanse geskiedenis-konteks. Afrikaanse jeugboekskrywers maak my bitter opgewonde: Daar is soveel nuwe talent! Afrikaanse tieners het nou darem boeke om van te kies en te keur!

Hoewel ek prenteboeke uit my kinderjare onthou – veral die werk van Richard Scarry, het ek ‘n hele nuwe belangstelling as volwassene daarvoor ontwikkel. Deels as gevolg van Marjorie van Heerden wat my by meer as een geleentheid onthaal het op haar ongelooflike kennis van die genre. My gunstelinge sluit die werke van Maurice Sendak, Richard Scarry, John Prater, Shirley Hughes, Quinten Blake, Joke van Leeuwen en Max Veldthuis in. Daar is ‘n klomp Suid-Afrikaanse skrywers/illustreerders wat werk van internasionale gehalte lewer, onder andere Joan Rankin, Niki Daly, Piet Grobler, Jaco Jacobs, Alida Bothma en Marjorie van Heerden.

Publikasies:

Glam-divas

  • Talia – (LAPA Uitgewers) 2011

Bydraes vir kortverhaalbundels

  • Skreeu en ander verhale – (LAPA Uitgewers) 2010
  • Sweef en ander verhale – (LAPA Uitgewers) 2009
  • As almal ver is. Suid-Afrikaners skryf huis toe – (Tafelberg) 2009

Publikasies: Klub 17 

  • Fransisca – (Perskor) 1998
  • Stevie – (Perskor) 1998
  • Nikki – (Perskor) 1999
  • Broers – (Perskor) 2000

Riana Scheepers

Riana Scheepers se lewe is dramaties en opwindend, uitdagend, avontuurlik en romanties. In vyf dekades het sy die wêreld deurreis, boeke gelees én geskryf, haar seuns met vreugde grootgemaak en ánder mense se kinders lief gemaak vir woorde. Sy het huise gerestoureer, bome geplant, verlore stemme oor die uithoeke van Suid-Afrika opgespoor en hul stories opgeteken.  Vir haar familie is sy moeder, minnares en muse.

Dr. Riana Scheepers is in 1957 in KwaZulu-Natal gebore. Haar pa, ‘n spoorwegwerker,  sterf in ‘n treinongeluk toe sy 6 jaar oud is. Sy leer, saam met haar verpletterde gesin, deeglik wat armoede en ontbering is; sy leer ook oorlewing, die kuns van vreugde – en die vreugde van kuns.

Reeds in haar vroeë tienerjare wen sy verskeie skryfkompetisies en redenaarskompetisies. Sy word twee agtereenvolgende jare aangewys as die beste redenaar in Noord-Natal. In 1975 word sy verkies as hoofmeisie van Hoërskool Vryheid. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Natal-kleure vir atletiek, swem en sierduik.

In 1976 begin sy haar studies aan die UOVS in Bloemfontein. Sy behaal die grade B.A. Kommunikasiekunde (cum laude), B.A. Hons (Afrikaans en Nederlands) (cum laude), M.A. (Afrikaans) (cum laude). In 1978 is sy primaria van haar koshuis (Wag-‘n-Bietjie) en word in 1979 tot die Sentrale Studenteraad van die UOVS verkies. Sy was ook voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse Vereniging (1978-1979) en die Kommunikasievereniging. In 1997 behaal sy ‘n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad oor die kortverhaaloeuvre van Koos Prinsloo.

Sy word in 2000 aangestel as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

In 1988 aanvaar sy ‘n pos as lektrise by die Universiteit van Zoeloeland. Haar eerste kortverhaalbundel, Die ding in die vuur, wat gaan oor die leefwêreld van die Zoeloes, word hier geskryf, asook ‘n groot gedeelte van haar tweede bundel, Dulle Griet.

Literêre Pryse:

Die ding in die vuur is in 1991 bekroon met die ATKV-Prosaprys en die FAK-prys. Dulle Griet het in 1992 die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys verower. In 2003 verower sy die ATKV-Kinderboekprys vir haar jeugroman Blinde sambok. Die Nederlandse vertaling van hierdie boek, Scorpioenkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004)

In 2006 ontvang sy nie minder nie as vier toekennings vir haar werk: Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir die Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk asook die Patrick Petersen Gedenkprys vir haar hele oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat  haar  bundel plaasverhale Die melkweg het ‘n ster laat val in die landbougemeenskap gelewer het,  kry sy ‘n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap).

In 2007 word sy deur Rapport / City Press aangewys as een van die Top Tien Vrouepresteerders in Suid-Afrika.

In 1990 aanvaar sy ‘n pos as lektor by die Universiteit van Kaapstad, en in 1995 sluit sy haar by Tafelberg Uitgewers as Skakelredakteur aan. In 1999 aanvaar sy ‘n onderwyspos by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en begin die Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke. Sedert haar huwelik in 2002 is sy voltyds skrywer.

Haar publikasies:

‘n Huis met drie en ‘n half stories van 1994 (kortverhale) en Die heidendogters jubel van 1995 (roman) is beide binne een maand herdruk. Haar drie bundels “kombuisverhale” Haai Katriena, wat vertel jy my nou!, Katriena, nou lieg jy mos! en Katriena, néé! was blitsverkopers. Sy het die ongewone prestasie behaal deurdat drie van haar boeke (die eerste twee Katriena-bundels en Die heidendogters jubel) in 1995 tegerlykertyd op die Top Tien-verkoperslys vir Afrikaanse boeke was.

In 1997 verskyn ‘n bloemlesing verhale waarvan sy samesteller is, getiteld Dogters van Afrika. ‘n Derde Katriena-bundel, Katriena, néé!en haar doktorale proefskrif getiteld Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes verskyn in 1998. Feeks, ‘n bundel kortverhale verskyn in Oktober 1999 en in Maart 2000 in Nederlandse vertaling. Die Nederlandse vertaling van Feeks word binne een maand drie keer herdruk.

In 2001 verskyn haar eerste jeugroman, Blinde sambok asook haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn.

Twee rubriekbundels: My voete loop na Wellington verskyn in 2003 en ‘n Engel in my huis in 2005.

In 2006 verskyn haar eerste kinderboek Die avonture van Wilde Willemientjie. Die musikale verwerking van die teks het tydens die KKNK van 2006 die gesogte Kanna-prys gekry vir die beste Kinderproduksie op die fees.

Die (verdere) avonture van Wilde Willemientjie  verskyn in  2007  en Die heks met groen hare in 2008.

In 2009 verskyn  Katvoet, ‘n bundel kortverhale, en in 2011  verskyn ‘n versamelbundel met ‘n keur uit haar kortverhaaloeuvre met dit titel  Die vrou in die vuur.

Al Riana se literêre publikasies is in Nederlands vertaal. Die titels daarvan is:

  • Dulle Griet (‘n versameling van verhale uit Die ding in die vuur en Dulle Griet);
  • Onbevlekte ontvangenis (Vertaling van ‘n Huis met drie en ‘n halwe stories),
  • De Heidendochters juichen (Vertaling van Die heidendogters jubel) en Die ding in die vuur (‘n versamelbundel van al haar kortverhale in een band).
  • Dochters van Afrika (bloemlesing)
  • Feeks (Vertaling van Feeks)
  • Dulle Griet was no 2 op die Nederlandse Top Tien-trefferslys.
  • Met die taal van karmosijn (vertaling van Met die taal van karmosyn)
  • Schorpioenenkind (vertaling van Blinde sambok).
  • Katvoet

Die ding in die vuur is 1998 in Spaans vertaal onder die titel Mujeres Zulues.

Van haar verhale het ook al in Frans, Engels, Pools en Esties verskyn.

Riana besoek reëlmatig op uitnodiging die buiteland en het al op uitnodiging lesings gegee aan universiteite in Pole, Nederland en België. Sy word ook gereeld gevra deur buitelandse instansies (soos Biblioteekverenigings) vir lesings en voorlesings uit eie werk. Sy was in 1996 gas by die alternatiewe Boekebeurs (Het Andere Boek) in Antwerpen en 1997 en 1998 gas van die Antwerpse Boekebeurs. Sy het al verskeie lesingtoere oor haar eie werk en die Afrikaanse letterkunde in Nederland, Friesland en Pole onderneem.

In Maart 2000 was sy die gas van die kultuurvereniging Geletterde Mensen en was op ‘n uitgebreide voorlesingtoer in Vlaandere.
Sy is die Afrikaanse digter wat uitgenooi is om op 11 Julie 2002 deel te wees van die Vlaamse Parlement se 30-jarige herdenking waartydens 24 digters vanuit die Nederlandse spraakgemeenskap hul poësie in die Parlement voorgelees het.

Ander publikasies en bedrywighede:

  1. Leerbehoeftes van swart adolessente. Draaiboek vir ‘n televisiereeks van 52 episodes. [Opdragstuk vir die SAUK TV: Afdeling opvoedkundige programme.] 1988.
  2. ‘n Groot verskeidenheid akademiese artikels in Suid Afrikaanse literêre tydskrifte;
  3. Radio-verslaggewer vir die  Burger (1992-1995).
  4. Rubriekskrywer vir  Volksblad, Beeld, Burger asook die Belgiese koerant De Morgen.
  5. Huisgenoot se sosiale raadgewer in die rubriek Vra dr Adri (2002 -2014)
  6. Tree by verskeie geleenthede op as openbare spreker Skole, Leeskringe en Studiegroepe;
  7. Lid van die KKNK se Kunstekabinet (1998-2003);
  8. Hoof van die Skryfskool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke;
  9. Raadslid: SA Brandewynstigting  (2004 -2007)
  10. Raadslid: Afrikaanse Taalmuseum (2004 – 2007).

Riana is getroud met Johann Loubser en woon in die kusdorp Wildernis en op Klipkraal, ‘n plaas in die Tankwa Karoo.

Gert Basson

Gert Cornelius Basson is gebore in Brakpan. Vanaf 1953 tot 1964 beklee hy verskeie poste as joernalis. In 1964 word hy aangestel as hoof van Belletrie by Voortrekkerpers/Perskor. Vanaf 1973 is hy vir twee jaar die redakteur van die jeugtydskrif, Patrys en word daarna bestuurder van Perskor se drie boekklubs: Voortrekker, Dagbreek en 707. Vanaf 1981 tot 1986 is hy bestuurder-uitgewer by Juventus, Femina en Folio waarna as hoofuitgewer by J.P. van der Walt tot sy aftrede in 1999 werk. Hy is getroud met Cillah, ‘n mode-ontwerper en het ‘n seun, wat in die VSA films vervaardig en ‘n dogter wat ‘n veelsydige kunstenaar is. Dié drie is volgens hom sy beste kritici.

Sy eerste verhaal is in die Jongspan gepubliseer toe hy in standerd drie was. Hy skryf later ‘n hele aantal spanningsverhale vir volwassenes, radiodramas en tydskrifverhale. Benewens romanskrywer is hy ook ‘n kortverhaalskywer en die samesteller van verskeie kortverhaalbundels. Sy jeugboeke verskyn onder verskillende skuilname. Die Nagvalke (1960) verskyn aanvanklik onder sy eie naam, maar word 1992 en 1995 herdruk onder die skuilnaam Dirk de Beer.

Prinses Dou-ogies (1964) is die enigste boek wat onder Gert Basson se eie naam verskyn. Sy vrou Cillah, het die illustrasies gedoen.

Onder die skuilnaam Cor Lindeque verskyn SarieMarie Moe – Waarnatoe (1980), Boetaman se Opperaffertrapper (1982). Sarie Marie Moe – Waarnatoe?

Die Snoerkie-stories het eers as tydskrifverhale verskyn, Vyf van hulle is later gebundel is as Snoerkie-hulle in die Okkiebokkiebosveld (1996).

Dis egter met die Swart Kat-reeks dat Gert Basson as Chris Sasner die harte van Afrikaanse seuns in die tagtigerjare verower. Die reeks bestaan uit vyf boeke (1982 – 1987) wat elk drie Swart Kat-avonture bevat. Twee boeke van die reeks is in Engels vertaal. Die reeks is word ook verwerk as vier baie suksevolle televisiereekse.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die Nagvalke (1960)
  • Prinses Dou-ogies (1964)
  • SarieMarie Moe – Waarnatoe (1980)
  • Boetaman se Opperaffertrapper (1982)
  • Sarie Marie Moe – Waarnatoe?
  • Snoerkie-hulle in die Okkiebokkiebosveld (1996)
  • Swart Kat-reeks (1982 – 1987)